Bybelvertalings – Vraag

Bybelvertalings – Vraag – Francois Malan

Sakkie vra:

Ek het vanaand vir ‘n hele ruk op die webwerf gekuier om myself vertroud te maak.  Ek het die artikels oor die beskikbare Bybels gelees en die volgende gewonder:

Ek het ook op die internet die e-sword gekry op aanbeveling van ‘n vriendin.  Dis, soos ek verstaan, deel van die Rick Myers Ministries.  Dis nie waarin ek belangstel nie, maar die beskikbare Bybels.  Daar is heelwat Bybels beskikbaar – King James, ens maar ook die 2 Afrikaanse Bybels.  Ek vind dit baie interessant om dieselfde teks in meer as een Bybel te lees.

Ek verstaan Bybelkennis is ‘n Afrikaanse webwerf maar ek sal graag jou opinie wil weet omtrent bogenoemde.

Antwoord

 

Prof Francois Malan antwoord:

Ek is nie bekend met ‘e-sword’ nie, en is nie op hoogte met al die Bybels wat beskikbaar is nie (daar is ‘n bietjie te veel). Ek het bv. The New Testament from 26 Translations wat reeds in 1967 gepubliseer is in Grand Rapids, en De Nieuwe Testament in zes Nederlandse Vertalingen van 1950 in Amsterdam.

Van die Engelse vertalings noem u die King James van 1611 (wat gevolg het op die Engelse vertalings van 1535, 1537, 1539, 1560, 1568, 1882), wat in die afgelope 400 jaar verskeie hersienings van sy Engelse vorm gehad het, en wat probeer het om die oorspronklike Hebreeus van die Ou Testament en die Grieks van die Nuwe Testament getrou te vertaal.

Daar was bv. die Revised Standard Version van 1952 wat verder gebou het op die hersienings van 1881-1885, en wat ook gebruik gemaak het van die ontdekkings van ou manuskripte, en die American Standard Version van 1901.

Op versoek van die Engelse kerke is The New English Bible van 1961 vertaal, wat die vertalers die vryheid gegee het om ‘n eietydse idioom te gebruik, wat tot ‘n baie mooi Engels gelei het, met voetnote waar meer as een betekenis van ‘n woord vertaal kon word. Sy hersiening in 1970 het gelei tot The Revised English Bible with the Apocrypha.

Die Living Bible – paraphrased van 1971 het probeer om die Bybelse begrippe te verduidelik soos die skrywers dit sou verstaan het, en uit te brei waar nodig vir die moderne leser, deur die woorde van die oorspronklike skrywers weer te gee in ander woorde. Dit is opgevolg deur The Holy Bible, New Living Translation van 1996 en 2004.

Die Good News Bible in Today’s English Version wat deur die Bybelgenootskappe uitgegee is, eers net die NT sedert 1966 en die OT sedert 1976, is sedert 1977 deur die SABybelgenootskap uitgegee. Die dinamiese vertaling het probeer om die betekenis van die oorspronklike tekste te vertaal en nie die vorm daarvan te behou soos die ander Engelse vertalings nie.

Die New International Version van 1978 was ‘n nuwe vertaling (wat baie ooreenkom met ons 1953 hersiening van die Afrikaanse Bybel) en het ook gestrewe na akkuraatheid en duidelikheid en literêre kwaliteit, en meer by die vorm van die grondteks probeer bly het.

In 1982 is ‘n nuwe vertaling in die plek van die King James gemaak, naamlik New King James Version, wat gestrewe het om ‘n Engelse teks te lewer wat akkuraat en leesbaar is op voetspoor van die ou King James.

Eugene Peterson se The Message van 1996 is geskryf in die taal waarin ons inkopies doen, geselstaal en huistaal, nie ‘n woord-vir-woord-weergawe van die oorspronklike nie, maar omdenking van die toon, ritme, gebeure, idees, in die manier waarop ons dink en praat, omdat die Nuwe Testament se Grieks bv. juis geskryf is in die informele taal van die mark en familie-briewe.

