Is die Bybel voldoende en noodsaaklik? (2)

While it costs us a lot to adopt children, it cost God the blood of His own Son.” – Rick Morton en Tony Merida, Orphanology

Is die Bybel voldoende en noodsaaklik? (2)

Ons het gesien dat die vroeë kerk en kerkvaders hierdie leer aanvaar het. In die vroeë Middeleeue bly hierdie siening basies onveranderd. Alles wat nie in Skrif genoem word of uit die Skrif afgelei kan word nie, is nie bindend op die gewete van gelowiges nie. He who wishes to be with God always, must pray frequently and must read frequently; for when we pray, we speak with God, but when we read, God is speaking with us (Adalger).

 

Mense het die Skrif volgens die kerk se historiese interpretasie daarvan gelees, want dit sou teen verkeerde interpretasie beskerm. Ons het twee neigings hier:

  • Daar is ‘n korrelasie tussen die Skrif en die historiese interpretasie van die Skrif. Hoekom? Want die Heilige Gees lei die kerk in die regte interpretasie.
  • Die gesag van die Skrif is ‘n hoër gesag as die geskiedenis.

Toe open Hy hulle verstand om die Skrif te verstaan – Lukas 24:45.

In die laat Middeleeue word die belang van tradisie beklemtoon. Wat is die basis hiervoor? Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie (Johannes 16:12). Die kerk glo dat van Jesus Christus se onderrig nie in die Bybel opgeskryf is nie, maar mondeling oorgedra is. Hierdie oordrag was van Jesus Christus na sy dissipels na hulle opvolgers – die biskoppe van die kerk.

Die kerk glo dat hierdie tradisie net soveel gewig moet dra as die Skrif self. Dieselfde geld basies vir die geloofsbelydenisse soos die geloofsbelydenis van Nicéa, Athanasius en die Apostoliese Geloofsbelydenis. Nou is die Skrif alleen nie meer voldoende en noodsaaklik nie. Daar is selfs geglo dat die kerk ‘n gesagvolle tradisie het en sonder die Skrif sou kon voortbestaan.

Dit bring ons by ‘n volgende waterskeiding – die Hervorming. Daarna kyk ons volgende keer.




Is die Bybel voldoende en noodsaaklik? (1)

“Adoption graphically and intimately describes the family character of Pauline Christianity, and is a basic description for Paul of what it means to be a Christian.” – Trevor Burke, Adopted into God’s Family: Exploring a Pauline Metaphor

 Is die Bybel voldoende en noodsaaklik? (1)

Is die Bybel voldoende sodat ons kan weet wat God verlang sy mense moet weet en glo? Hoekom glo die kerk dat hy nie sonder die Bybel God kan vertrou en gehoorsaam soos van hom verwag word nie?

Histories het die kerk geglo dat God se openbaring van Homself, die pad van verlossing en die opdragte om ‘n lewe van geloof en gehoorsaamheid te leef, in die Bybel gekry word. God het bepaal dat dit alles deur sy woord geopenbaar sal word, en daarom moet sy kinders die Skrif ken en daarvolgens lewe.

Die Skrif is voldoende – dit bevat al die woorde van God wat ons nodig het vir verlossing, om Hom volkome te vertrou en om Hom te gehoorsaam. Die noodsaaklikheid van die Skrif  beteken dat  ons die Bybel nodig  het om die evangelie te ken, ‘n geestelike lewe te lei, sy wil te ken.

Die vroeë Christene het die Joodse Bybel beskou as ‘n  voldoende bron van onderrig aangaande die leer, die Christelike lewenswyse en gehoorsaamheid. Paulus het dit verstaan: Maar jy, bly by wat jy geleer het en wat jy vas glo. Jy weet tog wie jou leermeesters was en jy het van kleins af die heilige Skrif. Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus. Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die mens wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk (2 Timoteus 3:14 – 17). Ons moet onthou die heilige Skrif waarna Paulus hier verwys ons Ou Testament is.  Hierdie Skrif was voldoende vir verlossing in Jesus Christus en om hulle voor te berei vir ‘n Christelike lewenswyse. Jesus en die apostels verwys gereeld na hierdie Skrif om dit wat hulle geleer het, te beklemtoon.

Uiteindelik kom die Nuwe Testament  by en beide testamente vorm nou die voldoende Skrif waarvolgens Christene moet lewe. Om hierdie voldoendenheid te beklemtoon, leer ons dat die mens niks mag toevoeg of wegneem nie. Moses sê: Moenie iets byvoeg by wat ek julle beveel nie en moet ook nie iets daarvan wegvat nie, maar gehoorsaam die Here julle God se gebooie wat ek julle gegee het (Deuteronomium 4:2). Johannes in Openbaring 22:18 – 19: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegnaam, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.

Die Nuwe Testament bevestig ook die noodsaaklikheid van die Skrif. Sonder die Skrif kan mense God nie vertrou en gehoorsaam nie. Paulus beredeneer dit baie logies: Want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” … Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:13 – 17). Toe Jesus deur die Satan versoek word, antwoord Hy: ‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4). Hierdie woord wat uit die mond van God kom, is die Skrif.

