5 Julie: Wees ‘n goeie landsburger. – Jan van der Watt

Rom 12:9-13:7 (fokus 13:1-7)

 “Wees ‘n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is” (13:1). Nie almal voel ewe gelukkig met hierdie opdrag in die Bybel nie. Waarom sê Paulus dit tog?

Wel, wie gaan seker maak dat jou neus nie afgeskiet word as jy dit by die deur uitsteek nie? God het die staat ‘in diens geneem’ om te sorg dat dit nie gebeur nie. Dit is hierdie ‘diensknegte’ van Hom wat die strate veilig moet hou, wat jou met ‘n geruste hart in die winkels moet laat rondloop, wat die wette van die land so moet reël en toepas dat almal gelukkig is. Ja, hulle moet sorg dat jy veilig en rustig met jou alledaagse lewe kan aangaan. Dit is hulle taak om te sorg dat alles nie in chaos en anargie verval nie. Daarvoor het hulle die reg en mag om mense te straf en selfs dood te maak, alles met die doel om die samelewing gesond en reg te hou.

Juis daarom moedig Paulus Christene aan om goeie en voorbeeldige landsburgers te wees. Hulle moenie die taak van die staat nog moeiliker maak nie, want God wil juis hê dat alles in die samelewing reg moet verloop. Juis daarom noem Paulus die staat die dienaars van God – hulle moet sorg dat alles goed gaan. Met hierdie dienaars van God moet elke Christen saamwerk.

Natuurlik is dit ‘n probleem as hierdie dienaars nie meer doen wat God vra nie. Paulus bekommer hom nie hier daaroor nie. Johannes sou later iets daaroor in Openbaring 13 skryf.




4 Julie: Die Here wil menseoffers hê. – Jan van der Watt

Rom 11:33-12:8 (fokus 12:1-8)

 Het jy al ooit oor offers in die Bybel gewonder? In die Ou Testament is daar net diereoffers. Menseoffers word totaal verbied. In die Nuwe Testament is dit net omgekeerd. Daar is diereoffers uit en menseoffers in: Jesus is vir ons geoffer en hier in 12:1 word daar selfs gesê dat ons offers moet wees. Hoe nou gemaak?

Wel, die verandering het gekom toe dapper Joodse soldate hulle lewens in die stryd teen die vyande verloor het. Toe het die Jode begin praat van mense wat hulle lewens vir die Here opgeoffer het. Hierdie mense was natuurlik helde, want hulle vasberadenheid, liefde en toewyding aan die Here was tot die dood toe. As iemand dus sy lewe so uit totale liefde vir ander gee, is daar van offers gepraat.

Natuurlik, toe Jesus kom en sy lewe uit totale liefde en oorgawe vir ons gee, kon dit nie anders nie – dit is ‘n offer genoem. Hierdie was nie sommer net ‘n “opoffering” nie, maar ‘n offer wat vir ons sonde by God betaal het.

En nou is die verhaal by jou (12:1): jy moet ook ‘n offer in God se hand wees. Om dit te kan wees moet jou lewe ook oorloop van liefde en lojaliteit teenoor Hom, anders gaan jy dalk oppad altaar toe omspring en weghardloop. Jou lewe behoort aan Hom en daarom moet jy jou lewe vir Hom gee.

Maar jou offer werk bietjie snaaks: dit beteken nie dat jy doodstil op ‘n altaar gaan lê nie. Allermins, dit beteken dat jy elke oomblik sal reg wees om in oorgawe die wil van die Here te doen. Jou offer is nie ‘n “sondeoffer” nie; dit is ‘n “aksieoffer”.




3 Julie: God se geduld raak nie op nie. – Jan van der Watt

Rom 11:11-32 (fokus 11:25-32)

 Een van die lekkerste dinge is om ‘n oupa (of sal ek sê party oupas) met sy kleinkind op die strand dop te hou. Daai eindelose geduld… dit is nou eintlik wat ‘n mens inspireer. Die kleintjie klim bo-oor hom, skiet sand in die lug, wil die hele tyd hê oupa moet gaan water haal in haar emmertjie, maar alles word misgekyk vir daai oomblik dat sy haar armpies om haar glimlaggende oupa se nek gooi en hom met ‘n sandmond ‘n klapsoen gee.

