14 Januarie – Vat die pad saam met Jesus. – Jan van der Watt

Lees: Mat 11:20-12:21 (fokus: 11:27-29)

Kom luister wat Ek vir jou oor jou lewe wil leer: Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd net vir jouself te leef nie. Jy sal ontdek wat dit beteken om nog vir ander mense tyd en liefde oor te hê.’ (11:28)

Jou keuses maak jou wat jy is. Ja-nee, wat jy kies, dit is jy en ʼn mens kan sommer by sê – dit verdien jy! Ons lewens is vol kruispaaie. Om die waarheid te sê elke keuse wat ons maak is eintlik ʼn vurk in die pad. Ons moet weet, dat as ons ʼn pad kies, dit die pad is wat ons sal moet loop. En ons sal tevrede moet wees vir wat op daardie pad op ons wag.

Daarom is dit so belangrik om reg te kies en veral jou lewenspad moet jy reg kies. As jy by God wil uitkom help dit nie om die pad te vat waarop die bord langs die pad sê: ‘Duiwelsnes nog 3 km’ nie.

En belangrik, kies ook jou gids vir jou lewenspad goed. Onthou, Jesus bied Homself as gids aan (11:28-29). Hy wil jou leer om die beste uit jou lewensreis te haal. Sy raad vir die reis is eenvoudig: Dit is nie noodwendig die lewenspad wat belangrik is nie, maar die medereisigers. Die vreugde en sukses op die lewenspad waarop Jesus jou lei, hang nie daarvan af of jy baas by die werk is of net maar klaas nie; of jou prestasies in die koerant kom en of niemand ooit van jou hoor nie. Wat saakmaak is wat jy met die mense doen wat saam met jou reis. Op God se pad reis jy nooit alleen nie. Jy reis altyd saam met God se mense. Daar waar jy by hulle staan en vir hulle goedheid, vriendelikheid, hulp uit jou reistas uitdeel, daar word jou lewe in die oë van die hemelse Reisgids ʼn sukses.

Die geheim van ʼn suksesvolle reis is om te kies om tyd en liefde vir medereisigers oor te hê: om te kies om langs die pad te stop om iemand wat dors is ʼn glas water te gee, om iemand wat moedeloos is weer te help om verder te reis, om op ʼn strak gesig weer ʼn glimlag te bring. Dit is dinge wat die lewensreis die moeite werd maak.

Vat die pad saam met Jesus, want dit is die pad van sukses en vervulling!




13 Januarie – Volg Jesus, eerlik!. – Jan van der Watt

Lees: Mat 10:22-11:19 (fokus: 10:34-42)

Jesus sê: ‘Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie. My boodskap maak ook vyande.’ (10:34)

ʼn Ongeskikte vrou vra ʼn groentewinkeleienaar vir ʼn halwe kopslaai. Hy verduidelik dat hulle nie eintlik slaai in die helfte deel nie, maar sy hou vol. Hy stap na sy assistent toe en sê: “Gee vir daai ongeskikte ou vrou ʼn halwe kopslaai”. Toe hy omdraai staan die vrou reg agter hom. Vinnig sê hy toe: “En geen die ander helfte vir hierdie pragtige dame”. Wat maak dit van die man? Wel, ʼn mens sou baie dinge kon sê, maar ‘eerlik’ is nie een van hulle nie.

Christene kan ook maar baie keer so lyk – ons kan ons passies baie vinnig verander: nou ʼn Christen en netnou nie. Ons verander maklik ons storie, hang net af wie agter ons staan. Dit is nie hoe Christenskap lyk nie en as dit is hoe ons gaan optree gaan God se ‘winkel’ in hierdie wêreld toemaak by gebrek aan ‘verkoopsmanne’. Ons kan nie uit twee monde praat nie en ook nie met wit leuens alles probeer toeverf nie. Ons Christenskap vra van ons om eerlik te wees, al gaan dit ons maar ongewild maak. Christenskap is ʼn keuse om ʼn pad te loop – en as ons daardie keuse gemaak het, moet ons daardie pad reguit en eerlik loop.

Ons moenie sê ons is nie gewaarsku nie. Die Here het uit sy pad uit gegaan om vir ons te sê dat ons somme moet maak: ons moet mooi uitreken of ons bereid is om deur dik en dun by Hom te staan, want dit gaan nie altyd maklik wees nie (10:34-37). As ons ons berekeninge gemaak het en besluit het om die pad saam met Hom te loop, moet ons dit eerlik en opreg doen sonder om elke nou en dan ʼn ander storie te hê.

Dit is jou keuse.




