19 Maart: Varke?. – Jan van der Watt

Luk 8:22-48 (fokus 8:26-39 )

 

Vir ons as gelowiges klink dit amper onmoontlik dat mense Jesus kan wegjaag. Tog, in 8:34-37 doen mense dit, nogal nadat Jesus daar tussen hulle ‘n groot wonder laat gebeur het. Hoekom doen hulle dit?

Die antwoord kan ‘n mens byna nie glo nie – hulle was kwaad omdat hulle ‘n paar varke verloor het, ongeag wat hulle gewen het. Ja, dit was óf die varke óf Jesus. En hulle kies die varke!?

Ons moenie te vinnig ons kop skud nie. Hulle het gedink hulle maak die regte besluit omdat hulle hulle blindgestaar het teen die varke. Die oë van hulle hart was toe, maar die oë van hulle beursies en besittings was wawyd oop. Toe hulle die keuse moes maak was die varke al wat hulle raakgesien het en oor bekommerd was.

So moet ek en jy ook elke dag keuses maak. Soms gebeur dit dat ons tussen Jesus en iets anders moet kies. Partymaal kies ons nes daai klomp mense met die varke – ons kan so bekommerd wees oor ons eie beursies, gewildheid of aspirasies dat ons Jesus “wegjaag”.

As ons verkeerde prioriteite in ons lewens begin kry kan ons soms belaglike dinge doen… kan ons ter wille van ‘n paar varke Jesus misloop.




18 Maart: Jy kan nie vir die Here wegkruip nie. – Jan van der Watt

Luk 8:9-21 (fokus 8:16-18)

‘n Dominee loop eendag ‘n man raak wat in ‘n donker hoekie wegkruip terwyl hy te veel drank drink. “Broer, die Here sien jou ook hier raak, al probeer jy wegkruip”, sê die dominee. “Ja, dominee, maar Hy skinder nie so baie nie. Dis nie vir Hom wat ek hier wegkruip nie”, kom die antwoord.

Daar is geweldig baie waarheid in die storie. Ons kan nie vir die Here wegkruip nie. Hy weet waar ons is en wat ons doen. Sy lig skyn in die verste en donkerste plekke van ons hart (8:17). Dan “skinder” Hy ook nie… sy teenwoordigheid by ons is opreg. Hy is nie daar om ons te probeer seermaak nie, selfs al waarsku Hy ons dat Hy nie net paai nie, maar ook oordeel kan uitspreek (8:17). Selfs die verwysing na oordeel is eintlik ‘n bedekte pleidooi om God in jou lewe raak te sien… om te besef Hy is daar om iets aan jou eie lewe te doen.

Met die Here kan jy in jou donker hoekies praat. Hy luister maar skinder nie daarna nie. Hy is daar om jou te help, omdat Hy jou liefhet. En jy hoef Hom nie te probeer beïndruk nie, want Hy weet.

Hy is die Een wat jy kan vertrou…




17 Maart: Regverdige onregverdigheid?. – Jan van der Watt

Luk 7:36-8:8 (fokus 7:36-50)

Is daar iets soos regverdige onregverdigheid? Vir party mense lyk dit of God so werk. Soos vir Simon in ons verhaal (7:36-50) is dit vir baie mense moeilik om te verstaan waarom God mense so verskillend hanteer. Is Hy dan nie regverdig nie? Moet Hy nie ‘n bietjie na ons “track record” kyk nie? Party van ons leef darem baie beter as ander.

As ons egter anders na God se manier van werk kyk, verstaan ons dit miskien ‘n bietjie beter: die een mens het baie sonde en die ander een min; Jesus vergewe albei se sonde. Wat het dan gebeur?  Vir beide het die onmoontlike moontlik geword – hulle kan kinders van God wees. Of jy nou bietjie of baie sonde gehad het, ‘n verhouding met God sou nie vir jou moontlik gewees het nie, tensy Jesus dit moontlik kom maak het. Het Jesus regtig vir die een meer as vir die ander gedoen? Was Hy regtig onregverdig?

Dit is die wonder van God. Hy kyk nie na ons soos ‘n bankbestuurder wat “sondenote” of selfs “goeie-dade-note” tel nie. Nee, Hy vat ons soos ons is en vergewe wat nodig is, sodat ons nuut kan begin. Vir Hom spel dit nie “onregverdig” nie, maar “regverdig”. Dit is immers hoe liefde werk.




16 Maart: Moenie te veel fout vind nie. – Jan van der Watt

Luk 7:18-35 (fokus 7:29-35)

As mense nie wil glo nie, sal hulle nie glo nie. Hulle sal altyd ‘n verskoning soek en een kry ook. Dit was so in Jesus se tyd en dit is vandag nog so. Ja-nee, Johannes die Doper was vir party te konserwatief en Jesus weer te liberaal (7:33-34). Niks en niemand is ooit reg nie. As jy vandag nog na patry mense luister wat oor die godsdiens praat, klink hulle nog steeds net so – altyd aan die stry.

Byvoorbeeld, ons hoor gereeld van mense wat braaf beweer dat hulle nie in ‘n God kan glo wat hongersnood of natuurrampe toelaat nie. Ander het weer probleme met ‘n God wat ontevrede is met sonde en dit wil straf. Hoe kan ‘n God van liefde nou dit wil doen? Ander twyfel weer aan ‘n God wat sy Seun sou laat sterf, wat nog van Hom opwek? Ander sê weer God verhoor nie hulle gebede nie (met ander woorde, doen nie wat hulle sê nie) en daarom stel hulle nie meer in Hom belang nie. Aan foutvindery is daar nie ‘n einde nie.

Maar wat sê God hieroor? Miskien kan ons Hom heimelik sien kop skud oor al hierdie slim mense met hulle teorieë. God is gelukkig nie afhanklik van wat mense van Hom dink of sê nie. Wat hulle moet besef is dat God ook na hulle kyk en dalk ook fout kan vind, meer as wat vir hulle goed is (7:35). En op die ou einde is dit sy opinie wat regtig tel!