3 Junie: Doen jou bes vir die Here. – Jan van der Watt

Hand 16:1-40 (fokus 16:25-34)

Toe Paulus in Filippi in die tronk geland het, het God die tronkdeure vir hom laat oopswaai. Dit het die Filippense oortuig dat hy ʼn man van God is (16:26,30). As hy ʼn paar jaar later die brief aan die Filippense skryf, sit hy weer in die tronk, maar hierdie keer swaai die tronkdeure nie oop nie! Dit het die mense laat wonder. Wil God hom nie meer help nie? Is hy nog ʼn man van God, want waar is God nou?

In sy brief verduidelik Paulus wat eintlik gebeur. God maak nog tronkdeure oop, maar op sý manier (Lees Fil 1). As die tronkdeure hierdie keer weer sou oopswaai, sou net Paulus daarbuite op die strate gepreek het. Hierdie keer het God anders gewerk – Hy het eers aan die binnekant van die tronk gewerk, want dit was waar Hy Paulus nou wou gebruik. Paulus het in die tronk vriende gemaak met die polisie en hulle het van hom begin hou. Daarom het hulle nie meer omgegee dat die ander Christene daar buite in die dorp nou vrylik begin preek het nie. Hulle het hulle nie gevang nie, maar gelos om te preek. In plaas van een prediker, Paulus, was daar nou baie wat tussen die mense daarbuite gepreek het. Paulus se tronkdeure moes toe bly, sodat daardie Christene se “tronkdeure van vrees” kon oopswaai en die evangelie deur baie vrylik verkondig kon word.

Dit is nou regtig God aan die werk! Sy weë is nie altyd ons weë nie. Maar ons kan altyd maar sy weë vertrou. Hy weet die beste. Daarom moet ons nie te vinnig begin kritiseer as dinge vir ons lyk of dit verkeerd begin loop nie. God het ‘n plan en doel. Ons moet net ons deel so goed as moontlik doen daar waar ons nou is, watter kant van die tronkdeure dit ook al is. Doen jou bes vir die Here.




2 Junie: Moenie stilbly nie, praat. – Jan van der Watt

Hand 15:1-41 (fokus  15:6-11)

Kennis ontplof rondom ons, want dit is so maklik beskikbaar – net ‘n rekenaar- of TVknoppie ver. Ons kan op die rekenaar oor enigiets lees of deur die TV in ons sitkamer in die parlement van Engeland gaan sit of deur vreemde lande soos Kambodja reis. Dit maak ook die lewe al hoe ingewikkelder – ons leer van allerhande vreemde godsdienste of word gekonfronteer deur allerhande vreemde idees. Ja-nee, deesdae moet ons ons koppe gebruik en mooi nadink oor wie ons is en wat ons sê.

In hierdie wêreld van kennis kom die kerk ook nog in. Dis nie meer soos in die ou tyd toe die dominee alles geweet het nie. Die kerk kan nie meer sê: “Dit is so” en dan is dit so nie. Oor baie besluite van die kerk se sinodes voel baie mense anders. Ons gewonde lidmate kán ook mos dink, websites op die rekenaar opsoek en TV kyk. Ons bestudeer ook mos die Bybel en weet ook wat aangaan. Baie keer voel ons die kerk is op die verkeerde pad. Maar wat moet ons daaraan doen? Moet ons ons rug op die kerk draai en elkeen in sy eie hoekie hom of haarself sit en warm broei?

Hier in Hand 15 lees ons dat toe die Christene oor dinge verskil het, het hulle nie elkeen na hulle eie hoekie toe gehardloop nie. Hulle het na mekaar toe gedraai en dit met mekaar probeer uitgesels. Daar, om ʼn tafel en in biddende afhanklikheid van God se leiding het hulle die regte pad probeer soek. So het die eerste Christene gemaak en so het Christene deur die geskiedenis tot nou toe gemaak. So moet ons ook maak. Maak gebruik van al die geleenthede om jou saak te stel as jy nie saamstem nie. Moenie net in jou eie hoekie gaan sit en broei nie.

Al voel ʼn mens hoe ongelukkig met besluite van die kerk, regverdig dit jou nie om in jou eie hoekie te gaan sit nie. Daar is ander maniere om te probeer regmaak wat verkeerd is…




1 Junie: Help om God se elektrisiteit in die wêreld aan te skakel. – Jan van der Watt

Hand 14:8-28 (fokus 14:8-13)

 

Die mense van Listre was absoluut verbaas toe Paulus ʼn lam man net daar voor hulle gesond gemaak het. Hulle het gedink dat hy is ʼn soort god is (14:10-11), want ʼn gewone mens kan mos nie sulke dinge doen nie.

En hulle is reg. Watter gewone mens kan sulke dinge doen, behalwe as ons God toelaat om deur ons te werk? God en Hy alleen kán sulke dinge doen. Maar die verrassende is dat Hy ons gebruik om dinge wat net Hy kan doen te laat gebeur. Ons is sy instrumente, die elektrisiteitskabels wat sy krag in die wêreld indra.

Ek wonder soms wat ʼn elektrisiteitskabel tussen die muurprop en die rekenaar sou sê as dit kon praat. Wat sou dit sê van die wonderlike dinge wat die rekenaar doen met die elektrisiteit wat die kabel bring.  Om te dink die kabel laat die rekenaar werk. Die kabel het deel aan al die wonderlike dinge wat op die rekenaar gebeur. En dit is maar net ‘n kabel. Maar dan moet die kabel nie probeer om die rekenaar te wees nie. Dit moet net bly wat dit… die instrument wat die elektrisiteit rekenaar toe vat.

Ons kan God se wonders in die wêreld help “aanskakel” mits ons maar net sy kabels wil wees. Wees gereed sodat GOD deur jou kan werk.




31 Mei: Daar is nie so iets soos ‘n probleem nie. – Jan van der Watt

Hand 13:42-14:7 (fokus 13:42-51)

Die lewe het sy “ops” en “afs” en as daar nou mense was wat dit geweet het, was dit Paulus-hulle. Al was hulle God se spesiale gesante en dienaars in die wêreld het alles nie altyd net voor die wind gegaan nie. Partymaal is hulle op die hande gedra. Ander kere is hulle weer geslaan en weggejaag (kyk maar net na 13:48-51).

Die les wat ons egter by hulle kan leer is dat hulle nie moed verloor het nie. Dinge wat met hulle verkeerd geloop het was nooit vir hulle verleenthede of redes om mismoedig op ʼn hopie te gaan sit of op te gee nie. Dit was geleenthede om nuut en verder te dink, om ander planne saam met die Here te maak. En die houding het hulle laat opstaan en aangaan. ‘n Mens sou kon sê dat daar vir hulle op hulle lewensreis nie probleme was nie – net uitdagings en oplossings.

Op die lewensreis saam met die Here moet daar ook nie vir jou so iets soos probleme wees wat jou terneergedruk eenkant laat sit nie. Nee, daar moet net oplossings en nuwe geleenthede wees. Wat soos probleme lyk moet net vir jou die stilhouplek langs die pad wees wat jou kans gee om nuut te beplan en nuwe oplossings te soek. As die “afs” in die lewe jou tref moet jy soos ʼn fietsryer teen ʼn afdraende wees. Jy moet dan juis spoed opmaak. As dinge skeefloop moet jy herbeplan, kyk wat verkeerd geloop het en dit regmaak, weer probeer, of anders probeer.

Die “ops” in ons lewe is juis daar omdat ons nie by die “afs” bly lê het nie.