Dawid en Goliat (1 Samuel 17)

Ignorance of God and ourselves is the great principle and cause of all our disquietude; and this arises mostly not from want of light and instruction, but for want of consideration and application. — John Owen

Dawid en Goliat (1 Samuel 17)

Ons hou almal van stories waar die sogenaamde “underdog” teen alle verwagting groot hindernisse oorkom en wen. Een van die bekendstes van hierdie stories is dié van Dawid – die jong skaapwagter uit Israel – en Goliat – die reuse Filistyn uit Gat.

Israel en die Filistyne stry oor ‘n stuk land. Die Filistyne geniet die tegnologiese voordeel: Daar was geen smid in die hele Israel nie, want die Filistyne het gesê die Hebreërs sal swaarde of spiese maak (13:19). Die israeliete moes selfs na die Filistyne gegaan het as hulle hulle landbouimplemente wou laat slyp het.

 

Wat weet ons van Goliat? Hy was ‘n baasvergter (17:4). Hy was ‘n man van “die plek tussen-in.” As ‘n man in die plek tussen twee leërs staande bly aan die einde van die geveg, is hy ‘n baasvegter – ‘n kampioen. Goliat was doeltreffend in baie sulke situasies. Goliat se grootte moes tot hierdie sukses bygedra het. Hy was egter ook goed bewapen en beskut. So ‘n lang beskrywing van ‘n vegter se mondering – sy helm, sy harnas en  die bronsskerms voor sy bene – is ongewoon in die Hebreeuse Bybel. Ons kry dit egter in die Griekse literatuur.

Goliat kom uit Gat. Volgens Josua 11:22 was Gat die plek van die Enakiete – ‘n antieke ras van reuse wat vrees by mense ingeboesem het. Goliat is inderdaad ‘n formidabele teenstander. Asof hierdie beskrywing van sy wapenrusting en voorgeslagte nie genoeg is nie, word hy ook as ‘n intimiderende spreker voorgestel, Hy beledig die leër van Israel en vir Dawid – selfs voor die geveg nog begin. Luister net wat sê hy vir Dawid: Kom ‘n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee (17:44).

Goliat daag die Israeliete uit om ‘n vegter te identifiseer om teen hom te veg. Die volk wat verloor word dan slawe van die ander volk. Nou nie juis ‘n maklike taak vir ‘n vegter met baie ondervinding nie. Daarom moes Dawid eers vir Saul oortuig dat hy vir die taak opgewasse is. Hy vertel vir Saul van sy ondervindings met leeus en bere terwyl hy sy pa se skape opgepas het. Dawid se woorde is indrukwekkend en Saul gee toestemming dat hy teen Goliat kan veg. Nog meer indrukwekkend is Dawid se woorde aan Goliat: Ek kom na jou toe in die Naam van die Here … Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap (17:45 – 47). Dawid weier om Saul se uitrusting aan te trek. Hy neem egter sy slingervel, vyf gladde klippies en sy kierie. Geen wonder Goliat is ontsteld nie: Is ek ‘n hond dat jy met kieries na my toe kom? (17:43). Goliat sien nie die klip wat sy voorkop indring nie en hy het vooroor geval op die grond.

Soos Dawid beloof het, kap hy Goliat se kop af met die reus se eie swaard. Dawid vat die kop van die Filistyn en bring dit na Jerusalem. Dit is interessant want Jerusalem was nie deel van Israel se grondgebied nie. Eers in 2 Samuel 5 neem Dawid Jerusalem in en word dit deel van Israel.

