Misbruik van kerk deur lidmate – Hermie van Zyl

‘n Leser vra:
Ons bly in ‘n klein plattelandse dorpie. Ons kerk is maar klein en ons gemeenskap nie welaf nie.

Ons sit met ‘n groot probleem, met mense wat sê hulle is lidmate van die kerk, maar slegs kerk toe kom wanneer hulle in ernstige nood is, of hulp soek. Ons pastoor het al sommige maande self nie eens salaris gekry nie, a g v tiendes wat nie inkom nie.

Hoe hanteer ons sulke gevalle? Ek weet ons moet mekaar liefhê, ek verstaan dit, maar hoe regverdig mens sulke gevalle in die kerk? Ek wil nie selfsugtig klink nie, ook nie oordeel nie, maar hoe kan ‘n mens die mense oortuig om getrou te wees en nie net hulp en gebed te soek wanneer ellende hulle tref nie?

Ek sal waardeer as iemand net my raad kan gee, want ek sukkel hiermee.

Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Daar lê eintlik twee kwessies opgesluit in die vraagsteller se skrywe: 1. Lidmate se verantwoordelikheid teenoor die kerk, en 2. Mense wat die kerk net ken wanneer hulle in die knyp is. Dit lyk my dis eintlik die tweede kwessie wat die vraagsteller kwel, maar ek begin by die eerste saak.

Ons “tiende”, of geldelike bydrae vir die kerk, is ten diepste ‘n hartsaak. Dis deel van ons geestelike lewe. Dis ‘n manier waarop ek die Here dien. Dis nie sommer net ‘n pligpleging wat afgehandel word sonder om daaroor te dink nie. ‘n Mens moet dus eers jou hart, jouself, vir die Here gee voordat jy oor geldelike bydraes vir die kerk begin praat. Die belangrike punt is dat jou “tiende” uitdrukking is van jou dankbaarheid oor wat die Here vir jou gedoen het. Dis ‘n teken daarvan dat alles wat ek het, eintlik aan die Hom behoort.

As mens kyk hoe Paulus in 2 Korintiërs 8-9 praat oor die Korintiërs se hulp aan die Jerusalem-gemeente, is daar ‘n paar belangrike beginsels hier oor ons geldelike bydraes wat ek net kortliks gaan noem.

Wat is die motief agter ons bydraes aan die kerk? Ons moet uit liefde gee. In 2 Kor 8:4,8-9; 9:5 is dit baie duidelik dat die gelowiges in Korinte uit liefde gee vir die gelowiges in Jerusalem. As daar nie hierdie gesindheid van liefde en erbarming is teenoor hulle wat swaarkry nie, moet ons selfondersoek instel; dan gee ons dalk uit verkeerde motiewe.

Wat is die doel van ons bydraes? Uit 2 Kor 8-9 tree die nood van die Jerusalemse gemeente sterk na vore. Maar daar is ook ‘n ander aspek, naamlik instandhouding van die kerk en sy werkers. Hoewel dit nie in 2 Kor 8 en 9 staan nie, kom dit wel voor in gedeeltes soos 1 Tim 5:18 en Matt 10:10, naamlik dat die arbeider sy loon werd is, ook hulle wat in die Here se wingerd arbei. Om sulke voltydse arbeiders te hê, kos geld, want hulle moet ook leef. Juis so kan die Here se koninkryk op aarde gebou word.

Hoeveel gee ons? 2 Kor 8:12 dwing nie ‘n spesifieke persentasie af nie, maar sê: volgens vermoë. Die rykes sal meer gee, die ander minder. Elkeen gee soos wat hy/sy kan bekostig. Die Here verwag nie van ons om te gee wat ons nie het nie. Hy sien in elk geval die hart aan, en daarvolgens aanvaar Hy die gawe. Ons geldelike bydrae is dus ‘n saak wat ons met God moet uitmaak. En dan moet ons met ‘n blymoedige hart gee (2 Kor 9:7). Só ‘n bydrae, so ‘n offer, is vir God aanneemlik.

Wat is die vrug van ons geldelike bydraes? Wanneer mens gee soos hierbo beskryf, spruit ‘n heerlike vrug daaruit voort. Eerstens word daar bande gebou tussen gelowiges (2 Kor 9:13-14). Tweedens, ons bydraes leer ons een van die belangrikste lewenslesse: Deur te gee, ontvang ons. Anders is ons net selfsugtig op onsself gerig.

