Die mens se sondige natuur – Hermie van Zyl

Jacob vra

Boodskapteks: Die 1983-Afrikaanse Vertaling vertaal die oorspronklike vlees van die mens as die mens se sondige natuur. Die nuwe 2014-Direkte Vertaling maak nou ook so.

Die sondige natuur van die mens kom uit die kerk se belydenisskrifte.

Dit maak ook dat die bose geen funksie het nie, want die mens is in sigself boos, van nature so.

Kan dit korrek wees om so te vertaal?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die vraag gaan eintlik oor drie verskillende sake: (1) Is dit korrek om die onderliggende Griekse woord, sarks (“vlees”), met “sondige natuur” (1983-Arikaanse Vertaling [AV]) of “sondige aard” (2014-Afrikaanse Direkte Vertaling [ADV]) te vertaal? (2) Is die vertaling “sondige natuur” nie iets wat van buite (die kerk se belydenisskrifte) die Bybel ingedra word nie? (3) Wat is die verhouding tussen die mens se sondige natuur en die Bose; wie is met ander woorde verantwoordelik vir die sondige aard van die mens – net die mens self of het die Bose ook iets daarmee te doen? Ek handel agtereenvolgens oor dié drie kwessies.

  1. Die vertaling van sarks. Die 1933/53-Afrikaanse Vertaling, wat ‘n baie letterlike vertaling is, het die Griekse woord sarks bykans deurgaans met “vlees” vertaal. Die probleem is net dat sarks in die Nuwe Testament in ‘n verskeidenheid van betekenisse voorkom, byvoorbeeld “vleis”, “liggaam”, “persoon/mens”, “uiterlike lewe”, “fisiese beperkings”, “menslike natuur”, en “sondige geneigdheid”. Dis veral vir laasgenoemde twee betekenisse dat Paulus sarks gebruik, byvoorbeeld in Romeine 8:3-4, 5-9, 12-13; Galasiërs 5:16-17, 19, 24; 6:8; Efesiërs 2:3; Kolossense 2:11, 13. In al hierdie kontekste is dit uit die verband duidelik dat Paulus nie hiermee iets soos vlees (letterlik) bedoel nie, maar eerder die mens in opstand teen God. Om dus konsekwent met “vlees” te vertaal, mag dalk baie “teksgetrou” voorkom, maar eintlik word die ware betekenis so verduister. Daar moet dus ‘n ander vertalingsbegrip gesoek word om Paulus se bedoeling beter weer te gee. En dit is waarom die vertalers van die 1983-AV gekies het vir “sondige natuur” (so ook die Nuwe Lewende Vertaling) en die 2014-ADV vir amper dieselfde uitdrukking, naamlik “sondige aard”. So word die mens in sy sondige, natuurlike staat wat nie die dinge van God bedink nie, beter weergegee. Daarteenoor word die mens gestel wat deur God se Gees vernuwe is en beheer word – ‘n nuwe natuur ontvang het – en daarom nou die dinge kan bedink wat in ooreenstemming met God se wil is en tot voordeel van die mens strek (vgl Rom 8:5-6). Vertalings in die Engelse wêreld volg dieselfde weg. Waar die ou King James Version nog konsekwent met “flesh” vertaal het (soos die 1933-AV met “vlees”), volg meer resente vertalings ‘n ander weg en vertaal met terme soos “selfish nature” (Common English Bible), “old/unspiritual nature” (Revised English Bible), “human nature” (Good News Bible / Today’s English Version), en “sinful nature” (New Living Translation). Die Hollandse Willibrord Vertaling (1995) praat ook van “zondig leven”.

Daar is nóg ‘n rede waarom vertalings wegbeweeg van “vlees” as vertaling vir die Griekse sarks, en dit is dat die indruk nie geskep mag word asof die vlees of liggaamlike as sodanig teenoor die Gees gestel word nie, so asof daar iets inherent sondig aan die liggaamlike is. Die liggaam met sy natuurlike behoeftes en begeertes is nie as sodanig sondig nie; dit is immers hoe God die mens gemaak het en waarvan Hy gesê het dat dit goed is (Gen 1:31). Dit is eerder die mens in sy totaliteit (gees, siel en liggaam) wat in sonde geval het en nou die aangebore, natuurlike neiging het om nie die dinge van God te bedink nie maar slegs sy eie kop te volg. Dít is waar die sonde lê – in hierdie natuur van die mens wat in opstand is teen God – en nie in die bloot liggaamlike nie.

