Ondervraging van die ouers (9:18-23) – Francois Malan
9:20-21 Die ouers bevestig die eerste vraag: ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is! Maar hoe dit gebeur het weet hulle nie, en wie dit gedoen het weet hulle ook nie. Hulle verwys die vraag terug na die man self, want hy is al volwasse en verantwoordelik voor die wet. Daarby sal hy oor homself (of ‘vir homself’) praat. Blykbaar was hy ‘n man wat sy woord goed kon doen. Versigtigheid en gevatheid is dikwels kompensasie by gestremdes, en was skynbaar ‘n eienskap van dié blinde.
9:22-23 Die Joodse Raad het blykbaar reeds besluit dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus (die verwagte Messias) is, word uitgesluit uit die sinagoge (die woord aposunagogos ‘uitgesluit uit die sinagoge’ word nog net in Joh 12:42, 16:2 gebruik en nêrens elders in die Griekse literatuur nie). Dit sou behels dat sy lidmaatskap van die sinagoge gekanselleer word en hy nie meer toegelaat word in die sinagoge nie. Ook vir sy verhouding met sy volksgenote sal dit ‘n belemmering beteken. Dit is dan die rede agter die ouers se vrees om hulle mening te gee oor Jesus en hoe hulle blindgebore seun nou kan sien. Hulle plaas die volle verantwoordelikheid op hom.
(9:24-29)
9:24 Die Jode se ondersoek van die ouers het slegs bevestig dat die man blind gebore is en nou kan sien. Die leiers roep die man weer op. Hulle begin nie met ‘n vraag nie, maar gee ‘n opdrag op grond van hulle oortuiging. Hulle, wat die wet ken, weet dat ‘hierdie man’ (neerhalend) hom nie by die wet hou nie, en daarom ‘n sondaar is. Sy kleimakery op die Sabbat bewys dat Hy ‘n oortreder van die wet is. Daarom weier hulle om te erken dat Jesus die genesing bewerk het, ‘n sondige daad volgens hulle kennis van God en sy wet. Hulle opdrag: Gee die eer vir die genesing aan God! Alleen God kan ‘n blindgeborene laat sien (vgl. Ps 146:8), maar hulle weier om te glo dat Jesus God is (Joh 1:1)..
9:25 Beskeie maar vreesloos antwoord die man dat hy nie weet of Jesus ‘n sondaar is nie, maar van een ding is hy seker, dat hy blind was en nou kan sien. Sy persoonlike ondervinding van die genadewerk wat Jesus aan hom gedoen het, is iets wat God alleen kan doen, soos die leiers sê. So gee hy wel aan God die eer, maar nie soos die Jode dit wou hê nie.
hoe het Hy jou oë oopgemaak? Die man vererg hom egter vir hulle herhaling van dieselfde vraag, en dat hulle nie geluister het na sy getuienis nie. Ironies spottend ondervra hy hulle oor hulle motiewe: julle wil tog nie ook sy (Jesus se) volgelinge word nie, wil julle? Die vraag suggereer ‘n negatiewe antwoord. Die vraag impliseer egter dat die blindgeborene hom as ‘n volgeling van Jesus begin sien; dat hy ‘n keuse vir Jesus gemaak het.
Prof Francois Malan