Om hierdie punt saam te vat: Ons “tiendes” is uitdrukking van ons verhouding met God. Die gemeente moet opgevoed word om hulle bydraes so te sien. Dit vat soms lank voordat gemeentelede hulle bydraes sien as deel van hulle geestelike lewe. Die spreekwoord lui nie verniet nie: Die laaste ding wat tot bekering kom, is ‘n mens se beursie. Maar as gemeentelede eers geleer het om van harte, uit dankbaarheid en met liefde te gee, sal minder gemeentes in geldelike verknorsing verkeer. Die pastoor sal ook nie by geleentheid sonder salaris hoef te sit nie.

Kom ons kyk na die tweede kwessie wat die vraagsteller aanroer: dat sommige lidmate die kerk misbruik, dat hulle die kerk net ken wanneer hulle in nood is.

Hierbo het ons gesê: Om geld te gee, is deel van ons geestelike lewe. Die omgekeerde is ook waar: Om geld, seën, voorregte, gunste en gawes reg te ontvang, is ook deel van ons geestelike lewe. Daarmee bedoel ek: Baie mense “dien” God net vir sy gawes, nie ter wille van Homself nie. Hulle gaan kerk toe en leef ‘n ordentlike lewe omdat hulle dink hulle kan so God se gawes “verdien”. Hulle redeneer: Ek bring my kant, nou moet God ook sy kant bring. Dis duidelik dat so ‘n houding ‘n belediging vir God is. Want hoe sal ‘n ouer voel as sy kind ‘n front van vriendelikheid, gedienstigheid en inskiklikheid voorhou net om seker te maak dat hy/sy darem nie uit die testament weggelaat word nie. Eintlik het sulke kinders nie veel erg aan hulle ouers nie; daar is nie veel liefde verlore nie; hulle doen dit net uit ordentlikheid, ter wille van wat hulle uit die ouers kan kry. Daar is mense wat so met God en die kerk omgaan. Dis duidelik dat hierdie soort diens bymotiewe het. Dit gaan nie oor ‘n egte verhouding van liefde met God nie, maar net oor wat hulle uit Hom kan kry.

Nou, meer spesifiek die mense waaroor ons vraagsteller bekommerd is – hulle wat ook iets van God/die kerk wil hê, maar nie eens die “ordentlikheid” het om voor te gee dat hulle Hom dien nie. Jy sien hulle net in die kerk wanneer hulle in ‘n hoek gedryf word. Dan onthou hulle skielik dat God daar is, of dat sy “verteenwoordiger op aarde”, die kerk, daar is om te help. Dit is duidelik dat ook hier bitter min van ‘n egte verhouding met God ter sprake is. Hulle gebruik God net as ‘n finansiële of materiële kruk. Die kerk is net ‘n gerieflike vangnet wat moet keer dat hulle hulle finansieel te pletter val.

Hoe nou gemaak wanneer die kerk met hierdie verskynsel te doen het? Twee dinge moet hier gesê word:

1. Die kerk mag nie as geestelike afperser optree nie. Ons mag nie aan sulke mense sê nie: Ons sal julle slegs op ‘n geestelike proefbasis help; bewys eers dat julle dit ernstig met God bedoel, dan sal ons julle help. Nee, die kerk tree uit liefde en barmhartigheid op, ongeag of die persoon wat om hulp vra dit waardig is of nie. Want dit is soos God met mense werk. Hy eis nie dat ons eers moet bewys dat ons sy liefde waardig is voordat Hy help nie. Hy gee onvoorwaardelik. In Matt 5:45 sê Jesus: “Die Vader in die hemel laat sy son opkom oor goeies én slegtes, en Hy laat reën oor dié wat reg doen én oor dié wat verkeerd doen.” Dis die rede waarom ons teenoor almal ons liefde moet betoon, selfs ons vyande, en nie net teenoor dié wat in ons oë ons liefde waardig is nie.

Daarom, selfs al weet die kerk dat daar mense is wat die kerk misbruik, wat God net “opsoek” in tye van nood, moet ons nogtans met liefde en erbarming optree. Net soos God gee sonder om te verwyt, moet sy kinders dit ook doen. Dis wie ons is, ons kan nie anders optree as wat God handel nie.

