Soeker na God se Woord – Hermie van Zyl

Leser vra:

Ek het my hele lewe lank nooit God se Woord gelees of geken nie. In die huis was nie so iets soos godsdiens of kerk van enige aard nie. Ek is vandag 57, en probeer dinge optel. Al meer vrae duik op en ek sukkel om werklik met die Woord reg te kom en te verstaan. Ek glo dat God bestaan, maar op die oomblik is ek werklik op soek na iets om aan vas te hou in die Woord.

Ek het lank met drank en vriende omgegaan, en het op ‘n tyd rondgeslaap terwyl ek getroud was. Dit is net asof iets my ongeveer drie jaar gelede gestop het, en ek het al meer na God se Woord en ‘n waarheid begin soek wat vir my kan sê en wys dat God werklik is. Ek het ‘n ruk lank die Bybel begin lees, ensovoorts, totdat my vrou eendag gesê het jy kan die “stuk ding” maar verbrand. Ek het opgehou lees, maar kyk en luister net waar ek kan en kans het na die Woord, soekende na God. Waar en hoe soek en vra ek om vergifnis vir alles wat ek aangejaag het, teen God gesondig het, asook teen almal om en met my?

Antwoord

Prof hermie van Zyl antwoord:

Ons vraagsteller trek die gordyn net so op ‘n skrefie oop om ons ‘n kykie in sy lewe te gee, maar wat duidelik is, is dat God met hom aan die werk is. Want hier het ons met iemand te doen wat ‘n substansiële deel van sy lewe agter die rug het maar blykbaar nog nooit regtig erns gemaak het met die dieper vrae van die lewe nie. Hy erken wel die volgende: dat hy nie godsdienstig of kerklik grootgeword het nie; dat hy ‘n tyd lank losbandig gelewe het, ten spyte daarvan dat hy getroud was; dat hy drie jaar gelede ‘n soort inkeer beleef het wat hom sy immorele praktyke laat vaar het; dat hy tans dringend op soek is na ‘n egte verhouding met God; en dat laasgenoemde saamhang met ‘n begeerte om na waarheid te soek in die Bybel, hoewel hy blykbaar nie veel ondersteuning hierin van sy vrou geniet nie. Al hierdie dinge wat met ons vraagsteller aan die gebeur is, laat mens net weer besef dat die ou kerkvader, Augustinus (354-430 nC), reg was toe hy gesê het: “U het ons vir Uself gemaak, o Here, en ons harte is onrustig tot dit rus vind in U.”

Waar begin mens om aan iemand soos ons vraagsteller ‘n weg aan te wys waar hy wel hierdie rus waarvan Augustinus gepraat het, kan ervaar? Ek vertrou dat die volgende kan help:

Eerstens, dit wil lyk of die dringendste behoefte van ons vraagsteller is dat hy dinge tussen hom en God, en tussen hom en ander mense, wil regmaak; hy wil vergifnis ontvang. Want hy besef dat hy teen God en teen ander gesondig het. En daar is seker geen beter manier nie om hom die pad na God se Vaderhart te wys as deur middel van die gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Hier ons ‘n man wat alles gehad het wat sy hart begeer, maar hy gaan verkwis toe sy hele erfporsie deur losbandig te lewe (15:13,30). En op ‘n dag, toe lekker nie meer lekker was nie, kom hy tot inkeer daar tussen die varke, met die diep behoefte in die hart: om vir sy pa te gaan sê dat hy teen God en teen hom (sy pa) gesondig het. Hy voeg die daad by die woord en gaan terug huis toe. Daar vind hy toe dat sy pa sy oë al seer gekyk het vir sy seun se terugkoms (15:20). Hy word oorweldig deur sy pa se liefde en goedheid, en word weer as seun in sy vaderhuis herstel.

