24 April: God se baie spesiale geskenk. – Jan van der Watt

Joh 3:11-4:26 (fokus 3:11-21)

 God het bewys hoe lief Hy die wêreld het… Hy het sy Seun op reis gestuur (3:16) om vir ons ‘n baie spesiale geskenk te bring.

Wie van ons ken dit nie? Voor jy op reis gaan is dit ʼn groot geskarrel om geskenkies te soek vir die mense by wie jy gaan kuier. Dit moet iets spesiaals wees, iets wat hulle sal laat voel dit kom uit jou hart, al is dit partymaal klein (omdat jou bagasie al klaar te swaar vir die vliegtuig is).

Toe God sy Seun na ons toe gestuur het, het Hy ook vir hom iets spesiaals gegee om vir ons saam te bring. Dit was nie ietsie kleins wat Hy in die hoekie van sy tas kon indruk nie; allesbehalwe. God se geskenk was “lewe”, ware lewe. Dit is ‘n geskenk wat vir ewig gaan hou en net joune is. Dit is ‘n uitnodiging om die res van jou lewe saam met Hom te reis. Saam met Hom kan jy die avontuur van jou lewe weer voor begin, maar hierdie keer in die krag en deur die genade van God. Dit is wat Jesus uit sy reistas vir jou wil gee: die voorreg om God se kind te wees. Dit is soos om weer gebore te word (3:1-8), op sy skoot te klim en sy liefdevolle hartklop van naby te hoor.




23 April: Op reis na Jesus. – Jan van der Watt

Joh 2:13-3:10 (fokus 2:13-22)

Paastyd was reistyd vir die ou Jode. Dan is hulle Jerusalem toe, want die tempel was daar. By die tempel het hulle naby God gevoel; kon hulle hulle sondes soveel beter bely; soveel meer seën ontvang. Daarom het hulle gereeld op reis gegaan, tempel toe.

Ons hoef nie meer na ver geboue te reis om by God uit te kom nie. Ons hoef nie te wag vir Sondag dat ons kan kerk toe ry om God se nabyheid en seën te ervaar nie. Daarvoor het Jesus gesorg.

Lank terug het Jesus alles verander toe Hy gesê het: “Breek die tempel af… en na drie dae bou ek ʼn nuwe” (2:19-20). Hy het van Homself gepraat wat na drie dae uit die dood sou opstaan (2:21). Die opgestane Here het God se “nuwe tempel” geword, dáár waar God spesiaal naby aan ons kom en ons sy liefdevolle teenwoordigheid kan ervaar. Hierdie “Tempel” hoef jy nie iewers in ʼn kerk of katedraal te gaan soek nie, want Hy laat Hom nie in kerke of katedrale toesluit nie. Jy hoef nie op reis te gaan soos die Jode van ouds om iewers in ‘n gebou nader aan God te voel nie. Nee, Jesus is nou by jou; om die waarheid te sê, Hy is in jou. Of jy agter die stuurwiel van jou kar, op die sitplek van ʼn trein of die stilte van ʼn hotelkamer is, Jesus is daar. Jy hoef nie ‘n lang reis aan te pak om Hom te vind nie. Al reis wat jy moet maak is na die binnekamer van jou hart. Daar sal jy Hom kry. Kyk nou met die oë van geloof en jy sal Hom daar by jou sien.

Jou reis na Hom is nou net ‘n gebed ver. En dit is ‘n reis wat jy gereeld moet maak.




22 April: Kom saam met Jesus en kom kyk. – Jan van der Watt

Joh 1:35-2:12 (fokus 1:35-42)

Ons almal het al verdwaal en dis nie so lekker ervaring nie. Aan die ander kant vee min dinge in die lewe die bekommernis so vinnig van jou gesig af as die woorde:  “Kom saam; ek sal jou wys waar dit is.” Dit is asof hierdie woorde van hoop die lig aan die einde van die tonnel – wat netnou so flouerig was – skielik sommer helder laat skyn.

Jesus bring vir ons ook sulke helder hoop. Hy laat mense wat na God soek nie onseker daar staan nie, maar sê: “Kom saam en kom kyk” (1:39). Dit is nie woorde wat jou wil dwing nie, maar jou in liefde uitnooi. Op daardie oomblik dat jy Jesus se uitnodiging aanvaar en die reis saam met Hom aanpak, verander jou donker tonnel ook in helder lig, goddelike lig. Dan is jou verdwaal en gesoekery na God op ʼn einde, want jy het die regte adres gekry. Die wonder van alles is – die deur by daardie adres, waar Jesus is, staan ook spesiaal vir jou oop. Jy hoef nie verdwaal of onseker te voel nie. “Kom saam met Jesus en kom kyk!”




21 April: Die eindbestemming se naam is Jesus. – Jan van der Watt

Joh 1:1-34 (fokus 1:1-18)

Mense bly maar soekers… soekers na God. Diep binne-in ons weet ons dat ons alleen by God regtig rus vir ons siele sal vind. Daarom bly ons siele onrustig op reis, soekend, vraend, tastend. Dit is ʼn reis met net een eindbestemming: God self! As ons sy stem hoor, op sy skoot neersak, sal ons weet, ons is dáár.

Maar hierdie is ʼn ironiese reis: dit is nie omdat ons so goed kan soek dat ons sal vind nie. Nee, dit is omdat God self op reis gegaan het, op soek na ons. Ons het Hom nie gevind nie, maar Hy het ons kom vind. Ons het nie na die eindbestemming toe gegaan nie, maar die Eindbestemming het na ons toe gekom. Daarvan vertel Johannes ons: Jesus het mens geword… en onder ons kom woon (1:14). Met Jesus se koms het God weer sy tent tussen ons kom opslaan sodat ons daar sy genade en heerlikheid kon leer ken.

Jy hoef nie te ver te soek nie – die eindbestemming se naam is Jesus. By Hom vind jy God.