28 Julie: Die Here los jou nooit alleen nie. – Jan van der Watt

1 Kor 11:23-34 (fokus 11:23-26)

 Elkeen van ons wonder seker maar partymaal waar die Here is. Dit sou so lekker gewees het as Hy op die bank by ons kon sit of as ons Hom sommer in die oë kon kyk. Maar dit werk natuurlik nie so nie – die Here is nie so by ons nie. Tog is die Here by ons en sal Hy by ons bly, dit het Hy beloof.

Maar waar is Hy dan? Wel, iemand kan op verskillende maniere by iemand anders wees. As ons met die epos op ons rekenaar met iemand korrespondeer, is daardie persoon nie fisies by ons nie, maar is tog daar, op ‘n ander manier. Hy kan gedagtes met ons wissel, vir ons raad gee en wat nog alles. Net so is my dogter of vrou “by my” as ek lank weg is en ‘n brief van hulle kry. Dit is asof hulle self met my praat. Mens kan dus op verskillende maniere by jou wees; hulle hoef nie noodwendig fisies langs jou te staan nie.

Jesus ook. Hy kan op baie maniere by jou wees, deur sy woorde wat Hy agtergelaat het, deur ander se liefdesdade wat hulle namens Hom aan jou doen, in gebed, en so kan ons aangaan. Maar die Here het voor Hy weg is, gevra dat ons een ding moet doen wat ons altyd daaraan sal herinner dat Hy vir ons dáár is. Dit is die nagmaal. Hy het dit selfs so sterk gestel dat Hy gesê het as ons die wyn drink en die brood eet moet dit vir ons voel of ons Hom letterlik deel maak van onsself (11:24-25). So naby wil Hy regtig aan ons wees. Dit moet byna wees asof ons aan Hom kan vat.

As jy ooit twyfel of die Here in jou belangstel of naby jou wil wees, dink aan jou laaste nagmaal. Daar het Hy tasbaar beloof dat Hy altyd by jou wil wees. Hy is net so ver as die naaste gebed van jou af!




27 Julie: Huweliksmaats moet mekaar respekteer. – Jan van der Watt

1 Kor 11:2-22 (fokus 11:2-16)

In die ou dae het vrouens hoede kerk toe gedra, want dit staan in die Bybel dat jy ‘iets op jou kop moet hê’ (11:5-6). Dis nie hoe Paulus dit bedoel het nie.

Destyds moes vrouens kopbedekkings dra as hulle uitgaan in die publiek. Dit was ‘n teken dat hulle hulle mans asook normale gesonde gesinsverhoudings respekteer. As jy nie so kopdoek opgehad het nie, het mense gedink jy is ‘n slegte vrou wat mans soek. In die privaatheid van die huis was dit egter nie nodig om kopdoeke te dra nie. Toe gebeur daar iets – die Christene begin kerk hou in huise. Skielik is die huis nou nie meer ‘n privaat plek as die gemeente daar bymekaar kom nie, maar ‘n publieke plek (‘n kerk). Wat Paulus nou sê is dat vrouens ook in die huis maar kopdoeke moet dra as die kerk aan die gang is, anders dink mense wat daar inloer dalk hulle is slegte vrouens. As die diens verby is en die huis is weer huis kan hulle maar weer die kopdoeke afhaal.

Dit gaan dus nie oor kopdoeke nie, maar oor die ‘seine’ wat ‘n vrou uitstuur. As jy nie jou ‘kopdoek’ dra nie, stuur jy seine uit dat ander mans maar na jou kan kyk… en dalk ‘n bietjie meer. Ons doen dit vandag anders en daarom moet getroudes hier katvoet loop. Ons stuur ander, miskien meer subtiele seine uit om ander mans en vrouens na ons te laat kyk… en nie net kyk nie. Dit kan ons kleredrag wees, ons manier van praat of die uitnodigende kyk. Daarvan hou die Here nie. As jy getroud is, is die tyd vir uitnodigende seine verby! Dan moet jy so aantrek en so met die teenoorgestelde geslag omgaan dat mense die groot sein kry: Ek respekteer my huweliksmaat. Ons behoort aan mekaar.




