Die eenheid en diversiteit van die Bybel
“There are worse crimes than burning books. One of them is not reading them.” — Joseph Brodsky
Die eenheid en diversiteit van die Bybel
Is die Bybel een boek of 66 losstaande boeke? Iets wat ons gewoonlik van die Bybel verwonder, is sy ingewikkeldheid aan die een kant en sy eenvoud aan die ander kant. Teoloë kan hulle hele lewe spandeer aan die studie van ‘n spesifieke aspek in die Bybel; kinders kan die basiese boodskap verstaan. Hierdie kombinasie van ingewikkeldheid en eenvoud hou verband met die eenheid en diversiteit van die Bybel. Die Bybel is ‘n eenheid, want die hele Bybel is deur God geïnspireer en vertel een verhaal – God se verhouding met mense. Sentraal staan die verhaal van Jesus Christus.
Die raamwerk van die verhaal is eenvoudig; die besonderhede en die manier waarop die verhaal aangebied kan word, kan ingewikkeld wees. Die verhaal self gee aan die Bybel sy eenheid; die ingewikkelde manier waarop die verhaal ontvou, gee aan die Bybel sy diversiteit.
Eenheid in die Bybel
Daar is ‘n paar aspekte wat die eenheid van die Bybel bevestig:
- Die sentrale verhaal wat dwarsdeur die Bybel loop, verenig al die verskillende dele in ‘n samehangende geheel. Daar is selfs geen onderbreking in die verhaal as ons van die Ou na die Nuwe Testament blaai nie: Jesus kom as die vervulling van die belofte wat reeds in Genesis begin het.
- Die karakter van God bly onveranderd deur die hele Bybel – God in die Ou Testament verskil nie van die God van die Nuwe Testament nie. So sal ons dwarsdeur die Ou Testament tekste kry wat van God se liefde en deernis praat. Die Nuwe Testament skram ook nie weg van die toorn en oordeel van God nie. In Openbaring 9:15 word ‘n derde van alle mense op aarde doodgemaak. Beide testamente vertel vir ons van ‘n God wat gekenmerk word deur beide liefde en geregtigheid, verlossing en oordeel.
- Daar is ook heelwat belangrike teologiese temas wat in beide Testamente teenwoordig is. Die spanning tussen die wet en genade wat Paulus in Romeine en Galasiërs bespreek, is reeds duidelik in die skrywes van die Ou Testamentiese profete. Paulus verduidelik hierdie spanning deur die verbond met Moses (wet) en die verbond met Abraham (genade) te bespreek – iets wat ons ook in die Ou Testament kry.
Diversiteit in die Bybel
God gebruik ‘n groot verskeidenheid van literêre style in die Bybel om sy verhaal aan ons oor te dra. Ons kry onder andere verhale, gedigte, briewe, apokaliptiese literatuur, liedere, gelykenisse, visioene, klaagliedere, geslagsregisters, spreuke, ens. Hulle verskil in die wyse waarop hulle God se boodskap aan ons oordra. Die psalms verskil tog van die Brief aan die Romeine. Die temas wat hanteer word en die historiese konteks tussen die twee verskil ook. Kry ons in Psalms ‘n ander verstaan van God as in Romeine? Beslis nie.
Die Ou Testament is die inleiding en vroeë deel van die verhaal en die Nuwe Testament die hoogtepunt en vervulling van die hele verhaal. Die Nuwe Testament, in sekere aspekte, is ‘n duideliker en vollediger openbaring. Dit beteken nie dat die Ou Testament verkeerd was nie, maar net dat sekere waarhede in die Ou Testament nog beperk en onvolledig was. In die Ou Testament kry ons nie ‘n duidelike onderrig oor die Drie-eenheid nie. Nadat ons die Drie-eenheid vanuit die Nuwe Testamentiese perspektief gesien het, kan ons na die Ou Testament teruggaan en wel die Drie-eenheid sien – maar nie so duidelik soos in die Nuwe Testament nie. Veral die interaksie tussen Vader, Seun en Heilige Gees word duideliker in die Nuwe Testament geopenbaar.
In die Ou Testament is die land baie belangrik. In die Nuwe Testament word die klem op die land deur klem op die koninkryk van God vervang. Die Ou Testament fokus op seëninge hier en nou; die Nuwe Testament kyk meer na geestelike seëninge en die ewige lewe en fokus veral op die opstanding van die dooies – iets waarvan die Ou Testament min sê.
Gevolgtrekking
Die Bybel is ryk, ingewikkeld en onuitputlik diep, maar dit is ‘n eenheid met ‘n sentrale verhaal wat maklik begryp en geglo kan word.