Gebed in moeilike huislike omstandighede – Hermie van Zyl

Leser vra

Gebed  onder moeilike omstndighede Ek het nie ‘n vraag nie, wil net dankie sê vir Die Boodskap-Vertaling, dit laat my die Woord beter verstaan.

Verder, ek vra dringend gebed. My man is ‘n volslae alkoholis, ons is al amper 30 jaar getroud. Hy rand my gereeld aan sodat ek nou ‘n interdik teen hom het dat hy nie naby my en die kinders mag kom nie. Ek wil vra: Bid baie vir my kinders. My man het vir jare die evangelie aan kinders verkondig, maar hulle wou nie na sy preke luister nie, want wat hy leef en preek (lg Sondae in die kerk) is twee verskillende dinge. Hy slaap by swart vroue en gee nie om dat ons weet nie. Hy bly in die woonstelgedeelte van die huis, en ek en die kinders in die huis. Ons het geen elektriese krag nie vir meer as ‘n jaar al. Bid vir ons finansiële krisis, want al sy geld gaan vir drank, so ek en die kinders sorg vir onsself. Bid dat die Here dit moontlik sal maak dat ek heeltemal van hom kan wegkom. Die prostitute kom ook deur die dag daar aan; ek weet nie wat hy in kroeë kwytraak nie, en ons dorp is klein.

Bid baie vir Adriaan, ons oudste seun, hy stres baie. En bid dat hy en die ander kinders, Clarinda en Albert, werklik ‘n kragdadige bekering sal hê, want hulle stel nie belang in kerk nie oor hulle pa se lewe. Adriaan het wel sy matriek, maar wil sekere vakke oorskryf, want hy het nie Wiskunde en Fisiese Wetenskappe geslaag nie. Hy het 8 vakke gehad en is deur op 6 vakke. Hy werk, so dit maak dit moeilik om te swot, veral oor die feit dat hy so stres, want hy staan ook pa vir die ander seun, Albert, want hulle pa is van agt uur af dronk en ons het geen vrymoedigheid om mense na die huis te nooi nie.

Bid vir Albert, die jonger seun. Alles wat hy in sy 15 jaar gehoor het wat sy pa sy ma van beskuldig, en die aanrandings, kom nou deur, en hy begin my van dieselfde goed beskuldig. Hy was die kind wat ongelooflik na aan my was. Hy moes ook vir ‘n jaar in pleegsorg by my man se broer bly a g v omstandighede en die feit dat ons nie geld vir kos, ens, gehad het nie. Dit het ook sy letsels gelaat; hy is nou 15 en op ‘n moeilike ouderdom. Bid vir sy studies.

Al drie kinders is hoogs intelligent, maar ek weet nie watter letsels daar gelaat is nie.

Bid vir Clarinda, ons dogter, sy werk en swot deur Unisa, en is besig met haar eerste jaar as CA. Sy werk baie hard en het baie goed presteer, t s v alles wat ons moes deurmaak.

My begeerte is dat my kinders ‘n kragdadige bekering sal hê.

 

Antwoord

Prof Hermie vn Zyl antwoord:

‘n Mens het uiteraard nie al die inligting om in diepte te reageer op die situasie wat hier geskets word nie, maar uit wat hierdie ma skryf is dit duidelik dat dit nie maklik vir haar en die kinders kan wees nie. Ons harte gaan uit na haar.

Ek het dadelik in dankbaarheid teruggedink aan hoe bevoorreg ek was om in ‘n huis groot te word wat as normaal beskryf kan word – ‘n liefdevolle pa en ma wat alles gee vir hulle kinders. ‘n Mens kan die Here nie genoeg dank as kinders in normale huislike omstandighede grootword nie. ‘n Huis waar kinders liefde, respek en dissipline ontvang, waar hulle veilig en geborge voel, is seker die grootste geskenk wat ouers vir hulle kinders kan gee. As hierdie veilige tuiste ontbreek, is dit net genade as kinders sonder of met min letsels grootword. Aan die ander kant moet ons ook sê dat normale huislike omstandighede geen waarborg is dat kinders “normaal” sal ontwikkel nie. Daar is net te veel ander faktore wat ook ‘n rol speel. ‘n Mens moet jou dus nie te veel blindstaar teen jou omstandighede nie, maar eerder die beste maak van die omstandighede waarin jy is. Dit sê ek as bemoediging aan die ma wat haar moeilike situasie vir ons beskryf het.

