7 Junie: As jy daai spookhuisgevoel kry, hardloop!. – Jan van der Watt
Hand 19:1-20 (fokus 19:13-20)
Die ouer seuns het ons kleintjies lekker banggemaak. Hulle het vir ons stories oor die “spookhuis” daar naby ons vertel wat ons bloed laat stol het. As klein seuntjie het ek net eenmaal by daardie spookhuis gaan inloer, want daarna was ek te bang. Ek onthou vandag nog daai vrees wat my daar beetgepak het. My hart het gebons, maar tog was daar ʼn tinteling wat my vir ‘n rukkie daar gehou het. Op ʼn punt was dit egter vir my net te veel en ek het gehardloop…
Die duiwel se “spookhuis” staan tussen ons. Ons lewe elke dag in sy omgewing. En die Bybel draai nie doekies om oor hoe gevaarlik dit daar is nie. Daar is egter ʼn verskil tussen my ou “spookhuis” en die duiwel s’n. In myne sou daar nie regtig iets gebeur het nie, want daar is nie spoke nie; in die duiwel s’n kan jy regtig seerkry, want die duiwel speel nie – kyk maar na Skeva se seuns (19:15-16).
Ja, as ons op ons lewensreis by ernstige sonde ʼn draai maak, kry ons soms ook daai “spookhuis”-gevoel. Ons is alleen saam met iemand anders se vrou of man… ons teken ‘n kontrak wat ons weet nie so eerlik is nie… Ons hart bons, maar dit is asof ons nie kan wegkom nie. En as ons nie dan vinnig weghardloop nie, is dit dalk te laat.
Hier is goeie raad: As jy daai “spookhuis”gevoel kry, los en hardloop… Want om op die voorstoep van die duiwel se “spookhuis” te speel is nie ʼn grap nie. Die duiwel sal jou speelgoedjies so pak dat dit mooi in ʼn ry by sy voordeur inloop, tot jy diep in sy “huis” in is. Dan gaan jy sukkel om uit te kom. Los liewer die “speelgoedjies” en hardloop.