9 Julie: Jy’t ‘n toekoms; God het beloof…. – Jan van der Watt

Rom 15:1-13 (fokus 15:7-13)

 

Eenmaal op ‘n 4×4 safari het ons voertuig diep in die Soutpansberge gebreek op ‘n bospaadjie wat eintlik nie ‘n paadjie was nie. Daar’t ons gesit. Uiteindelik het ‘n man op ‘n perd daar verbygekom en beloof om hulp te gaan soek. Sy belofte was al hoop wat ons gehad het. So het ons maar daar sit en wag en elke nou en dan gesê: “Hulle sal kom help. Die man het mos gesê”. Daai woorde het ons aan die gang gehou en gesorg dat ons nie moed verloor nie.

Dit is presies waarvan Paulus praat as Hy sê dat ons op God kan hoop (15:13). Hy het beloof dat Hy weer sal kom en dit moet ons moed gee. Wat ons nog verder moed moet gee is die verskil tussen die man op die perd en God. Ons kan seker wees dat God nie sy woord sal breek nie. Wat Hy sê sal gebeur, daarvan kan ons seker wees. Ons hoop staan op baie vaste fondamente.

Daarom is een van die uitstaande kenmerke van alle gelowiges hulle onwrikbare hoop op die toekoms. As dit miskien op ‘n dag swaar gaan, kan gelowiges opkyk en uitkyk na God se toekoms wat vir hulle wag. Uit hierdie toekoms wat wink, kan hulle krag kry vir wat nou vir hulle wag. Ons mag dus nooit die wonderlike toekoms wat saam met God vir ons wag uit die oog verloor nie. Ja, God se beloftes moet ons in die bospaadjies van hierdie lewe aan die hoop hou, sodat ons nooit moed verloor nie.

Daar wag ‘n wonderlike toekoms vir jou as Christen. God het dit beloof.




8 Julie: Moenie afbreek nie, bou op. – Jan van der Watt

Rom 14:13-23 (fokus 14:13-23)

 Boks is ‘n snaakse sport. Al wat jy die hele tyd doen is om te kyk hoe hard jy die ander persoon kan slaan op die plekke waar dit die seerste maak. En wat jy die graagste wil doen is om hom heeltemal uit te slaan sodat jy die enigste een is wat in die kryt oorbly.

Daar is nogal parallelle tussen boks en kritiek lewer. Kritikasters wil met hulle woorde mense daar ‘slaan’ waar dit die seerste maak. Hulle wil eintlik hê dat die ander persoon na die gesprek nie meer op sy voete staan nie. Hy moet platgeslaan wees. Gewoonlik groei hierdie houding uit ‘n sterk minderwaardigheidsgevoel. Jy voel niemand sien jou raak nie. Daarom doen jy jou bes om almal plat te slaan sodat jy alleen in die kryt oorbly. Dan sal die mense jou darem raaksien, of so dink jy. Hierdie tipe van houding keur die Here natuurlik glad nie goed nie. Jy kan nie jouself probeer beter maak deur ander sleg te maak nie. Dit werk nooit nie.

Natuurlik gaan dit nie hier oor gesonde kritiek nie. Gesonde kritiek wil opbou. Dit is soos die afrigter in die bokskryt. Soms plant hy ook ‘n geniepsige hou, maar dan om vir die ‘leerling’ te wys hoe om homself beter te beskerm. Opbouende kritiek het sy plek.

As jy kritiseer, maak seker dat jy opbou en nie afbreek nie.




7 Julie: Jy is sowaar heilig. – Jan van der Watt

Rom 14:1-12 (fokus 14:1-12)

 In die Bybel lees ons mos van sekere plekke (die tempel), of van sekere mense (die priesters), of sekere dae (die Sabbat) wat heiliger is as die gewone alledaagse dinge. As jy voor hierdie dinge te staan gekom het, moes jy baie versigtig gewees het, want dan was jy sommer baie naby aan die Here. Ons dink baie keer dat dit vandag nog so werk. Die Here is in die kerk en as ek dus nie Sondag daar was nie, was ek nie by Hom nie; net die dominee of pastoor kan vir my bid, want hy is in direkte kontak met God…

Hoe anders het Jesus dinge net nie kom maak nie! Hy het Homself nie in ‘n kerk toegesluit of net met dominees of pastore gewerk nie. Nee, Hy het in elkeen van ons kom woon. Hy het jou persoonlike vriend geword. Die ‘Heilige Een’ is nou in jou. Hy is net ‘n gedagte ver. Daarom is die kerk nie méér heiliger as daar waar jy langs jou bed kniel om te bid nie… die Here is daar by jou net soos in die kerk. Hy is immers die een wat ‘n plek heilig maak. En Hy is ook nie meer by die dominee as by jou nie. Net so behoort elke dag van jou lewe aan hom; ja, elke oomblik van jou lewe behoort eintlik ‘n spesiale feesdag te wees waartydens jy aan die wonderlike teenwoordigheid van die Here in jou lewe dink. Daar hoef nie net een dag waar die Here nou spesiaal by jou is, daarvoor uitgesonder te word nie. Nee, dit is nou ‘elke dag’.

Christen, jy is heilig, want die Heilige is in jou!




6 Julie: Kniediep in liefdeskuld . – Jan van der Watt

Rom 13:8-14 (fokus 13:8-10)

 Neem ons altyd die Bybel ernstig op? Wel, in 13:8 staan dat ons niemand iets moet skuld nie. As ons dit moet doen, sit die meeste van ons sonder ‘n huis en ‘n kar. Om die waarheid te sê, ons hele samelewing loop op die wiele van skuld. Hoe nou gemaak?

Paulus is nie hier regtig teen skuld as skuld nie, maar teen wat skuld aan jou doen. As jy destyds iemand iets geskuld het, het jy jouself eintlik aan daardie persoon ‘uitverkoop’. Jy het dan ‘n verpligting teenoor hom gehad. So het hy dan ‘n houvas op jou lewe gekry en kon jou lekker manipuleer met die skuld. Hy kon jou selfs as slaaf laat verkoop of in die tronk laat gooi as jy nie betaal wanneer hy die geld wil hê nie (Matt 19:25,30). Paulus sê Christene moet hulleself nie so ‘uitverkoop’ aan ander nie, want netnou verwag ander dat Christene dinge moet doen waarvan Jesus nie hou nie. Dan is hulle in die moeilikheid. Christene moet dus nooit iets doen wat hulle vryheid wegneem om Jesus te dien nie.

Maar iets wat jy ander mense wel kan skuld is liefde. As ander sê: “Ek eis liefde van jou” en dan moet die Christen opdok en sommer baie gee ook. Daarvan hou die Here. Die Here het vir jou so baie van sy liefde gegee dat jy Hom nooit sal kan terugbetaal nie. Maar jy moet maar probeer, deur dit vir ander mense uit te deel.

 Al houvas wat ander mense op jou mag hê, is die houvas van liefde.