11 Februarie – Wees versigtig – jy kan God maklik miskyk. – Jan van der Watt

Mark 3:1-30 (fokus 3:20-30)

‘Sowaar ek sê vir julle: daar is niks wat julle kan doen of sê wat so sleg is dat God dit nie kan vergewe nie, selfs al praat julle lelik van Hom. Maar daar is een ding wat God net mooi niks van hou nie: dit is as mense sê dat die dinge wat die Gees doen van die duiwel af kom. God sal dit vir altyd teen so ’n persoon hou.’ (3:28-29)

 

Kan jy nog die Here in die gewone dinge van die lewe raaksien? Dit word al hoe moeiliker. Alles het so verander… die TV vertel vir ons waar en wanneer dit gaan reën. Ons drink pille as ons siek is of gaan hospitaal toe vir spesiale behandeling as ons sukkel om ‘n baba te kry. Geen wonder nie dat party mense vra wat vir God oorgebly het om te doen? Oral in die lewe het ons ons eie raad en planne. Dit is byna of God “werkloos” geword het, of so lyk dit miskien.

Ons kan God maklik in die lewe miskyk. God kan soms selfs reg voor ons staan sonder dat ons Hom raaksien. Kyk maar na die Jode in ons verhaal: hulle het voor Jesus gestaan en sowaar gedink Hy is die duiwel (3:22), so skeef het hulle gekyk. So het hulle God nie alleen werkloos nie, maar ook magteloos in hulle lewens gemaak. Hy kon nie in hulle lewens werk nie, want hulle wou nie erken dat Hy daar is nie. Hulle het Hom nie meer raakgesien nie en het daarom ook nie meer iets van Hom verwag nie.

Hoe kan jy God raaksien en herken as jy nie wil soek of mooi wil kyk nie? Om God raak te sien, beteken om jouself so bietjie “oop te maak”. Jy moet bereid wees om te erken dat Hy dáár is, meer nog, deel van jou lewe is. Jy moet bereid wees om sy voetspore in die gewone dinge rondom jou raak te sien. Die lewe kom nog van God af, al word die baba in ‘n buis gebore… lewe kom tog nog van God af. Hy het die wette van die natuur geskryf  – al het ons geleer om dit te voorspel. En dit is as ons besef dat die Here by ons is, dat ons Hom weer in die dinge rondom ons sal kan raaksien.

Die Here is nog daar in die alledaagse dinge… kyk net mooi.




10 Februarie – Geniet die Sabbat. – Jan van der Watt

Mark 2:13-28 (fokus 2:23-28)

‘Jesus onderstreep toe weer: “God het die sabbat vir mense gegee om te geniet soos God dit bedoel het. Mense moenie allerhande reëls maak om die sabbat ’n belangriker dag te probeer maak as wat dit is nie. Dit gaan in die eerste plek oor mense en nie oor die sabbat nie. Die Seun van die mens het volle seggenskap oor die sabbat.’ (2:27)

 

Moenie die Here se Sabbat steel nie… dit is syne wat Hy vir jou gegee het om te geniet. Moet dit dus ook nie mors nie.

In 2:27 verduidelik Jesus wat Hy bedoel. Dit gaan nie eintlik oor die dag nie, maar oor jou as mens en hoe jy die dag tot eer van die Here geniet. So wou Hy die fout van die Fariseërs regmaak. Hulle het die Sabbat verkeerd verstaan: Hulle het die Sabbat so vol reëls gepomp dat kwalik nog vir ‘n mens ‘n plekkie oorgebly het om te lewe. Hulle het skoon vergeet waaroor die dag eintlik gaan.

Die Sabbat is daar om te lewe; vir God te lewe en dit te geniet ook. Die Here wil jou uit jou alledaagse sloer uithaal en jou weer kans gee om raak te sien hoe lekker dit is om voluit vir Hom te lewe. Hy wil hê jy moet net weer ‘n slag rondom jou kyk na wat Hy alles vir jou gee om te geniet. Daarom is daar  iets van ‘n uitbundigheid, ‘n lewendigheid in die Sabbat.

Die Sabbat wil jou nie in reëls toesluit nie, maar jou vrylaat in God se goedheid en genade. Dit wil jou saam met God laat feesvier en laat geniet wat Hy vir jou gee.

Dit is lekker om eenmaal ‘n week herinner te word aan die genot van die lewe saam met God. Die Sabbat is eintlik die lewe wat wink. Om die waarheid te sê, dit wil jou eintlik leer hoe om elke dag van jou lewe te leef.

Moenie die Sabbat van die Here “steel” deur nie te geniet wat Hy jou gegee het nie.




