26 Mei: “Waarom ek?” Moenie te veel vra nie. – Jan van der Watt
Hand 9:32-10:33 (fokus 9:32-43)
“Tabita het omgegee vir ander mense. Waar sy kon het sy die armes gehelp en goeie dinge vir ander mense gedoen… (tog) het sy ernstig siek geword en is kort daarna oorlede” (9:36-37). “Waarom juis Tabita?” kan ek mense hoor vra.
Ons het dikwels baie vrae oor waarom die Here slegte dinge met gelowiges laat gebeur. Dit is amper asof ons dink dat gelowiges ingeënt is teen enigiets wat verkeerd kan loop. Daarom is dit vir ons dikwels so groot krisis as iets verkeerd loop. Negatiewe gedagtes reën dan op ons neer: “Waar’s die Here?”, “Het Hy my vergeet?”, “Hoekom nou juis ek?”
Tabita was ʼn wonderlike mens, maar dit het haar nie immuun gemaak teen dinge wat verkeerd kon loop nie. Sy het siek ook geword en is dood… dit is die beloop van die lewe. Dit help nie ons raak vir die Here kwaad en bombardeer hom met allerhande verwytende vrae in sulke situasies nie. Hy het mos nie beloof dat alles net altyd goed sal gaan met Christene nie.
Wat ons miskien meer moet doen is om soos Petrus die Here te vertrou, nie alleen vir wat gaan gebeur nie, maar ook dat Hy ons hand vashou juis as alles rondom ons gebeur. Aan dinge wat verkeerd loop kan jy dikwels niks doen nie, maar jy kan baie doen aan jou gesindheid en hoe jy die dinge hanteer. ‘n Mens moet nie onnodige vrae vra wat jy weet nie beantwoord gaan word nie. Dit maak ‘n mens net ongelukkig en deurmekaar. Daar is baie dinge wat ons eenvoudig in hierdie lewe nie gaan verstaan nie. Juis daarom is aanvaarding en vertroue miskien twee van die belangrikste sleutelwoorde vir ‘n gelukkige lewe.