15 Junie: God se liefde wip nie op en af nie. – Jan van der Watt

Hand 27:1-44 (fokus 27:13-20)

Jy moet nie God se liefde meet aan hoe goed of sleg dit met jou gaan nie.

As ons God se liefde moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan, sou Paulus in ernstige moeilikheid gewees het. Hy sou beslis kon getwyfel het of die Here hom hoegenaamd liefhet. Lees maar net Handelinge: as hy in ʼn stad kom gooi hulle hom of in ʼn tronk, of lag hom uit, slaan hom, gooi hom met klippe en as hy op ʼn skip klim, soos hier in hoofstuk 27, sink die skip. Sy lewe was alles behalwe maanskyn en rose.

Interessant genoeg, het Paulus nooit een oomblik aan God se liefde getwyfel nie; nie onder die slae wat val, die klippe wat reën, of die skip wat sink nie. Deur dit alles het hy een ding geweet: God het hom lief!

God se liefde is immers op ʼn ander plek onbetwisbaar bewys… aan die kruis op Golgota. Daar staan dit vas in die geskiedenis ingegrafeer en niemand kan dit ontken nie. As ons mooi dink besef ons hoe slim God se plan was. Dink net hoe onseker sou ons van sy liefde gewees het as ons dit moes meet aan hoe goed of sleg dit met ons gaan: soos ons omstandighede op en af gewip het, sou ons die een dag seker van sy liefde kon wees en die volgende dag weer nie. Nee, God se liefde wip nie so op en af nie.

Moenie God se liefde vir jou aan jou wisselende omstandighede meet nie. Meet dit aan die kruis op Golgota. Daar het God vir jou gewys dat Hy jou innig liefhet.




14 Junie: Moenie vergeet wat jy het nie. – Jan van der Watt

Hand 25:13-26:32 (fokus 26:24-32)

 Dit is lekker om Paulus hier dop te hou. Hy is in die tronk en het baie moeilikheid, maar nogtans is daar aan sy entoesiasme vir die evangelie geen keer nie. Hy kyk nie in sy boeie vas en bekommer hom die hele tyd hoe om daarvan ontslae te raak nie, maar soek geleenthede om die evangelie vrye teuels te gee. Hy het nou die kans om met mense oor die Here te praat met wie hy normaalweg nie te doen sou gekry het nie. En dit maak hom opgewonde.

Daar is die storie van twee ouens wat op ʼn eiland uitgespoel het. Hulle het besluit om elke week vir hulle ʼn prioriteit te stel. Elke week was dit dieselfde: “om van die eiland af weg te kom”. Dit het gemaak dat hulle die hele tyd op die strand gesit en na die see gestaar het, op soek na bote. Elke aand het hulle teleurgesteld en terneergedruk gaan slaap. Na ʼn paar maande verander hulle toe hulle prioriteit: “hulle gaan ʼn lekker huis bou”. Raai wat, skielik het alles verander. Hulle het begin lewe… en het in die aande moeg maar tevrede gaan slaap.

Paulus het nie in die tronk heeltyd planne gemaak om uit te kom nie. Dan sou hy waarskynlik vergeet het om die evangelie te verkondig. Hy het eerder die beste gemaak van die plek en situasie waar hy op daardie oomblik was. Of dit nou in die tronk of in die hof was, hy het van die Here vertel. In plaas daarvan om vir Agrippa te pleit om hom los te laat, oortuig hy hom amper om Christen te word (26:27-29).

Gebruik jy jou kanse waar jy is, of probeer jy die hele tyd so hard om weg te kom dat jy vergeet wat jy het?




13 Junie: Wat kan beter as die paradys wees? . – Jan van der Watt

Hand 24:10-25:12 (fokus 24:10-21)

In 24:14-15 en 25 lees ons dat iets Paulus gedryf het. As hy kans gekry het, het hy daaroor gepraat. Elke gelowige het ʼn toekoms, het hy gesê. Jesus gaan weer kom om ons uit die dood te laat opstaan. En die gedagte het hom opgewonde aan die praat gehou.

Nie almal voel so nie. Iemand sê nou die dag hierdie boodskap maak haar nie meer opgewonde nie. Sy het nou hier op aarde alles wat sy wil hê. Sy geniet haar lewe so dat as sy doodgaan sy maar net kan “verdwyn”. Dit sal haar nie pla nie, ook nie as daar nie ʼn hemel is nie.

Wat sê jy hiervan?

Van die begin van die Christendom af was die wete dat die Here weer gaan kom soos die wiele van ʼn kar. Dit het die “kar” aan die beweeg gehou sodat dit nie op een plek lê en roes nie. Dit het Christene se oë deur goeie en slegte tye laat glinster om te weet dat hulle die Here wat hulle nou net in geloof sien, eendag persoonlik van aangesig tot aangesig gaan ontmoet. Dit was hierdie wete wat die Christendom nog altyd aan die beweeg gehou het.

Maar wat het met die vrou hierbo gebeur? Hoekom is al haar rykdom hier op aarde vir haar beter as die paradys? Miskien weet jy?




12 Junie: Praat God na. – Jan van der Watt

Hand 23:11-24:9 (fokus 23:11-15)

Ons kan baie keer agter godsdiens wegkruip ter wille van onsself. Om godsdiens so te gebruik is gevaarlik. Op ʼn skelm manier steek ons ons planne onder die kombers van God weg en maak asof dit sy wil is. Kyk net wat hier gebeur (23:13-15). Die Jode, selfs hulle hoogste “kerkmanne”, maak bedrieglike planne om Paulus in die hande te kry en hom te vermoor. En hulle doen dit onder die dekmantel van godsdiens (23:12).

Sjoe, dit is jammer hierdie soort ding het nie al in Paulus se tyd al opgehou nie. Deur die eeue het dit baie skade aangedoen en ons het vandag nog te veel daarvan. Mense skuif te maklik politiek of eie belang onder die kombers van God in en verklaar dit dan heilig. Dan veg hulle vir daardie idees asof dit God s’n self is en verwag almal moet hulle volg. En moet net nie probeer om met hulle te stry nie, want dan laat hulle jou verstaan jy stry met God self. Dis nie eerlik om jou eie gedagtes of opinies op so manier as God se gedagtes te verhef nie. Nee, dit is gevaarlik!

As jy wil hê God moet aan jou kant staan, moet jy eers doodseker maak dat jy aan sy kant staan. Ons moet seker wees dat wat ons dink eintlik ook sy gedagtes is. Ja, ons moet in pas met Hom kom. Ons moet oppas om God nie te verneder deur Hom die “buikspreker” van ons gedagtes te maak nie. Daarvoor mag ons ons godsdiens nooit misbruik nie.

Maak dus seker dat jy God altyd napraat. Dit werk nie andersom nie.