Binding van Satan en demone – Hermie van Zyl

Mariana vra:

Kan Satan en demone “gebind” word? Kan gelowiges deur demone beïnvloed word? Die antwoord op demoniese beïnvloeding: “Onderwerp julle aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug” (Jak. 4:7). “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan…” (1 Pet. 5:8, My beklemtoning). “Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:11). (Let wel, weereens word daar niks gesê van die duiwel of demone wat gebind moet word nie). Hoe onderwerp jy jou aan God en hoe weerstaan jy die duiwel? Wat van Matt. 18:18?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hier is twee sake ter sprake: 1. die binding van die duiwel/demone, en 2. die moontlike beïnvloeding van gelowiges deur die duiwel/demone.

Ek vermoed die agtergrond van die vrae is die hele verskynsel van duiwelbesetenheid en gevolglike “geestelike oorlogvoering” waar die duiwel “gebind” moet word, en nie maar net die algemene stryd wat elke gelowige daagliks teen die bose voer nie. My antwoord neem dus hierdie agtergrond in ag.

Eerstens die kwessie van die binding van die duiwel of demone. Ons lees net op een plek in die Nuwe Testament van die binding van die duiwel, naamlik Op 20:2 waar ‘n engel die duiwel bind en in die onderaardse diepte gooi, waar die duiwel vir ‘n duisend jaar opgesluit word, waarna hy vir ‘n kort rukkie vrygelaat word om sy verwoestingswerk aan te rig, net voordat hy en sy trawante finaal verslaan word (Op 20:10).

Ons moet onthou dat Openbaring ‘n apokaliptiese geskrif is wat oorvloedig van beeldspraak gebruik maak om sy boodskap oor te dra. Tradisioneel is daar ‘n verskeidenheid van interpretasies van Op 20, waarvan die chiliastiese interpretasie een is. Hiervolgens lê die duisendjarige vrederyk nog in die toekoms. Christus keer dan terug vir die eerste keer, bind die duiwel en heers letterlik vir ‘n 1000 jaar (die sg Messiaanse vrederyk), waarna die duiwel dan losgelaat word om vir ‘n kort rukkie “te heers”, net om by die tweede en finale wederkoms van Christus finaal in die poel van vuur, waar die draak en vals profeet reeds is, gegooi te word.

By verre die meerderheid van geleerdes lê Op 20 egter so uit dat die binding van Satan reeds plaasgevind het met die eerste koms van Christus 2000 jaar gelede, en dat ons nou in die simboliese duisendjarige vrederyk leef waar die werk van Satan, hoewel dit steeds voortgaan, beperk word deur die oorwinning wat Christus aan die kruis en deur sy opstanding en hemelvaart behaal het. Slegs “aan die einde van die tyd” (niemand weet wanneer nie) sal Satan sy “normale” verwoestingswerk intensiveer (hy word “losgelaat”), waarna die eindoordeel sal aanbreek. Volgens hierdie hoofstroominterpretasie – wat volle erkenning gee aan Openbaring as simboliese boek wat Christus se oorwinning oor Satan telkens in konsentriese sirkels regdeur die geskrif weergee – is Satan tans gebind (natuurlik relatief gesproke) en leef ons nou in die tyd van die wêreldwye verkondiging van die verlossing en oorwinning wat Christus gebring het met sy eerste koms. (Terloops, 1000 is ‘n simboliese getal – tien [volmaakte getal] tot die mag drie, wat dan die volkome mag van God oor die bose uitdruk.) Punt is: hierdie “binding” van Satan het die algemene betekenis dat die werk van Satan aan bande gelê is met die koms van Christus. Dit is dus slegs ‘n ander – simboliese – manier van beskrywing van wat ons in die Evangelies aantref waar ons lees dat Jesus die duiwels of demone uitgedryf het. So gesien is die binding van Satan saaklik gelyk aan die uitdrywing van die demone deur Jesus. En laasgenoemde het op sy beurt weer die betekenis dat met die koms van Christus die mag van die Bose gebreek is. Jesus is die sterker Een wat die koninkryk van God op aarde vestig en die greep wat die bose het op die mens, verbreek (vgl Luk 11:20).

Verder, Matt 18:18 (“wat julle op aarde bind, sal in die hemel gebonde wees”) het niks te make met die binding van die duiwel nie. Dit handel hier oor die leer- en dissiplinêre gesag van die kerk. “Bind” en “ontbind” is tegniese terme wat met die gesagvolle optrede van die kerk te doen het. Wanneer die kerk optree teenoor lidmate wat volhardend sondig, en hierin volgens die liefdeswil van God optree, dan sal God die kerk se optrede in die hemel bevestig. Daar is dus ‘n korrelasie tussen wat die kerk op aarde “bind” en “ontbind” en God se optrede in die hemel. Die kerk is so die verteenwoordigers van God se wil op aarde. Maar dit is saak vir ‘n ander gesprek.

