Dawid en die Psalms

Dawid en die Psalms – Coen Slabber

Die boeke van die Bybel het aanvanklik geen titels/opskrifte gehad nie. Soos ander antieke Midde-Oosterse literatuur is na hierdie boeke verwys volgens hulle openingswoorde. So word daar na Genesis as bere’shith – in die begin – verwys. Die versameling liedere, getuienisse, gebede, profesieë en ander materiaal wat uiteindelik die Psalms sou word, word in die Septuagint die psalmoi (liedere gesing met ’n snaarinstrument) genoem.

In die studie van die psalms word daar gewoonlik baie aandag gegee aan wie die skrywer was en wat die historiese agtergrond van die psalms was. In die Christelike tradisie staan die psalms as ’n geheel mettertyd bekend as die Psalms van Dawid. Daarom kry ons dat individuele psalms dikwels aan gebeure uit sy lewe gekoppel word. Baie psalms se opskrif lees dan ook: ’n Psalm van Dawid.

 

Wat beteken dit as ons lees van Dawid? Daar is twee probleme hiermee:

(1) Dit mag verwys na Dawid, die seun van Isai wat vir Saul as koning opgevolg het. Dit mag egter ook verwys na enige latere koning uit die geslag van Dawid.

(2) Die woordjie wat met van vertaal word, mag ook ander betekenisse hê. ’n Paar moontlikhede is:

  •  Aan – Die psalm word aan Dawid (of ’n latere koning) gerig of is aan hom opgedra.
  •  Behoort aan – Hierdie psalm behoort aan ’n versameling wat deur Dawid of ’n latere koning geborg of gemagtig is.
  •  Vir – Vir Dawid of ’n latere koning om te gebruik of van te leer.
  •   Daar word gebid vir Dawid of ‘n latere koning.
  • Dit gaan oor Dawid of ’n latere koning.
  • Deur – Die Skrywer is Dawid of ’n latere koning.

Hier het ons te doen met ’n herhalende patroon in die Skrif: boeke wat anoniem was, het mettertyd skrywers gekry wat met hulle geassosieer is. Ons dink hier onder andere aan Matteus en Markus. Sodra boeke deur die gemeenskap aanvaar word, wil hulle dit graag assosieer met iemand van wie hulle weet. Ons kan sien hoekom Dawid se naam in die opskrifte met die psalms geassosieer word. Veral in Kronieke word Dawid beskou as die beskermheer van aanbidding: Hy (Hiskia) en die amptenare het toe die Leviete beveel om die Here te loof met die liedere van Dawid en die siener Asaf (2 Kronieke 29:30). Ons weet dat Dawid baie liedere geskryf het. ’n Goeie voorbeeld kry ons in 2 Samuel 22. In 1 Konings 4:32 lees ons: Hy het drie duisend spreuke gemaak en duisend en vyf liedere gedig. Sy reputasie as musikus en digter maak van hom ’n natuurlike kandidaat om as skrywer van die psalms as ’n geheel geïdentifiseer te word.

Die lang opskrifte wat verwys na sekere insidente in die lewe van Dawid het ’n verdere betekenis. Kyk na Psalm 3 se opskrif: ’n Psalm van Dawid toe hy vir sy seun Absalom gevlug het. Mense het onmiddellik aanvaar dat Dawid hierdie psalm geskryf het, alhoewel hier geen vermelding van die skrywer is nie. Al wat hierdie opskrif probeer doen, is om mense te help om hulle verbeelding te gebruik om die werklikheid van die toneel te begryp.

Vergelyk ons hierdie lang opskrifte met die inhoud van die psalm sien ons dikwels raakpunte, maar ook punte van verskil. Psalm 51 is ’n goeie voorbeeld: Vir die koorleier. ’n Psalm van Dawid na aanleiding daarvan dat die profeet Natan na hom toe gekom het oor sy owerspel met Batseba. Hierdie psalm is baie toepaslik vir ’n koning met “bloed” aan sy hande, maar Dawid kan tog nie sê: Teen U alleen het ek gesondig nie. Is hierdie opskrif nie dalk later bygevoeg nie? Die hele doel van die opskrifte was om hierdie psalms te koppel met insidente uit die lewe van Dawid waarvan die Ou Testament ons vertel.