Hierdie gelykenis sê vir ons hoe God is. Hy is nie ‘n God wat verwyt nie. Hy gee nie om waar ons ons tyd, besittings en lewe vermors het nie. Al waarin Hy belangstel, is dat ons na Hom toe sal terugkeer om die volle lewe in die Vaderhuis te ervaar. Iemand wat so ‘n verlange het en so terugkeer na God se woning – soos ons vraagsteller – sal ervaar dat God sy sonde van harte vergewe. God reken ons ons sonde nie toe nie, Hy verwyder dit van ons so ver as die ooste van die weste is, Hy ontferm Hom oor ons soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders. Want Hy weet dat ons maar stof is, geneig tot alle kwaad (Psalm 103:8-14). Vanuit die Nuwe Testament weet ons verder dat God ons sonde vergewe omdat Hy dit in Christus gestraf het aan die kruis. Daarom kan ons vrygespreek word van die skuld wat ons sonde oor ons bring (vgl Romeine 5:8-11; 2 Korintiërs 5:17-21). Ons hoef onsself dus nie meer te kasty oor ons verlede of self te probeer vergoed vir alles wat ons “aangejaag” het nie. Jesus Christus het alles wat God van die mens verlang, reeds in ons plek gedoen; Jesus het die straf op ons sonde gedra, en die volmaakte lewe gelei. Al wat ons moet doen, is om ons sonde te bely, en God se vergifnis in Christus te aanvaar. Mag ons vraagsteller by daardie punt uitkom.

Tweedens, wanneer ons by daardie nulpunt van ons bestaan gekom het, waar ons besef dat ons geestelik bankrot is, en onsself werp op Christus, dan begin die nuwe lewe wat stand hou tot in alle ewigheid. Dan begin God in ons werk en bou aan hierdie nuwe lewe. Ja, dit is wel so dat God ons vat nes ons is (die eerste punt hierbo), maar dis net so waar dat Hy ons nie los soos ons is nie (wat hierdie punt twee wil sê). Hy wil hê dat ons Christus sal begin volg sodat sy Gees die tekens van ‘n lewe wat aan Christus behoort, kan vertoon aan die wêreld (vgl Matteus 5:13-16). Of, soos Galasiërs 5:22 sê, sodat die vrug van die Gees, naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewe kan sigbaar word. Want iemand wat sê dat sy of haar sonde vergewe is, maar wat weer terugkeer na hulle ou lewe, verstaan nie mooi wat die nuwe lewe in Christus behels nie. Dis ondenkbaar dat mens jou rug kan draai op so ‘n groot verlossing en weer doodluiters voortgaan soos voorheen. Soos Paulus in Romeine 6:1-11 sê: Iemand wat aan Christus behoort, is begrawe saam met Christus en daarom dood vir die sonde, maar het ook opgestaan saam met Christus en is daarom lewend vir God, om vir Hom en vir ander te lewe. Dis daarom so treffend wat mens lees van Saggeus, die tollenaar. Pas nadat hy redding ervaar het toe Christus in sy huis tuisgaan, sê hy dat hy nou anders gaan lewe as voorheen: hy gaan die helfte van sy goed aan die armes gee, en mense wat hy uit hulle geld gekul het, gaan hy vierdubbel vergoed (Lukas 19:1-10). God se genade in Christus dóén iets aan ‘n mens; dit verander jou ten goede; dit maak van jou ‘n mens na God se hart. Jy begin nou al meer lyk soos die beeld van God wat ons na regte is.

Derdens, om te bly volhard op hierdie geloofspad moet ons besef dat ons nou deel is van die liggaam van Christus op aarde, die kerk. ‘n Mens is nie bedoel om op jou eentjie die pad as gelowige te bewandel nie. As mens die bladsye van die Bybel lees, is dit merkwaardig dat gelowiges altyd deel is van die gemeenskap van gelowiges. In die Nuwe Testament is gelowiges altyd deel van ‘n gemeente of ‘n kerk. Want dís hoe ons bly volhard op die pad van die geloof. As ons alleen probeer staande bly in hierdie lewe, gaan ons gou vind dat ons struikel en val. Maar wanneer ons saam met ander die pad bewandel, hou ons mekaar warm in die geloof. Die meeste van ons is sterk individualiste, ons wil ons eie ding doen. Maar as deel van die kerk erken ons dat ons almal saam die liggaam van Christus vorm en dat ons mekaar se insette en gawes nodig het (vgl 1 Korintiërs 12). So word ons voortdurend opgebou in ons geloof (Efesiërs 4:1-16; eintlik die hele hoofstuk). Dis in die kerk dat ons ook leer hoe om die Woord van God na sy bedoeling te verstaan. Al die geleenthede word daar geskep om te groei in Godskennis en Bybelkennis. Wie hierdie geleenthede misloop en misken, misken die genademiddele wat die Here aan ons op aarde gee. Dit is dus noodsaaklik dat ons vraagsteller so gou moontlik die gemeenskap van gelowiges sal opsoek. So kan hy verder gehelp word op hierdie geloofspad en nie maar op sy eie voortsukkel nie.

