Kinderdissipline – Hermie van Zyl

Elsie vra:

Ná die afgelope tyd se koerantberigte oor lyfstraf tuis en op skool wat baie gemoedere laat vlam vat het – het julle al enigiets daaroor geskryf, veral na aanleiding van Spreuke 13:24; 29:15?

Antwoord

Prof hermie van Zyl antwoord:

Die hele oogmerk van dissiplinering is om ‘n leefwyse te kweek wat tot eer van God, tot opbou van die individu en tot voordeel van die gemeenskap strek. ‘n Mens maak ook ‘n fout om te dink dat dissiplinering net vir kinders bedoel is; grootmense het dit net so nodig. Die lewe is immers niks anders nie as ‘n lewenslange opvoedingsproses. Maar nou is dit so dat kinders wat nog besig is om die basiese lesse van die lewe te leer, dissipline in ‘n besondere mate nodig het. En dit is in hierdie verband dat lyfstraf kort-kort opduik as ‘n opsie in die dissiplineringsproses.

Vanuit Bybelse oogpunt is dit ook so dat die verhouding tussen God en sy kinders dikwels in terme van dissiplinering uitgedruk word. Dissiplinering dien as ‘n metafoor om bepaalde aspekte van hierdie verhouding te beskryf. Verskillende vertalings gebruik verskillende woorde hiervoor. In die 1933/53-Afrikaanse Vertaling word meesal die woorde “tugtig” (werkwoord) en “tugtiging” (selfstandige naamwoord) vir die onderliggende Hebreeuse en Griekse woorde ingespan. Die 1983-Afrikaanse Vertaling gebruik ‘n groter verskeidenheid van begrippe, soos “straf”, “tug” of “dissiplineer”. Maar dit kom alles op dieselfde neer: Wanneer die verbondsvolk ongehoorsaam is aan God, dan dissiplineer God hulle soos aardse ouers hulle kinders dissiplineer. Dit het niks met gevoelloosheid of wreedheid te doen nie. Inteendeel, dit spruit voort uit God se liefde vir sy kinders en het daarom hulle langtermyn welstand en heil op die oog – sodat hulle mense kan wees wat tot eer van God lewe en ‘n samelewing tot stand bring waar die hart en wil van God, soos onder andere uitgedruk in die Tien Gebooie, sigbaar vergestalt word. Liefde en dissipline is daarom twee kante van dieselfde saak (Spr 3:12; Jer 31:20; Heb 12:4-12; Op 3:19). In ‘n onvolmaakte wêreld is beide nodig. Liefde skep ‘n veilige ruimte waar die kind kan gedy, liefde inspireer, dit laat die kind besef dat die ouers/God dit goed met hom/haar bedoel. En dissipline is nodig omdat ons nie altyd die goeie vanself kies nie. Ons is geneig om af te dwaal, ons eie kop te volg. En dan moet ons vermaan, gestraf en getug word om die verkeerdheid van ons weë in te sien en weer terug te keer na wat wys, goed en reg is.

Die hele gedagte van dissiplinering lê daarom ingebed in die algemene konsep van wysheid van die antieke tyd. Wysheid destyds het te make met hoe die lewe prakties werk, wat goed is vir ‘n mens en wat vermy moet word. Geen wonder nie dat baie van die uitsprake waar God as die dissiplinerende Vader beskryf word, in die sogenaamde wysheidsliteratuur van die Bybel gevind word (Spreuke en Psalms). Wat verder opmerklik is, is dat God van verskillende metodes gebruik maak om sy kinders te dissiplineer. Soms sluit dit aan by die gedagte van lyfstraf, wat in die antieke midde-Ooste geen onbekende verskynsel was nie; trouens, dit was ‘n gegewe in die opvoedingsproses. Die gedagte van die “roede” (stok, lat) wat nie gespaar mag word nie, is dus vanselfsprekend teenwoordig wanneer oor opvoeding gepraat word (bv Spr 13:24; 19:18; 22:15; 23:13; 29:17; Deut 22:18). So gesien word dan beskryf dat God met baie streng maatreëls optree, vergelykbaar met die pynlikheid van lyfstraf (vgl Lev 26:18,28; Ps 39:12; Jer 30:14). ‘n Mens sou ook kon sê dat die ballingskap van Israel niks anders was nie as ekstreme tugtiging of ‘n vorm van “lyfstraf” deur die Here om die volk weer terug te bring na Hom toe (Jer 31:17-18). Ander kere is ‘n ligte teregwysing of bestraffende woord egter voldoende (vgl Deut 21:18 [veronderstel]; kyk ook Spr 1:2-3,8; 6:23). Trouens, in die gewone gang van sake is vermaning eintlik wat normaalweg in die opvoedingsproses gebeur: kinders leer die reëls van die lewenspel deur hulle ouers se voorbeeld en wyse woorde te gehoorsaam en in hulle eie lewe toe te pas. Dis slegs wanneer nie geluister word nie, dat ander, meer ekstreme vorme van dissiplinering nodig word.