Ook die kerkvaders het hierdie siening bevestig. I revere the fullness of His Scripture  (Tertullianus). Vir die kerkvaders was die Skrif die kriterium wat ons gebruik om waarheid en dwaalleer te onderskei. Hulle bevestig ook die noodsaaklikheid van die Skrif – daarom moet Christene daagliks Bybel lees. Ignorance of Scripture is ignorance of Christ (Hieronimus).

Die vroeë kerk en die kerkvaders het geglo dat die Skrif voldoende en noodsaaklik is. Later word hierdie leer egter bevraagteken. Volgende keer kyk ons daarna.




IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (1)

Hope based on the experiential knowledge of God the Father is the climax and glorification of all hope.” – E.Y. Mullins, The Christian Religion in Its Doctrinal Expression

Is daar foute in die Bybel (1)

Die kerk het histories erken dat die oorspronklike manuskripte korrek geïnterpreteer, waar en sonder foute is in alles wat dit bevestig het – of dit nou leerstellings, morele optrede of sake van geskiedenis, kosmologie, geografie, ens is. Hierdie siening is vir die eerste keer ernstig in die 17de eeu uitgedaag. Dit het begin met die vraag of Moses werklik die outeur van die Pentateug was. Nou vier eeue later het min van die Skrif nog nie deurgeloop onder aanvalle dat dit nie betroubaar is nie.

Sommige beweer dat die Skrif gesagvol is as dit etiese en teologiese sake hanteer, maar nie as wetenskap en geografie hanteer word nie. Daarom word dikwels van onfeilbaarheid gepraat – dit beperk die omvang van ‘n foutlose Skrif tot sake van geloof en praktyk.

‘n Bybel sonder foute is ‘n filosofiese veronderstelling en nie ‘n empiries bewysbare feit nie. Dit is tog onmoontlik om elke geskiedkundige feit in die Bybel te bewys. Ons het nie genoeg data om dit te doen nie. Ons kan dan redeneer dat omdat God volmaak is sy selfopenbaring ook volmaak moet wees. Die basis vir ‘n foutlose Bybel is dan die wese van God. 

Die vroeë kerk

Die vroeë kerk aanvaar die betroubaarheid van die Skrif ten volle – soos die Jode voor hulle. Dat daar foute in Bybel mag wees, was ondenkbaar. Daar is niks vals in wat die Here sê nie. Sy woorde is soos silwer wat oor en oor in ‘n oond gesuiwer is (Psalm 12:7); Jesus erken aan sy Vader: U woord is die waarheid (Johannes 17:17). Vroeë Christene bevestig hierdie leer. Irenaeus sê dat die Skrif inderdaad volmaak is.

Wat beteken dit as ons sê dat die Skrif betroubaar is?

  1. 1.Die Skrif stem ooreen met die werklikheid – die Bybel vertel verhale van mense wat werklik geleef het; gebeure wat werklik plaasgevind het; werke van God soos dit gebeur het, ens. Stellings in die Skrif is nooit teenstrydig met die waarheid nie. Die Skrif vertel altyd die waarheid al is die verhale nie mooi nie.
  2. 2.Die Skrif weerspreek nie die Skrif nie – geen disharmonie in die SkrifIrenaeus sê dat die dele wat duidelik is die dele wat nie so duidelik is nie, verduidelik.

Hoekom het die vroeë kerk geglo dat die Skrif waar is? God praat die waarheid en kan nie jok nie, daarom is die Bybel, wat die woord van God is, waar. Maar wat van die duidelike probleemareas in die Skrif? Hier moet ons onderskei tussen verskillende gedeeltes wat verskillende perspektiewe van dieselfde gebeurtenis of onderrig belig en teenstrydighede. Matteus en Lukas beide beskryf Jesus Christus se geslagsregister, maar hulle verskil, want hulle het verskillende doelwitte gehad toe hulle hulle evangelies geskryf het. Augustinus beweer dat een fout in die Skrif rampspoedige gevolge sou hê, want dan kan alle dele van die Skrif bevraagteken word. Dan sal menslike oordeel moet besluit wat is waar en wat is onwaar – ‘n uiters subjektiewe mening.

Vir die vroeë kerk was die Skrif sonder foute. Wat gebeur tydens die Middeleeue en die Hervorming en daarna? Daarna kyk ons volgende keer.