26 Julie: Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. – Jan van der Watt

1 Kor 10:14-11:1 (fokus 10:23-33)

Dit is ‘n wonderlike voorreg om die God te aanbid wat alles gemaak het, om die eenvoudige rede dat alles syne is. As ons musiek speel, kan ons dit geniet, want God het musiek gemaak. As ons kos eet hoef ons nie bang te wees dat daar allerhande bose geeste in is  nie, want God het dit ook gemaak. Ja, ons kan regtig alles geniet met ‘n lied in ons hart, ‘n lied wat die hele tyd vir die Here dankie sê vir alles wat Hy vir ons gee (10:31). Ons kan dit net geniet.

Ons moet egter veral vir twee afdraaipaadjies versigtig wees:

  • Die een afdraaipaadjie is om te vergeet dat die Here alles gemaak het vir ons om te geniet. Ons begin dan weghardloop vir alles en gaan kruip in ‘n koekon van wette weg. Oppas vir dans… jy mag nie daai musiek speel nie… jy mag nie dat in jou huis hê nie en so aan. Moenie dat die wonderlike geleenthede wat die Here vir jou in jou lewe geskep het by jou verbygaan omdat jy in ‘n koekon van wette lê en wegkruip nie.
  • Dit gesê, moet ons ook die ander sy onthou. Daar is dinge waarvoor jy maar versigtig moet wees en liefs moet vermy. Die tweede afdraaipaadjie is om dit wat die Here vir jou gegee het verkeerd of sleg te gebruik. Jy gebruik dit nie om God gelukkig te maak nie, maar om ander mense seer te maak of te laat struikel. Oppas daarvoor. Jy kan nie die Here se skepping gebruik om af te breek of stukkend te maak nie.

Moenie die vreugde van die lewe misloop nie. Geniet dit op die regte manier. Probeer om nie ander mense of veral God seer te maak met die manier waarop jy leef nie.




25 Julie: Maak tyd vir jou geestelike oefeninge. – Jan van der Watt

1 Kor 9:24-10:13 (fokus 9:24-27)

“My vrou het gesê dat as ek nie ophou golf speel nie, sy my gaan los”, sê ‘n ou eendag vir sy vriend. “Dis jammer”, antwoord die vriend. “Ja, ek gaan haar mis”. Prioriteite in die lewe is belangrik. Snaaks genoeg vra ons nie altyd wat regtig belangrik is nie. Ons spandeer meer tyd aan goed wat minder belangrik is as aan dit wat regtig tel.

Een van die geheime van ‘n normale Christelike lewe is om reg te fokus. Jou prioriteite moet reg wees. Eerste dinge moet eerste kom. Dit is waarvan Paulus praat as hy sê ons moet soos atlete oefen (9:24-27). Destyds het ‘n tweede of derde plek niks getel nie; jy moes wen. Om dit te kon doen, moes jy hard en doelgerig oefen. Jy moes reg eet en om aan die Olimpiese spele deel te neem het atlete partymaal vir maande voor die tyd in oefenkampe gaan bly. Om te kon wen moes jou prioriteite en fokus reg wees. Dit werk nie anders met ‘n mens se geestelike lewe nie.

Ons is dikwels so besig met ons alledaagse ‘golf’ dat ons die Here ‘n bietjie afskeep, nie noodwendig omdat ons dit wil doen nie. Dit gebeur maar, omdat ons nie tyd maak vir ons ‘geestelike oefening’ nie. Ons bedoel om te bid en stil te word, maar voor ons ons kon kry is die dag verby en dan moet die Here met net ‘n kort gebed tevrede wees. As jou lewe so lyk, moet jy weet… jou prioriteite is besig om deurmekaar te loop.

Jou prioriteite moet reg wees – maak genoeg tyd vir jou ‘geestelike oefeninge’.