Met hierdie vlugtige stukkie Bybelse agtergrond kan ons iets sê oor vandag. Mens moet besef dat ‘n groot gaping ons eie tyd skei van destydse opvattings oor kinderopvoeding, waarvan dissiplinering deel uitmaak. Soos met baie ander dinge kan ‘n mens nie alles wat in die Bybel oor tugtiging voorkom letterlik vandag toepas nie, spesifiek wat lyfstraf betref. Lyfstraf was so deel van die antieke vorm van dissiplinering dat niemand ‘n oog daaroor sou knip nie. Dit was eenvoudig as vanselfsprekend aanvaar; dis ondenkbaar dat in die antieke tyd opvoeding daarsonder kon plaasvind. En dit is dikwels so dat lyfstraf gevrees is omdat dit buitensporig toegepas is. Iets hiervan slaan deur in die woorde van Spr 19:18, en waar die profeet pleit dat die Here “met mate” sal tugtig (Jer 10:24; vgl 30:11).

Maar intussen het opvoedkundige insigte ontwikkel en is daar baie studies gedoen oor die opvoedkundige waarde van lyfstraf. Op sy minste moet gesê word dat opvoedkundiges vandag daaroor eens is dat lyfstraf uiters beperkte opvoedkundige waarde het. Kinders leer die spelreëls van die lewe nie soseer deur die vrees vir (lyf)straf nie, maar deur die voorbeeld wat ouers en ander rolmodelle van die samelewing stel. Met inagneming van die Bybelse gegewens soos hierbo geskets en wat ons vandag weet oor opvoeding, sou mens die volgende riglyne oor dissiplinering kon trek:

  • Die kind moet ervaar dat dissiplinering uit liefde geskied. Die motivering vir ‘n ouer om ‘n kind te dissiplineer mag dus nooit voortspruit uit haat of ‘n begeerte om seer te maak nie, maar omdat die ouer die kind liefhet. Watter vorm van dissiplinering ook al toegepas word, dit moet die ouer eintlik seerder maak as die kind. Die ouer wil nie eintlik tug nie, maar het soms nie ‘n keuse nie, en dan mag nie daarvan weggeskram word nie, omdat die kind se langtermyn heil op die spel is.
  • Die oogmerk van dissiplinering is om ‘n beter situasie te skep as wat vóór dissiplinering gegeld het. Die kind moet die ervaring hê dat daar ‘n beter leefwyse tot stand gebring word as wat die kind op die oomblik het. In die Bybel gaan dit altyd om die wil van God wat deel van die kind van God se leefwyse moet word. As God se volk hiervan afwyk, is daar negatiewe gevolge wat nie vir God aanvaarbaar is nie, en mag daar slegte dinge gebeur wat sy kinders weer wil terugbring na gehoorsaamheid aan die wil van God, omdat laasgenoemde uiteindelik die beste is. In dissiplinering moet daar dus altyd by die kind ‘n besef gekweek word van waarheen die ouer met die kind op weg is en watter leefstyl graag by die kind gekweek wil word. Dissiplinering is ‘n middel tot ‘n doel, nie ‘n doel in sigself nie.
  • Daar is nie net een vorm van dissiplinering nie. Ons het hierbo daarop gewys hoe bestraffende woorde en lyfstraf in die antieke eintlik hand aan hand gegaan het. Selfs in ‘n kultuur waar lyfstraf die aanvaarde vorm van dissiplinering was, was dit nooit as die enigste vorm van straf of dissiplinering gesien nie. Dit was altyd ingebed in ‘n breër konteks van opvoeding wat ten doel het om te vorm, op te voed, te beskerm en uit te daag om die norme van die ouer, God en die samelewing te aanvaar. Vandag sou mens kon sê dat indien lyfstraf wel nog as deel van die opvoedingsproses gesien wil word, dit seer sekerlik net een aspek van dissiplinering is. Daar is baie maniere waarop die kind op ‘n pynlike manier kan ervaar dat dit beter is om te luister as om nie te luister nie, om gehoorsaam te wees as om ongehoorsaam te wees. Byvoorbeeld, bepaalde voorregte wat die kind dalk as vanselfsprekend aanvaar of wat vir hom/haar baie belangrik is, kan die kind tydelik ontneem word om die kind te laat besef dat alles nie vanselfsprekend in die lewe is nie. Die probleem met lyfstraf is dikwels dat die kind, veral groter kinders, dit as vernederend ervaar, en natuurlik dat dit soms in ‘n oomblik van woede toegepas word wat maklik kan hand uitruk en ontaard in fisieke aanranding. Die gevolge hiervan is dus alles behalwe van positiewe opvoedkundige waarde vir die kind. Inteendeel, daar kan allerlei negatiewe gevolge vir die verhouding tussen ouer en kind wees (soos vrees en terugtrekking) wat die opvoeding van die kind eerder strem as bevorder. Dit is dus altyd beter om wanneer ‘n kind gedissiplineer moet word, ‘n vorm van straf te kies wat verantwoord is, ‘n rasionele basis het (moet pas by die situasie, die ouderdom en aard van die kind), binne aanvaarde norme geskied (dit mag nooit ontaard in fisiese aanranding nie), en waarvan die kind ook die sin kan insien.

