Die Jode beskuldig Hom van godslastering (10:31-39) – Francois Malan
10:33 Dood deur steniging is die straf vir godslastering (Lev.24:16). Godslastering is nie ‘n sonde van die daad nie, maar van die woord. Daarom verklaar hulle dat hulle Jesus nie oor ‘n goeie daad wil stenig nie – indirek ‘n erkenning dat Hy ‘n goeie daad gedoen het, selfs op die Sabbat in hoofstukke 5 en 9 – ‘maar oor godslastering, omdat jy, wat ‘n gewone mens is, jou as God voordoen’ (vgl. 5:17,18 en Jesus se antwoord daarop in 5:19-30, ‘n eenheid nie in selfverhoging nie, maar wat van die Vader af kom). Hulle begryp dat Jesus, wat in die gestalte van ‘n gewone mens verskyn het, besig was om deur sy woorde en werke te openbaar dat Hy die Seun van God en ook God is (vgl. 1:1). Maar in plaas daarvan dat hulle die goddelike waarheid van Jesus se selfopenbaring in geloof aanvaar, verwerp hulle dit as godslastering, en daarmee vir Jesus as hulle verwagte Messias.
Jesus trek terug na die Oos-Jordaanse gebied (10:40-42)
10:40 Jesus trek Hom terug na Perea, Oos van die Jordaan (in die gebied van Herodes Antipas, wat Johannes die Doper se kop laat afkap het, Mk 6:27-28), waar Johannes vroeër gedoop het en die openbare bediening van Jesus begin het (1:28 in Betanië). Met hierdie verwysing wil die skrywer die beginpunt en die afsluiting van Jesus se selfopenbaring aan die Jode aandui. Daar het Johannes Hom al aangewys as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem, dat Hy reeds voor Johannes bestaan het, met die Heilige Gees doop, as die Seun van God (1:29-34). Die goeie Herder is daar reeds aangewys as die Lam. Jesus die Gesalfde priester is ook die offerlam. Hy vertoef minstens ‘n paar maande in daardie omgewing.
Skrywer: Prof Francois Malan