Die finale vernietiging van die bose – Hermie van Zyl
Jan vra:
Christus is uit die dood opgewek as eersteling, daarna dié wat aan Hom behoort by sy wederkoms. Daarna kom die einde wanneer Hy die koninkryk aan sy Vader oorgee, as Hy alle gesag en mag vernietig het. Christus moet as Koning heers totdat die Vader al sy vyande onder sy voete gestel het. Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood. En dan sal die Seun alles aan die Vader onderwerp en so ook Homself.
Kol 2: 15 sê egter: “Nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar ten toon gestel en oor hulle getriomfeer het.” In 1 Korintiërs lyk dit of hierdie vernietiging van die gesag en magte nog moet gebeur, terwyl Kolossense sê dat dit reeds gebeur het, hoewel daar nog ‘n laaste vyand is wat vernietig moet word – die dood. Maar hoe gebeur dit?
Verder, in 1 Korintiërs 15:29 bring Paulus ‘n doop in verband met die opstandingsgeloof – mense wat hulle vir die dooies laat doop. Paulus vra: Wat wil die mense bereik wat hulle vir die dooies laat doop as die dooies nie opgewek word nie. Wat is die betekenis hiervan?
Antwoord
Prof Hermie van Zyl antwoord:
Ons vraagsteller sien goed raak dat die tydstip waarop elke mag, gesag en krag deur Christus vernietig word inderdaad verskil tussen 1 Kor 15:24 en Kol 2:15. In 1 Korintiërs geskied dit in die toekoms – by die wederkoms van Christus – maar volgens Kolossense het dit reeds plaasgevind met Christus se eerste koms na die wêreld, meer spesifiek in die groot heilsdade van Christus aan die kruis en in die opstanding. Hoe moet ons nou sin maak van hierdie verskil? Is dit ‘n teenstrydigheid, of is albei waar?
Eerstens moet ons duidelikheid kry oor waarna die begrippe waaroor dit hier gaan, verwys. Wat is dit wat vernietig sal word (1 Kor), of wat reeds ontwapen is (Kol)? In die oorspronklike Grieks is twee van die begrippe wat in 1 Kor 15:24 en in Kol 2:15 voorkom, dieselfde, naamlik archē (heerskappy/regeerder/mag) en eksousia (gesag). 1 Kor 15:24 voeg ook nog dunamis (krag) by. Dit is nie so maklik om ‘n goeie greep op die begrippe te kry nie. Soms word hulle in die enkelvoud (1 Kor 15:24), ander kere in die meervoud (Kol 2:15) gebruik; soms word hulle neutraal aangewend (Kol 1:16), of selfs in ‘n goeie sin (Ef 1:21), ander kere in ‘n slegte sin (1 Kor 15:24; Ef 2:2). Dit is daarom nie altyd maklik om goeie vertaalekwivalente vir hulle te vind nie; dit hang baie van die konteks af hoe mens vertaal. Belangriker is egter om te probeer verstaan waarna hulle in die algemeen verwys.
Die antieke wêreld was baie bewus daarvan dat daar magte, kragte en gesag op aarde én in die hemel is waaraan ‘n mens uitgelewer is en waaroor jy nie veel beheer het nie. Soms word hierdie magte gepersonifieer as bomenslike wesens, soos engele, waarvan sommige goed is en ander weer boos. Ander kere word hierdie magte en kragte deur aardse figure of instansies vergestalt, soos regeerders en regerings, waarvan in die algemeen gesê kan word dat hulle regmatig gesag voer en dat mense aan hulle gehoorsaam moet wees. Maar ander kere – meesal – is dit weer so dat hulle boosheid verteenwoordig en dat mense deur hulle onderdruk word. Dis veral in die Openbaringboek so, waar die Romeinse Ryk gesien is as die verpersoonliking van sataniese onderdrukking, en dat hierdie mag (Babilon genoem in Op 14:8; 18:2) uiteindelik deur God vernietig en vervang sal word met die Godstad, die nuwe Jerusalem (Op 21:10).
Ons kan dit alles opsom deur te sê dat hierdie “regerings”, “magte” en “kragte” waarna Paulus verwys die samevatting is van alle aardse en kosmiese magte en heerskappye wat meesal die evangelie van Christus vyandiggesind is en teenstaan. Dit gaan hier oor al daardie bopersoonlike magte en kragte waaraan die mens uitgelewer is, wat sy lewe voortdurend bedreig, en wat die gevaar inhou om die mens van God te vervreem. Dít is die magte waarna 1 Kor 15:24 en Kol 2:15 verwys.
