1 Julie: Sonder jou is die evangelie ‘kragteloos’. – Jan van der Watt

Rom 10:1-21 (fokus 10:14-21)

Die evangelie kan nie werk sonder jou nie. Jy is deel daarvan. En die rede is eenvoudig: Hoe kan mense in die Here glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan hulle van Hom hoor as niemand nog vir hulle vertel het nie? En hoe kan daar iemand wees wat vertel as niemand bereid is om die evangelie te verkondig nie? DUS, sonder jou wat vertel, is daar nie vir die mense rondom jou ‘n evangelie nie.

En dit is nie regtig so moeilik om jou deel te doen nie. Dit is amper soos om in ‘n myn as plofstofdeskundige te werk. Jy moet net die stukkies dinamiet op die regte plekke sit en die res aan die dinamiet oorlaat. Dit is nie jy wat daar rotse moet laat stukkend breek nie – dit sal die dinamiet doen.

Dit is miskien die eerste fout wat ons maak. Ons dink ons moet mense se lewens verander. Nee, dit kan ons gerus aan die krag van die evangelie oorlaat. Jou taak is net om te sorg dat die evangelie op die regte plekke uitkom, daar waar mense se harte nog so hard soos klip is.

Die tweede fout is om te dink dat ons ‘n drom dinamiet vir een hart van klip nodig het. Nee, soms is dit net een woord, ‘n klein stukkie getuienis, die regte voorbeeld wat die verskil maak. God spesialiseer om met min baie te maak. Hom kan ons vertrou.

Wat ‘n wonderlike voorreg: jy is deel van die ontploffing van God se evangelie in die wêreld. Vat jou dinamietstokkies vandag saam met jou.




30 Junie: Moenie probeer om God na jou pype te laat dans nie. – Jan van der Watt

Rom 9:20-33 (fokus 9:20-33)

 ʼn Bekende teoloog het eendag opgemerk dat God seker lekker moet lag as Hy luister na ons gesprekke oor wat en wie Hy eintlik moet wees. Hy moet sy wenkbroue lig as hy ‘n mens hoor sê: “Ek kan nie in so of so God glo nie” en “God mag of sal nie dit of dat doen nie, anders is Hy nie God nie”. Wie het nou al ooit vir die mens die reg gegee om God te speel, vir God voor te skryf, of vir God te vertel hoe hy moet wees voor ons in Hom kan glo?

Tog gaan ons rustig voort asof ons oor God kan besluit. ʼn Gewilde argument is om te sê dat ʼn God van liefde nie ook kan straf nie. Hy is maar net die vriendelike Een wat almal vir altyd liefhet, al doen hulle wat. Mense wat so sê wil graag hulle eie baas te wees en doen wat hulle wil. Nogtans wil hulle voel Iemand het hulle lief en keur goed wat hulle doen, sonder om enigsins om te gee hoe daardie Iemand oor die saak voel… ‘n bietjie selfsugtig, nie waar nie. Hulle God moet net paaiend agter hulle aanloop soos ‘n gewillige speelmaat. Die God se liefde moet alle verkeerde dinge miskyk, anders is dit nie liefde nie. Hy moet maar net bly glimlag en hande klap, al doen hulle wat, anders is Hy nie genadig nie. As God nie so is nie, verklaar hierdie mense ironies genoeg dat Hy “nie meer hulle God kan wees nie”, so asof hulle Hom wil “spite”. En die “spite” laat hulle uiteindelik sonder God sit. Dan is hulle regtig alleen.

God se liefde of sy genade werk so nie. God se liefde is groot en onvoorwaardelik, nes sy genade. Maar dan moet dit ontvang en weer uitgedeel word! Sonder ʼn hart wat oop is om die liefde in te drink en weer uit te deel, loop die liefde van die mens af soos water van ʼn eend se rug. En wat oorbly, is net jy… sonder God se liefde. Dan voel jy dat God wel straf; straf is ʼn lewe sonder Hom.

Mense sal agterkom dat as hulle God na hulle pype wil laat dans, daar nie ‘n dans is nie.




29 Junie: Om God te probeer verstaan is soos om in die son te probeer kyk. – Jan van der Watt

Rom 9:1-19 (fokus 9:1-13)

 Mense wonder baie keer waarom die Jode Jesus nie dadelik aangeneem het nie. Party het natuurlik, maar baie het nie. Paulus self kan dit ook nie mooi verstaan nie, soos hy aan die begin van hoofstuk 9 sê. Jesus is tog so duidelik die Redder van die wêreld wat sou kom, dat ʼn mens dit eintlik nie kan miskyk nie en tog gebeur dit.

‘n Rede waarom mense Jesus dalk nie wil raaksien nie, is omdat dit is soos om in die son in te kyk. Wat daar gebeur het is so wonderlik, so onverklaarbaar, so misterieus dat ‘n mens dit kwalik kan begryp: ‘n genadige God wat sy Seun ter wille van ons gee. Om te probeer verstaan is soos om te  probeer sien waar ons oë nie regtig kan sien nie, om genade te probeer snap wat ons nie regtig kan begryp nie. Ons lees hier onder andere ook van die genadige verkiesing van mense deur God: iets waarmee slim teoloë oor baie eeue lank al worstel, sonder om dit regtig te verstaan. Hulle probeer kyk, maar die son van misterie en grootheid is te skerp. Hoewel ons probeer kyk en kyk, kan ons nie alles regtig “sien” nie. Die misterie van God is net te oorweldigend. Daarom kyk party mense weg, maak hulle asof daar niks in die son te sien is nie.

As jy in die son inkyk, word jy verblind. Maar dit is nie asof jy niks sien nie. As jy in die misterie van God inkyk is dit ook nie asof jy niks verstaan nie. Jy verstaan nie alles nie, maar jy moet verstaan wat jy kan. En wat jy kan verstaan is dat God ʼn genadige God is (9:16), ook vir jou. Die Bybel is vol van sy genade.




28 Junie: Jy is’ n wenner!. – Jan van der Watt

Rom 8:26-39 (fokus 8:31-29)

 Christene is in God se oë nooit verloorders nie. Hulle is altyd wenners.

Rom 8 gee vir ons baie redes waarom dit so is. Kom ons kyk na ʼn paar:

  • God is aan jou kant, glo dit of nie. (8:31). Jy mag nooit dink jy staan alleen nie.
  • God het sy Gees vir jou gegee om jou te help waar jy hulp nodig het (8:26). Het jy ‘n beter helper of meer krag as dit nodig?
  • God het sy Seun vir jou gegee om in jou plek te sterf (8:32). Nou is daar vir jou hoop op ‘n ewige toekoms saam met God

God het sowaar alles gegee wat Hy kon, naamlik Homself… net vir jou!

Maar daar is nog meer:

  • Hy het vir jou meer liefde gegee as wat jy ooit kan opgebruik (8:39).
  • Hy het jou van al jou sonde vrygespreek, soos net Hy kon (8:33).
  • Hy het vir jou ʼn plek in sy nuwe wêreld gegee waar jy vir altyd saam met Hom kan wees (8:30).

En daar is nog meer… kyk maar.

Die vraag is: is dit genoeg om jou te oortuig dat jy regtig ʼn wenner is? Leef dan so!