2. Dit beteken egter nie dat ons nie met sulke “misbruikers” van God se liefde ‘n pad moet loop nie. Wanneer ons vermoed dat mense God en die kerk misbruik, moet ons dadelik help én dan die moed hê om met hulle te praat. Want baie mense het so geestelik afgestomp geraak dat hulle nie eens weet dat hulle die kerk misbruik nie. Vir hulle is dit maar soos die verhouding met God/die kerk werk. En dit vat gesprek en bemoeienis oor ‘n lang tyd heen om mense van insig te laat verander, selfs te laat skaam kry oor hulle optrede. Neem Saggeus (Luk 19:1-10): Dis eers nadat Hy Jesus werklik ontmoet het, en Jesus saam met hom na sy huis gegaan het, dat hy tot die besef kom dat hy mense verontreg het. En toe eers was hy bereid om te vergoed vir sy verkeerde optredes.

Daar is dus nie ‘n eenvoudige antwoord vir die probleem van “kerklike misbruikers” nie. Enersyds het die kerk nie ‘n keuse nie as om te help waar nood is. Die liefde van Christus dring ons daartoe. Andersyds moet ons met diesulkes ‘n pad van volhardende en liefdevolle “opheffing” loop. En dalk gebeur daar ‘n wonderwerk. Egte geestelike werk is ‘n lewenslange roeping van bemoeienis met mense – eerlike soekers én kansvatters.
Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Paulus oor gelowiges se bydraes – Waarom gee?

Paulus oor gelowiges se bydraes – Waarom gee?

Wanneer Paulus die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea motiveer (2 Kor. 8-9), noem hy etlike goeie redes vir die gelowiges om bydraes (vir hierdie saak) te gee.  Die eerste rede is ooglopend: dit sal hulle nood verlig.  Dit gaan oor medemenslikheid.  Maar daar is vir Paulus ook veel belangriker redes waarom die Korintiërs tot die saak behoort by te dra.  Veral laasgenoemde redes is in baie gevalle ook toepaslike motiverings vir gelowiges om vandag nog koninkrykswerk-bydraes te gee.

Wanneer Paulus die fondsinsameling vir die arm gelowiges in Judea motiveer (2 Kor. 8-9), noem hy ‘n hele paar goeie redes vir die gelowiges om bydraes (vir hierdie saak) te gee. 

Eerstens sal dit die gelowiges in Judea se nood verlig.  Dit is die oorspronklike doel waarmee die fondsinsameling tot stand gekom het (Hand. 11:27-30; Gal. 2:10), en is opsigself reeds ‘n goeie rede.  Daar is egter vir Paulus ook belangriker redes as blote medemenslikheid, naamlik die teologiese redes waarom die Korintiërs (finansiële) gawes vir hierdie saak behoort te gee.

Waarskynlik die vernaamste van hierdie teologiese redes, is dat dit genade (charis) sou vergestalt.  Genade is wanneer God se guns onverdiend ontvang word, maar ook wanneer guns (onverdiend) aan andere uitgedeel word.  Dit wat die gelowiges besit, is vanweë God se guns.  Die geleentheid om te gee, sowel as die wil en daadkrag om dit te doen, is vanweë God se genade.  Vir die gelowiges in Judea is die gawes wat hulle op die manier ontvang, te danke aan God se genade, ensovoorts.  Die goue draad regdeur Paulus se motiverings aan die Korintiërs om bydraes vir die saak te gee, is dat dit genade prakties sigbaar sal maak.

Net soos wat alles wat ‘n gelowige kan gee, eintlik van God ontvang is, net so is God ook die einddoel van alles wat gegee word.  Paulus redeneer: om bydraes vir die saak te gee, is diensbetoning aan God (leitourgia), ‘n vorm van danksegging aan God (eulogia), en dit lei tot die verheerliking van God.

Hierbenewens vergestalt die bydraes wat vir die Judese gelowiges gegee is, ook ‘n liefdesdiens aan hulle (diakonia) en is dit ‘n uitdrukking van die gemeenskaplikheid (koinonia) tussen gelowiges.

Die Korintiërs se gesindheid ten opsigte van die gee van bydraes word dan ook ‘n toetssteen van hulle liefde (8:8): hul liefde vir hul medegelowiges, vir Paulus (wie se eer op die spel was as die fondsinsameling sou misluk), en vir God.  Die manier waarop hulle hul bydraes vir die saak sou gee, of nie gee nie, sou dus ‘n bewys wees van die mate waarin Christus se liefde deel geword het van hulle lewens, al dan nie. 