  1. “Sondige natuur” uit die kerk se belydenisskrifte? Ek vermoed die vraagsteller bedoel hiermee dat die gedagte van die sondige natuur van die mens oor tyd heen as algemene Christelike opvatting (op sterkte van die verstaan van die Skrif) ontwikkel het en toe sy weg gevind het in die kerk se belydenisskrifte, wat op sy beurt weer Bybelvertalings beïnvloed het. Vandaar die gedagte by die vraagsteller dat die konsep van “sondige natuur” van buite – uit die kerk se belydenisskrifte – die Skrif ingevoer is.

Dit is inderdaad so dat die taal van die kerklike belydenisse die algemene Christelike ervaring verteenwoordig (op grond van die breë verstaan van die Skrif) wat beskikbaar was ten tyde van die opstel van die belydenisskrifte. So byvoorbeeld sê die Heidelbergse Kategismus (HK), Sondag 2, Vraag en Antwoord 5, dat die mens “van nature geneig is om God en sy naaste te haat”. Die Afrikaanse vertaling van die HK volg op sy beurt die oorspronklike Duits wat eweneens van hierdie natuurlike geneigdheid van die mens praat (“denn ich bin von Natur aus geneigt, Gott und meinen Nächsten zu hassen”). Binne die Protestantse tradisie was daar dus ‘n opvatting, gegrond op die interpretasie van sekere Skrifgegewens, dat die mens ‘n verdorwe natuur het en nie anders kan as om God en sy naaste te haat nie. Die volgende Bybelgedeeltes word byvoorbeeld by hierdie Sondagafdeling van die HK (Vraag en Antwoord 5) aangegee as “bewysplase” vir die sondige geneigdheid van die mens: Rom 7:23; 8:7; Ef 2:3; Tit 3:3; Gen 6:5; 8:21. Vir die verdorwe natuur van die mens word in Vraag en Antwoord 7 van die HK weer die volgende tekste aangebied: Gen 3; Rom 5:12, 18-19; Ps 51:7; Gen 5:3. Die gangbare opvatting oor die menslike kondisie, op voetspoor van die verstaan van hierdie tekste, was dus ten tyde van die opstel van die HK dat die mens ‘n sondige natuur het.

Nou kan mens redeneer dat hierdie “sondige natuur” van die mens nie so letterlik in die Skrif voorkom nie en dat dit dus van “buite-af” die Skrif ingedra is (en later as handige vertaling van die Griekse woord sarks gedien het). Dis egter moeilik – eintlik onmoontlik – om te besluit watter van die twee gedagtes eerste was: (a) die gedagte van die sondige aard van die mens as ‘n “algemeen Christelike opvatting”, of (b) die verstaan van sekere Bybeltekste dat die mens ‘n sondige aard het. (Die gedagte van [a] sou dan ekstern tot die Bybel wees en [b] weer inherent tot die teks van die Bybel.) Feit van die saak is dat in die praktyk van sake “eksterne kennis” en Bybelinterpretasie altyd hand aan hand gaan. Ons interpreteer die Bybel vanuit ons kontekstuele kennis (“ekstern”) en dan interpreteer ons weer ons konteks vanuit ons Skrifverstaan. Dít is wat ons in die Bybelwetenskap die interpretasie- of hermeneutiese sirkel noem. Eksterne en interne kennis vorm ‘n verweefde eenheid, hulle is voortdurend in wisselwerking met mekaar en beïnvloed mekaar oor en weer, sonder dat mens bewustelik nadink oor watter van die eksterne of interne kennis eerste was of belangriker is.