Met bostaande uiteensetting het ek probeer om aan ons vraagsteller ‘n handvatsel te bied waarmee hy ‘n greep kan uitoefen op die genade van God – eintlik so kan agterkom dat God op hom ‘n greep uitoefen. Dis weliswaar nie die volle verhaal nie, maar genoeg om die pad saam met God te begin. Dit is die waarheid waarna ons vraagsteller op soek is in die Bybel. Alles wat in die Bybel staan, kan in bostaande drie gedagtes saamgetrek word. Ek glo dat God met ons vraagsteller op ‘n besondere wyse besig is, en dat Hy die goeie werk wat Hy so in hom begin het, ook sal voltooi (vgl Filippense 1:6). Mag hy die roersele van God se Gees nie weerstaan nie, maar homself oorgee daaraan en uiteindelik die rus vind waarvan Augustinus gepraat het.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl




Praat die kerk oor ongemaklike sake?

 

A man knows when he has found his vocation when he stops thinking about how to live and begins to live – Thomas Merton

 Praat die kerk oor ongemaklike sake?

Zach Perkins voel daar is sekere belangrike sake wat die kerk vermy om te hanteer. Hy sê dat ons week na week die erediens bywoon, by mense sit wat ons al jare ken … maar ons sal nooit ons innerlike gevoelens met hulle bespreek nie. Hoekom nie? Trots beslis, maar ook die kerk se onwilligheid om oor sekere ongemaklike sake te praat. Die kerk verkies om hierdie sake te ignoreer, of  verwerp eenvoudig die mense wat hierdie sake op die tafel plaas.

 Dra mekaar se laste (Galasiërs 6:2). Is dit nie tyd dat die kerk ‘n veilige hawe word vir daardie ongemaklike dinge wat mense moet hanteer nie?  Baie van hierdie dinge moet professioneel deur onder andere sielkundiges hanteer word. Navorsing het egter gevind dat om na iemand te luister en te wys dat jy werklik vir hulle omgee ‘n belangrike rol in die persoon se genesingsproses speel.

 

 Hier is ‘n paar sake waarmee baie mense sukkel al ontken hulle dit dikwels.

  • Verslawing.

Hierdie is ‘n onderwerp wat meeste kerkmense nie van wil hoor nie. Sekere verslawings is sosiaal meer aanvaarbaar – ons gee nie om om met iemand oor sy rokery te praat nie. Ons praat moeiliker oor die misbruik van alkohol en ander dwelms. Verslawing is ongelukkig dikwels juis die oorsaak vir skinderpraatjies in die kerk. As die kerk mekaar as God se gesin sien, sal mense minder kwesbaar wees om oor hulle verslawing te praat. Hulle wil net weet hulle broers en susters in die gemeente het hulle lief; hulle wil net veilig genoeg voel om hulle harte oop te maak.

 

  • Seksualiteit

Hierdie onderwerp is dikwels taboe in die kerk. Ja ons verdoem voorhuwelikse seks … maar dit is waar die gesprek eindig. Ons hanteer baie selde hierdie onderwerp op ‘n persoonlike, individuele vlak. Daar is gelowiges wat probleme het met hulle seksuele identiteit, maar hulle waag dit nie om daaroor met hulle Christen-vriende te praat nie. Een van die groot probleme vandag is pornografie. Is die kerk ‘n veilige plek waar mense hulle laste kan deel met ander gelowiges?

 

  • Opregte twyfel

Daar is baie gelowiges wat stry met twyfel. Hulle het gelees; hulle het gebid, maar hulle sukkel om te glo dat dat God werklik daar is. Ja, hulle woon nog eredienste by, hulle sing die liedere, maar dit klink hol vir hulle. Die kerk kan begin om hierdie probleem te hanteer deur op te hou om voor te gee dat alles van geloof  duidelik is. Die kerk moet erken dat almal van ons op een of ander stadium twyfel. Die kerk moet ook ophou om die moeilike gedeeltes in die Bybel onder die mat in te vee.