Dit is eintlik hoe God se verhaal met sy volk Israel ook lyk. Israel was nog nooit die perfekte volk nie, inteendeel. Hulle was destyds skaars uit Egipte toe hulle al wou teruggaan omdat God glo nie vir hulle genoeg eetgoed in die woestyn gegee het nie. In die beloofde land het hulle oë die hele tyd vir die afgode geflikker. So het hulle God se geduld maar gedurig op die proef gestel. Maar God se geduld het nie opgeraak nie. Paulus skryf hier dat selfs toe hulle die deur van God se genade in sy gesig toegeklap het, het God nog vir hulle ‘n agterdeur oopgehou (11:31 en 25-26). En dit gee vir ons moed.

God se genade en geduld is oneindig, baie meer as enige oupa s’n. Soos enige goeie oupa raas God partymaal bietjie hier en maak groot oë daar, maar aan sy liefde is daar geen einde nie. En vir iemand so broos en feilbaar soos ek is dit baie goeie nuus. Dit is sulke goddelike geduld wat my moed gee om maar net weer en weer my arms om God se nek te gooi. En die drukkies van liefde wat jy Hom gee, laat sy hart warm klop, hoe meer hoe beter.




2 Julie: Leef die lewe op rekordpas. – Jan van der Watt

Rom 11:1-10 (fokus 11:1-10)

[Hierdie dagstukkies kom uit ‘n dagboek geskryf deur Prof Jan van der Watt. Hy maak gebruik van Die Boodskap. Dank aan CUM vir die gebruik van hierdie materiaal.]

 Een van die beste voorbeelde van toewyding wat ek nog ooit gesien het, was ‘n vriend op skool. Hy wou vreeslik graag vir die skool hardloop. Sy pa koop toe vir hom ‘n stophorlosie en hy begin oefen, van die oggend tot die aand. Daar was geen einde aan sy toewyding en determinasie nie. Later vertel hy met trots vir almal dat die stophorlosie om sy nek sê dat hy nou in sy oefenrondes vinniger as die skoolrekord hardloop. Toe kom die eerste sportgeleentheid. Die skoot klap en ons almal hou ons asems op vir die nuwe rekord, maar ons entoesiasme sak tot in ons skoene – my vriend kom laaste! Hoe is dit moontlik?! Wel, die fout het by sy stophorlosie gelê. Dit was al die tyd stukkend. Die toewyding was daar, maar dit was toewyding wat deur ‘n stukkende stophorlosie mislei is.

Toewyding is nie alles nie. Dit moet toewyding wees wat nie mislei word nie. Jy moet nie jou energie verkeerd spandeer deur agter ‘n stukkende horlosie aan te hardloop nie. Dit kan veral in godsdiens gebeur as ons op verkeerde dinge begin fokus, ja, as ons ons godsdiens op die pas van wette en eie prestasies begin hardloop. Dis waarteen Paulus die Jode waarsku. Hulle het gedink rekords word in godsdiens geslaan deur op die pas van duisende reëls God te probeer beïndruk. Hulle het gedink dat hulle so goed leef dat God hulle eenvoudig moes vryspreek, maar hulle het op die ou einde nie eers die wenpaal gehaal nie.

Die Here se stophorlosie meet of jy op rekordpas is. Dit sê: “’Ek glo in Jesus. Hy is die Here van my lewe’. God sal vir die res sorg”. En hierdie stophorlosie meet nie verkeerd nie. Hy is akkuraat. Daarom moet jy maar gereeld na die stophorlosie kyk om seker te maak of jy nog jou lewensresies op rekordpas leef. Toewyding is hier ook nodig, maar toewyding aan Jesus, die Here van jou lewe. So wen jy die wedloop van die lewe.