Wat mens wel kan sê, is dat Skrifuitleggers vandag bewus is van hierdie “sirkelgang” van interpretasie en dat hulle voortdurend probeer om die twee prosesse te identifiseer (wát beïnvloed wát), en ook toelaat dat hulle ‘n kontrole vir mekaar vorm. Die eksterne werklikheid en lewensgevoel beïnvloed naamlik ons Skrifuitleg sodat laasgenoemde nie werklikheidsvreemd is nie. Omgekeerd is dit egter ook so dat die Skrif op sy beurt weer die eksterne werklikheid belig sodat dimensies daarvan ontdek kan word wat nie sonder meer direk uit die werklikheid afgelees kan word nie. Byvoorbeeld, die wysheid van Christus staan partymaal téénoor die wysheid van die wêreld. Dink aan die kwessie van diensbaarheid, wat so radikaal verskil tussen wat Christus hieroor sê en hoe dit in die wêreld daaraan toegaan.

Hoe dit ook al sy, wat die vertaling van sarks met “sondige natuur” betref – of dit nou oorspronklik uit die algemene Christelike lewensgevoel kom (ekstern) of as eerlike Skrifverstaan beskou moet word (intern) –  kan ons vandag sê dat die semantiek (betekenisleer) van die Nuwe Testament ons ten minste een ding geleer het, en dit is dat daar ‘n verskeidenheid van betekenisvelde is waarbinne sarks voorkom. Een van hierdie velde is die aard van die menslike natuur, naamlik dat die mens van nature neigings openbaar wat nie in ooreenstemming met God se wil is nie, ‘n siening wat ons veral by Paulus kry. En vertalers kies die uitdrukking “sondige natuur” om hierdie neiging van die mens mee te beskryf en as vertaling van sarks aan te bied. Ons beweeg dus op veilige grond met hierdie vertaling.

  1. Die verhouding tussen die mens se sondige natuur en die Bose. Dit wil voorkom uit die vraagsteller se vraag asof hy dit teen die term “sondige natuur” het omdat daarmee die werking van die Bose uitgeskakel word in die sondige toestand van die mens. Dit is mos die slang (= duiwel, die Bose) wat die vrou in die paradys verlei het en veroorsaak het dat sonde die wêreld binnegedring het, nie waar nie? Die Bose moet dus ten minste mede-aanspreeklik gehou word vir die geneigdheid tot sonde by die mens.

 Dit is egter interessant dat Paulus, wanneer hy verduidelik hoe sonde die wêreld ingekom het, nie die Bose die skuld gee nie, maar slegs die mens daarvoor verantwoordelik hou. In Romeine 5:12-21 word naamlik Adam en Christus as twee verbondshoofde teenoor mekaar gestel. Deur die ongehoorsaamheid van Adam het die sonde die wêreld ingekom en na almal uitgebrei. Adam verteenwoordig dus die mens in sy sondige toestand; “in Adam” is ons almal sondaars. Maar deur Christus se gehoorsaamheid is God se genade en vryspraak in oorvloed beskikbaar gestel aan die wêreld. Christus verteenwoordig dus die nuwe mensheid; “in Christus” is ons vrygespreek deur God. Die punt is: in hierdie argument figureer die Bose nêrens as oorsaak van die mens se toestand van sondige verdorwenheid nie; net die mens self is hiervoor verantwoordelik.

Natuurlik hoef ons nie hiermee die Bose se teenwoordigheid en sy vernietigende werking in die wêreld te ontken nie. Paulus doen dit ook nie; hy is maar te bewus van die duiwel se destruktiewe werking in die lewe van gelowiges (bv 1 Kor 7:5; 2 Kor 11:14; 1 Tess 2:18). Dis maar net dat die duiwel nie die oorsaak is van die mens se sondige aard nie; daarvoor het die mens net homself te blameer. Ons moet dus baie versigtig wees om ‘n duiwel “agter elke bos uit te skop” en dié verantwoordelik te hou vir al die ellendes op aarde. Ja, die Bose loop rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet 5:8), maar uiteindelik is die mens self verantwoordelik vir die keuses wat hy maak; ons kan nie die duiwel verantwoordelik hou vir ons dade en onsself so verontskuldig nie. En allermins kan ons hom verantwoordelik hou vir ons sondige natuur.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Vertalings van die Bybel – Francois Malan