9 Februarie – Maak die regte keuses. – Jan van der Watt

Mark 1:29-2:12 (fokus 2:1-12)

 Jesus vra hulle toe: “Wat is die maklikste om vir die lam man te sê: ‘God vergewe jou sonde’ of ‘Vat jou matras en loop?’ Om dit egter te laat gebeur is heeltemal ’n ander saak. Julle weet dat iemand net sonde kan vergewe as hy die mag het om dit te doen’ (2:7)

 

Slim mense sê dat ‘n mens se brein vol ‘voetpaadjies’ is. Sê nou jy het ‘n probleem en jy  moet oor iets besluit. Jou brein loop dan ‘n ‘pad’ om daai besluit te neem. As jy weer voor so ’n probleem kom, vat jou brein sommer dieselfde pad, want hy voel hy ken mos die pad. As jou brein dus ‘n paar maal op dieselfde pad loop as iets met jou gebeur, word dit ‘n gewoonte – dan word dit soos ‘n voetpaadjie in jou brein. Jou brein word gewoond dat as daardie vraag of probleem opduik, is daardie die pad (keuse) om te loop. Ja, as dieselfde ding weer met jou gebeur dink jy eintlik nie eers meer mooi nie… jy vat sommer die gewone uitgetrapte voetpad. So vorm gewoontes. En dit is nie altyd so maklik om daardie voetpad te laat toegroei nie.

Sondige gewoontes werk net so. Om ‘n ou klein witleuntjie te vertel, lyk nie gevaarlik nie en dit werk miskien goed om my uit ‘n moeilike situasie te kry. Volgende keer gaan dit makliker en uiteindelik gebeur dit sommer outomaties dat ek in moeilike situasies leuns in alle rigtings vertel. Jy doen dit later sonder om eers mooi na te dink oor waarmee jy besig is… die voetpad lê daar!

Om onsself te help, moet ons dink voor ons doen; moet ons die mag van slegte gewoontes breek. Jy moet die verkeerde voetpaadjies laat toegroei en nuwe, ja, regte voetpaadjies uittrap. Jy moenie dink jy gaan die sonde uitoorlê as jy daai verkeerde voetpaadjies net so los nie. Jou voete sal maar altyd daai pad wil vat. Hulle gaan uiteindelik dongas word waaruit jy nie sal kan kom nie. Maak hulle betyds toe…

Jesus kan jou nogal help om nuwe paadjies uit te trap. Volg net die aanwysings wat Hy vir jou lewe gee.




8 Februarie – Moenie vir koue pampoen skrik nie. – Jan van der Watt

Markus 1:1-28 (fokus 1:1-13)

‘Satan wou kyk of Hy Jesus iets kon laat doen waarvan God nie hou nie.’ (1:13)

 

‘n Engel van die Here verskyn eendag onverwags aan ‘n vroom man. “Skrik jy nie eers nie?” vra die engel toe hy so skielik voor die man staan. “Nee, ek skrik net vir lede van die vyand se span”, sê die man. In ‘n sekere sin is dit waar, en in ‘n sekere sin ook nie.

  • Die duiwel is niemand se speelmaat nie en daarom moet ons maar skrikkerig versigtig wees as ons sy reuk naby ons optel. Dit voorspel gewoonlik niks goeds nie. Ons moet dus skrik as ons agterkom dat hy naby ons is. En daar is goeie rede voor. Die duiwel het die geneigtheid om so onskuldig te lyk dat jy eintlik voel jy wil van hom hou. Maar die oomblik dat jy dink dit is veilig, is jy in sy kloue. Dit is baie keer hoe sonde werk: as ons geweet het wat die gevolge sou wees van wat ons doen, sou ons dit waarskynlik nie gedoen het nie.
  • Maar aan die ander kant hoef ons glad nie bang te wees vir die duiwel nie, want Jesus is daar. En Jesus het die duiwel klaar ‘n deeglike pak slae gegee. In 1:13 lees ons dat al probeer die duiwel sy bes, hy niks kan regkry as Jesus naby is nie. Ons moet die duiwel nooit te veel krediet gee asof hy so vreeslik sterk is nie. As hy langs Jesus staan, lyk hy na niks anders as ‘n verloorder nie – en dit is hy ook. Ons moet versigtig wees vir hom, maar moet hom nooit sterker maak as wat hy regtig is nie.

Jou pad gaan verseker vandag met dié van die duiwel kruis. Jy hoef nie te skrik as Jesus by jou is nie, want die duiwel hou nie daarvan om naby Jesus te kom nie. Jy moet wel skrikkerig wees, want hy gaan jou probeer uitvang, soos wat hy met Jesus probeer doen het.