2 Mei: Jou verleentheid mag God se geleentheid wees. – Jan van der Watt

Joh 8:48-9:23 (fokus 9:1-23)

God se somme werk anders as ons s’n. Een sonde is nie gelyk aan een straf nie.

Die lewe is nie altyd voorspelbaar soos ‘n optelsom nie. Soms kan jy nie aan ‘n enkele rede dink waarom dinge vir jou so verkeerd loop nie… dit loop net verkeerd – soos met hierdie blinde man. Selfs Jesus se dissipels het gedink dat een of ander vreeslike sonde agter sy blindheid moet lê. Ja, hy betaal vir wat hy verkeerd gedoen het.

Dan kom die verrassing – God se optelsom werk nie so nie. As hierdie man nie blind was nie, hoe sou mense God se krag kon sien? Dikwels gebeur iets wat vir jou sleg voel juis sodat God soveel wonderliker dinge daaruit kan laat voortborrel. Op die oomblik dat dit sleg gaan is die miskien nie so lekker nie, maar as God se krag die sleg in iets wonderliks verander, word alles sommer die moeite werd. Toe hierdie blinde se oë oopgegaan het, het nie net sy oë oopgegaan nie, sy hart het ook sommer oopgegaan en hy het Jesus gevind (9:38).

Ons verleenthede word dikwels God se geleenthede (9:3-5). Dinge wat verkeerd loop hoef nooit vir jou soos die einde van die pad te voel nie. Saam met God is daar altyd die ander kant, daar waar die lig skyn, waar jou oë oopgaan en ‘n nuwe toekoms vir jou wink. Moet nooit in jou probleme vaskyk nie. Sien liewer dit raak wat saam met God vir jou voorlê.




1 Mei: Jou lewe in ritmiese pas met God. – Jan van der Watt

Joh 8:12-47 (fokus 8:21-30)

Nou die dag land ons in ʼn bergpas agter ʼn motorfiets, een van daai grotes. Ons kon die twee motorfietsers lank voor ons dophou, want die pad was maar draaierig en ons kon nie verbygaan nie. Dit was ʼn pa en sy seun. Beide het sulke ronde Harley Davidson harde hoede opgehad en beide het jeans met ʼn leerbaadjie aangehad. Dit was nie al nie, as die pa sy bene rek, skiet die seun s’n ook uit. As die pa vorentoe buk, buk die seun ook. Soos die pa, so die seun.

Dit is waarvan Johannes praat as dit by gehoorsaamheid aan God kom. In 8:29 sê Jesus dat Hy maar altyd net sy bes vir sy hemelse Vader doen. Hy praat van daai soort  gehoorsaamheid wat God volg sonder teëpraat en vrae; die gehoorsaamheid wat God se wil soek en dit doen.

Daarmee het Jesus vir ons ‘n voorbeeld gestel wat ons moet volg. Om al ons draaie van ons lewensreis moet ons leer om God so dop te hou, soos die seun op die motorfiets sy pa dopgehou het. Soos God, so ook jy. As ‘n mens mooi gekyk het, sou jy agtergekom het dat die seun nie kon sien wat voor aangaan nie – hy het in sy pa se rug vasgekyk. Hy het nie geweet wat kom nie, maar sy pa het. Daarom het hy geweet dat as sy pa sy lyf eenkant toe gooi, hy dit ook moet doen, tensy hy van die motorfiets wou afval. God sien verder as ons. Daarom moet ons doen wat Hy doen, sy “bewegings” in hierdie lewe volg. So sal ons lewe in ʼn ritmiese pas met God se wil kom! Jesus het ons gewys hoe.




30 April: Moenie die skuldlas wat Jesus van jou skouers afgehaal het weer optel nie. – Jan van der Watt

Joh 7:31-8:11 (fokus 7:53-8:11)

Vergifnis het baie met jouself te doen. As jy nie eers jouself vergewe of ten minste leer om jouself te vergewe nie, sal jy nie ver kom om ‘n normale en vreugdevolle Christelike lewe te lei nie. Jy sal gedurig in skuldgevoelens verdrink en nooit regtig die vars lug van vryheid kan inasem nie. ʼn Stukkende jy, vol skuldgevoelens kan nie ‘n heel lewe lei nie.

Daarom moet jy die Here toelaat om jou van jou skuldgevoelens te genees. Eien sy vergifnis vir jouself toe, want dit is waar jou vergifnis vir jouself begin. As jy weet dat wat jy gedoen het nie vir Hom te groot is nie, sal jy van jou skuldlas ontslae kan raak. Jy moenie probeer dra wat die Here klaar van jou skouers afgehaal het nie.

Net soos vir daardie arme vrou wil Jesus jou genees, met jou sonde en skuld klaarspeel. Eers as die vrou verstaan dat ons almal vergifnis nodig het, net soos sy, kan sy wegstap om voor te begin. Dan eers sê Jesus vir haar: gaan stel nou ʼn voorbeeld van gehoorsaamheid aan God (8:11) en sy kan dit doen ook, want Jesus self het die skuldlas van haar skouers afgehaal.

Vergifnis het baie met jouself te doen. Moenie die skuldlas wat Jesus van jou skouers afgehaal het weer optel nie.




29 April: Kyk na God en nie na my nie. – Jan van der Watt

Joh 7:1-30 (fokus 7:14-24)

“Ek wil hê dat julle eerder moet raaksien hoe groot God werklik is! Kyk na Hom en nie na My nie”. Dit is niemand anders as Jesus se woorde nie (7:18). As Hy dit sê, wat moet ons dan nie sê nie!

Partymaal staan ons so in die pad van God dat niemand Hom raaksien nie. Ons kan so kla oor ons groot probleme, so oor onsself praat, so in ons eie gevoelens verdwaal dat ons vergeet dat God deel van ons lewens is en wil wees.

As gelowiges moet ons vra watter boodskap ons by ander agterlaat as ons so oor ons eie lotgevalle sanik. Kom hulle agter dat jy ʼn God het wat jou in jou swaarkry vashou? Kry hulle die idee dat jy hoegenaamd dankbaar is oor wat God vir jou doen? Weet hulle dat jy op jou lewensreis ʼn Metgesel het wat vir jou die verskil maak? Kom hulle hoegenaamd agter dat die Here jou God is?

Dra jou lewe die volgende boodskap: Kyk na God en nie na my nie?!