IS DAAR FOUTE IN DIE BYBEL (3)

“What is a Christian? The question can be answered in many ways, but the richest answer I know is that a Christian is one who has God as Father.” – J.I. Packer, Knowing God

Is daar foute in die Bybel (3)

Tot en met die Hervorming het die kerk aanvaar dat daar geen foute in die Bybel was nie. Die oënskynlike foute wat daar wel was, kon maklik verduidelik word. Daar is egter twee tipe foute wat nie so maklik verduidelik kan word nie:

 

  1. 1.Bybelse rekords van historiese gebeure, geslagsregisters, beskrywings van natuurgebeure, ens is problematies. Wat hier nodig is, is versigtige interpretasie van die probleemgedeeltes. Die Skrif beskryf dikwels natuurlike gebeure soos dit vir ons voorkom. Moses se beskrywing van die maan as ‘n groot lig gebruik die taal van waarneming – hoe lyk dit vir menslike waarnemers. Die Skrif beskryf nie hierdie gebeure uit ‘n wetenskaplik-tegniese hoek nie.
  2. 2.Teenstrydighede in Skrif self. Spesifieke problematiese gedeeltes is hanteer, maar dikwels was daar verskillende oplossings voorgestel. Matteus 27:9 – 10 verwys na Jeremia, maar dit is waarskynlik ‘n aanhaling van Sagaria 11:12 – 13. Hier word nie minder as agt moontlike verklarings hiervoor gelys nie – soos byvoorbeeld dat Matteus hier uit Sagaria aanhaal, maar ook uit Jeremia 32:7 – 9. ‘n Ander probleem: Hoeveel blinde mense het Jesus in Jerigo genees. Matteus sê twee; Markus noem net vir Bartimeus; Lukas noem een. So sê sommige Matteus se verhaal is vollediger; ander sê dat die een man beter bekend was as die ander en daarom word nie na die onbekende man verwys nie. Nog ander oplossings word aangebied.

Wat duidelik is, is dat daar erken word dat daar sommige baie moeilike probleme is. Tog was hulle gelukkig dat daar geen foute in die Skrif was nie.

Maar toe kom ons by die moderne tydperk. Aan die begin van die 17de eeu begin hierdie konsensus dat die Skrif geen foute bevat nie ontrafel. Ons staan nou midde in ‘n wetenskaplike revolusie. Die antieke teorie dat die aarde sentraal in die heelal staan, word nou verplaas deur Kopernikus se teorie dat die son sentraal staan. Die impak was groot. Die Bybel plaas die mens by die toppunt van die skepping. As dit so is, moet die aarde met sy mense tog die middelpunt van die heelal wees. Mense geskep na die beeld van God is nou skielik nie meer die toppunt nie.

In hierdie verwarde wêreld kom Bybelse kritiek. Een voorbeeld hiervan is Isaac La Peyrére se pre-Adam teorie:

  1. 1.Adam was nie die eerste mens op aarde nie. Daar was mense wat 50 000 vC al geleef het. Onthou dit was destyds aanvaar dat die wêreld ongeveer 5 000 jaar oud was. Volgens hom was die aarde heelwat ouer.
  2. 2.Moses beskryf nie die ontstaan van die mens in die algemeen nie, maar net die begin van die Joodse volk.

Ander glo dat God net ‘n deel van die Skrif aan die skrywers geopenbaar het (bv die profesieë) en dat ander dele nie geopenbaar is nie (bv geskiedkundige verhale). Hierdie gedeeltes was die resultaat van navorsing. Daar is selfs geglo dat God Hom by die kultuur en heersende wêreldsiening van die skrywers aangepas het. Daar is dus sekere menslike gedeeltes wat foute bevat.

Spinoza verklaar dat die Bybel uit primêre en sekondêre sake van minderwaardige status, bestaan. Hy glo ook die menslike rede staan bo die Skrif en kan dus die Skrif oordeel. Die mens kan dink (Ek dink,daarom is ek – Descartes) en is daarom die beginpunt van alle menslike kennis. In soeke na ware kennis geniet rede prioriteit. Die rede word toegepas op die Skrif en sou dan dié kriterium vir die waarheid van die Bybel wees. Die Bybel moet soos enige ander boek geïnterpreteer word. Baie voel dat alle aansprake wat van bonatuurlike oorsprong is, verwerp moet word. Algaande word die Bybel slegs as ‘n kode vir etiese gedrag gesien.

Die outeurskap van die Pentateug word ‘n ongemaklike twispunt. Volgens die dokumentêre hipotese was Moses nie die outeur van die Pentateug nie – die Pentateug is ‘n seleksie van verskeie geskrewe dokumente geskryf deur verskillende outeurs – geskryf oor tydperk van 5 eeue. Geen moontlikheid dat Moses die outeur was nie. Terselfdertyd publiseer Darwin sy  Origen of Species (1859) – die basis vir die evolusieteorie. Dit ondermyn die mens se siening van die waarheid van die Bybel – veral die skeppingsverhaal.

Daar word dus nou ‘n onderskeid gemaak tussen ‘n Bybel sonder foute en die onfeilbaarheid van die Bybel. Daar word nie meer aanvaar dat die Bybel geen foute – geskiedkundig, geografies, numeries, ens – bevat nie. Meeste mense aanvaar wel dat die Bybel onfeilbaar is – die Bybel maak geen vals  of misleidende stellings oor enige saak van geloof en praktyk nie – niks wat enige impak op verlossing en ‘n heilige lewe het nie. Daar kan wel foute wees wanneer die Bybel sake soos geskiedenis, geografie, kosmologie, ens bespreek. Die debat is egter ver van oor.