Nou kom ons by die eintlike vraag: Wanneer word hierdie magte en kragte vernietig? En dit is hier waar dit belangrik word om te onderskei tussen ‘n voorlopige en finale vernietiging van die (bose) magte wat oor die mens heerskappy voer, hetsy in die vorm van aardse regerings/regeerders, hetsy as bopersoonlike kosmiese magte. Veral in Paulus se geskrifte moet ons ‘n onderskeid tref tussen die “alreeds” wat gekom het en die “nog nie” wat uitstaande is. Albei is gelyktydig waar. Wat die “alreeds” betref: Dit is alreeds so dat die mag van die bose gebreek is met die koms van Christus na die wêreld. Daarom dat Paulus in Rom 6:1-14 kan sê dat ons saam met Christus gesterf het en daarom dood is vir die sonde, maar ook dat ons opgestaan het saam met Christus en daarom lewend is vir God. Ons is nie meer uitgelewer aan die bose se versoekings en vernietigende werking in ons lewe nie. Ons kan nou vir God lewe soos ons veronderstel is om te doen. Vandaar ook Paulus se gloeiende belydenis in Rom 8:38-39; hy is oortuig daarvan dat ons in alles meer as oorwinnaars is en dat niks – nie engele of magte of … kragte – ons kan skei van God se liefde nie. Die bopersoonlike magte se invloed is nou gebreek. Dit alles het natuurlik begin met Christus se koms na die wêreld. Reeds tydens sy aardse bediening sê Jesus vir sy dissipels dat Hy die Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het (Luk 10:18). Dit beteken dat die Bose se mag gebreek is en dat die koninkryk van God nou gevestig kan word.
Dit is hierdie werklikheid wat ook in Kol 2:15 uitgebeeld word as daar staan dat God elke mag en gesag ontwapen het en hulle as gevangenes in die triomftog van Christus weggevoer het. Die “alreeds” van die vernietiging van die bopersoonlike magte word hier met ‘n bekende toneel uit die antieke wêreld uitgebeeld. Wanneer ‘n generaal ‘n veldslag gewen het, het hy ‘n triomftog in sy tuisstad gehou. In hierdie triomftog het hy dan die belangrike figure van die verslane leer as gevangenes laat loop, saam met al die oorlogsbuit, om so aan die tuisskare te wys dat die vyand geen mag meer het nie. Hulle word nou in die openbaar ten toon gestel as ‘n mag wat geen bedreiging vir die tuisbevolking meer inhou nie. So sê Kol 2:15 is elke mag en gesag nou ontwapen en het hulle geen invloed meer nie; hulle het in Christus se triomftog as gevangenes geloop.
Terselfdertyd is dit ook waar dat daar ‘n “nog nie” is. Die Satan en sy magte is wel verslaan, maar is nog nie volkome vernietig nie; hulle loop nog soos ‘n brullende leeu rond om te soek wie hulle kan verslind (1 Pet 5:8). Ons moet dus nie dink dat ons voetjie-voetjie kan speel met hierdie magte nie; ons moet nugter en waaksaam wees. Ons is nog op pad na die voltooiing van God se koninkryk wanneer die oorwinning wat reeds behaal is toe Christus aan die kruis gesterf het en opgestaan het uit die dood, finaal voltrek sal word. Mens kan dit amper voorstel met die verskil tussen ‘n veldslag en ‘n oorlog: Christus se eerste koms het die veldslag teen die bose magte gewen; die vyand se rug is beslissend gebreek, maar die oorlog is nog nie verby nie. En dít is die situasie wat in 1 Kor 15:24 uitgebeeld word. Eers wanneer die einde kom by Christus se wederkoms, sal elke mag, gesag en krag finaal vernietig word. Dan sal die laaste vyand, die dood, ook vernietig word, en sal Christus die koninkryk van God, wat Hy reeds kom vestig het op aarde met sy eerste koms, aan die Vader oorhandig. En dan sal God alles in almal of alles wees (1 Kor 15:28). Dan is die oorlog eers verby. Hierdie werklikheid is nog uitstaande, dit kom nog.
Dus, beide die “alreeds” en die “nog nie” van die vernietiging van die magte, kragte en gesag wat die bose versinnebeeld, is volgens die Bybel waar, en daaraan moet ons vashou.
Laastens net iets oor 1 Kor 15:29 waar staan dat daar gedoopte gemeentelede in Korinte was wat hulleself in die plek van afgestorwe, maar ongedoopte, familielede laat doop het. Die bedoeling was uiteraard dat die gemeentelede op daardie manier wou verseker dat hierdie afgestorwenes ook deel kry aan die lewe in Christus (vgl Rom 6:3-5). Ons weet egter niks verder van hierdie gebruik nie – waar dit vandaan kom, hoe dit uitgevoer is, en of Paulus dit goed- of afgekeur het nie. Die enigste rede waarom Paulus dit noem, is om dit as een van sy argumente te gebruik waarom dit sinvol is dat die gemeente in die opstanding sou (bly) glo. Want waarom, redeneer Paulus, sou mense so ‘n doophandeling uitvoer as hulle nie in die opstanding glo nie? As daar geen opstanding is nie, is dit immers sinloos om iemand wat reeds dood is te laat deel in Christus se opstanding. Dit sou geen voordeel vir die afgestorwenes en geen troos vir die agtergeblewenes inhou nie. Al wat ons verder oor hierdie doophandeling kan sê, is dat dit klaarblyklik nie wye ingang gevind het nie (om voor die hand liggende redes). Dit het waarskynlik nie wyer as Korinte voorgekom nie (nêrens elders in die Nuwe Testamente lees ons hiervan nie), en dit moes sekerlik redelik gou in Korinte self in onbruik verval het. Dit is dus nie iets wat ons vandag moet laat herleef om so ons geloof in die opstanding te bevestig nie. Dít is nie die rede waarom dit opgeteken staan in 1 Kor 15 nie; dis bloot ‘n handige argument wat Paulus gebruik het om op die sinloosheid van ‘n (doop)gebruik te wys as daar nie in die opstanding geglo word nie.
Skrywer: Prof Hermie van Zyl