30 Januarie – Moenie speel nie, wees opreg. – Jan van der Watt

Mat 23:1-28 (fokus 23:23-26)

Sowaar, julle is soos iemand wat die buitekant van ’n skottel silwerskoon maak maar dit binne-in net so vuil los. Dit is vir julle baie belangrik hoe mense van buite lyk… Sorg eers dat die binnekant mooi skoon is.’ (23:25-26)

Miskien het jy al die storie gehoor: Toe ‘n outjie uit ‘n boom val skreeu hy: “Here help!” Skielik hak ‘n tak sy broek en hy besef hy kan nou self regkom. Toe sê hy: “Toemaar Here, ek het reggekom”.

As daar nou een ding is waarvan die Here niks hou nie, is dit speletjies… godsdiensspeletjies.   As jy die Here nodig het, moet Hy dáár wees. Maar as alles goed gaan, kom jy sommer maar self reg (of so dink jy miskien). Dit is regtig soos ‘n speletjie wat jy met God speel… en ek dink ons kan die speletjie ‘kom as jy nodig is’ noem. Wie hierdie soort van godsdienstige speletjie speel verstaan nie dat godsdiens beteken nie: God het jou vriend geword met wie jy in ‘n intieme verhouding staan. Jy kan Hom nie sommer roep of wegstuur soos jy wil nie. Dit het nie vir die Fariseërs gewerk nie en dit sal ook nie vir ons werk nie (23:27-28).

Twee van die pilare waarop os verhouding met God staan is eerlikheid en opregtheid. God speel nie speletjies met ons nie. Hy het ons opreg lief en stel nie net partymaal in ons belang nie. Daarom wil Hy ons hand vat… elke dag en vir altyd.

Vat ook die Here se hand in opregtheid en eerlikheid. Wees opreg met die Here: as jy twyfel, praat eerlik met Hom… Hy luister. As jy onseker van iets is, sê dit ook opreg vir Hom… Hy sal verstaan. Onthou, die Here wil jou hê soos jy is, maar dan die regte jy… ja, die opregte jy! En Hy wil jou nie net partymaal hê nie.

‘n Mens mors eintlik jou godsdiens op as jy speletjies speel, want jy vergeet die meeste van die tyd dat God by jou is.




29 Januarie – As jy God se kinders liefhet, het jy Hom lief – Jan van der Watt

Mat 22:15-46 (fokus 22:34-40)

Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jyself is. (22:37-39)

 Jesus sê niks mag belangriker as jou liefde vir God wees nie (22:37-39) – dit moet bo-aan jou lys staan. Die verrassende is dat dit lyk of Hy tog nog iets daar bo-aan die lys inwurm wat met die liefde vir God “kompeteer” vir die eerste plek: die liefde vir die mense rondom jou… Hy sê hierdie twee eise – liefde vir God en vir jou naaste – staan op gelyke vlak. Maar die vraag is: hoe kan twee dinge altwee gelyktydig die belangrikste wees? Dit rym mos nie.

‘n Mens kan dit verstaan as jy besef dat dit hier oor die liefde in die gesin van God gaan.  Dit werk soos in ‘n hegte familie. Die pa en die kinders se belange loop deurmekaar. As jy sê jy het die pa lief, maar jy maak die pa se kinders seer, sal die pa jou nie glo nie. Net so help dit nie om te sê dat jy die kinders liefhet, maar jy beledig hulle pa die hele tyd nie. Nee, die twee dinge loop saam: As jy die Pa liefhet, sal jy ook almal wat aan Hom behoort liefhê. Maak jy egter die kinders seer, voel die Pa daardie pyn ook en beledig jy die Pa, kraak jy die kinders ook so af.

Pa en kinders kan jy nie skei nie. Wat jy aan die een doen, doen jy aan die ander. Daarom staan beide se name heel bo-aan die lys van liefde. As jy sê jy het God lief moet jy sy kinders ook liefhê. Jy het nie ‘n keuse nie. Jou liefde vir God word aan jou liefde vir sy kinders getoets.