Deur te gee sal hulle die voorbeeld van Christus navolg.  Hy het Homself gegee, selfopofferend, ten bate van die gelowiges.  Netso behoort die gelowiges ook hul bydraes te gee ten bate van hul medegelowiges, al vra dit selfopoffering van hulle.  Dié wat Christus as “Here” bely, sal leef na aanleiding van sy voorbeeld (8:9).

Dan is daar die ewewig-motivering (8:13-15).  Dit kom daarop neer dat die oorvloed van sommige, God se tydige voorsiening is vir die gebrek van andere.  Daarom behoort die Korintiërs, wat deur die guns van God tans (finansiële) oorvloed geniet, vanuit hul oorvloed by te dra tot die verligting van die Judese gelowiges se armoede.  Op hulle beurt kan hulle weer van hulle oorvloed met die Korintiërs deel, op die manier (miskien geestelik?) of tydstip waar die Korintiërs gebrek sou ly. 

Laastens maak Paulus, met die metafoor van saaiery (in 2 Kor. 9:6-15), die punt dat die gewer ook ‘n opbrengs kan verwag vanuit dit wat hy gegee het.  God voorsien die middele om te gee (saad), en Hy bring uiteindelik ‘n opbrengs (oes) daaruit voort.  Vir Hom is die gesindheid waarmee daar gegee word, die belangrikste (9:7).  Die een wat met ‘n gesindheid van terughoudendheid saai op die landerye, kan tog nie ‘n goeie oes verwag nie?  Maar die een wat met ‘n oop hand saai, kan ‘n goeie opbrengs verwag (9:6).  Dus: hy wat uitdeel met die gesindheid om ander mildelik daarmee te seën, kan verwag om ook deur God geseën te word.  Paulus dui dan vier maniere aan waarop God die Korintiërs sal seën, as hulle met hierdie gesindheid gee:

(1) Voorsiening in hul eie materiële behoeftes.  Deur Paulus se verwysing na “brood om te eet” (9:10) en dat die gelowiges genoeg sal hê om weg te gee (9:11), is daar egter duidelik nie hier sprake van ‘n welvaartsteologie, dat God die gewer hierom sal verryk nie.

(2) Hulle geleenthede en middele om ‘n bydrae te kan lewer, sal deur God vermeerder word (9:10). Let hier nie net op die belofte van ‘n vermeerdering van hul middele nie, maar ook op die doel waarvoor dit vermeerder word: sodat hulle nog meer kan weggee (9:11)!  Die moontlikheid om die eerste maal vrygewig te gee, met die doel om die seën wat daaruit voortkom dan selfsugtig op te gaar, is dus uitgesluit. 

(3) Deur te gee kry hulle deel aan die genadige werking van God (9:10-12).  Wat ‘n seën, om God se mede-genadewerker te kan wees!

(4) God sal vanweë hulle gedank en verheerlik word deur die Judese gelowiges (9:11-13).

(5) Die Judese gelowiges sal vir hulle bid en met verlange aan hulle dink (9:14). 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Paulus oor gelowiges se bydraes – Dit gaan nie oor die geld nie, dit gaan oor God

Wanneer Paulus oor gelowiges se bydraes praat, is sy taalgebruik buitengewoon.  Hy vermy die alledaagse begrippe wat met “geld” vereenselwig word en verkies om die saak in teologiese begrippe te verduidelik en te motiveer.  Sy doel daarmee is om die Korintiërs te laat opkyk van hulle beursies in hulle hande af, sodat hulle vir God kan raaksien (wat vir hulle iets oor hul beursies wil sê).  Vir Paulus gaan dit nie oor die geld nie, dit gaan oor God 

Die belangrikste teksgedeeltes waar Paulus gelowiges se bydraes bespreek, word in sy briewe aan die Korintiërs aangetref (1 Kor. 9, 16:1-4; 2 Kor. 8-9, 11:1-15, 20-21, 12:11-18).  In hierdie teksgedeeltes gaan dit veral om twee sake: bydraes vir die hulpfonds vir die arm gelowiges in Judea (bv. 1 Kor. 16:1-4, 2 Kor. 8-9), en bydraes vir ‘n apostel (Paulus) se persoonlike lewensonderhoud (bv. 1 Kor. 9, ens).