12 Januarie – Jy, ʼn sendeling. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:27-10:21 (fokus: 10:1-5)

 ‘Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het.’ (10:7)

 Die woord “sendingwerk” laat ons gewoonlik aan beelde dink van verre lande met snaakse name, mense met vreemde tale en klere, tropiese woude waar dapper Christene tussen steekvlieë en muskiete die Evangelie verkondig.

Eintlik beteken die woord baie meer as dit: die sendingveld begin vir die gelowige nooit verder as ʼn meter van hom af nie. Dit sluit die plek en mense in waar sy voet die volgende oomblik gaan val. Kyk maar na Jesus – Hy stuur sy dissipels eerste na die mense rondom Hom, ja, na sy eie mense toe (10:5-6).

Iewers waar jou voet vandag mag val, gaan daar iemand wees wat dalk al gehoor het, maar nog nie geluister het nie. Jy mag dalk die een wees deur wie die Here daardie persoon wil laat luister. Dit beteken allermins dat jy die Bybel oral moet uitpluk en rondswaai. Dit beteken egter wel dat jy in jou lewenstyl ʼn “gestuurde” van die Here moet wees. As die geleentheid kom, moet jy nie onkant gevang word nie.

Moet jouself ook nooit as “gestuurde” onderskat nie, want jy is nie alleen nie. God is ook daar. En dit is nie jy wat die dinge moet laat werk nie. Hy doen die eintlike werk. Moet dus nie vir God probeer ‘werkloos’ maak deur alles self te probeer doen nie.  Heelwat Russiese Christene vertel dat na die val van kommunisme hulle juis so tot bekering gekom het – nie deur ʼn geprekery in kerke nie, maar deur mense wat vir hulle dáár was om vir hulle die pad na God toe te wys.

Jy moet die wegwyser wees vir mense wat die weg soek.




11 Januarie – Jy moet Jesus nooit onderskat nie. – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:14-26 (fokus: 9:18-26)

 ‘Jesus draai om en kyk vir haar: “Jou dae van bekommernis is verby. Omdat jy so vas geglo het in wat Ek vir jou kan doen, sal daardie siekte jou nooit weer pla nie.” En die vrou was van daardie oomblik af gesond!’ (9:22).

 Mense kan maklik blapse maak, nie omdat hulle graag wil nie, maar omdat hulle nie van beter weet nie. Een van die matrose op die skip waarmee eeue gelede tabak in Suid-Amerika ontdek is, het met van die tabak in sy tuisdorp in Europa gaan spog. Ewe kordaat het hy rook deur sy neus geblaas. Die verbaasde dorpenaars het gedog hy’t ʼn towenaar geword en hom daar en dan ter dood veroordeel. Dit was die einde van hom en sy oëverblindery.

Net so lees ons van mense wat die blaps gemaak het om uit onkunde met Jesus te spot en Hom uit te lag omdat hulle gedink het Hy praat onsin toe hy ʼn dogtertjie wou lewendig maak.(9:24). Om iemand lewendig te maak is tog nie moontlik nie. Natuurlik is dit nie moontlik nie – nie vir gewone mense nie. Maar juis daar lê die verskil – Jesus is nie ʼn gewone mens nie, al is daar vandag nog mense wat dit graag wil glo. Hulle probeer hulle bes om Jesus met allerhande stellings en koerantberigte so klein soos ʼn gewone mens te probeer sny. Hy kan volgens hulle nie wonders gedoen het nie, kon Hy nie uit die dood opgestaan het nie, kon niks meer as ʼn gewone mens gewees het nie.

Miskien moet hulle maar mooier kyk na wat Jesus in mense se lewens doen. Hulle moet kyk wat gebeur met mense wat bereid is om hulle hande in die hand van Jesus te sit sodat hy dit styf kan vashou (9:25). Hulle sal sien sulke mense se oë gaan oop vir Jesus wat by hulle is en nuwe lewe begin deur hulle vloei.

Jesus is nie regtig ʼn wonderwerker of towenaar wat met oëverblindery besig is nie; Hy is ʼn geneser. ʼn Wonderwerker doen wonders om gesien te word, nes die man met die tabak. Dit bring jou nêrens nie. ʼn Geneser wil egter stukkende mense heelmaak en nuutmaak – en dit doen Jesus. Hy is soveel meer as ʼn gewone mens. Sy liefde, krag en genade bied soveel meer as wat ʼn gewone mens kan gee.

Jy moenie die blaps maak om Jesus ʼn gewone mens te wil maak nie. Dan gaan jy niks van Hom verwag nie en nog minder kry. Wie bereid is om met oop arms en hande voor die hemelse Geneesheer te gaan staan sal sy hand van genesing oor hulle lewens voel vou. Gee die Geneesheer kans om jou hand in syne te vat, en jy sal ervaar wat die dogterjie in die verhaal ervaar het.