Die Seder (2)
Die Seder (2) – Coen Slabber
Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit op hulle skouers gedra … Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie (Eksodus 12:34, 39).
Tydens die agt dae wat die Paasfees gevier word, eet die Jode net ongesuurde brood – die plat, ongesuurde brood wat die pas bevryde slawe geëet het (matzah of matzo of matzoh). Geen suurdeeg – enigiets wat rys as dit gebak word – mag geëet word nie. Die kombuisgereedskap wat normaalweg gebruik word, moet verplaas word met gereedskap wat gebêre word spesifiek vir gebruik tydens die Paasfees. Die huis moet deeglik skoongemaak word en alle suurdeeg moet verwyder word – selfs die krummels wat die kinders gemors het.
Matzah – Ongesuurde Brood
Hierdie verbod op suurdeeg is so streng dat sekere rituele ingestel is om te verseker dat alle suurdeeg verwyder word. Die aand voor die Paasfees is daar ’n seremoniële soektog vir suurdeeg – ’n simboliese laaste geleentheid om enige suurdeeg wat dalk nie raakgesien is nie, te verwyder. Gewoonlik word ’n kers gebruik. ’n Veer word gebruik om die oorblywende “suurdeeg” in ’n houtlepel te vee. Die oggend van Paasfees word al die suurdeeg wat verkry is, verbrand.
Geen suurdeeg mag na 10:00 die oggend van Paasfees geëet word nie. Ons moet onthou die Joodse dag begin met sononder. Alle eersgebore Joodse mans vas die dag.
Nou kom ons by die Seder self. Die tafel word met die beste silwerware gedek. Familielede kom met gewone klere, maar die persoon wat die leiding gaan neem, kom in ’n wit kleed. By die kop van die tafel is die Sederbord met ’n verskeidenheid simboliese kossoorte wat tydens die Seder geëet sal word. Ook byderhand is ’n bord met drie matzah en skottels met soutwater.
Elke deelnemer kry ’n afskrif van die Haggada. Mans en vroue neem deel aan die fees. Belangrike gedeeltes uit die Haggada word in die oorspronklike Hebreeus en Aramees gelees. Gewoonlik word dit in die moedertaal herhaal, sodat almal dit kan verstaan. Die leier sal dikwels die voorlesing onderbreek om die betekenis en interpretasie vir die kinders te verduidelik.
Temas van die Seder
Die rituele en simboliese kosse beklemtoon twee temas: slawerny en vryheid. Sonsondergang was die Jode slawe van die farao. Om middernag volg die tiende plaag – die dood van al die eersgeborenes van Egipte – selfs die eerstelinge van die diere (Eksodus 12:29). Nog daardie selfde nag beveel die farao vir Moses en Aäron om pad te gee. Die deelnemers aan die Seder dink aan die eerste deel van die nag aan slawerny deur matzah (die arm man se brood – ongesuurde brood), bitter kruie (simbool van die bitterheid van slawerny) en Charoset (’n soet pasta wat die messelklei wat die Joodse slawe gebruik het, simboliseer) te eet.
Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslag dié nag wakker bly (Eksodus 12:42).
In die volgende artikel gaan ons kyk na twee belangrike simbole van die paasmaaltyd – die wyn en ongesuurde brood.
Skrywer: Dr Coen Slabber