Karin vra:

My kinders beweer dat daar heelwat verskille is uit die oorspronklike Hebreeuse vertalings en die Bybel wat ons vandag as die Bybel gebruik, 53 of 83. Hul het ook ‘n probleem met die Nuwe Testament wat in Grieks geskryf is en dis ook nie uit oorsprong orals reg nie. Ek het nie soveel tyd om elke vers met die Hebreeus te gaan vergelyk nie, maar moet ek vandag bekommerd wees hieroor vir my eie gewete? Als moet uit oorsprong reg wees, dus geen Kersfees, Paasfees, eerder Sabat en ou Testamentiese feeste. dis maar n paar vrae wat ek het. Baie dankie, dis as ouers vir ons baie moeilik! Eloim is God se naam en Yeshua is reg nie Christus nie!

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

God se naam

Die Hebreeuse woord El en die meervoudsvorm Elohim is ’n soortnaam wat beteken god, enige god, maar word in die Ou Testament ook gebruik vir die Skepper en die God van Israel. Die eienaam wat die God van die voorvaders Abraham en Isak en Jakob self aan Moses gegee het, is Jahweh ‘Die Ek is’ (Eks 3:14,15 Jahweh is ewig my naam, dit is die naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag). Jahweh beteken dat Hy persoonlik aktief teenwoordig is. Die Jode was bang om die naam ydelik te gebruik (Eks 20:7) en as hulle Jahweh lees het hulle Adonai ‘Here’ gesê. So het die Griekse vertaling kurios ‘Here’ daarvoor gebruik, en ons ook ‘Here’ , wat ’n respekvolle aanspreekvorm is wat gebruik word teenoor jou meerdere, Engels Lord. Die 53-vertaling het Jahweh met hoofletters geskryf HERE, en adonai as Here.

  • Jesus, die Griekse vorm van Jeshua of Joshua (Jahweh is Verlosser), is die naam wat die engel vir Josef (Mt 1:21) en vir Maria (Lk 1:31) gegee het vir die seun wat gebore sou word.
  • Christos is die Griekse vorm vir die Hebreeuse Messias, wat albei beteken ‘Gesalfde’ soos ’n koning of ’n profeet of ’n priester gesalf is as aanwysing van die persoon en as ’n simbool van sy toerustig met die Gees van God vir sy amp.

Benewens die drie ampte in die geskiedenis van Israel, het hulle ook ’n besondere Gesalfde verwag wat sou kom.

Aan Moses het die Here gesê: Die Here jou God sal ’n profeet onder jou laat te vore kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek (die Here) wees. Vir hom moet jy gehoorsaam wees (Deutr. 18:15). Toe Jesus gekom het, het Filippus vir Natanael gesê: Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef (Joh 1:45).

Aan Dawid het die Here belowe: jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd bestaan (2 Sam 7:16). Die engel het vir Maria gesê: Die Here God sal aan Hom (Jesus) die troon van sy voorvader Dawid gee en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie (Lk 1:32-33).

Ps 110:4 se belofte van ’n priester vir ewig word in Hebr 7:21 op Jesus toegepas: Jesus is met ’n eed deur God bevestig, wat vir Hom gesê het: Die Here het dit met ’n eed bevestig en Hy sal dit nie herroep nie: Jy is priiester vir ewig. So het Jesus ook van ’n beter verbond borg geword deur nie eke dag ’n offer te bring soos die priesters van die ou verbond nie, maar het Homself geoffer eens en vir altyd vir ons sondes.

Daarom is Jesus die Christus, die Gesalfde koning, priester, profeet, aangewys en toegerus met die Heilige Gees

(Mt 3:16-17; Joh 1:33-34).

