Die Bergpredikasie – Francois Malan

Vraag

Hoekom is die bergpredikasie vandag
nog vir ons belangrik?

Antwoord:

Prof Francois
Malan antwoord:

 Hebreërs 1:1-3 sê:
In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat
deur die profete, maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

            Hom het Hy aangestel as erfgenaam van alle dinge,

            en deur Hom het Hy ook die wêreld geskep.

            Hy is die uitstraling van God se
heerlikheid en die ewebeeld van sy wese.

            Hy hou alles in stand deur sy magtige
woord;

            en nadat Hy die reiniging van sondes
bewerk het,

            het Hy gaan sit aan die regterhand
van die Majesteit in die hoogtes.

Vanuit die hemel, aan die regterhand van God, regeer Jesus
oor die ganse skepping met sy woord en deur die Heilige Gees wat in elke
gelowige kom woon het om ons te lei volgens Jesus se woord

(1 Kor 8:6; Joh 15:26).

Vir die gelowige is die bergpredikasie die woord van Jesus
oor hoe ons as God se kinders as lede van 
ons Vader se huisgesin moet lewe. Lees bv. Mattheus 5:44-48:

            ‘Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle
vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg,

                        sodat julle kinders van
julle Vader in die hemele kan wees.

            Hy laat immers sy son opkom oor
slegte én goeie
mense,

            en Hy laat reën oor wetsgehoorsames en wetsverbrekers.

            As julle diegene liefhet wat vir
julle liefhet, verdien julle dan enige beloning?

                        Maak die tollenaars nie
ook maar so nie?

            En as julle slegs julle broers
groet, wat doen julle meer?

                        Maak die heidene nie ook
maar so nie?

            Wees julle dus volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is.’ 

Skrywer: Prof Francois Malan




Begin die bergrede aan die einde lees

Every matter, if it is to be done well, calls for the attention of the whole person ~ Martin Luther

Begin die bergrede aan die einde lees

Toe Jesus die menigte mense sien, het Hy teen die berg opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer en gesê … Toe Jesus klaar gepraat het, was die skare verbaas oor sy onderrig, want Hy het hulle geleer soos ‘n man met gesag en nie soos hulle skrifgeleerdes nie (Matteus 5:1 – 2 en 7:28 – 29).

 Ek moet my lees van die bergrede by die einde begin – deur na die einde van die rede te luister en dan die einde met die begin te verbind. Maar ek moet ook luister hoe Jesus die konteks  van die bergrede stel.

 

Toe die bergrede geskryf is, was daar geen hoofstukindelings nie. Om oorgange aan te dui het skrywers ‘n verskeidenheid metodes gebruik. Een daarvan was die gebruik van opsommings – dit sluit ‘n afdeling af en ‘n nuwe begin. Jesus se opsomming in 4:23 – 25 word feitlik woordeliks in 9:35 en 10:1 herhaal: 23Hy het toe in die hele Galilea rondgegaan en die mense in hulle sinagoges geleer, die evangelie van die koninkryk verkondig en elke soort siekte en kwaal onder die volk gesond gemaak. 24En berigte oor Hom het deur die hele provinsie Sirië versprei. Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, dié wat in die mag van bose geeste was, geestelik versteurdes en verlamdes na Hom toe gebring, en Hy het hulle gesond gemaak. 25Groot menigtes uit Galilea, Dekapolis, Jerusalem, Judea en van oorkant die Jordaan af het Hom gevolg. Dit is die einde van Hoofstuk 4 en in Hoofstuk 5 begin die bergrede.

Matteus 4:23 – 25  is die raamwerk wat Matteus gebruik om my van Jesus se bediening – onderrig, prediking en genesing – te vertel. Dit is ‘n skets van Jesus  se sending en bediening: Hy preek en onderrig in Matteus 5 – 7 en Hy genees in Matteus 8 – 9. Die bergrede is ‘n omvattende skets van die onderrig en prediking van Jesus – sy boodskap. Dit is ‘n aanbieding van Jesus se morele visie – sy etiek. Matteus sê vir sy gehoor: “ Hier is Jesus; hier is sy boodskap (5 – 7) en hier is sy optrede (8 – 9). Besluit nou.”

Die einde van die bergrede gee vir my ‘n leidraad oor hoe om die bergrede te lees. Jesus eindig sy rede deur mense op te roep om te doen wat Hy geleer het. Diegene wat nie doen wat Hy leer nie, word beskou as dwaas. Daarom beskryf Augustinus die bergrede as  “die volmaakte standaard van die Christelike lewe.”  Daar is een vraag wat deur die bergrede weerklink:

Sal jy my volg?

Die bergrede dwing my om ‘n besluit oor Jesus te neem. So Jesus confronts us with himself, sets before us the radical choice between obedience and disobedience, and calls us to an unconditional commitment of mind, will and life to his teaching (John Stott eindig so sy kommentaar op die bergrede).

As ek die bergrede wil verstaan, moet ek twee beginsels volg:

  • Begin lees aan die einde en bring dit in verband met die begin van die bergrede.
  • Dit sal my help om die bergrede te verstaan as ek die konteks waarin dit geplaas is, verstaan. Die konteks vir die bergrede kry ek in Matteus 4:23 – 25.