 

  • Geestesongesteldhede

Hierdie mense bly gewoonlik stil oor die stryd wat hulle beleef. In ons samelewing is daar ongelukkig nog baie stereotipes oor geestesongesteldhede. Mense wil nie hieroor praat nie, dikwels omdat hulle in die verlede seergekry het. As ons nie oor hierdie sake praat nie, word hulle dikwels nie opgelos nie.` Soms word van hierdie mense verwag om nie professionele hulp te kry nie – gebed is voldoende om jou te genees. As gebed dan nie werk nie, voel die persoon dat hy misluk het. Die kerk moet ‘n omgewing skep waarbinne mense na die regte plek verwys kan word, maar ook terselfdertyd geestelike genesing kan ontvang.

  

  • Eensaamheid

Daar is baie eensame mense in elke gemeente – veral senior burgers. Hierdie mense kom Sondae alleen by die erediens aan en loop alleen daar weg. Hulle geniet die gratis koffie na die diens, maar wat hulle soek is iemand wat met hulle gesels. Ons moet tyd inruim om met hulle te gesels en hulle te leer ken. Ons moet ook buite die kerk na hulle uitreik.

 Natuurlik verskil elke gemeente – hulle het verskillende sterkpunte. Is ons gewillig om hierdie sake te hanteer? As ons daaroor praat onthou om dit in nederigheid te doen.

 




DIE KERK (1)

James Emery White

Die Kerk (1)

Daar word baie oor die kerk geskryf – meestal negatief. Daar word baie geskryf oor mense wat die kerk verlaat – meestal jongmense. Hoekom verlaat hulle die kerk? Die belangrikste redes is:

 Hulle wil net so ‘n bietjie wegkom van die kerk.

Lidmate van die kerk is veroordelend en vals.

Ek het verskuif na die universiteit en het opgehou om eredienste by te woon.

Verantwoordelikhede by die werk verhinder my.

Woon te ver van ‘n kerk.

Ek is te besig.

Ek voel nie verbind aan die mense by die kerk nie.

Ek verskil van die politieke en sosiale standpunte van die kerk.

Ek wil meer tyd met my vriende buite die kerk spandeer.

Ek het in ieder geval net kerk toe gegaan om ander tevrede te stel.

[LifeWay Research]

Dit gaan veral oor besluite ten opsigte van mense se leefstyl. Mense kry nuwe prioriteite en in die proses val die kerk van die lysie af.

Vraag: Hoe kan enigeen die belang wat Jesus aan die kerk gee nie raaksien nie – al lees hy die Nuwe Testament net oppervlakkig? Luister na Paulus: Ook julle was voorheen ver van God af en vyandiggesind teenoor Hom, soos blyk uit julle sondige lewenswyse. Maar nou het Hy ook julle met Homself versoen deurdat sy Seun as mens gesterwe het om julle heilig, sonder smet en onberispelik voor Hom te stel (Kolossense 1:21 – 22). Maar Paulus gaan verder (vers 24): Ek is nou bly oor al die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur, want die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie. Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy liggaam, die kerk.

Paulus sê dat Christus sy lewe vir die kerk afgelê het om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water van die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Efesiërs 5:26 – 29).

Ons gaan in die volgende blogs kyk na vier beelde van die kerk in die Bybel. Ons gaan begin by die huishouding van God.

Die kerk

Die kerk

Die kerk beleef ‘n moeilike tyd. Almal val oormekaar om die kerk te kritiseer. Maar wat sê die Bybel oor die kerk?

 

Jesus sê dat Hy self die kerk bou: Op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18).

Jesus self is die Hoof van die kerk: Hy is die hoof van die liggaam, van die kerk. Hy is die oorsprong daarvan (Kolossense 1:18). Hy sal tog nie die hoof van ‘n betekenislose organisasie wees nie.

Jesus het die kerk gebruik om gemeenskappe te beïnvloed – en doen dit steeds (Handelinge 2:38 – 41). Sodra dit gebeur verander die gemeenskap.

Jesus is die hoeksteen van die kerk (Matteus 21:42). Daarom bestaan en groei die kerk steeds na 2000 jaar. Geen ander organisasie kon dit nog ooit regkry nie.

Jesus wil nog groter dinge deur die kerk doen. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid en dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus (Efesiërs 3:20 – 21).

Jesus het deur sy kerk ons lewens verander. Daar het ek die evangelie gehoor en my lewe aan Hom oorgegee. Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party se gewoonte is, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan (Hebreërs 10:24 – 25).

(Matteus 24:14), Dit kan tog immers net deur die kerk gebeur.

Natuurlik het die kerk foute, maar ons moet ophou om die kerk af te kraak en eerder die kerk opbou.