19 Februarie – Die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie… want dit is nie van silwer of goud gemaak nie. – Jan van der Watt

Mark 8:22-9:1 (fokus 8:34-9:1)

As iemand my volgeling wil wees, moet hy sy hele lewe vir My gee. Ek sal met niks minder tevrede wees nie.’ (8:34)

 

Het jy al agtergekom… die belangrikste dinge in die lewe weeg niks nie. Neem nou maar liefde: As die liefde vir daai nuwe outjie by die skool jou dogter soos ‘n aansteeklike siekte tref, verander baie dinge, maar nie haar gewig nie – behalwe as sy natuurlik saam met die liefde op ‘n streng dieët ook gaan. Belangrike dinge, soos die liefde, kan ons nie op gewone skale soos silwer of goud weeg nie. Dit is miskien ook waarom ons regte liefde nie met silwer of goud kan koop nie. Liefde kom gewoonlik verniet…

Maar al weeg liefde niks vra dit baie; ja, eintlik vra dit alles (8:34). Neem nou maar liefde vir Jesus. Dit is die onsigbare band wat jou, ja, die hele jy, aan Hom vasbind. Dit vra dat wat vir Hom belangrik was vir jou ook belangrik sal wees; dat jy sal wees waar Hy is en sal stap waar Hy stap. So gee jy eintlik baie van jouself ‘weg’ – jou eiewilligheid, jou pad wat jy op jou eie beplan het om te stap. Soms vra dit meer as wat ons verwag het. Onthou, Jesus was soms alleen in die woestyn en sy pad het ook deur ‘n kruis geloop. Miskien kan jou pad ook daarlangs verby loop as jy by Jesus wil bly. Dan sal dit liefde wees wat jou aan die gang sal hou. Juis daarom is liefde so kosbaar.

Die lewe as Christen is nie altyd maklik nie. Maar dit is ook nie so moeilik nie. Hoewel jy alles moet gee, kry jy baie meer… jy kry Jesus. Dit is waaroor liefde gaan: om jou aan Iemand te bind, ja, om syne te wees. En as jy Syne is, is Hy ook joune. Al mag jou situasie moeilik wees, is jy daarin nooit alleen nie. En dit maak die moeilike maklik.

Liefde vir Jesus mag niks weeg nie, maar dit vra alles… en dit gee jou ook baie meer terug.




18 Februarie – Moenie toe oë deur die lewe gaan nie. – Jan van der Watt

Mark 7:24-8:21 (fokus 8:13-21)

‘Wees baie versigtig…’ (8:15)

 

Skeidsregters soek mos net die hele tyd fout. As dit goed gaan, hoor jy niks van hulle nie, maar laat daar net iets verkeerd loop, dan blaas daai fluitjie en wys daai vinger! Dit is hulle werk. Dink net watter gemors dit sou wees as die helfte van die mense rondom jou gedink het hulle werk is om “skeidsregters” te wees. ‘n Mens sou kwalik die spel van die lewe kon speel, want ons sou mekaar uitmekaar ‘geblaas’ het. Ja-nee, ons sou net die hele tyd fout gesoek het.

Die Here waarsku ons om nie te vinnig of te veel te kritiseer nie. Dit is nie hoe Hy wil hê ons moet wees nie. Maar aan die ander kant waarsku Hy ons ook om nie met toe oë deur die lewe te gaan nie. Ons moenie alles maar net kritiekloos aanvaar nie, ook nie ons godsdiens nie. “Wees versigtig vir die suurdeeg…” sê Jesus in 8:15.

Ons ken suurdeeg. Jy sit net ‘n ou klein bietjie in en as jy ‘n rukkie wag, is die suurdeeg dwarsdeur die deeg. So werk invloed ook. ‘n Ou klein gedagtetjie kan so groei dat dit later almal se koppe vol maak. Daarom moet ons oppas vir sulke soort ‘suurdeeg-gedagtes’… ook as dit by die kerk kom. As dit natuurlik ‘n goeie gedagte is, maak dit nie saak nie. Ons moet egter seker maak dat waarmee ons ons koppe volmaak, die regte gedagtes is. Ons moet nie alles sommer net vir soetkoek opeet nie. As dit lyk of dit nie heeltemal is wat God in sy Woord sê nie (selfs al lyk dit net ‘n bietjie anders) moet ons oppas, soos vir daardie verkeerde suurdeeg…

Moenie bang wees om partymaal skeidsregter te speel nie, veral nie as dit by jou lewenswaardes en godsdiens kom nie.