Dit is duidelik dat hierdie ma die beste vir haar kinders begeer, en binne die moeilike omstandighede wat in haar huis heers, tog daarin slaag om ‘n tuiste vir haar kinders te skep. Sy kan seker wees dat haar kinders haar later hiervoor sal eer en dank, as hulle dit nie reeds doen nie. Sy kan ook weet dat sy nie alleen in haar situasie is nie – nie dat dit regtig ‘n troos is nie, maar ten minste kan sy weet dat daar baie ander soos sy is wat in soortgelyke ongelukkige omstandighede moet funksioneer. Daar is soveel huise waar dit so gaan en waar een van die ouers – of selfs net die kinders – die beste probeer maak van ‘n slegte situasie.

Maar laat ek dit vir hierdie ouer sê, want dis soos ek eerlik die situasie sien: Die blote feit dat haar dogter reeds werk het en verder studeer, en die een seun ook reeds matriek geslaag het en besig is om sy omstandighede te verbeter terwyl hy werk, is al klaar aanduiding daarvan dat die Here met hulle ‘n pad loop. Oorwinnings kom nie altyd in grootmaat nie, maar in klein porsies. En oor elkeen hiervan kan mens die Here dank. Dit is wel so dat die ma die begeerte het dat haar kinders “‘n kragdadige bekering sal hê”, maar dié is ook nie ‘n waarborg dat alles dan eensklaps reg sal wees nie. Die lewe bied selde kitsoplossings. Die ma moet net die Here bly vertrou dat Hy op sy tyd die volle geloofsoorgawe sal skenk waarop sy hoop vir haar kinders. Intussen moet sy daaraan vashou dat elke klein stukkie genade ‘n bousteen is waarmee die Here die kinders se geloofshuise bou. ‘n Mens moet die dag van kleine dinge nooit verag nie, sê die Here (Sagaria 4:10). In Sagaria word vertel van die herbou van die tempel (God se “woning”) ná die Jode in ballingskap was en weer teruggekeer het na Palestina. Hierdie bou van die tempel het nie in een dag plaasgevind nie. Daarom moes hulle nie moedeloos word nie, sê die profeet; hulle moenie die dag van kleine dinge minag nie, bietjie vir bietjie word daar gebou totdat die woning klaar is. So bou God vandag steeds aan ons geloofshuise. Ons wil vinnige resultate sien (“kragdadige bekerings”), maar God werk eintlik maar ‘n hele leeftyd aan ons geloofshuise. Die ma moet daarom net volhard met al die regte dinge wat sy tot sover oor ‘n lang tyd gedoen het. God seën daardie werk, omdat dit met gebed en vertroue in Hom gedoen word. Hy sál die resultate op sy manier en op sy tyd gee.

My gebed is dus nie in die eerste instansie dat alles eensklaps sal verander in hierdie vrou en haar gesin se lewe nie, maar dat sy geloofsoë sal ontwikkel vir die klein genadetjies wat die Here elke dag vir haar gee, en tot sover gegee het, sodat sy daarin kan volhard. Sy moet maar net in die klein dinge getrou wees en daarin haar vreugde vind, en die Here vir die res vertrou. Daarmee sê ek nie dat sy nie self kan inspring en haar situasie daadwerklik verbeter as dit nodig is nie, soos sy reeds gedoen het om ‘n interdik te kry. Hierdie soort aksies is ook belangrik, ter wille van haar en haar kinders se veiligheid. As sy kan, moet sy sulke geleenthede en moontlikhede gebruik. Skakel in by die plaaslike kerk, gaan klop aan by die pastoor, dominee of maatskaplike werker sodat hulle ook kan saamdink, beplan en raad gee. Want ook hierdie ondersteuning is ‘n manier waarop die Here help en nuwe paaie open.

