10 Januarie – Vergewe, al is dit swaar – Jan van der Watt

Lees: Mat 9:1-13 (fokus: 9:9-13)

Ek gaan jou ’n goeie rede gee om weer te begin glimlag. Ek gaan sorg dat God nie meer vir jou kwaad gaan wees oor jou sonde nie.(9:2).

Ons kan soms op die snaakste maniere oor ons godsdiens redeneer. Ons logika is dikwles baie soos die ou sʼn wat baie graag wou leer duik, maar nie kon swem nie; toe tap hy eers sy swembad leeg.

Neem nou maar ʼn Christen wat ʼn fout maak, byvoorbeeld, egbreuk pleeg. Hy word beskinder en skeef gekyk en wat nog alles. Natuurlik is dit wat hy gedoen het nie reg nie. Maar hy het nie ʼn klomp leeus nodig wat hom verder verskeur nie, maar ʼn dokter wat hom gesond moet maak. En wie sal in so geval eerste vir diens aanmeld? Jesus, natuurlik (9:12-13), en as ons sy kinders is sal ons saam met hom dáár wil wees, gereed met die noodhulptassie vol liefde en begrip.

Ongelukkig gebeur dit te veel dat Christene se noodhulptassie eerste wegraak. Ja, die oordeel van Christene is soms die hardste en vergifnis die skaarste. So tap hulle die swembad leeg en dink hulle kan dan nog ʼn perfekte duikslag maak. Nee, die hele boodskap van Jesus gaan oor genade en vergifnis; daarsonder is die swembad leeg. Jesus wil juis naby mense wees wat geval en seergekry het. Dit is waar Hy op sy beste is – om genesing van sonde te bring. By stukkende mense klink die simfonie van liefde en ondersteuning die soetste. Snaaks genoeg is dit juis Christene wat Jesus dikwels van sulke stukkende mense wil weghou…

Ons moet onthou – ons is Jesus se mense, nie omdat ons foutloos is nie, maar omdat ons ook die Dokter eenmaal nodig gehad het en nog steeds nodig het. Hy wil graag hê dat jy na mense sal help soek wat Hom nodig het, juis omdat jy sy genesende krag self ken. God se liefde is genoeg vir die stukkendste mens en God wil hê dat jy daardie genesende liefde oor sulke mense se wonde gooi. Is daar iemand wat jy ken wat daardie liefde nodig het?




9 Januarie – Hou jou prioriteite reg – Jan van der Watt

Lees: Mat 8:18-34 (fokus: 8:28-34)

‘Hewig ontsteld oor die varke, het die dorpsmense Jesus soos een man gaan soek. Toe hulle Hom kry, jaag hulle Hom sowaar daar weg!’ (8:34).

In 8:28-34 lees ons die verhaal van die duiwel wat bevark is en die varke wat beduiwel is. Maar eintlik is dit ʼn hartseer storie, want die ergste is dat die mense van die dorpie hulleself bevark het, om die sinspeling te gebruik. Om die varke te verloor was seker vir hulle ʼn skade, maar toe hulle Jesus ook verloor het, het hulle skade onberekenbaar geword.

Die grootste hartseer is dat die dorpsmense meer oor die varke bekommerd was as oor Jesus. Ongelooflik: hulle jaag Hom sommer weg (8:34). Iets ernstigs het met hulle skale van oordeel verkeerd geloop, want hoe kan jy ʼn paar varke teen Jesus opweeg? Tog het hulle dit gedoen en Jesus te lig bevind! Wat ʼn fout.

ʼn Mens kan jou kop skud of hulle kritiseer… maar ons moet oppas. Ons skale werk baie keer nie anders nie. Kyk mooi, dit was ʼn besluit oor hulle alledaagse lewens wat daardie mense moes neem: wat is die belangrikste, geld in die sak of ʼn keuse vir Jesus; gewildheid by mense of by Jesus; lang ure se werk in jou besigheid op soek na sukses of die ontwykende potte vol goud of tyd saam met jou gesin wat Jesus vir jou gegee het. Die dinge hoef nie noodwendig te bots nie, maar as dit bots moet ons skale reg wees. Jy moet weet wat die swaarste weeg en daarvoor kies.

Dit is dalk ʼn goeie plan om jouself die tyd te gun om jou skaal reg te hou. Sit alleen en dink na – oor jou lewe, wat vir jou belangrik is, wat en waaraan jy jou tyd spandeer, hoe jy jou gesin behandel… en weeg dit dan: het jy in al hierdie dinge Jesus weggejaag of by jou lewe ingenooi?




8 Januarie – Sit die lewe in jou lewe terug! – Jan van der Watt

Lees: Mat 8:1-17 (fokus 8:1-4)

 ‘Toe smeek hy Jesus: “Here, as U wil, kan U my gesond maak. Dan sal ek weer rein wees en ’n gewone lewe kan lei—ek sal weer vriende kan hê en in die tempel gaan aanbid. Ek weet, U kan as U wil!”’ (8:2).