Die Afrikaanse vertaling van 1933, Ou Testament veral deur JD du Toit (Totius) en HCM Fourie en EE van Rooyen, Nuwe Testament veral deur JD Kestell en BB Keet, met nalees van mekaar se werk, en hersieners en taaladviseurs wat gehelp het. Hulle opdrag was om die Nederlandse Statevertaling van 1637, wat in die kerke in SA gebruik is, so naby moontlik te volg. Daarom het hulle vir die Nuwe Testament die sogenaamde Textus Receptus gebruik, wat toe nie meer as die beste Griekse teks beskou is nie. Die 1933 se Afrikaanse taal is hersien en in 1953 is die hersiening gepubliseer. Dit is ‘n ‘formeel-ekwivalente’ of ‘woord-vir-woord’ vertaling wat probeer om die oorspronklike grammatika en sinsbou so noukeurig moontlik te behou – ‘n weergawe wat vandag nog beskikbaar is,

Die Lewende Bybel is in 1982 as die eerste nie-amptelike Bybelvertaling deur CUM uitgegee in die gewone gesprekstaal, as hulpmiddel vir persoonlike lees en Bybelstudie. Dit is ‘n nuwe vertaling in Afrikaans, wat nie probeer om die vorm van die oorspronklike sinskonstruksies en woordorde weer te gee nie, maar om die betekenis en die bedoeling van Skrif in duidelike, natuurlike Afrikaans weet te gee, soos dr. Kenneth Taylor se Living Bible.

Die offisiële dinamiese vertaling van 1983, Die Bybel, Nuwe Vertaling wat rekening hou met die ontwikkeling in Afrikaans die afgelope jare en met die resultate van wetenskaplike ondersoek, maar wat so getrou moontlik aan die grondteks bly, waardeur Afrikaanssprekendes aangespreek word, het probeer om die betekenis van die woorde weer te gee. As grondteks vir die Ou Testament is die Biblia Hebraica Stuttgratensia van 1977 gebruik. Dit is gebaseer op die oudste volledig behoue manuskrip van die Hebreeuse Ou Testament, die Codex Leningradensis van 1008 n.C. Gegewens uit ouer manuskripte is bygewerk. Vir die Nuwe Testament is gebruik gemaak van die Griekse grondteks van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe The Greek New Testament se derde uitgawe van 1975. Hierdie vertaling wat deur die Bybelgenootskap van SA op versoek van die kerke vertaal is, is gedoen op grond van die oudste manuskripte van die Bybel wat ontdek is. Dit is die amptelike Bybel van die kerke wat vandag meestal gebruik word.

Die Boodskap. Die Bybel in hedendaagse Afrikaans van 2002 deur CUM gepubliseer, is nie ‘n ‘woord-vir-woord-weergawe’ van die grondteks nie, maar die bedoeling van die sinne is weergegee, en was veral op die jeug gemik, sodat mense die lewende woorde van God op ‘n dinamiese manier hoor in die taal wat hulle elke dag praat (vgl. Peterson se The Message hierbo).

Die Bybel, Nuwe Lewende Vertaling wat in 2006 deur Christelike Uitgewersmaatskappy uitgegee is as ‘n opvolger vir 1982 se Die Lewende Bybel, probeer om getrou te bly aan die grondteks, maar dit lesersvriendelik aan te bied sodat dit direk met vandag se lesers sal praat, wat soms formeel-ekwivalent is, maar waar dit onduidelik word sterker dinamies te vertaal.

Die Bybel vir almal is in 2008 deur die Bybelgenootskap van SA uitgegee onder die titel Die Bybel vir Dowes. Die belangstelling van die horende publiek vir die eenvoudige, direkte Afrikaans was so groot, dat dit onder die nuwe titel in 2009 vir almal beskikbaar gemaak is. Die dowes het na raming 20% van die woordeskat van ‘n gewone horende, en daarom moes die grondteks met die klein woordeskat beskikbaar gestel word. Moeilike en interessante woorde is in voetnote verduidelik.