Baie sterkte.

Prof Hermie van Zyl




Bedank ons Jesus genoeg?

 

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer – William Hendricksen

 Bedank ons Jesus genoeg?

1n 1 Timoteus 1:11 sê Paulus dat die evangelie aan hom toevertrou is. Hy het die voorreg om as apostel in diens van Christus te staan.  Nou kan hy nie anders as om eers sy betoog te onderbreek nie en opnuut sy verwondering en dankbaarheid oor die genade van God uit te spreek.  Die feit dat hy ‘n apostel is, maak hom klein voor God.  Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel (1 Timoteus 1:12).

Daar is vier dinge waarvoor Paulus Jesus wil bedank:

 

  • Hy bedank Hom omdat Hy hom gekies het.  Paulus het nooit die gevoel gehad dat hy Christus gekies het nie, maar altyd dat Christus hom gekies het.  Dit was asof, toe hy reguit op pad was na selfvernietiging, Christus sy hand op sy skouer gelê het en hom weggetrek het.  Dit was asof, terwyl hy besig was om sy lewe weg te gooi, Christus hom tot sy sinne gebring het.  Paulus was Christus se man; Christus het hom gekies.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom betroubaar geag het.  Dit was altyd vir Paulus verbasend dat hy, die aartsvervolger van Christene, gekies is as sendeling van Christus.  Jesus het hom nie alleen vergewe nie, maar hom ook vertrou.  Ons vergeef soms iemand wat ‘n fout gemaak het of skuldig was aan een of ander sonde, maar ons maak dit baie duidelik dat omrede sy foute ons hom nooit weer kan vertrou nie.  Christus het vir Paulus vergewe en werk aan hom toevertrou.  Christus se vervolger word sy ambassadeur.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom in diens gestel het.  God het op die Damaskus-weg beslag gelê op sy lewe.  Hy het hom aangestel vir diens.  Paulus het nooit geglo hy is aangestel vir eer of vir leierskap in die kerk nie.  Hy is gered om te dien.  Hy staan langs sy Koning in die stryd.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom krag gegee het.  Paulus het lank gelede al uitgevind dat Christus nooit vir ons ‘n taak gee as Hy ons nie ook die krag gee om die taak te verrig nie.  Paulus sê nooit: Kyk wat het ek gedoen, nie.  Hy sê altyd: Kyk net waartoe het Christus my in staat gestel.  Geen mens is goed genoeg, rein genoeg, slim genoeg om Christus te dien nie.  Gee ons ons aan Christus, sal ons dien, nie in ons eie krag nie, maar in die krag van ons Here.

Is ons altyd dankbaar genoeg vir alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het?




God se oorvloed en Dankbaarheid

 

Passion is not a substitute for clarity. Volume is not a substitute for content. Emotion is not a substitute for conviction. —H.B. Charles Jr

 

God se oorvloed en Dankbaarheid

C. Christopher Smith en John Pattison het onlangs ‘n boek, Slow Church, geskryf wat besig is om baie aandag te geniet. Ek gaan ‘n aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Get up in the morning and look at the world in a way that takes nothing for granted. Everything is phenominal; everything is incredible; never treat life casually. To be spiritual is to be amazed – Abraham Heschel

Dankbaarheid is die brug tussen oorvloed en vrygewigheid. Dankbaarheid is ‘n geestelike dissipline wat doelgerig nagestreef moet word. Dit is die manier waarop ons God prys vir al sy gawes; dit is die energie wat ons dwing om daardie gawes te deel. Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is (Hebreërs 13:16).