 

Vertalings van die Bybel:

Die Ou Testament is in Hebreeus geskryf lank voor die koms van Jesus toe Hebreeus nog deur Israel gepraat is. Die Nuwe Testament is in die algemene taal van destyds, Grieks, geskryf toe die kerk van Jesus begin uitbrei het oor die hele Romeinse ryk. Vertalings kan nie presies vertaal wat daar in die tale staan nie, want die Hebreeuse en Griekse woorde het konnotasies wat net met ’n omskrywing alles kan sê wat in die teks staan, en moet die vertaler ’n keuse maak van die beste woord in die taal waarin dit vertaal word. So het Afrikaans bv. nie ’n woord wat die Engelse ‘gentle’ ten volle kan weergee nie, en het Engels nie ‘n woord wat die Afrikaanse ‘vrymoedigheid’ kan weergee nie. Terwyl die 53 vertaling se Afrikaans nie altyd duidelik is nie, het die 83 vertaling die betekenis verstaanbaar weergegee. Die 2014 se Direkte vertaling probeer so na as moontik aan die brontaal bly en nog goeie verstaanbare Afrikaans gebruik. Die Bybel vir Almal is vir die Dowes vertaal wat slegs 20% van ons woordeskat het.

5 ‘dus geen Kersfees, Paasfees, eerder Sabat en ou testamentiese feeste.’

Die mense het vir Jesus gevra waarom sy dissipels nie vas nie. Hy het gesê: Niemand gooi nuwe wyn in ou velsakke nie….nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi (Mark 2:18-22). Sy nuwe verbond het nuwe vorme nodig en sy bruilofsgaste kan nie vas as die bruidegom by hulle is nie.

Toe die Fariseërs kla dat Jesus se dissipels op die sabbatdag are pluk en eet, het Hy gesê: die sabbatsdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook oor die sabbat (Mark 2:23-28). En toe die Fariseërs hom dophou of hy die gebreklike man op die sabbat gaan genees het Hy kwaad en bedroef gevra: Mag ’n mens op die sabbatdag goed doen of kwaad doen, iemand red of iemand doodmaak? en toe maak die Fariseërs en die Herodiane op die sabbatdag ’n komplot om Hom dood te maak nadat hy die gebreklike genees het. (Mark 3:1-6).

Hebreërs 10:1 sê: Die wet van Moses is slegs ’n skadubeeld van die weldade wat sou kom, nie ’n werklike beeld daarvan nie. Die jaarlikse offers by die feeste kon nooit volkome van die sonde vry maak nie. God het die eerste offers van diere en graan afgeskaf en Jesus het sy ligaam as offer gebring, eens en vir altyd (Hebr 10:2-10). Dit vier ons met Paasfees, dat Jesus, wat self God is (Joh 1:1), vir die sonde van die hele wêreld se mense ons straf en skuld aan die kruis gedra het, as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29).

Die aand voor sy kruisiging vir ons sonde, nadat Judas die vertrek verlaat het om Hom te gaan verraai, het Jesus vir sy dissipels gesê: Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, so moet julle mekaa ook liehê (Joh 13:34).

En met Kersfees herdenk ons die geboorte van Jesus wat in die gestalte van God was en Homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, gehoorsaam tot aan die dood (Flp 2:5-11). Johannes 1:16-18 sê: uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. Hy het die Vader aan ons kom bekendmaak, so lyk ons God (Joh 14:9-10).

Skrywer:  Prof Francois Malan




Verstand benewel of toor – Hermie van Zyl

Willie vra:

In Galasiërs 3:1 gebruik Paulus die woord “toor” ( NLV) . In die 1983 vertaling praat hy van “verstand benewel” maar ek dink die Grieks verwys ook na toor . Hoekom sou hy die woord “toor” gebruik ?

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Galasiers 3:1.

“Toor” is inderdaad die beste vertaalekwivalent om hier te gebruik – so die NLV, die nuwe Afrikaanse Direkte vertaling (BSA) en Afrikaanse Standaard Vertaling (CUM). Dit klink taamlik erg om ‘n Christelike gehoor so “by te kom”, maar Paulus is in Galasiërs besig om sy gehoor met ‘n hele paar retoriese strategieë te oortuig dat die sogenaamde evangelie wat hulle tans aanhang (om weer terug te verlang na die sekerheid van Joodse wet, 1:6-7; 2:15-16; 3:2-3) geen evangelie is nie, in elk geval nie die evangelie is wat hy aan hulle verkondig het nie. Daarom noem Paulus die Galasiërs in 3:1 ook “dwase”, nóg ‘n sterk uitdrukking om die pad wat hulle tans bewandel as ‘n weg te beskrywe wat tot vernietiging van die evangelie sal lei.

