Die funksie en boodskap van die danksegging in 1 Korintiërs 1:4-9 – Francois Malan
Die danksegging is eintlik ʼn inleiding tot die temas in die brief. Paulus vertel vir die gemeente dat hy God altyd dank omdat Hy die gemeente uit genade geroep het, met al die genadegawes toegerus het, en tot die eindgerig sonder blaam standvastig hou. God doen dit egter alles deur Christus, en sy gawes is verbind aan hulle verbondenheid aan die Seun van God.
Hierdie danksegging is nie ʼn gebed tot God nie, maar eerder ʼn inleiding wat van die hooftemas in die brief aanraak. Paulus vertel vir die gemeente in Korinte dat hy God altyd dank vir sy genade wat Hy aan hulle gegee het deur hulle innige verbondenheid aan Christus Jesus (v4). Genade is God se vrye en milde gawe. Paulus is diep bewus dat God se onverdiende gawe hom en sy hele bediening dra (3:10; 15:10). Die brief begin en sluit ook af met ʼn toesegging van die genade van die Here Jesus (1:3; 16:23). Teenoor die swakhede, misdrywe, dwalings en hoogmoed van die gemeente wat Paulus in hierdie brief aanspreek, wil hy hulle oortuig dat hulle slegs uit God se genade lewe. God het sy genade aan hulle gegee deur hulle aan Christus Jesus te verbind.
Paulus het Christus aan hulle verkondig. Deur sy verkondiging is hulle oortuig deur die kragtige werking van die Gees (2:4). God het Paulus se getuienis oor Christus laat wortelskiet in die gemeente. Die gevolg daarvan was ʼn rykdom van gawes in die gemeente. Die gawes ontvang hulle egter slegs deur aan Christus verbind te bly. Die waarde van die gawes hang af van die mate waarin die gemeente in Hom gevestig is (vv5a,6).
Die gawes van woord en kennis word uitgesonder (5b). Dit is twee van die gawes wat die Gees aan elke lidmaat afsonderlik gee soos Hy wil, om te dien en die gemeente daarmee op te bou. Daarmee moet hulle die kennis van God met verstaanbare woorde oordra (12:6-8;14:4,6). Hulle word gered as hulle vashou aan die woord/boodskap soos Paulus dit aan hulle verkondig het (15:2). Maar die Korintiërs se kennis het hulle verwaand en liefdeloos gemaak (4:19,20; 8:1-3; 10-11). Hulle is deur oorredende woorde van menslike wysheid bekoor (2:1,4,13), en het die spreek in tale hoog aangeslaan (14:2,23). Maar hulle het doof geword vir die woorde wat die Gees leer, die boodskap van die liefde van die gekruisigde Christus (2:2,13). Christus se liefdesoffer is juis die krag waarmee God red (1:18).
God het Paulus se getuienis oor Christus stewig in die gemeente gevestig. Daarmee het God gesorg dat hulle in geen genadegawe tekortskiet, terwyl hulle op die wederkoms/openbaring van ons Here Jesus Christus wag nie (v7). Die Korintiërs het vergeet dat die gawes van God kom, en spog oor die gawes wat hulle besit. Hulle handel asof hulle ‘oorversadig’ is van gawes, asof hulle reeds die volle openbaring van Christus het, en dat hulle klaar regeer (4:7-8). Hulle dink hulle praat die taal van engele wanneer hulle in tale spreek (13:1; 14:9-12). Hulle glo wel dat Jesus uit die dood opgestaan het, maar party van hulle verkondig dat daar geen opstanding van die gelowiges is nie (15:12-19). Daarom beklemtoon Paulus dat ons nou nog lewe in die verwagting van die volle openbaring van die verhoogde Christus by sy wederkoms.
Soos God Paulus se getuienis oor Christus stewig gevestig het (v7), sal Hy ook die gemeente tot die oordeelsdag standvastig maak in die geloof (v8), ten spyte van al hulle swakhede en oortredings. Vir dié genade van God aan die gemeente is Paulus altyd dankbaar. God sal sorg dat hulle sonder blaam is, al is daar tans verdeeldheid en onderlinge hofsake in die gemeente (hoofstukke 1-4 en 6). Daar is ook verregaande onsedelikheid (hoofstukke 5-7), afgodery (hoofstukke 8-10), en onreëlmatighede by die nagmaalsviering (hoofstuk 11). Baie betwyfel ook Paulus se kruisevangelie en etiese aanwysings (hoofstuk 4 en 9). Jesus Christus, deur wie God sy genade aan hulle geskenk het, is die Here, wat die seggenskap oor ons lewe het. God het Hom ook aangestel as die eindregter oor die wêreld (15:24-28). Alleen deur sy kruisdood sal die gemeente sonder blaam voor Hom staan. So lyk God se onverdiende genade waarvoor Paulus daagliks dank.
Paulus is seker van sy verwagting vir die gemeente, want hy is seker van God se betroubaarheid om wat Hy begin het, enduit deur te voer (v9, vgl. v2). God het die gemeente geroep om vir Hom te lewe in gemeenskap met Christus (vgl. 8:6). Dit behels dat ons saam met Christus sterwe aan onsself, en saam met Hom die sonde oorwin. Ons is lede van sy liggaam (6:15; 12:27). Hy is die Seun van God aan wie die Vader alles onderwerp het, om alle bose magte te vernietig (15:24-28).
Met sy voortdurende lof van God se genade wil Paulus die gemeente teruglok om uit dié genade te lewe. God se genade werk slegs deur Christus, wat vyf maal in hierdie inleiding genoem word. Die gemeente word deur Paulus se dankgebede opgeroep om, met die gawes wat hulle ontvang het, in afhanklikheid en in gemeenskap met Christus te lewe
Outeur: Dr Francois Malan