 Jesus, die groot geneesheer, sit weer die lewe terug in mense. As Hy iemand aanraak steek dit elke keer weer ʼn vonk van lewe in daardie persoon aan. Die melaatse man kan weer teruggaan huistoe; die seun kan weer opstaan en voluit leef; Petrus se skoonmoeder kan weer opstaan en met haar dagtaak aangaan.

Dit is juis waarna die mense smag wat na Jesus in die verhale roep – hulle smag na ʼn stukkie lewe, ja, vir nog ʼn kans… die pa om sy seun weer te sien speel, die melaatse om weer saam met sy mense te kan eet.

Ons het vandag nog Jesus se genesings net so nodig. Die lewe met alles wat skeefloop het soms die geneigtheid om elke stukke lewenskrag of lus vir die lewe stadig uit ons te tap. Juis dan het ons vir Jesus nodig om sy liefdeshand op ons skouers te sit, om so vir ons ʼn stukkie lewe terug te gee.

Maar daar is ʼn bietjie ironie hierin. So baie mense wil die lewe wat God vir hulle gee nie meer regtig leef nie. Hulle is leeggetap. Hulle steun en kreun die dag om. Hulle lewensreis voel vir hulle te lank en en elke tree is te moeisaam. Die lewe het sy kleur verloor en hulle vreugdelied het stil geword. Op die manier mors jy net een na die ander dag van jou lewe.

Mense wat so voel het Jesus regtig nodig. Hulle moet soos die mense in die verhaal uit hulle nood vir Jesus skreeu: ‘Here as u wil, kan U my gesond maak.’ Hulle moet by die Here gaan kniel om hulle aan te raak, sodat hulle weer die rykdom en vreugde van die lewe raak kan raaksien – jou kind wat speel; die glimlag van die een wat jy liefhet; die son wat goud oor die rante sak, of die note van musiek wat die siel raak.

Daar is so baie in die lewe om te geniet! Moenie dat dit by jou verbygaan nie. Leef die lewe saam met Jesus.




7 Januarie – Moenie heeltyd fout vind nie – Jan van der Watt

Lees: Mat 7:1-29 (fokus: 7:1-6)

‘Hou op om mense links en regs te oordeel sonder dat julle vooraf eers vasgestel het wat die regte feite is. As julle dit doen, gaan God presies dieselfde met julle doen.’ (7:1)

ʼn Ou knorpot man het altyd fout gevind met alles. Niks was ooit reg nie. Sy vrou besluit toe om te kyk of sy darem iets reg kan doen. Sy besluit om vir hom twee eiers vir ontbyt te maak – die een gebak en die een geroer, net om seker te maak hy het nie iets om oor te kla nie. Maar so maklik uitoorlê jy nie ʼn klakous nie. Toe die bord voor hom land, sê hy: ‘Ja, nes ek gedink het, jy’t al weer die verkeerde eier gebak en die verkeerde een geroer’. Foutvinders en klakouse sal ʼn mens nooit regtig tevrede kan stel nie.

Klakouse word nie gebore nie, maar gemaak! Dit gaan oor die manier waarop jy na die lewe kyk en wat jy graag wil raaksien. Iemand wat op ʼn pad ry, kan die hele tyd na die gate of knikke in die pad staar. As jy hom vra wat hy gesien het, sal jy jou gou vertel: gate en knikke! Dit is waaruit sy hele reis bestaan het. Die ander persoon wat dieselfde pad gery het, maar na die klowe en berge en blou lug en wolke en bome gekyk het, sal vir jou iets anders vertel… van klowe, blou berge, pragtige bome. Dit hang dus af hoe jy kyk… en dit is dan hoe die lewe vir jou is.

Die manier van kyk na die lewe leer ʼn mens vir jouself aan. Dit word ʼn soort gewoonte. As jy die hele tyd net fout wil soek, sal jy eintlik net foute kry. Dit sal al word waarna jy in die lewe kyk en al waaruit die lewe vir jou bestaan. Jy sal later niks meer kan doen sonder om te kerm en te kla nie. Jy sal selfs fout vind waar daar niks is om mee fout te vind nie, soos met ʼn gebakte en geroerde eier. As jy so word, het jy as knorpot en kritikaster gegradeer. Jy moes immers hard oefen om so te word.

Dit is so anders as wat die Here wil hê Christene moet wees (7:1-5). Daar is soveel meer in die lewe om raak te sien en te geniet. Daarom moet ons ons bes doen om sulke negatiewe lewenspatrone met alles wat ons het te vermy. Kyk by ander se foute verby. Ons almal maak mos maar foute. Moenie te skerp kyk of te kwaai oordeel nie.

Maar ewe belangrik: Moenie te kwaai met jouself wees oor jóú eie foute nie. As jy nie in vrede met jouself leef nie, sal jy ook nie in vrede met ander kan leef nie. Aanvaar wie en wat jy is en vergewe ook jouself. Probeer net volgende keer om nie dieselfde foute te maak nie.

Kweek ʼn positiewe lewenshouding aan: een wat die eier met dankbaarheid eet soos dit kom.