28 April: Selfverwyt kom altyd te laat. – Jan van der Watt

Joh 6:35-71 (fokus 6:60-71)

Almal wat al gereis het, ken seker so ‘n stukkie selfverwyt oor daai keer dat jy opgegee het – jy het gevoel dit is net te ver, of jy is net te moeg. Nou kan jy nooit regtig sê jy was “dáár” nie. Ons was in Kaapstad, maar daai laaste kilometer Kirstenbosch toe was net te ver. Nou sit in jy Pretoria en wonder hoe dit daar lyk, maar wat help dit nou? Selfverwyt kom altyd te laat.

Hier in hoofstuk 6 lees ons ook van mense wat opgegee het en nooit die eindpunt gehaal het nie. Christenskap het vir hulle net daai stukkie te moeilik begin lyk. Daar is net ‘n bietjie te veel van hulle gevra. In 6:67 wonder Jesus selfs of sy naaste dissipels nie ook dalk wil opgee en omdraai nie. Christenskap ken nie kompromisse nie. Jesus pas nie die eise vir Christenskap by jou aan nie, maar verwag dat jy by die eise sal aanpas. Jy kan Jesus nie net halfpad volg nie. Om op te gee of selfs net halfpad te loop, beteken om nooit die einde te sien nie; om nooit te weet hoe dit regtig “dáár” by Jesus is nie.

Daarom ken Christenskap nie die woord “opgee” nie. Christenskap beteken deurdruk en uithou. En daar is ʼn goeie rede voor, soos Petrus sê: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie!” (6:68). As jy eers vir Jesus leer ken het, watter ander pad is daar dan vir jou om te loop? As jy omdraai, na wie toe sal jy gaan?

Stap nou die pad saam met Jesus en stap dit enduit, al kos dit wat. Dit is sowaar die moeite werd. En onthou, selfverwyt kom altyd te laat.




27 April: Hou jou oog op die Anker in jou lewe. – Jan van der Watt

Joh 6:1-34 (fokus 6:16-21)

“Toemaar, dit is Ek. Moenie bang wees nie!” (6:20). Hierdie woorde van Jesus was vir die dissipels genoeg om van al hulle twyfel en onsekerheid ontslae te raak.

In Cherokee, die reservaat waar die nasate van die bekendste Indiaanstam in Amerika vandag nog bly, is daar ʼn smal hangbrug. Die ding is nie so goed gemaak nie. As jy in die middel kom, swaai dit gevaarlik heen en weer. Dan begin allerhande twyfels jou wysmaak dat die swaaiende brug nie gaan hou nie. Al wat jou moed gee is die stewige geel pale wat die brug anker. Daai pale sal nie ingee nie, daarvoor is hulle te sterk.

Die lewe is baie keer soos daai swaaiende brug – jy begin aan jouself en sommer aan alles twyfel. Jy wonder of jy dit gaan maak, want die lewe skommel en skud jou te veel. Dit is dan dat jy van Jesus se “stewige geel pale” moet onthou, sodat jy moed kan skep. Om in jou oomblikke van vrees, onsekerheid en angs net weer Jesus se woorde te hoor: “Dit is Ek. Moenie bang wees nie” sal jou weer kan laat aangaan.

Dit is nodig om af en toe aan die Anker in jou lewe herinner te word. Al voel jy jou lewe swaai hoe kwaai heen en weer… struikel en val sal jy nie. Daarvoor is die Anker aan wie jy jou lewe toevertrou het, te sterk. Hou maar jou oog op Hom!




26 April: Sien God se wolkies van genade raak. – Jan van der Watt

Joh 5:17-47 (fokus 5:17-29)

Die Smokeyberge is die gewildste natuurpark in Amerika (90 miljoen besoekers per jaar!). Die berge se naam kom van die mistigheid af wat gedurig teen die toppe van die berge hang. Jy kan ook nie tot bo ry nie. Die laaste sowat kilometer moet jy maar stap… en dis steil!

Terwyl ons so geswoeg het om bo te kom, vra ʼn pa vir sy seuntjie van so vyf: “Kom jy reg of wil jy omdraai?” “Nee, Pa”, kom die antwoord, “ Ek hou daarvan om so tussen die wolkies te loop”.

Johannes 5 is vol van die wolkies waarmee God jou elke dag as sy kind toevou. As gelowige hoef jy nie bang te wees vir wat wag nie (5:24), want jou lewe is God s’n. Hy vou dit toe in die wolkies van sy genade. As jy opstaan, weet jy jy staan saam met Hom op en as jy die aand jou oë sluit is Hy dáár. Sy teenwoordigheid vou jou soos wolkies toe. Dit behoort jou moed te gee om soos daai vyfjarige verder te kan gaan. Daar is geen rede waarom jy moet gaan sit of hoef om te draai nie.

Die seuntjie kon so anders geantwoord het… gekla het oor die steil berg, sy voete wat seer is, die pad wat te lank is. Dan sou hy beslis nie die top van die berg gemaak het nie. Tog was dit die wolkies wat hy raakgesien het en dit het sy staptog die moeite werd gemaak. Sien jy God se wolkies van genade, liefde en teenwoordigheid raak as jy so teen die berg van die lewe voortbeur? Ek hoop so.




25 April: Jou lewe kan nooit doelloos wees nie. – Jan van der Watt

Joh 4:27-5:16 (fokus 4:27-42)

 Een van die “langste” togte in my lewe – of so het dit in alle geval gevoel – was van die plaas af Amalia toe op ʼn trekker – Amalia is so ver as wat dit klink, glo my. Die mielies moes koöperasie toe en ek, toe juis ‘n brawe tienjarige – is bo-op die mieliesakke agter op die sleepwa saam. Onnodig om te sê, vier ure agter op die sakke op ‘n stofpad is ‘n oneindigheid. Tog onthou ek een ding duidelik – mieliepitte het van die geskud hier en daar van die wa afgeval. Sou hulle ooit groei of is daai saad sommer net gemors?, het ek gewonder.

Ironies genoeg het daai mielies my bygebly. Dikwels voel ʼn mens se lewenspad leeg, en ‘n soort doelloosheid oorweldig jou. Die lewe voel nie vir jou meer as net ‘n oneindige lang stofpad nie. Maar in die oë van God is sy kinders se lewe nooit leeg of doelloos nie. Vir God is dit genoeg dat daar “saad” lê waar ons pad verbygegaan het, al is dit net hier en daar. ʼn Glimlag, ʼn mooi woord van bemoediging, ʼn stukkie getuienis aan iemand wat van God vergeet het… en as die tyd ryp is, sal daai saad groei, daar waar jy dit laat val het!

Jou lewe kan nooit doelloos wees nie, nie solank jy ‘n glimlag het, of ‘n bietjie geduld, of ‘n bemoedigende woord vir iemand anders nie. Dit is die saad wat in God se hand honderdvoudige oes oplewer, maak nie saak waar dit geval het nie. Probeer dit.