Op versoek van die kerke is die Bybelsgenootskap tans besig met ‘n Afrikaanse vertaling wat oor 4-5 jaar beskikbaar sal wees. Die versoek was om naas die dinamiese 1983 vertaling, ‘n vertaling te maak wat meer by die vorm van die Hebreeuse en Griekse grondteks bly, en dit in goeie verstaanbare Afrikaans aan te bied. Daaraan is tans 160 vertalers uit al die kerke wat Afrikaans gebruik, wat saamgestel is uit Ou- en Nuwe-testamentiese vertalers, en ‘n hele groep taalkenners van Hebreeus, Grieks, Afrikaans, en Afrikaanse letterkundiges.

Nuttige hulpmiddels by die studie van die Bybel is onder die baie ander: Die Verklarende Bybel, Verwysingsbybel 1983-vertaling, Die Bybel in praktyk, ens.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Bybelvertalings

Bybelvertalings – Kobus Kok

Chrisma vra: 

‘n Hartlike goeie more. Ek het al die soorte Bybels in Afrikaans(vertalings ens). Omdat ek verkies om die Bybel eerder te lees as ‘n dagboek het ek sowaar vanoggend ‘n probleem. Ek kan nie kies watter Bybel die geseëndste was nie en ek wil nou met ‘n nuwe een begin. Ek lees so ses hoofstukke per dag daarom het ek elke jaar ‘n nuwe Bybel gekoop. Kan u vir my ‘n aanbeveling maak! Dalk ‘n nuwe manier van Bybelstudie doen of die Bybel lees. Maar dan watter Bybel?

Antwoord:

 

Dr Kobus Kok antwoord:

Daar is baie goeie vertalings op die mark wat beskikbaar is by toonaangewende Christelike boekwinkels soos CUM en Lux Verbi. Ons onderskei tussen letterlike vertalings en dinamiese vertalings. Letterlike vertalings volg die oorspronklike Griekse struktuur, en die dinamiese vertalings fokus veral op die betekenis van die oorspronklike. Laat ek die volgende voorbeeld gebruik wat ons almal ken: In Afrikaans het ons die slagspreuk: “Hy is hoog in die takke”. ‘n Letterlike vertaling van die Afrikaans in Engels is: “He is high in the trees”. Die probleem is net dat die letterlike vertaling van die Afrikaans in Engels nie die bedoeling van die oorspronklike Afrikaans goed weergee nie. ‘n Dinamiese vertaling van die Afrikaans gaan egter die probleem oplos: “He is very drunk”.

‘n Tipiese letterlike vertaling van die Grieks was die Ou Afrikaanse vertaling.

Vandag is daar baie vertalings wat dinamiese vertalings is soos professore Jan van der Watt en Stephan Joubert se “Die Boodskap”.

 

Skrywer: Dr Kobus Kok





Bybelvertaling (6)

Bybelgenootskappe- Jan van der Watt

Bybelvertaling word bevorder en gekoördineer deur Bybelgenootskappe. Die rede daarvoor is dat dit so duur is om die vertalings te doen en dan te publiseer. Kragte en finansies moet dus saamgespan word. Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika dien as oorkoepelende liggaam om die kerke saam te bring wat Bybelvertalings gebruik. Tog het hulle nie alleenreg op die vertaling van die Bybel nie. Christelike Uitgewersmaatskappy het byvoorbeeld die inisiatief geneem om Die Boodskap die lig te laat sien.

Die Bybelgenootskappe in die verskillende lande werk weer saam in die United Bible Society met hulle hoofkantoor in Amerika. Dit is nie die enigste genootskap nie, maar die belangrikste.

ʼn Ander prominente Bybelgenootskap is die Wycliffe Bybelvertalers. Die genootskappe het vertalers en konsultante oor die hele wêreld wat kennis oor vertaling deel en help versprei. Sowat 95% van die wêreld se bevolking het een of ander deel van die Bybel in hulle eie taal beskikbaar om te lees. Tog is daar nog maar net vyf persent van die  wêreld se tale wat ʼn volle Bybel in hulle eie taal het. Daar lê dus nog ʼn lang pad voor.