Die manier waarop Paulus hierdie onderwerpe aan die orde stel, is baie insiggewend.  In 2 Korintiërs gebruik Paulus byvoorbeeld nie een keer in die Griekse teks enige woord uit die “geld en geldeenhede”-woordfamilie nie.  Dit is opvallend, aangesien die tema van finansiële bydraes dadelik bespeur kan word wanneer die brief gelees word.  Trouens, hoewel Paulus die terme (juis) nie gebruik het nie, gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling sewe keer sinonieme vir “geld” om Paulus se bedoeling in Afrikaans weer te gee, sowel as ander woorde wat na finansies heenwys, aangesien dit moeilik vermy kon word in die vertalingsproses.  Die tema is dus duidelik aanwesig, maar Paulus se (oorspronklike) taalgebruik buitengewoon.  Hoekom spandeer Paulus byvoorbeeld twee hele hoofstukke (2 Kor. 8-9) daaraan om oor geld te praat sonder om een keer (in Grieks) ‘n sinoniem vir “geld” te gebruik?

Dit is opmerklik dat daar deurlopend, wanneer Paulus oor finansiële bydraes praat, begrippe gebruik word wat teologies gelaai is, in plek van die alledaagse woorde vir bydraes, geld of donasies.  Begrippe soos dank aan God, diens aan God, diens aan medegelowiges, genadebetoning ens. word ruim deur Paulus ingespan in sy besprekings van die onderwerp.  Dit moenie as blote eufemismes beskou word nie, met ander woorde ‘n strategie om die onderwerp op dié manier te versag of te verskans nie.  Bewus van die krag van taal om persepsies te vorm, te bevorder of af te breek (vgl. 2 Kor. 10:4-5), het Paulus op ‘n meesterlike wyse ‘n teologiese verstaan van die saak van finansiële bydraes onder die Korintiërs probeer kweek.  Hy het immers geweet dat die gemeente geneig is om nog wêreldse waardes en gesindhede jeens die saak te handhaaf.  Hulle het byvoorbeeld, tipies aan die kultuur waarbinne hulle hulself bevind het, aan die gewers en ontvangers van bydraes as “weldoeners” en “kliënte” gedink, met die wedersydse verpligtinge, eerbetonings en magspel wat daarmee gepaard gegaan het.  Paulus probeer hierdie gebruiklike manier-van-dink oor die saak van bydraes (“geskenke”) oorkom, deur by die Korintiërs ‘n nuwe, Christus-gesentreerde verstaan van die saak te kweek.  Ten einde hierdie doel te verwesenlik, gebruik hy meestal nie die gewone terme wanneer hy die saak motiveer nie, maar beskryf en motiveer hy die saak deurlopend met teologies gelade taal.  Hierdie soort taal wat hy gebruik, word dus doelbewus deur hom ingespan om ‘n ander, nuwe “manier van kyk na die saak” te bevorder, wat diep beïnvloed is deur die evangelie van Jesus Christus.  Deur sy taalgebruik wys Paulus eintlik daarop dat die saak van bydraes of dankoffers gee, nie gaan oor die geld nie, maar oor God!

Indien die Korintiërs (en ons!) sou inval by hierdie Christus-gesentreerde manier van kyk na die saak, het dit implikasies vir die manier waarop bydraes gegee, ontvang en bestuur word.  Die evangelie maak ‘n appél op ‘n gelowige se motiewe en gesindhede rondom die gawes wat hy/sy gee.  Netsoveel maak die evangelie ook ‘n appél op diegene wat, in een of ander hoedanigheid, die verantwoordelikheid het om hierdie gawes te bestuur.  En waar iemand in die posisie sou wees om as evangeliedienaar begunstig te word deur die gawes van die gelowiges, het die evangelie van Jesus Christus ook implikasies en voorwaardes vir die wyse waarop dit kan en moet geskied.  Hoofsaak is dat God in gelowiges se hantering van (hul) bydraes, sigbaar en verheerlik sal word.  

 

Skrywer: Ds Dirk Venter

 




Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]

Paulus oor gelowiges se bydraes – Hoe om te gee [2]

Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee.  Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)!  Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.