Oor die tweede vraag – of gelowiges deur die duiwel/demone beïnvloed kan word – is die kort antwoord “nee”. Gelowiges wat naby Christus leef, het niks te vrees vir die bose nie. Uiteraard hét ons in die algemeen ‘n stryd teen die bose wat altyd gereed staan om ons te verlei tot die kwaad, maar dit het niks te make met toevallige binding en beïnvloeding soos om aan ‘n “heidense” voorwerp te raak waardeur die bose téén die wil van die gelowige toegang tot sy/haar lewe verkry nie. Die enigste manier waarop die bose beslag kan lê op ‘n mens, is wanneer jy doelbewus van God se pad afdwaal en jou met die werk van die bose begin besig hou. Maar so ‘n beslaglegging volg eers na ‘n lang tydperk van volhardende afdwaling, en het ook nie noodwendig “duiwelbesetenheid” tot gevolg nie. Die gelowige wie se hartlike begeerte dit is om in liefde en toegewydheid teenoor God en die naaste te lewe, het niks te vrees vir die binding deur die duiwel of toevallig duiwelse beïnvloeding nie. Die tekste wat die vraagsteller hierbo aanhaal (Jak 4:7; 1 Pet 5:8; Ef 6:11) sê ook duidelik dat daar maniere is om met “duiwelse beïnvloeding” te handel in die normale gang van sake.

Die groot saak is dat ons nie duiwelgefokus of duiwelbehep moet lewe nie. En ek is bevrees dat die hele bedryf rondom “geestelike oorlogvoering” ‘n vorm van duiwelbeheptheid is. Ons fokus moet op Christus en God wees, nie op die duiwel nie. Die duiwel en sy trawante is slegs die donker skaduwees wat sigbaar word wanneer die helder lig van Christus se oorwinning oor alle vyandelike magte in die wêreld, daarop val. Solank ons op die Lig fokus, hoef ons ons nie te veel aan die skaduwees te steur nie. Die duiwel is nie ons aandag, kragte en energie werd nie. Dan bekom hy ‘n status wat hy nie verdien nie. Soos Paulus in Kol 3:2 sê, ons moet ons gedagtes rig op die dinge daarbo, nie op die dinge wat op die aarde is nie. (Met “dinge op die aarde” word bedoel alles wat ons hier kan betower en kan aftrek van ons lewe saam met Christus.) Natuurlik moet ons nie naïef wees oor die verwoestingswerk wat deur die bose aangerig kan word nie. Maar die manier waarop die bose beveg moet word, is nie deur op hom te fokus nie; fokus eerder op die Een wat sterker is. By Hóm skuil ons. En hoe langer en meer ons dit doen, hoe minder word die behoefte om notisie te neem van die bose.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Moet ons oor die duiwel praat?

 

Free will without God’s grace is not free at all, but is the permanent bondservant of evil, since it cannot turn itself to good  – Martin Luther

Moet ons oor die duiwel praat?

“Humanity falls into two equal and opposite errors concerning the devil. Either they take him altogether too seriously or they do not take him seriously enough.” C. S. Lewis

Ons kan nie voorgee dat die duiwel en demone nie ‘n werklikheid is nie. Maar ons moet  nou ook nie elke ongemaklike omstandigheid aan hulle toeskryf nie. ‘n Pap battery en ‘n verkeersknoop kan nie aan hulle toegeskryf word nie. Die vraag is: As Satan dan ‘n werklikheid is, as hy soos ‘n brullende leeu rondloop, wat kan Christene daaromtrent doen?

Luister na wat Lukas sê: Kyk. Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is (10:19 – 20).

 

Wat doen Jesus hier? Hy erken die werklikheid van geestelike vyande,  maar sê ons moenie behep met hulle wees nie. Jesus lei mense voortdurend weg van ‘n beheptheid met die demoniese. Jesus het sy deel van demone gehanteer, maar nooit lees ons dat Hy hulle gaan soek het nie. Nee, Hy sê ons moet bly wees dat ons name in die hemel opgeskrywe is.

 

Hoe hanteer ons die demoniese? Deur op die evangelie te fokus – die goeie nuus dat ons name in die hemel opgeskryf is. In Efesiërs 6 praat Paulus van die wapenrusting van die gelowige wat hom teen die demoniese beskerm. Die evangelie moet ons denke beskerm (die helm van verlossing); die evangelie stel ons in staat om God se beloftes te glo (die skild van geloof en die waarheid as gordel); en die evangelie moet veroorsaak dat ons die goeie nuus aan ander verkondig (die skoene van verkondiging). Dus: glo in die evangelie; word bedek deur die evangelie; versadig jou met die evangelie, want as jy deur die evangelie bedek is, kan Satan jou nie raak nie.

 

Jesus wil hê dat ons moet fokus op iets sterker as Satan homself. Jy het iemand nodig wat kan keer dat Satan oorneem. As jy die demonies wil aanvat,  moenie op hulle fokus nie – laat Jesus dit doen. “The preaching of Christ is the whip that flogs the devil.” (Charles Spurgeon).

 

Gelowiges sê hulle veg vir ‘n oorwinning in hulle lewe. Die werklikheid is hulle veg vanuit die oorwinning en nie vir die oorwinning nie. Jesus het reeds vir ons die oorwinning behaal – Hy het elke mag wat ons bedreig reeds verslaan.