DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES: INLEIDING

DIE EVANGELIE VOLGENS JOHANNES: INLEIDING – Francois Malan

Die raaisel wat die vierde Evangelie omring

 

Ons is vandag nie meer seker wie hierdie Evangelie geskryf het, waar dit geskryf is of wanneer nie. Die opskrifte van die vier Evangelies wat hulle aan bepaalde persone verbind, is later bygevoeg. Die vroegste getuienis oor die skrywers kom van Ireneus, biskop van Lyon in Frankryk wat in Smirna in die huidige Turkye groot geword het en sendingwerk in Gallië gaan doen het. Hy het as kind by Polikarpus gehoor dat Johannes die Evangelie in Efese geskryf het. Polikarpus van Smirna sou gesê het dat hy vir Johannes geken het, en ander persone wat die Here gesien het. Polikarpus het op 86 jaar in 155 n.C. in Rome op die brandstapel gesterf vir sy geloof (dus gebore in 69 n.C.). Ireneus het gesê Johannes het in Efese gebly tot die tyd van keiser Hadrianus (98-117 n.C.).

 

            In die Evangelie word nie gesê dat Johannes dit geskryf het nie, maar die skrywer praat in die laaste deel van die Evangelie van ‘die dissipel vir wie Jesus liefgehad het:’  in 13:23-26 lê hy op die bors van Jesus, in 19:25-27 gee Jesus sy moeder oor in die sorg van die dissipel, in 20:1-10 hardloop hy en Petrus graf toe, in 21:1-14 is dit hy wat die opgestane Jesus aan die strand herken, in 21:20-24 sê die skrywers van die Evangelie dat hulle die geliefde dissipel se getuienis oor Jesus gehoor het en dat hy van die dinge opgeteken het wat hulle in die Evangelie geskryf het.

Die naam van Johannes, die seun van Sebedeus en dissipel van Jesus (volgens die ander Evangelies) word nie in hierdie Evangelie genoem nie, behalwe die verwysing in 21:2 na die seuns van Sebedeus wat ná Jesus se opstanding saam met Petrus en ander gaan visvang het, waaronder die lieflingdissipel ook genoem word in 21:7.   

Verskil van die ander drie Evangelies

 

Die Vierde Evangelie begin met Jesus reeds voor die skepping (1:1-18). Lukas se geslagslys van Jesus gaan terug tot by Adam die seun van God (Lk 3:38). Matteus begin by Abraham (Mt 1:1). Markus begin met Jesaja se profesie (Mk 1:2). Johannes se inleiding maak ‘n verklaring oor Jesus voordat die verhaal vertel word. Die verhaal ontvou byna heeltemal in Judea en veral in Jerusalem (slegs 24 verse handel oor Jesus in Galilea, 2:1-12; 4:43-54, en die res van hoofstuk 4 in Samaria). Die ander Evangelies vertel hoofsaaklik van Jesus se bediening in Galilea, en van sy dood in Judea.

            Die feeste in Jerusalem is prominent in Johannes. Ten minste na drie (vier?) Paasfeeste word verwys, wat ‘n bediening van twee (drie?) jaar impliseer. Jesus se werksaamhede in Galilea kon in een jaar ingepas word volgens die ander drie Evangelies.

            Die sinoptiese (sunopsis wat saam oorsien kan word) Evangelies het baie gelykenisse en versamelings van woorde van Jesus oor die koninkryk van God (Mt veral ‘koninkryk van die hemel’). Johannes het min gelykenisse (baie meer metafore – vergelykings) maar baie gesprekke: dialoë en monoloë veral oor die Evangelis se interpretasie van die betekenis van Jesus se sending.

Elke Evangelie gee ‘n eie interpretasie en verklaring van Jesus, gesien na sy opstanding, in die lig van die Ou Testament en van die omstandighede van die gemeentes vir wie hulle skryf. Johannes het die interpretasie verder deurdink. Die sinoptiese Evangelies vertel van Jesus se aankondiging dat die koninkryk kom en dat Hy moet sterf, maar wys nie wat die verband tussen die twee is nie. Johannes se tema is van die begin af dat Jesus deur sy eie mense in sy eie plek verwerp word (1:11). Jesus het dikwels in Jerusalem gepreek en hulle het besluit dat dit tot hulle voordeel is dat een man vir die volk sterwe sodat die hele nasie nie verlore gaan nie (11:50).

Die hele Johannes-evangelie is eintlik ‘n lydensgeskiedenis van die opgestane Here. Hy is die lewe en die lig wat in die duisternis skyn, en die duisternis kon dit nie oorweldig nie. Hoewel Johannes skaars die koninkryk noem (Joh. 3:3,5; 18:36), skemer dit dwarsdeur die Evangelie deur (Jesus word 15 keer koning genoem, en sterf as ‘koning van die Jode’). Maar Johannes lê klem op die persoonlike aard van geloof en verlossing van sonde, en daarom is sy sleutelterm ‘lewe’ en ‘ewige lewe’, wat die lewe in die koninkryk van God beskryf. Die opstandingslewe wat Christus deur die Heilige Gees gee is nou reeds ‘n werklikheid vir elke gelowige. In hierdie Evangelie ontmoet ons God self wat oordeel en red, uit sy genade en waarheid (1:14,17). Die skrywers sê die Evangelie is geskrywe ‘sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê (20:31). In elke hoofstuk word daarop gewys dat Jesus God is.

 

Inhoud

 

Na die inleiding (1:1-18) volg Jesus se openbare optrede (hoofstukke 1-12), dan sy bediening aan sy dissipelgroep (13-17), sy dood en opstanding (18-20), en ‘n naskrif oor die sending van die kerk. 

 

Skrywer: Prof Francois Malan