17 Augustus: Vergeet van ingewikkelde berekenings. – Jan van der Watt

2 Kor 8:1-24 (fokus 8:1-24)

 Die Here het ons vir mekaar gegee. Dit is sy meesterplan. As elkeen vir die ander een sorg, het jy ‘n hele kerk vol mense wat vir jou sal sorg. As jy te min het, sal ander vir jou sorg en as jy genoeg het, kan jy weer vir ander sorg (8:14). So kan jy veilig voel. Die swakpunt is egter dat as elkeen nie sy deel doen nie, die plan nie so goed werk nie.

Deesdae praat ons van die “tiendes” as dit by die plan van God kom. Dit is nogal ‘n groot onderwerp van bespreking. Ons het lang debatte of ons presies ‘n tiende van ons inkomste moet gee of nie. Paulus sê jy hoef nie jou tiende te gee nie. Nee, jy moet gee wat nodig is. Dit is nie ‘n saak van die wet nie, maar van die hart. Dit kom nie uit dwang nie, maar uit liefde (8:8). Daarom kan jy die een maand min gee, maar die volgende maand baie na gelang van die behoefte. Jy moenie na ‘n reëlboek kyk nie, maar na die behoeftes van jou broers en susters rondom jou.

Die Here is so goed vir ons en gee ons so baie (8:9). Wat Hy ons gee, kan ons nie met al die geld in die wêreld koop nie. Hy het ons lewens vir ons teruggegee, vir altyd. Wie kan dit in tiendes meet of terugbetaal? Daarom maak Paulus die saak vir ons eenvoudig. Jy behoort aan die Here en het Hom lief. Gee daarom aan die Here wat nodig is en vergeet van al die ingewikkelde somme en berekenings van tiendes en so aan.

Gee uit ‘n liefdevolle hart. Niemand forseer jou nie, en moet dit ook nie toelaat nie.




16 Augustus: Ons moenie mekaar gebruik nie, ons moet mekaar dien. – Jan van der Watt

2 Kor 7:2-16 (fokus 7:2-4)

Manipulasie van mense wat ander tot hulle eie voordeel gebruik of misbruik is so oud soos die mens self. Die manipulasie-instrumente wissel van lieg en bedrieg tot mooipraat en op jou gewete speel. So het die dominee verby ‘n seuntjie gestap wat ‘n klokkie by ‘n voordeur wou druk, maar nie kon bykom nie. “Dominee, help my asseblief, want Dominee het mos Sondag in die kerk so gepreek”. Natuurlik help die dominee en druk die klokkie. Die volgende oomblik trek die seuntjie met ‘n spoed daar weg: “Dominee, nou moet ons hardloop”.

Die Bybel het nie goeie woorde vir mense wat ander mense net vir eie gewin misbruik nie: net solank ek iets uit daai persoon kan kry stel ek in hom belang (7:2). So praat die Bybel nooit oor mense nie. Maar die soort manipuleerdery wemel rondom ons. Mense probeer jou gedurig forseer om iets te doen wat jy nie wil of sou nie, deur op jou gewete te speel. ‘n Mens is veral kwesbaar in verhoudings of plekke wat regtig vir jou saakmaak. Kyk hoe gou gebeur dit in liefdesverhoudings: “As jy my liefhet, dan…”. Vriende doen dit net so graag: “Ag, moenie ‘n ou spoil sport wees nie…”. Voor jy jou kon kry doen jy dit wat jy nie wou nie. By die werk gaan dit dikwels nie anders nie. Jy word teenoor ander afgespeel net om jou te probeer forseer om “die onderdanige een” te wees wat selfs die verkeerde sal doen net omdat jy nie in die beeld wil inpas waarmee die manipuleerder jou afpers nie.

En dan is daar die beskuldigings: “Ja, jy doen nooit iets vir my nie…”, of dalk die beledigings: “Jy is ‘n te groot bangbroek…, jy sal in alle geval niks regkry nie”.

Manipulasietaal moet ons vinnig kan uitken, veral as ons gelowiges is, anders trap ons dalk reguit in die strik. Dit kom van mense wat ons net wil misbruik om dinge vir hulle te doen wat ons normaalweg nie sou doen nie – dan moet ons dalk soos daardie dominee weghardloop. Ons moet besef: manipulasie het nooit ons eie goeie belange op die hart nie. Ons word net misbruik. En daarvan hou die Bybel nie – ons moenie mekaar gebruik nie, ons moet mekaar dien!