Wat hy verder doen in die gedeelte (3:1-5) is om die Galasiërs se eie ervaring van die evangelie wat hy aan hulle gebring het (Christus aan die kruis, 3:1; ontvangs van die Heilige Gees, 3:2,5; wonders beleef, 3:5) as argument in te span vir die evangelie wat hy aan hulle verkondig het. Hulle het al hierdie dinge beleef sonder om die wet van Moses te onderhou. Watter bewyse wil hulle nog verder hê? Hulle eie ervaring kla hulle aan van dwaasheid.

In die lig hiervan is dit verstaanbaar dat hy hulle “dwaas” noem én dat hulle “getoor” is. Uiteraard gebruik hy laasgenoemde term metafories, maar nogtans is dit ‘n term uit die donker wêreld van heksery en towery, waar mense probeer het om ander in hulle mag te kry d m v swart magie, d w s, toorkuns waarby die duiwel betrokke is. In ons tyd sou ons dit selfs met satanisme in verband kon bring. Paulus suggereer dus dat die Judaïseerders in die gemeente (leraars wat die gemeente weer onder die wet van Moses wou indwing) vanuit hierdie agtergrond met die gemeente se “koppe smokkel”. Deur die leraars van toordery te beskuldig stel hy hulle dus in die swakste lig denkbaar om die gemeente terug te skok tot die waarheid van die evangelie.

Saamgevat: Met die retoriese tegnieke deur die lesers se eie ervaring van die evangelie teen hulle te gebruik, en om die teenstanders van die evangelie swart te smeer en met towery te assosieer, probeer Paulus sy lesers weer oortuig van die egtheid en waarheid van sy wetsvrye evangelie.

 

Prof Hermie van Zyl




Seun van Jona of Johannes? – Francois Malan

Wollie vra:

Graag sal ek wil weet. Volgens die 33 uitgawe van die Bybel was Simon Petrus die seun van Jona. In latere uitgawes van die Bybel word gepraat van Simon Petrus die seun van Johannes. Kan u asb vir my n uitklaring daarvan gee.

 

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

In Grieks word die twee name verskillend geskryf

In die Griekse teks van Johannes 1:42 sê Jesus: ‘jy is Simon die seun van Johannes’ (die Grieks het die genitiewe vorm ’Iooánnou wat beteken ‘van Johannes’) volgens twee van die oudste manuskripte uit ongeveer die jaar 200 n.C., een uit die derde eeu n.C., twee uit die vierde eeu n.C. wat deur die 1983-vertaling gebruik is, terwyl latere manuskripte vanaf die vyfde eeu n.C., wat destyds deur die 1933 vertaling gebruik is, lees ‘seun van Jona’ (Griekse genitief vorm’Iooannâ) So ook in Joh 21:15,16,17 ‘van Johannes’ teenoor lateres se ‘van Jona.’

Die verandering van Johannes na Jona deur latere afskrywers het waarskynlik gebeur deurdat hulle die Johannesteks aangepas het by die Griekse teks van Matteus 16:17 se ‘Simon Barjona,’ wat die Hebreeuse vorm netso in Grieks (Barioonâ) oorgeneem het. ‘bar’ in Hebreeus beteken ‘seun.’ Die 1933 teks het dit tot ‘Bar-Jona’ verander, amper soos twee manuskripte uit die 8e eeu n.C. wat dit as twee woorde geskryf het ‘Bar Jona.’ Die 1983 teks skryf dit soos in die oudste manuskripte as Barjona.

Die vrou wat in Grieks in Lukas 8:3 en 24:10 ‘Joanna’ (’Iooánna) genoem word, is deur die Hollandse en Afrikaanse vertalers as ‘Johanna’ vertaal. Die Griekse vroulike vorm kon meegehelp het aan die verwarring.

Skrywer:  Prof Francois Malan