17 Februarie – Reinheid kom van binne. – Jan van der Watt

Mark 7:1-23 (fokus 7:14-23)

‘Dit is nie wat julle eet en so in julle liggame inneem wat julle onrein maak in God se oë nie. Nee, dit is wat by jou mond uitgaan wat jou vir God onrein maak’ (7:15)

 

Hoogs onsteltd kom ‘n ma eendag kla oor haar dogter wat ‘n spesifieke hangertjie op ‘n vlooimark gekoop het. “Sê nou net dit is satanies”, kla die vrou. “Dan kan die hangertjie dalk my kind in die duiwel se hande indryf sonder dat sy dit eers weet”.

Hoe wonderlik sou dit nie gewees het as hangertjies en sulke dinge tog so gewerk het nie. Dit sou mos beteken dat kruisies om die nek net so moes werk. Dan was dit nie meer nodig om met enigiemand oor God te praat nie. Hang net ‘n kruisie om haar nek en die kruisie ‘dryf die persoon daar en dan in die hande van God in’. Sonder om ‘n woord te sê sou sy dan heilig en rein wees. Maar dit werk nie so nie, dit weet ons almal, al wil party tog so graag hê dit moet met ‘duiwelse hangertjies’ so werk.

Jesus het ons anders geleer. Reinheid kom nie van buite nie, maar van binne, daar diep uit jou hart (7:20-23). Dit is nie wat jy om jou nek hang wat tel nie, maar wat uit jou hart uit kom. As die Here jou hart aanraak, verander dinge – nee, verander jy. As Hy sy hand op jou lewe lê, smelt onreinheid hier binne in jou weg. Slegte gedagtes smelt weg; oneerlikheid smelt weg; woede en wraak smelt weg; ontrou aan jou huweliksmaat smelt weg… en die nuwe, rein jy bly agter. Want, wat weg is is weg. Ja-nee, as daar niks onreins of sleg hier binne in jou is nie, kan daar niks onreins of sleg uit jou binneste kom nie. So eenvoudig is dit.

Immers, wat oorbly is goeie gedagtes, eerlikheid, vriendelikheid, getrouheid… Dit kom uit jou binneste uit, want dit is al wat daar oor is om uit te kom.

Onthou, dit is nie wat buite is nie, maar wat binne is, wat die verskil maak, hangertjie of nie.




16 Februarie – Christenskap is spanwerk. – Jan van der Watt

Mark 6:30-56 (fokus 6:45-52)

‘Jesus stel hulle toe dadelik gerus: “Moenie so skrik nie, dit is net Ek. Julle hoef nie bang te wees nie.”’ (6:50)

 

Hoekom kan Christene nie op water loop soos Jesus nie. Wel, dis nie eintlik wat Jesus ons hier op aarde wou kom leer nie. Sy plan was eerder om seker te maak dat ons nie geestelik sink nie.

Jesus se dissipels in die boot het dit nie maklik gehad nie. Hulle moes maar swoeg en sweet in die ontstuimige see en wind (6:48). Hulle kon ook nie hulle probleem vinnig oplos deur net vir Jesus te vra nie, want Hy was nie daar nie. Sy plekkie in die boot was leeg.

Wie sou nou ooit kon verwag dat Jesus skielik daar aangestap sou kom – en dit op die water in die middel van die meer? Ek dink nie dat een van hulle dit eers sou kon droom nie! Hulle het seker teen daardie tyd al aanvaar dat hulle hierdie keer alleen is.

Maar Jesus doen die verrassende – Hy ontmoet hulle in die middel van die meer. En so leer Hy vir hulle ‘n belangrike les. Hy vergeet ons nooit en is eintlik nooit ‘weg van ons af’ nie, al voel ons partymaal of sy plekkie by ons ‘leeg’ is. Nee, Hy help op maniere waaroor ons nie eers kan droom nie. Een ding moet jy uit hierdie verhaal leer: Hy vergeet nie, Hy laat nie alleen nie en Hy doen ver bo wat jy verwag.

Daai keer toe Jesus op die water geloop het, het Hy ook aan jou gedink. Hy sal jou ook in jou geestelike lewe verras op maniere waaroor jy nie eers kan droom nie. Vertrou Hom net.