Om dus saam te vat: Indien lyfstraf steeds gesien word as toepaslik vandag, moet dit in elk geval as ‘n klein onderdeel van ‘n omvattende proses van dissiplinering verstaan word en nie as die aller antwoord vir alle probleme wat ‘n ouer met ‘n kind mag hê nie. Verder moet dit binne bostaande riglyne uitgevoer word. Die ideaal sou egter wees om lyfstraf sover moontlik te vermy en eerder ander vorme van dissiplinering te gebruik wat meer opvoedkundig verantwoord is. Maar dissiplinering moet daar wees, anders word die kind nie voorberei vir die eise van die lewe nie en kan hy/sy nie sy/haar plek as volwaardige mens en volwassene in die lewe inneem nie.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Selfbeheersing en dissipline

 

 “Here ends another day, during which I have had eyes, ears, hands and the great world around me. Tomorrow begins another day. Why am I allowed two?”  G.K. Chesterton

 

Selfbeheersing en dissipline

Baie van ons leef twee verskillende lewens – een waarvan hou, maar moeilk is om vol te hou; een wat ons haat, maar waartoe ons dikwels versoek word. Die eerste lewe is een van selfbeheer en dissipline; die tweede is ‘n lewe van onstabiliteit.

 

Die Bybel beveel selfbeheer en dissipline aan: selfbeheersing is ‘n vrug van die Gees (Galasiërs 5:23); Oefen jou lierwer om in toewyding aan God te lewe (1 Timoteus 4:7). Ongelukkig is selfbeheersing ‘n deug wat ons maklik ignoreer.

Ons is ongemaklik met die idee van selfbeheer en beklemtoon eerder genade. Ons is opgewonde oor die vryheid van die evangelie, maar die evangelie bevry ons nie van selfbeheer nie.

 

Selfbeheer en dissipline is gawes wat ons moet gebruik om sonde te beheer en heiligmaking te bevorder. Omgelukkig word ons so maklik verlei na ‘n lewe van verwarring en onstabiliteit. Ons word beïnvloed deur die ou mens (die mens wat ek was) en die nuwe mens (die mens wat ek besig is om te word) word verwaarloos. Die nuwe mens sien elke oomblik as ‘n gawe van God en wat goed gebruik moet word; die ou mens ignoreer tyd en geleenthede. Die nuwe mens sien dat gewoontes vernuwe kan word; die ou mens aanvaar dit as ‘n inherente swakheid wat nie verander kan word nie.

 

Is dit nie tyd dat ons ons weer aan ‘n lewe van selfbeheer toewy nie? Daar is geen beter tyd as juis nou nie.