Hierdie is ‘n oorbekende storie, maar daar is tog ‘n paar feite waarvan ons moet kennis neem:

  • Die Filistyn het veertig dae lank … regoor die Israeliete gaan staan (17:16). Noag het na veertig dae die venster van die ark oopgemaak (Genesis 8:6); Moses was 40 dae op Sinai-berg (Eksodus 24:18). Dawid is in goeie Bybelse geselsskap as Hy Goliat konfronteer.
  • Hy het Dawid in die naam van die Filistynse gode vervloek (17:43). Een van hierdie gode was waarskynlik Dagon. Goliat en Dagon het iets in gemeen (1 Samuel 5:4). Dagon verloor sy kop voor die verbondsark en Goliat verloor sy kop in die konfrontasie met Dawid.
  • Hoekom sou Dawid nou juis vyf klippies opgetel het. Is dit een vir elke boek van die tora (Genesis tot Deuteronomium)? Is dit omdat sekere mense beweer dat Goliat vier broers gehad het? Of was hy maar net versigtig dat as hy die teiken mis hy nog klippies oor het?
  • In 2 Samuel 21:19 – 22 lees ons: In ‘n ander geveg teen die Filistyne in Gob het Elganan seun van Jaäre-Oregim van Betlehem vir Goliat die Gatiet doodgemaak. Het ons hier met ‘n teenstrydigheid te doen?
  • In 1 Samuel 21:9 duik die swaard van Goliat weer op. Dawid is besig om vir Saul te vlug en kom in Nob aan. Daar was die swaard van Goliat intussen gebêre. Dawid neem die swaard vir hom, want hy het geen wapens gehad nie. Dawid vlug verder en kom in Gat – Goliat se geboortedorp – met Goliat swaard aan.



Dawid en Goliat

I am well pleased not to publish anything unless it has been previously inspected, except for the pure Word of God—that must not and shall not be bound [cf. 2 Tim. 2:9]. — Martin Luther 

Dawid en Goliat

By die Catalyst Conference het Malcolm Gladwell vir Dawid en Goliat bespreek.

Israel was nog ‘n jong staat en hulle groot vyande was die Filistyne. Die Filistyne trek op om Israel aan te val; Israel trek uit om hulle te ontmoet. ‘n Dooie punt. Maar toe stuur die Filistyne ‘n reus, Goliat, uit om teen enige Israeliet te veg. Goliat was te groot. Geen Israeliet  waag dit om na vore te kom nie. Toe tree Dawid na vore

 

Dawid sê vir Saul: As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom ‘m leeu of ‘n beer en dra ‘n lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer … Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn … Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek … en Dawid het dit uitgetrek (1 Samuel 17:31 – 39)

Dawid tree na vore; Goliat kyk hom met minagting aan omdat hy jonk was, met ‘n rooi gelaatskleur en ‘n mooi voorkoms. Goliat vra vir Dawid: Is ek ‘n hond dat jy met kieries na my toe kom? Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. Hy dreig om Dawid vir roofvoëls en wilde diere te voer. Hoe reageer Dawid? Jy kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel wat jy verkleineer. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afslaan … dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.

Daarna hardloop Dawid die Filistyn vinnig tegemoet, sit ‘n klip in sy slingervel en gooi.  Die klip het in sy voorkop ingedring en hy het vooroor op die grond geval.

Ons sê dat Dawid die lydende party is. Hoekom? Hy is jonk; hy is klein; hy het net ‘n slingervel. Maar in antieke oorlogvoering was die slingervel een van die dodelikste wapens. Die klip beweeg so vinnig dat Goliat nie die geleentheid gehad het om te reageer nie. Ons weet ook dat die gebruikers van slingervelle dodelik akkuraat was. Dawid het eintlik ‘n voordeel gehad.

Goliat was ‘n groot, stadige, swaar infanteris. Swaar infanteriste baklei teen swaar infanteriste – daarom gee Saul sy wapenrusting aan Dawid. Maar Dawid speel nie volgens die gebruiklike reëls nie. Daarom het ons ‘n stadige reus met uitstekende tegnologie teenoor ‘n vlugvoetige jongman  gevul met die Here. Wie is die underdog?

Dawid weier om passief te wees. Die res van die Israeliete is. Dawid in die enigste een wat die krag van geloof verstaan. Dawid besef dat juis in oomblikke van swakheid en as ons voor hindernisse te staan kom ons beste leergeleenthede is.

Hier is twee belangrike lesse wat ons uit hierdie gebeure moet leer:

  • Reuse is nie altyd wat ons dink hulle is nie.
  • Iemand wat rats is, goeie tegnologie gebruik en met die Here gevul is, is nooit die underdog nie.