4 April: Moenie te veel na geld ruik nie. – Jan van der Watt

Luk 16:1-18 (fokus 16:1-18)

Elke munt het twee sye, sê die spreekwoord.

Sonder geld is ons verlore; vra maar vir iemand wat nie geld het nie. Ons almal het al agtergekom hoe belangrik 50c is as ons dit nie het nie. Geld het ʼn baie positiewe sy.

Maar geld kan ons lewens ook bevoeter, veral as dit ons baas raak. As geld ons baas op ons lewenspad word, beheers dit sommer ook al ons ander verhoudings. By die werk gaan dit net oor geld, by my vriende gesels ons daaroor… oral is dit net geld. Miskien ly ons familie die meeste, want hulle moet die hele tyd hoor hoe duur goed is, hoe hard jy moet werk en dat geld nie aan bome groei nie. Soos as ons te veel knoffel geëet het, is die gevaar dat ons nie agterkom dat ons so na geld “ruik” nie. Ander ruik dit eerste, omdat hulle eerste agterkom hoe my verhoudings met hulle in die mag van geld vasdraai.

Iets waaraan die Bybel ʼn mens altyd herinner is dat jy die een is wat die keuses maak, ook as dit by geld kom. Of jy geld gaan gebruik en of geld jou gaan gebruik, hang van jou af. Kies reg.




3 April: God nooi jou uit. – Jan van der Watt

Luk 15:1-32 (fokus 15:11-32)

Ons hou van die storie van die verlore seun, want ons kan so lekker daarmee assosieer: jy dwaal af, maar kan telkens weer in die oop arms van God instap. Dit herinner ons aan sy liefde en genade wat ons so nodig het. Dit laat ons die hart van God se liefde hier naby, nee, eintlik hier teenaan ons voel. En dit is reg so, want die verhaal gaan eintlik oor God.

Dit gaan oor God wat jou met liefde uitnooi en met ope arms op jou wag. Sy huis staan vir jou oop en die vetgemaakte kalf lê gereed. Maar dan moet ons Hom nie laat wag nie. Ons moet opstaan en gaan.

Die verhaal gaan ook oor ʼn Vader wat soek. Toe die oudste seun nie wou kom nie, het sy pa hom gaan soek. So kom soek God ons ook as ons in selfgeregtigheid of selfbelang vasval. Let mooi op – Hy kom soek ons; Hy kom dwing ons nie. Dit hang van die oudste seun af of hy saam met die Vader die huis wil ingaan en of hy buite wil bly.

God werk nie met elkeen van ons op dieselfde manier nie. Party nooi Hy uit en wag – ander gaan soek Hy. Maar die punt is, Hy is dáár vir elkeen. Sy huis staan vir elkeen oop. Maar dis jý wat moet binnestap




2 April: God se genade is duur. – Jan van der Watt

Luk 14:25-35 (fokus 14:25-35)

Christene kom dikwels agter dat dit moeilik is om Christen te bly. Bonnhoefer, wat in die Tweede Wêreldoorlog vir sy geloof in die konsentrasiekamp gegooi is, het uiteindelik gesê: “God se genade is duur”. Dit is duur omdat Jesus so baie daarvoor moes betaal. Maar dit is ook duur omdat gelowiges deur stryd en swaarkry heen moet wys dat hulle daardie genade werd is.

Miskien een van die grootste misverstande is om te dink dat God se genade ons waarborg is dat alles maar net altyd goed sal gaan. Jesus het dit nooit gesê nie; nee, Hy het dit nie eers geïmpliseer nie. Jesus het ons van die begin af gewaarsku om mooi te dink voor ons sy pad begin stap, want dit kan ‘n moeilike pad vir ons word. Soos ʼn bouer eers kyk of hy alles het voor hy begin bou of ʼn generaal wat eers die gevegsituasie opsom voor hy besluit om oorlog te maak, so moet Christene mooi dink waarvoor hulle hulleself inlaat. As jy Jesus volg, kan jou pad dalk ook aan ʼn kruis eindig… (14:27).

God se genade stuur jou telkens terug na die harde werklikheid van jou lewensreis. Die reis gaan jou nie net by die hoogtes uitbring nie, maar dit gaan jou ook deur die donker valleie van onsekerheid en pyn vat. Nie net die oop paaie wag vir jou nie, maar ook die modderpaaie van stryd en swaarkry waarop jy so maklik kan vasval. Maar een ding is seker: op die hoogtes en op die oop paaie is God se genade daar, net soos dit ook in die donker valleie en tussen die modder daar is.

Onthou dan, God se genade kom teen ʼn prys… Leef so dat jy dit werd bly.




1 April: Agter in die ry is altyd plek. – Jan van der Watt

Luk 14:7-24 (fokus 14:7-11)

By God  werk dinge anders; eintlik nie net anders nie, maar andersom (14:11). Wie daar die minste is, sal God die meeste maak.

Dit is so anders as wat ons is. Ons wil so graag raakgesien word, so graag belangrik wees. Ons wil hê mense moet ons aanvaar en prys. As ander ons net goed laat voel is ons tevrede.

As ons paaie egter met God sʼn kruis begin die lewe andersom werk. Wat Hy van ons vra, is om die minste te wees, ander goed te laat voel in plaas daarvan om altyd self in die middel te wil staan, ander raak te sien in plaas van om self raakgesien te wil word. Hy draai ons oë van onsself af weg na die arme en die minder belangrike toe. Hy laat ons die sieke en die een wat swaarkry raaksien. Ja, die mense wat in hierdie lewe altyd agter in die ry land moet op ons prioriteitslys voorop staan.

Daar is tog ook ʼn stukkie ironie in: As ons die hele tyd voor in die ry wil indruk, gaan dit ʼn gesukkel afgee, want daar is eenvoudig nie genoeg plek vir almal om heel voor te staan nie. Gaan val agter in – dáár is altyd plek in die ry. Daar is jy altyd welkom.

Sowaar, by God werk dinge andersom; sy ry begin agter. Maak seker jy is daar.