Johannes 1:9-13 Reaksies op die Woord van God in die wêreld – Francois Malan
Die himne oor die Woord wat die Lig is, word voortgesit na die onderbreking oor die getuie.
1:9 ‘Die ware lig…was aan kom in die wêreld.’ Dit verwys na twee sake: volgens verse10-11 verwys dit na die menswording van die Woord en die hele aardse bediening van Jesus; volgens vv12-13 gaan dit om dié mense deur die eeue na wie toe die Woord aan die kom was en is. Die Ou Testament verwys na die woord van die Here, of dat die Here gesê het. Dit is telkens dié Woord van God wat mens kom word het in Jesus.
‘Die ware Lig’ verlig die mens se denke, openbaar God aan die mens, en die pad van die ware lewe voor God. ‘Wêreld’ verwys na die ganse mensdom, ook van die Ou Testament, maar veral van die Nuwe. (Ligkom 16 maal voor; wêreld 74 maal, soms as geskape wêreld, meesal as mensewêreld, ook as sondige wêreld).
1:10 ‘Hy was in die wêreld’ – van die begin af, en waar God gepraat het, was dit die Woord van God. ‘Die wêreld het deur Hom ontstaan’ (soos 1:3 sê) – by die skepping en voortgang deur die eeue; ook by die ontstaan van elke mens. ‘En die wêreld het Hom nie geken (of erken) nie’ – die mense het die lig nie geken en waardeer vir wat Hy is nie, en die Lig nie aanvaar of in Hom geglo nie. Aanvaar is ‘n wilsbesluit vir of téén Hom. ‘Hom ken’ verwys na ‘n persoonlike verhouding van mense met die Lig.
1:11 ‘sy eiendom’ – volgens Johannes 1:3 is Hy die Skepper van alles en daarom die Eienaar daarvan. Hier verwys ‘sy eiendom’ in die eerste plek na die Jode (Deutr. 7:6; Ps 135:4), maar ook na die mense van die wêreld (Ps 24:1). Jode en nie-Jode het die Woord deur die eeue nie aangeneem nie. Die woord vir aangeneem, parelabon, beteken ook ‘om in jou huis te ontvang/verwelkom, om vriendelik te ontvang’. Jesus was soos iemand wat uit sy eie huis uitgesluit was. Hy, die Heer en Eienaar van die wêreld en die mensdom, staan buite en klop aan die deur (Openb 3:20). So begin die Evangelie met die lyding en verwerping van Jesus.
1:12 Maar die werk van die Woord van God was en is nie sonder vrug nie. Aan almal wat Hom in geloof aangeneem het, het die Woord die voorreg gegee om kinders van God te word. Hoe die ‘aanneming’ geskied word in Jn 1:13 verduidelik met die begrip ‘wedergeboorte’, wat in 3:1-21 verder uitgewerk word. ‘Kinders van God’ druk die besondere liefdesband met God en afstamming van God uit (1:13). Ons word kinders van God slegs deurdat Jesus Christus ons begenadig. Die geloof in die Naam van Jesus kom slegs in Johannes en 1 Johannes voor. Dit impliseer dat ons Jesus as God erken en Hom in kinderlike vertroue aanneem in die volle omvang van sy openbaring, om volgens sy woord en voorbeeld te lewe.
1:13 Om ‘kinders van God’ te word is geheel en al God se werking. Mans en vrouens is nie in staat om kinders van God te verwek nie. Letterlik: ‘wat nie uit bloeddruppels of uit die wil van die vlees nie, of uit die wil van ‘n man nie’ – ‘bloeddruppels’ word figuurlik gebruik vir afstamming (NAV ‘van nature’); die ‘wil van die vlees’ verwys na seksuele omgang, die ‘wil van ‘n man’ verwys na menslike inisiatief; ‘maar uit God gebore is’ – dit word verder uitgewerk in 3:3-5. Die diepste grond vir die kindskap van God is die werk van God deur die Heilige Gees, wat die mens oortuig sodat hy/sy glo dat Jesus God is wat vir ons sonde gesterf het, en dat die Heilige Gees ons aan Christus se dood en opstanding verbind. Die oortuigingswerk van die Heilige Gees word in hoofstukke 14 en 16 verder uitgewerk.
Skrywer: Prof Francois Malan