11 Maart : Waar Jesus is, is daar hoop en liefde. – Jan van der Watt

Luk 4:31-5:11 (fokus 5:1-11)

Iemand sê eendag vir ‘n ouderling op huisbesoek: “Ek is nie ‘n huigelaar soos jy wat heeltyd kamma in die kerk sit nie”. Die ouderling antwoord toe: “Ek is nie hier die huigelaar nie. Jy is. Ek ken myself en my sonde – ek weet ek het die Here nodig en gaan soek daarom na Hom. Jy dink jy kan sonder die Here klaarkom en self jou sonde vergewe. Oppas, ‘n mens kan nie God se werk doen nie. Jy het Hom nodig”.

In ‘n Christen se hart is daar altyd ‘n toutrekkery, soos met Petrus (5:8). Aan die een kant besef jy hoe broos en sondig jy is. Jy wil eintlik net jou gesig toemaak in skaamte en vir die Here vra om weg te gaan.

Maar aan die ander kant wil jy net aan Hom bly vashou, nee, vasklou; wil jy nie hê dat Hy moet weggaan nie. Jy weet Hy is die enigste Een wat dood in lewe kan verander. Hy is jou enigste hoop en by Hom en Hom alleen wil jy wees.

Ja, die tou span styf: aan die een kant hoort jy nie by Christus te wees nie – aan die ander kant is dit al plek waar jy kan wees. Dit is nie huigelary nie. Dit is realisme.

Jy sit nie in die kerk omdat jy so goed is of huigel nie – jy is daar omdat Jesus daar is. En waar Jesus is, is daar vir jou hoop en liefde.




10 Maart: Wees maar nederig as jy by God kom…. – Jan van der Watt

Luk 4:1-30 (fokus 4:1-13)

 

Jesus sê vir die duiwel dat hy God nie moet uittart nie (4:12). Is so iets dan moontlik? Kan ons God so kwaad of ongeduldig met ons maak dat Hy later niks meer van ons wil weet nie?

Kom ons kyk: Hoe tart die duiwel God uit? Deur kanse te vat. Al weet hy van beter, probeer hy wegkom met iets wat Hy weet God nie wil hê nie. Hy kyk hoe ver hy God kan druk. Hy probeer manipuleer, klink vroom, bring argumente, ja, werp alles in die stryd sodat hy God net na sy wil kan buig. Hierdie soort van uittarting neem God se heiligheid nie ernstig nie. Ons is nie God nie en moet dit ook nie probeer wees nie.

So kan wat ons doen of sê partymaal maar gevaarlik word: mense word vir God kwaad of sê sommer Hy bestaan nie meer nie omdat Hy nie doen wat hulle wil nie; ons bargain dikwels met God terwyl ons voor ons siel weet dat wat ons nou vra nie reg is nie; ons dreig God af, asof ons mag. Dis asof ons vergeet God is heilig en nie ons speelmaat nie.

Ons moet mooi dink voor ons te spraaksaam oor en voor God raak.




9 Maart : “Kuier” gereeld saam met God se Gees. – Jan van der Watt

Luk 3:1-38 (fokus 3:15-20)

Die Heilige Gees is God se onsigbare manier om in en by jou te wees… en dit maak al die verskil.

Ons besef dikwels nie dat Jesus eers begin preek en wonders doen het toe die Heilige Gees op ‘n spesiale manier op Hom gekom het nie (3:22). En as Jesus weggaan, laat Hy die Gees by sy mense (3:16). Dit is vir Hom genoeg, want Hy weet dat as jy die Gees van God het, sy krag in jou is.

Die Gees is die manier waarop God aan ons lewens kom raak. Dit is die manier waarop Hy ons lewens van gewoon na buitengewoon kom verander; van doelloos na doelgerig; van kragteloos na kragvol.

Maar hoe? God het van sy kant tot by ons gekom, nee, tot in ons. Hy is binne hoorafstand, binne voelafstand. Maar dan moet ons tyd maak vir “kuier”, baie “kuier”, in die sitkamer van ons hart. Maar oppas, die sitkamer van jou hart kan so deurmekaar en vol van allerhande bedrywighede, of selfs van jouself, wees dat daar eenvoudig nie meer lekker “kuierplek” met die Gees is nie. En dan moet jy nie verwag om die Gees nog te hoor nie. Die Gees is maar daar, maar jy gun jouself nie ‘n kans om na Hom te luister nie.

Gee die Gees ‘n kans… “kuier” deur in gebed of stilte te vra en te luister. As dit stiller en rustiger in jou “sitkamer” word, sal jy begin hoor. En dit sal al die verskil maak – van moedeloos na vol moed, van onseker na doodseker, van vraagteken na uitroepteken.




8 Maart : God druk niks ryp nie. – Jan van der Watt

Lukas 2:21-52 (fokus 2:41-52)

Ons raak dikwels ongeduldig en wil hê dinge moet vinniger op godsdienstige gebied gebeur. Maar hoe sê die spreukwoord: Rome is nie in een dag gebou nie. En dit geld ook vir die godsdiens.

God laat dinge gebeur, maar op hulle tyd. Hy druk niks ryp nie.

  • Jesus het vir die grootste deel van sy lewe in Nasaret gebly. Daar het God Hom voorberei vir wat voorlê (2:40, 52). Jesus was al oor die 30 jaar oud toe Hy eers begin preek en wonders doen het – hy het maar vir tussen een tot drie jaar gepreek voordat Hy gekruisig is. Waarom so lank gewag en so kort opgetree? Dink net wat Jesus nog alles sou kon doen as Hy dalk vroeër begin het. Ons sou dit miskien anders gedoen het, maar ons is nie God nie. God het sy plan…
  • Paulus, die groot apostel, het ongeveer in 33nC tot bekering gekom. Vir veertien jaar hoor ons eintlik bitter min van hom. Dit was al amper 50nC toe hy eers begin het met sy sendingreise. So bietjie meer as tien jaar later was alles verby. As Christen was hy langer “onbekend” as “bekend”. Ook hier was God nie oorhaastig nie.

Wat leer ons hieruit? Wees geduldig en laat God toe om sy pad met jou te loop. As Hy sê die tyd is reg, moet jy gereed wees. Maar moenie oorneem en dinge ryp probeer druk nie.