15 Augustus: Hemelse geld. – Jan van der Watt

2 Kor 6:1-7:1 (fokus 6:1-10)

Min van ons droom nie oor rykdom en skatte nie. Sê nou ons kry die geheime kaart wat vir ons na ‘n grot met die kiste vol goud en diamante toe lei. Of ons wen skielik ‘n sak vol geld. Dan bêre ons dit in die bank sodat dit meer kan word. Die interessante is dat ons ons skatte gedurig wil weggebêre of weggesteek.

Die Here is ook opgewonde oor rykdom. Die vroutjie wat haar laaste paar sente vir die Here gegee het, was in sy boeke ryk. Die seuntjie wat sy twee broodjies en paar vissies vir die Here gegee het om vir ander uit te deel was volgens Hom ryk. Paulus wat geslaan en beledig word ter wille van die evangelie was vir die Here ryk (6:10).

Ja-nee, die Here se bankstelsel werk net die teenoorgestelde as ons s’n. Dit is nie hoe meer ons kan toesluit in banke of in grotte kan bêre wat jou ryk maak nie, maar hoe meer jy kan uitdeel. En ons almal het baie om uit te deel: liefde, opregtheid, vriendelikheid, geduld… (6:6). Om die waarheid te sê, hoe meer jy weggee, hoe groter word jou hemelse bankrekening. God betaal self die geld daarin. Die note is van genade gemaak en die munte van sy krag. Al het jy nie ‘n sent op jou naam in ‘n aardse bank nie, sal jy meer as genoeg genade en krag in God se bank hê om jou deur hierdie lewe te dra, wat jou ook al tref.

Ongelukkig is party van ons se aardse banke vol, maar ons hemelse rekening is leeg. Ons ken God se genade en sy krag nie meer nie, omdat ons nooit eers meer ons hemelse bankboekie gaan soek om te kyk wat daar in is nie.

Een ding moet ons almal onthou. Ons kan nie die geld wat blink eendag saamvat nie. Daar in die hemel lyk geld anders.




14 Augustus: God het jou sondekilometers weggevat. Nou’s jy soos nuut. – Jan van der Watt

2 Kor 5:11-21 (fokus 5:11-21)

 ‘n Ou wou eendag sy ou kar verkoop, maar dit het so bietjie baie kilometers op gehad. Sy oneerlike vriend stel voor hy draai sy kilometers terug. Na ‘n ruk sien die vriend die ou ry nog met dieselfde kar. “Het jy nie die kar verkoop gekry nie?” wou die vriend weet. “Nee, nadat ek klaar was het die kar so min kilometers op gehad dat ek besluit het om hom te hou”, kom die antwoord.

Net so het elke gelowige ‘n lang toekoms saam met God, want God maak elke gelowige nuut. Hy hou Hom nie besig om kilometers van sonde terug te draai nie, maar maak sommer die hele kar nuut (5:17). Hoe maak God ons nuut? Wel, ons is nie karre nie, maar mense. Karre loop op petrol, mense op verhoudings. Daarom is ons nou nuut omdat Jesus ons verhouding met God weer heeltemal kom nuut maak het.

Die probleem is eintlik nie ons baie kilometers sonde nie, maar dat ongelowiges se kar glad nie loop nie. Hulle verhouding met God lê aan skerwe, of het eintlik nog nooit bestaan nie. Maar in die hande van Jesus word daai kar ‘n nuwe een.

Jesus het “versoening” tussen God en die mense bewerk, sê Paulus (5:18-19). Dit beteken dat Hy al die dinge wat die verhouding tussen God en mense bederf het, weggevat het. Gelowiges se hande is nou weer stewig in die hand van God. So kan hulle weer nuut begin lewe, want hulle leef nou weer saam met God. Hulle word uitgenooi om by Hom te wees, deur Hom versorg te word, sonder dat hulle die hele tyd hoef te voel hulle wil wegkruip omdat hulle te veel sonde het.

Nee, op God se meterlesing is gelowiges se kilometers sonde weg, want Jesus het dit vir altyd weggevat. Jy is nuut. Nou kan jy regtig maar net God se teenwoordigheid ten volle geniet. Vir Hom is jy weer sy vriend.