 

Dankbaarheid is ‘n belangrike tema in die Bybel, want God is ‘n God wat gee. God is the fountain of goodness and mercy (Calvyn). God voorsien en ons moet met lof en dankbaarheid reageer. Die Israeliete moes dankoffers gebring het. Die Psalms is vol danksegging: Dan sal ek U in ‘n volle vergadering dank en voor die hele gemeente prys (Psalm 35:18). Ons kry dieselfde in die Nuwe Testament: Wees altyd dankbaar … met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange  en ander geestelike liedere sing (Kolossense 3:15 – 16).

God gee en die mens reageer in dankbaarheid. In ons gebroke wêreld werk dit nie altyd so nie. Mense is dikwels ondankbaar. Ons leef in ‘n verbruikerskultuur, waar ons nie tevrede sal wees voor ons alles het nie. Die gevolg van hierdie benadering is wantroue, stukkende verhoudings, oorlog, honger, ekonomiese ongelykheid, ens. Dankbaarheid kan ons van ontevrede, vreesbevange mense beweeg na mense wat tevrede en rustig is.

Dankbaarheid vereis egter oefening. Ons moet elke dag met woorde van lof begin en eindig. Mettertyd sal ons oral om ons tekens van God se seëninge raaksien. Be thankful for the smallest blessing, and you will deserve to receive greater (Thomas a Kempis).

Ons probleem is egter dat ons altyd fokus op dit wat ons nie het nie, wat ons nie kan doen nie – daar waar ons tekort skiet. Dit wat afwesig is, verberg dit wat daar is. Ons fokus meer op ons behoeftes as op ons bates. Gemeentes moet ophou beklemtoon wat nie daar is nie en eerder fokus of dit wat wel daar is. Daarom wys navorsing dat dankbare mense gelukkiger as ondankbare mense is.

Volgende keer gaan ons na vrygewigheid en gasvryheid kyk.




1 Petrus 1:20

1 Petrus 1:20 – Francois Malan

Willie vra:

My vraag handel oor 1 Petrus 1:20. As n mens die gedeelte vanaf vers 17 lees dan gaan dit hier oor ons lewe van dankbaarheid teenoor God omdat Hy losgekoop het deur Christus se bloed. Christus het dus vir ons verlossing verdien met Sy bloed aan die Kruis. Wat ek graag beter wil verstaan is hoekom God Hom reeds voor die skepping hiervoor bestem het. Het God dan reeds voor die skepping geweet die mens gaan in sonde verval of verwys die vers na iets anders?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Petrus en Paulus sê duidelik, soos Johannes 1:1-3, dat Jesus God is, die ewige Seun van God, wat mens geword het om God se plan met sy skepping en met die mens uit te voer. Dit was egter nie ‘n plan wat uit nood gebore is toe die mens in sonde geval het nie. God se alwyse beplanning was reeds van ewigheid af gereed, ook vir die sondeval van die mens, die mens wat Hy geskep het om vir Hom te lewe. Maar toe die mens besluit om vir homself te lewe – om self soos God te wees (Genesis 3:5-6), het die mens sy rug op God gedraai en op homself vertrou. Daarom het Jesus gekom sodat ons deur Hom weer kan lewe soos God ons gemaak het om vir Hom te lewe (vgl. 1 Kor 8:6). Jesus is God se plan vir die hele skepping, ook vir die mens. Van ewigheid af is Hy die openbaarder van God, die Woord van God (Joh 1:1), sodat ons deur Hom in God kan glo en vir Hom kan lewe.

Sy Gees, wat in ons kom woon, lei ons tot geloof in God as die Vader van Jesus, en tot geloof in Jesus as ons Verlosser, om ons deur geloof aan Jesus se Seunskap te verbind, sodat ons kinders van God word deur ons verbondenheid aan Jesus (vgl. Romeine 8:9-17).

Daarom kan ons met vertroue bely dat God ons voor die skepping van die wêreld reeds bestem het om, in gemeenskap met sy Seun, in liefdesoorgawe vir God en vir sy mensdom te lewe. Jesus se nuwe gebod vir sy volgelinge is om mekaar lief te hê soos Hy ons liefhet (Johannes 13:34) deur sy lewe vir ons af te lê (Johannes 15:9-17).

 

Prof Francois Malan