Wanneer Paulus die Korintiërs in 2 Kor. 8-9 motiveer om bydraes te gee ter verligting van die nood van die arm gelowiges in Judea, gee hy vir die gelowiges duidelike riglyne oor die gesindheid waarmee hulle hierdie bydraes behoort te gee.  Die gesindheid waarmee gegee word is immers vir God belangriker as die grootte van die gawe (8:12)!  Drie van hierdie regte gesindhede word hier bespreek, nadat nog vier reeds in ‘n vorige artikel genoem is.

Met liefde vir God en die medemens: Paulus beskou die manier waarop die Korintiërs gawes gaan gee, al dan nie, as ‘n toetssteen van hulle liefde (8:8), vir sowel God as vir hulle medemens.  Hoewel Paulus hierdie argument gebruik om die Korintiërs tot aksie aan te spoor, gaan dit hier oor meer as net aanmoediging.  ‘n Fundamentele teologiese uitgangspunt is ter sprake.  Liefde vir God word immers vergestalt, nie alleen in diens aan God nie (en Paulus beskryf die fondsinsameling wel as sodanig: leitourgia), maar ook in liefde vir die medemens wat bewys word (9:13) in praktiese dienslewering (diakonia) ten bate van die medemens.  In Paulus se hele teologiese beredenering word die manier waarop die Korintiërs hulle gawes gaan gee (al dan nie) dus werklik ‘n toets van hul liefde.  Sou hulle met die regte gesindheid gawes (volgens hul vermoëns) gee, bewys dit dat hulle God en hulle medegelowiges wel liefhet en wil dien.  Sou hulle vanweë verkeerde gesindhede nie wil gee nie, bewys dit presies die teenoorgestelde.

Met toewyding aan God (bo toewyding aan die saak):  Paulus merk op dat die Masedoniërs sy verwagtinge oortref het deur eers hulleself aan God te gee, en daarna ook aan homself; en dat dit inderdaad is hoe God wil hê dit moet wees (8:5).  Hiermee bedoel Paulus dat dit reg is dat hulle eerstens toegewyd aan God is, en dat hulle gehoorsaamheid en toewyding aan hom as hulle apostel, spesifiek ten opsigte van die saak van die fondsinsameling, daaruit voortvloei.  Sy hele teologiese uiteensetting van die saak van die gee van bydraes, sodat God eintlik as die oorsprong, verloop en doel daarvan beskryf word (vgl. 2 Kor. 9:6-15), maak dit ook duidelik dat die hele saak allereers oor God gaan.  Eers dan gaan dit ook oor die ander redes waarom hulle bydraes moet gee, soos byvoorbeeld dat die gelowiges in Judea se nood daardeur verrig sal word.  Paulus wil die gelowiges se oë en harte allereers op God rig, om te besef dat Hy ook ten opsigte van ‘n saak soos die geldelike bydraes van gelowiges, die oorsprong en doel daarvan is, en dat Hy ‘n groot invloed het op die manier waarop dit behoort te geskied.  Sy genade onderspan alles.  Gevolglik moet gelowiges se toewyding die regte prioriteitsorde vertoon: eerstens ‘n toewyding aan God Self, die oorsprong, doel en Here oor die verloop van die saak; en daarna ‘n toewyding aan die saak (waarvoor die bydraes gegee word).  As bydraes dus op so ‘n wyse gegee word dat dit eintlik vir God gedoen word (uit toewyding aan Hom), dan sal die motiewe en gesindhede van die gewer dienooreenkomstig gerig wees op die diens aan en verheerliking van God, bo alle ander moontlike uitkomste.

Volgens ‘n voorneme in die hart: Elkeen moet persoonlik en met erns by homself nadink, en dan ‘n bepaalde voorneme maak oor wat hy bereid is om (met vrymoedigheid, vreugde en vryheid) te gee (9:7).  Dit moet elkeen doen sodat hy kan gee sonder ‘n teësinnigheid wat met spyt gepaardgaan, of vanweë ‘n verpligting.  Paulus skryf nie voor hoeveel elkeen behoort te gee nie, maar bevorder wel die beginsel dat die hoeveelheid (hetsy te min of te veel) nie daartoe moet lei dat die gewer ‘n verkeerde gesindheid jeens sy gawe ontwikkel nie. 

 

Skrywer: Ds Dirk Venter