Die tradisionele Joodse Midrash (antieke kommentaar oor ’n deel van die Hebreeuse Skrif wat aan die teks van die Bybel geheg is – Oxford English Dictionary) sê dat alles wat Dawid in die Boek van die Psalms gesê het, op homself, op Israel en vir alle tye van toepassing is. Om die psalms met insidente uit die lewe van Dawid te koppel het mense geleer om die betekenis van die psalm en die verhaal waarna verwys word, raak te sien.

Die psalms se krag en gesag word nie bepaal deur die persoon wat hulle geskryf het nie – ’n belangrike persoon wie se naam ons ken nie. Hulle was gebede en lofliedere wat God aanvaar het. Hulle is deur die geloofsgemeenskap aanvaar, want dié het besef dat hulle waar is – al was hulle anoniem. Vir Christene is die feit dat hulle deur Jesus Christus aanvaar is ’n verdere beklemtoning van hulle gesag. Daardie geloofsgemeenskap wat hulle aanvanklik aanvaar het, nooi ons uit om te luister hoe God met ons deur hierdie psalms praat – en om dit ons eie gebede en lofprysing te maak.

Verwysing:

Goldingay, John (2006): Psalms, Volume 1, bladsy 28.

 

Skrywer: Dr. Coen Slabber




1 Samuel – Vraag

1 Samuel – Vraag

Vraag:

Frik Lombard vra:

1 Samuel is vir my so bietjie deurmekaar. In 1 Samuel 16 word vertel hoe daar ‘n man gesoek word om vir Saul lier te speel. Die eer kom toe Dawid toe. Hy word ook Saul se wapendraer. In hoofstuk 17 word vertel hoe Dawid Goliat verslaan het en nou kom die onverstaanbare vers 55: Saul vra vir Abner wie het Goliat verslaan en in vers 58 vra Saul vir Dawid wie se kind is hy. Duidelik het Saul nie geweet wie Dawid is nie. Hoe kon Saul nie Dawid op daardie stadium geken het nie, as hy dan sy wapendraer was?

In hoofstuk 24 en 25 word vertel hoe Dawid Saul se lewe spaar in die grot en hoe Samuel dood is. In hoofstuk 26 sluip Dawid in Saul se kamp in en maak hom weer nie dood nie. In hoofstuk 28 vers 3 word weer vertel dat Samuel dood is. Hoe hou die twee gebeure met mekaar verband? Dit wil vir my voorkom dat dit die een en selfde gebeure is. Hoe kan die een in die grot afspeel en die ander een in die veld?

 Antwoord:

Dr Marius Nel antwoord:

Jy het iets raakgesien wat Bybelwetenskaplikes al lankal besig hou, dat daar sogenaamde some in die teks voorkom wat oënskynlik op weersprekende inligting wys. Normaalweg word dit verklaar deur te sê dat dit te doen het met hoe die spesifieke geskrif saamgestel is. Onthou dat niemand weet presies hoe dit gebeur het nie en dat ons slegs in die donker kan tas. Dit lyk egter of daar verskillende mondelinge of selfs skriftelike oorleweringe bestaan het wat op ʼn stadium byeengebring is. Die persoon wat dit gedoen het, het nie alle data met mekaar versoen nie wat dan tot some tussen die verhale lei.

Dit stel onmiddellik die vraag: hoe beïnvloed dit die gesag van die Skrif? Beteken die feit dat ons van die Bybel as Woord van God praat nie dat die Bybel foutloos is nie? Ek dink nie so nie. Ek meen die gesag van die Skrif lê in die openbaring van God daarin, soos deur mense beskryf. En mense is nie foutloos nie. Daarom kan daar skynbare weersprekings voorkom (jy kry dit ook duidelik in die onderskeie evangelies se weergawes) sonder dat dit die gesag van die Skrif aantas, omdat die Gees deur die Woord werk om God aan jou te openbaar.

Hoop dit beantwoord jou navraag! 

 

Skrywer: Dr Marius Nel