16 April: Hou vol, die beloning gaan daar wees. – Jan van der Watt

Luk 22:39-62 (fokus 22:39-46)

Enigiemand wat al gereis het, sal jou vertel dat dit nie altyd so lekker is as wat dit mag klink nie. Toer het natuurlik sy oomblikke, maar daar is ook die minder opwindende tye. Om uiteindelik by die uitkykpunt bo-op die berg te kom, vat stap en nogmaals stap. ʼn Mens sit ure in die verkeer in Parys of London om uiteindelik die museum te sien wat jy so graag wou sien. Die belonings is gelukkig altyd daar.

Op die lewenspad gaan dit nie anders nie. Jesus het vir ʼn ander pad gebid, maar uiteindelik gesê: “Vader, doen wat U wil” (22:42). Hy het aanvaar dat daar oor sy pad dinge mag kom wat Hy nie van gaan hou nie. Maar sy hemelse Vader weet beter en daarom pak hy die pad met vertroue en in geloof aan, kom wat wil. Dit is die geheim van ons lewensreis wat ons by Jesus kan leer: om ten spyte van ons eie drome, God se wil vir ons lewens te aanvaar – ja, om bereid te wees om sy pad te stap. Die beloning gaan altyd daar wees. Ja, daar gaan tye van geestelike “harde stap” of “lank in die verkeer sit” wees waar ons gaan worstel en wonder… Maar ons moet weet: saam met God is ons op pad iewers heen. Ons eindbestemming wag – dit is wat God vir ons beplan het.

Dit is hierdie wete en aanvaarding dat God met ons op pad is, wat ons op ons lewenspad opgewonde hou, al “stap ons swaar”. Ons moet net volhou; die beloning gaan daar wees.




15 April: Laat ons bietjie skinder!. – Jan van der Watt

Luk 22:24-38 (fokus 22:31-34)

Hoekom is skinder vir party mense so lekker? Omdat hulle beter oor hulleself voel as hulle ander kan afkraak. Jy is darem nie die enigste een met foute nie… kyk net die ander!

Kom ons skinder ʼn bietjie. Petrus het so baie van homself gedink. Hy’t gedink hy’s die superdissipel (22:33), veral toe die Here hom ʼn bietjie prys (22:32). Hy sou die mense ʼn ding of twee wys! Al wat hy toe wys, is hoe vinnig hy van deuntjie kon verander toe dinge vir hom te warm word. Hy verloën sowaar vir Jesus. Maar Jesus het hierdie dissipel van hom nie gelos nie… Hy het hom weer gaan haal en die kaptein van sy span gemaak.

Ons kan Petrus kritiseer, want wat hy gedoen het, kan niemand oor trots wees nie. Maar ons kan ook Goddank bly wees vir sy lewensverhaal. Dit wys vir ons dat nie net perfekte mense in Jesus se span speel nie. Sy sterspeler, Petrus, het ook maar voete van klei gehad. Jesus kyk nie hoe die speler lyk nie, maar wat die speler in sy hande word. Hy kyk nie hoe goed die speler self is nie, maar wat genade aan die speler kan doen. Hy soek nie spelers wat nie kan val nie, maar spelers wat bereid is om weer op te staan en Hom nog meer doelgerig te volg.

Laat ons bietjie skinder: Daar’s ook plek vir jou en my in Jesus se span, net soos ons is. Nou het ons genoeg rede om beter oor onsself voel.




14 April: As jy van die Here ontvang sal jy ook weet hoe om te gee. – Jan van der Watt

Luk 21:37-22:23 (fokus 22:14-23)

As dit by die familie kom, kies ons nie ons broers of susters nie – die Here gee hulle vir ons; ook ons geestelike familie. Daarom kan ons nie te uitsoekerig of kieskeurig wees as dit by God se kinders kom nie. Immers, ons is self maar net deur genade deel van daardie familie. Dit kon so maklik anders gewees het.

Jesus het seker gemaak dat ons dit besef toe Hy die nagmaal ingestel het. Dit is sy ete en daar is die hele familie welkom. Daar, om die tafel, word ons elke keer weer herinner aan wie ons broers en susters is. Meer nog, daar sien ons ook hoekom ons ʼn familie is: Jesus het sy lewe vir elkeen om daai tafel gegee, sonder uitsondering. Ons is almal syne want ons is duur gekoop.

As jy God se genade vir jou verstaan sal jy nie kieskeurig wees nie – net dankbaar. Jy het ook ʼn plekkie om sy tafel. Daarom laat daardie genade jou ander omhels van wie jy miskien nie so baie hou nie.

Genade laat jou nie kies nie, maar ontvang, en as jy ontvang sal jy ook weet hoe om te gee.




13 April: Wees gereed!. – Jan van der Watt

Luk 21:5-36 (fokus 21:20-24)

Is die toekoms regtig onvoorspelbaar? Nie volgens die Bybel nie. Wat regtig vas staan is dat die Here weer gaan kom (21:20).

Die Here wil ons help om dit te onthou. Maar hoe doen Hy dit? In ons gedeelte lees ons van aardbewings, hongersnode, oorloë en sulke dinge. Dit is nie dinge wat gister eers begin het nie. Dit was van die begin af daar – en dit het vrees by mense ingeboesem. Dit was dinge wat groter was as hulle – dinge waaroor hulle nie beheer gehad het of iets aan kon doen nie. As die aarde onder jou oopskeur was jy magteloos; of as oorlog om jou losbreek kon jy dit nie met ʼn vingerklap verander nie. Dit is magte en dinge wat groter as jy is… sulke dinge laat jou besef: jy is klein. Ja, jy is nie die een wat alles in jou hand hou nie. En juis dit moet jou gedurig herinner aan die Een wat die grootste is.

Jy moet weet – jy is klein en God is groot. Hom moet jy nooit buite rekening laat nie. En Hy kom weer. Wees dan gereed!