22 Mei: Ons hoef nie geestelik te verhonger nie. – Jan van der Watt

Hand 6:1-7:16 (fokus 6:1-7)

 Ons ken die storie van die man wat sy donkie geleer het om sonder kos klaar te kom. Net toe hy dit reggekry het, is die donkie dood.

G’n mens kan sonder liefde klaarkom nie. As jy dink jy kan, is jy op jou geestelike doodspad. Niemand verstaan dit beter as God wat ons gemaak het nie. Daarom gee Hy vir sy kinders ʼn spesiale plan: ons moet mekaar liefhê en versorg – en as ons mekaar versorg sal almal genoeg hê. Dan hoef niemand van liefdeshonger dood te gaan nie.

Daarom moet ons spesiale “oë” ontwikkel. Ons moet kan raaksien as iemand geestelik begin honger ly. Ons moet die tekens kan lees as ʼn mede-Christen alleen begin voel, al is daar mense rondom haar; as ʼn gelowige broer entoesiasme begin verloor en stadig op sy eie in ‘n bondeltjie sit en verhonger; wanneer ʼn gelowige suster diep uit haar hart, wat besig is om te verdroog, om hulp roep sonder dat haar lippe beweeg. Vir sulke mense het God presies wat hulle nodig het… liefde; en ons, hulle mede-gelowiges, moet dit vir hulle gee! Deur ons wil God vir hulle al die liefde en ondersteuning gee wat hulle nodig mag hê. Dit is hoe God se plan werk en jy is deel daarvan.

Ons mag nie ons mede-gelowiges afskeep nie; aan die ander kant, moenie dink dat jy dit gaan regkry om sonder “kos” te kan klaarkom nie. As jy sukkel en iemand steek sy liefdeshand na jou toe uit, vat dit. Dit is hoe God jou ook geestelik sterk wil maak.




21 Mei: Mense lees jou – sorg dat dit goeie nuus is. – Jan van der Watt

Hand 5:12-42 (fokus 5:27-32)

Wat ons glo kom gewoonlik die duidelikste na vore as ‘n krisis ons tref. As dit goed gaan kan almal mooi praat. Maar die werklike toets kom wanneer die lewe ons begin druk en ons begin swaarkry en spartel. Dit is ook dan dat mense fyner begin luister en ons begin “lees”.

Dit is juis in krisisse dat Christene se optrede vir baie ongelowiges die enigste plek word waar hulle ooit sal kan agterkom watter verskil God in mense se lewens kan maak. Hulle sien dit in gelowiges se optrede. En sulke geleenthede moet gelowiges nie laat verbygaan nie. Jy moet jouself gedurig daaraan herinner dat jy as gelowige die enigste “Bybel” mag wees wat baie mense ooit in hulle lewens gaan “lees”. Al wat hulle van God gaan agterkom of weet gaan wees wat hulle in jou lewe sien. Petrus-hulle se optrede en woorde was byvoorbeeld die naaste wat die Joodse Raad ooit aan Jesus se boodskap sou kom (sien byvoorbeeld 5:29-32).

ʼn Goeie Christenvrou het aan kanker gely. Sy het haar hele lewe deur nie ʼn geheim van haar Christenskap gemaak nie. Toe die kanker egter begin vreet, het dit ook aan haar siel begin vreet en merke van opstand en swartgalligheid begin agterlaat… tot iemand eendag vir haar gesê het: “Nou is die tyd dat jy kan wys watter verskil Jesus in jou lewe maak… en almal sal dit kan sien”. Die vrou het van daardie oomblik af verander en baie se lewens geraak deur die innerlike krag wat God vir haar gegee het.

Mense lees jou! Ek hoop hulle lees sommer baie goeie nuus.




20 Mei: Hoe doen jy met die kniebuigtoets. – Jan van der Watt

Hand 4:13-5:11 (fokus 4:13-22)

 Dit moes ʼn wonderlike ervaring gewees het om die gebou te voel skud nadat die dissipels “Amen” gesê het (4:31). God het hulle gehoor en hulle het Hom gehoor! Ja-nee, gebed werk wondere. Ons as Christene sê mos dat gebed die sluise van God se krag op ons ooptrek. Maar ek wonder dikwels of ons onsself regtig glo? Hoeveel bid ons regtig?

As Pietie by die huis kom en 10% vir sy wiskundetoets gekry het, wat sal Ma sê? Waarskynlik dat Pietie dadelik kamer toe moet gaan en gaan leer, want hy het omtrent niks vir sy toets gekry nie. Nou ja, hoeveel is 10% van ʼn dag? Twee en ʼn half uur. Wie van ons bid twee en ʼn half uur per dag, of volgens Pietie se Ma, omtrent niks nie?

Hierdie eenvoudige voorbeeld moet ons laat vra of ons regtig glo dat God deur gebed die geboue kan laat skud en die sluise kan laat oopgaan? Of praat ons sommer maar net? As ons God regtig vir ons lewens vertrou, sal ons Hom ook in gebed moet vertrou. Ons sal minder alleen moet probeer doen en God meer geleentheid moet gee om deel van ons lewens te word deur gebed. As ons krag kortkom en verwag dat God iets moet doen, sal ons eers vir Hom daarvan in gebed moet vertel. As ons wonder waarheen ons volgende tree moet wees, moet ons maar vir God vra… in gebed.

Hoe gaan jy doen met die kniebuig toets?




19 Mei: Omdat God dáár is, kán jy. – Jan van der Watt

Hand 3:1-4:12 (fokus 3:12-16)

“Geloof laat die onmoontlike gebeur”, staan daar in 3:16. Dit is woorde wat dikwels misbruik word deur mense wat dink hulle kan God met die krag van hulle geloof manipuleer: “Glo net en God sal alles doen”. Maar aan die ander kant moet ons God ook nie weer onderskat nie. Soms verras Hy ons wel en doen Hy regtig die onmoontlike.

Maar God verkies om dinge saam met ons te doen. As ons so saam met God die pad stap gebeur daar dinge wat ons nie gedink het moontlik is nie. Omdat Hy dáár is, kán ons. Hy gee ons die moed om op te staan en te doen wat ons nie gedink het ons kan nie. Die feit dat ons op Hom kan vertrou inspireer ons om ons vleuels wyer te sprei as wat ons alleen sou waag om te doen.

Kolonel Sanders (van KFC faam) het op 65 jaar oud alles verloor. Hy net sy aftreetjekkie in die hand gehad. Hy het egter nie moed opgegee nie. Nee! Hy het van dorpie na dorpie en later van land tot land gereis om sy resep vir Kentucky fried chicken te verkoop. ʼn Paar jaar later was KFC die grootste koskettingwinkel in die wêreld – dit alles met ʼn aftreetjekkie! Hy het God vertrou en opgestaan en sy resepte gaan verkoop!

Onthou, omdat God dáár is, kán jy! Maak net seker dat waar jy wil gaan, God sal wil saamgaan.