28 Januarie – Maak die beste van jou geleenthede… – Jan van der Watt

Mat 21:33-22:14 (fokus 22:1-14)

Onthou, baie sal die uitnodiging hoor, maar nie naastenby almal sal die hemelse fees haal nie.(22:14)

‘n Mens lewe net een maal… en dit beteken dat baie kanse net een maal kom. As daai kans verby is, is dit verby. Daarom moet ‘n mens reg wees om die kans te gryp as dit kom. Baie mense wag vir kanse en as dit kom, doen hulle niks. Kanse gryp jou nie, hulle kom net. Jy moet hulle gryp, anders is hulle verby. Die klomp ouens in die storie in die Bybel moes duur betaal om die les te leer – hulle het kans gehad om die bruilof by te woon, maar wou dit nie ‘gryp’ nie… en toe was dit verby.

Die lewe is so vol geleenthede, klein en groot. Maar ons kyk dit te maklik mis. Ons voel dikwels so swartgallig oor die lewe dat ons die lewe en sy kanse by ons laat verbygaan. Ons raak partymaal geestelik so moeg dat ons vergeet om te lewe. Jy moet onthou, die Here is maar altyd met jou lewe besig; geleenthede is gawes van hom af. Dit is asof die Here vir jou deure oopmaak om jou so na plekke te lei waar jy nooit sou gekom het nie. Dit is die manier waarop hy jou wil gebruik om ‘n verskil te maak, nie net aan ander mense nie, maar ook aan jouself. Geleenthede is die deure wat oopgemaak word na ‘n avontuurlike lewe.

Natuurlik is nie alles wat vir ons na geleenthede lyk regtig geleenthede nie. Soos die wyse Salomo het jy wysheid nodig voor jy die deur oopmaak. Kyk mooi voor jy besluit. Vra God om jou te help om reg te kies. Vat sy hand in gebed en kies reg… jy leef net een maal.




27 Januarie – Dit is dade wat tel, nie woorde nie. – Jan van der Watt

Mat 21:12-21:32 (fokus 20:28-32)

‘Daar was ’n pa met twee seuns. Hy is eers na die eerste seun toe. ‘Ou seun,’ vra hy, ‘sal jy nie asseblief vandag met die boerdery gaan help nie?’ ‘Ek is nie lus nie,’ sê die seun. Sy gewete het hom egter gou begin pla. Hy is tog daar weg om te gaan help. Die pa is intussen na die tweede seun toe. Hy vra hom ook om te gaan help. ‘Goed Pa, ek sal gaan,’ sê die seun dadelik. Dit was egter net leë woorde, want hy het nooit gegaan nie. Nou vra Ek julle, watter seun het gedoen wat sy pa gevra het?(20:28-31)

In die lewe is daar mense wat dinge laat gebeur, mense wat praat oor hoe dinge moet gebeur en dan mense wat wonder wat gebeur het. Wie van hulle maak regtig ‘n verskil in die lewe? Natuurlik die wat bereid is om moue op te rol en te doen. Niks gebeur as iemand dit nie laat gebeur nie. In God se koninkryk is dit nie anders nie. God soek daadmense wat bereid is om hulle moue vir die koninkryk op te rol. Dit het Jesus met sy verhaal van die twee seuns verduidelik– dit was nie wat hulle gesê het wat getel het nie, maar wat hulle gedoen het (21:28-30).

ʼn Groot probleem in die Christendom kan wees dat ons net praat, miskien omdat ons ʼn God het wat so baie vir ons doen. Ons het so baie om oor te praat. Ons kan oor sy liefde en genade praat en dit laat ons altyd lekker voel… maar as ons net praat, is dit waar die krag van die liefde en genade ophou. Om ‘n verskil te maak moet dit deur dade verder gedra word.

Ons kan met groot gevoel praat oor die armes of mense wat Hom nie ken nie… en mekaar selfs probeer motiveer om iets te doen. Maar mense kan nie woorde eet of van goeie bedoelings warm word nie. Jesus sê dit is eers as jy jou hande begin vuil maak ter wille van sy koninkryk, dat daar werklik iets gebeur. Dit is dan dat jy ʼn verskil begin maak. As jou woorde dade begin word begin wonders gebeur.

Die wet van sy koninkryk is nie wonder of praat nie, maar doen!