 

Outeur: Prof Jan van der Watt

 




Bybelvertaling (5)

Bybelvertaling (6) – Jan van der Watt

‘n Voorbeeld van vertalings    (Jak 1:2-4)

1933/1953-vertaling

1983-vertaling

Die Boodskap

Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekings val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.

My broers, julle moet baie bly  wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want,  soos julle weet, as julle geloof  die toets deurstaan het, stel dit  julle in staat om te volhard. En die volharding moet enduit  volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

My liewe mede-Christene, wees opgewonde as julle geloof by elke geleentheid ge-toets word. Julle weet mos hoe goed dit vir julle geestelike lewe kan wees. Die slegte dinge wat met julle gebeur, toets of julle werklik die Here vertrou. As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef. Julle moet die Here toelaat om julle deur die dinge te leer wat dit beteken om altyd net op Hom te vertrou, kom wat wil. So sal julle geestelike grootmense word wat weet hoe om in elke situasie reg op te tree.

————————————————————————————————————-

 

Hoekom verskil Bybelvertalings? (1)

Vertaling kan nogal moeilik wees omdat tale so verskil. Tale oorvleuel nie, met ander woorde ʼn mens kan nie net ʼn woordeboek van n vreemde taal leer en dan dink jy kan die taal praat nie. Daar is baie ander dinge wat ʼn rol speel.

 

(a) Woorde oorvleuel nie tussen verskillende tale nie. Suid-Afrikaners het twee woorde vir sneeu (sneeu en kapok) terwyl die Eskimo’s ʼn hele rits het. In ʼn vertaling kan ʼn mens dus nie presies in Afrikaans sê wat die Eskimo’s oor sneeu kan sê nie.

Grieks het vyf woorde vir liefde waar ons net een het. Om net elke keer “liefde” in Afrikaans te gebruik beteken dat jy die spesiale betekenis van die Grieks gaan verloor. Daarom sal ʼn mens woorde so moet probeer gebruik en omskryf dat dit ʼn mens so na moontlik aan die Griekse bedoeling kom.

 

(b) Sinne in verskillende tale lyk ook nie dieselfde nie. Grieks hou van baie lang sinne; ʼn enkele sin in Grieks kan tot ʼn halwe bladsy lank wees.

Die eerste vyftien of sestien verse van Efesiërs is  byvoorbeeld een sin in Grieks. Vir ʼn Afrikaanssprekende maak dit nie sin nie. Ons praat kort sinne. As ʼn mens dus nie in die Afrikaanse vertaling die Griekse sinne ʼn bietjie korter maak nie, sal die Afrikaanse leser heeltemal die spoor byster raak. Die vraag is egter hoe, want die Griekse sinne wat so lank is, is soos ʼn fyn net geweef. ʼn Mens moet dus die sin korter maak sonder om die effek van die fyn weefwerk verlore te laat gaan. Dit is die uitdaging vir die vertaler.

 

(c) Idiome en metafore stem ook baie keer nie ooreen nie. Om te sê dat jy  vurige kole op iemand se kop gooi, klink vir ons na ʼn wreedaardige marteling. Dit is egter ʼn idioom in Grieks wat op ʼn ander manier in Afrikaans gestel moet word. ʼn Mens sou eerder sê jy maak iemand rooi van skaamte. Dit is dus nie meer ‘ vervanging van woorde’ nie.

 

(d) Daar word soms van beelde en simbole gebruik gemaak waarvan ons niks meer weet nie. ʼn Troon met ʼn see van glas voor en groen  kristalle wat skitter, is vir ons ʼn dooie prentjie van ʼn troon. Die antieke mens het egter  anders daaroor gedink. Vir hulle was die see die plek van die Bose en groen die kleur van getrouheid. Die vraag is of die vertaler die hedendaagse leser moet help om die nuanses deur die oog van die oorspronklike leser te sien. Die vryer vertalers dink die vertaler moet dit doen, die letterlike vertalers sê hulle moenie.

Hierdie is voorbeelde van dinge waarna vertalers moet kyk. Elke vertaling is dus ʼn stukkie interpretasie van die kant van die vertaler om die oorspronklike teks vir die hedendaagse leser toeganklik te probeer maak.

Outeur: Prof Jan van der Watt