Jesus besoek die doderyk – Hermie van Zyl

Lizette vra

In watter boek van die Nuwe Testament besoek Jesus die doderyk?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Die gedeelte wat ter sprake is, is 1 Petrus 3:19-20. Letterlik staan daar: “So het Hy (Christus) gegaan en ook vir die geeste in die tronk gepreek, wat destyds ongehoorsaam was, toe God in Noag se dae geduldig gewag het terwyl die ark gebou is, waarin min, naamlik agt persone, deur die water gered is.” Soms word 1 Petrus 4:6 ook by dié saak betrek. Daar staan: “Want hiervoor is die evangelie ook aan dooies verkondig sodat hulle soos gewone mense geoordeel kan word wat die liggaam betref, maar in die gees kan lewe, soos God lewe.”

Die vraag is hoe dié gedeeltes verstaan moet word. Wat 1 Pet 3 betref, is die verklaring wat vandag deur die meeste Bybelkenners aanvaar word, die volgende: Die “geeste in die tronk” is die gevalle, sondige engele waarvan ook in 2 Pet 2:4 en Judas v6 sprake is. In die buite-Bybelse Joodse geskrifte van destyds, soos 1 Henog, wat goed bekend en baie gewild was onder die Jode, word ook melding gemaak van hierdie geeste of gevalle engele wat deur God in gevangenskap gehou word tot en met die oordeel. En die plek van aanhouding is waarskynlik die doderyk. Daar was destyds die siening dat die doderyk ook ’n plek van aanhouding was (vgl Op 20:1-7; 2 Pet 2:4). Volgens 1 Henog moes Noag aan die bose engele God se oordeel gaan aankondig.

Die agtergrond van hierdie sondige engele lê in Gen 6:1-4, waar gepraat word van die “hemelwesens” wat met die dogters van die mense getrou het, en waaruit die “reuse” ontstaan het. Dit was in die tyd net voor Noag op die toneel verskyn het. Daarom dat 1 Pet 3:20 melding maak van die geeste wat destyds in Noag se tyd ongehoorsaam was toe hy die ark gebou het. God het volgens Joodse denke egter hierdie gevalle engele veroordeel en hulle gevange gehou tot die eindoordeel. Maar tog was daar die vrees by baie Jode en latere Jode-Christene dat hierdie engele of “geeste” steeds gevaar inhou vir gelowiges.

Petrus het waarskynlik by hierdie bekende tradisie aangesluit. Wat hy nou doen, is om te sê dat Christus se oorwinning oor die dood so kragtig en allesomvattend is dat dit selfs gevolge inhou vir hierdie bose engele in die gevangenis. Na sy dood het Christus gegaan en aan hierdie geeste aangekondig dat Hy die oorwinning behaal het oor alle magte, ook oor die dood en bose engele. En die troosboodskap vir die lesers van 1 Petrus is dat hierdie bose engele nou geen gevaar meer inhou vir die gelowiges nie. Hierdie “prediking” van Christus aan die “geeste in die gevangenis” het dus niks te make met die evangelieprediking om hulle tot bekering te bring nie, maar is bloot daarop gemik om Christus se oorwinning oor alle bose magte aan te kondig.

Vervolgens sluit Petrus aan by die vloedwater in die tyd van Noag en laat slaan dit simbolies op die doopwater (v20-21). Net soos wat die vloedwaters vir dié binne die ark redding gebring het, so bring die doopwater vir die huidige gelowiges ook redding, deurdat hulle nou ’n skoon gewete het voor God. Vers 22 sluit dan af met die gedagte dat Christus nou aan die regterhand van God is en dat alle engele, magte en kragte aan Hom onderwerp is, dieselfde gedagte wat hy in v19 wou belig.

Wat 1 Pet 4:6 betref, moet dit nie met 1 Pet 3:18-19 in verband gebring word nie. Die “dooies” van 4:6 is gewoon die gelowiges wat eens geleef het maar nou dood is. Al wat Petrus hier sê, is dat aan hierdie gelowiges die evangelie verkondig is toe hulle nog op aarde geleef het. En hoewel hulle gesterf het, leef hulle nou by God.

Skrywer:  Prof Hermie van Zyl




Die Doderyk – Vraag

Die Doderyk – Francois Malan

Daleen vra:

Is die doderyk ‘n Godverlate plek soos in Psalm 88 ? Hoe heers God in die doderyk ?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Ps 88 is die swaarmoedigste van alle psalms; van ‘n persoon wat lankal ernstig siek is. Hy voel van God verlate, en al sy vriende het hom almal verlaat, moontlik as  gevolg van sy siekte. Hy is nog nie dood nie, maar verwag die dood enige tyd:  in vv4,5 sê hy: ek vat al aan die doderyk; ek staan al met die een voet in die graf.

Maar Hy voel nie van God verlate nie, wel verlate van God se guns. Hy sien juis sy ellende as iets wat van God af kom:

V7 U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.

V8 U gramskap rus swaar op my; U laat u golwe oor my breek

V9 U laat my bekendes ver van my af staan en maak my vir hulle iets afskuweliks

V15 Waarom verstoot U my, Here, waarom trek U U van my af terug?

V16b Dit is ‘n swaar las waarmee U my teister

V17 U toorn rus op my, U tref my met skrik en vernietig my

V19 U laat my vriende en my bure ver van my af staan.

Maar die heeltyd is hy slegs met God besig, en praat hy aanmekaar met God, stel hy sy nood aan God.

Die woord doderyk (vir die Hebreeuse sjeool in die OT en Griekse hades in die NT) word in die Bybel gebruik om die toestand aan te dui van die dooies. Die wêreldbeeld van die oudheid het die doderyk beskou as ‘n gebied diep onder die aarde (vgl, Numeri 16:31-33 waar die aarde oopgeskeur het en Korag en sy opstandige vriende lewendig in die doderyk afgegaan het; Job 38:17 praat van die ingang van die doderyk by/onder die see v16). Hulle is beskou as sonder gemeenskap met God (Ps 88: 6b dié aan wie U nie meer dink nie en van wie U U hand teruggetrek het. Ps 6:6 sê: iemand wat dood is kan tog nie U naam bely nie; en vra dan: kan iemand in die doderyk U prys? In Ps 18:6 is die doderyk sinoniem vir die dood, ook in Ps 34:4 en Ps 49:15.

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus skets Jesus die toestand van die dooies heelwat anders, met die ryk man in die doderyk in die plek van pyniging vanwaar hy na Abraham roep, met Lasarus in die ereplek langs Abraham (Luk 16:19-31).

In Matteus 25:41 beskryf Jesus die ewige straf as ‘n ewige vuur wat God vir die duiwel en sy engele en ongelowiges berei het; en in vers 34 word die gelowiges deel van die koninkryk van God wat van ewigheid vir hulle berei is. Openbaring  20:9,10 beskryf die ewige vuur wat God stuur as straf vir die duiwel en sy volgelinge, en in vers 15 word die mense wie se name nie in die boek van die lewe staan nie ook daarin gegooi.

Die doderyk is dus nie van God verlate nie, maar vir dié wat Jesus se verlossing verwerp, is dit die plek van God se straf op die sondaars en hulle sonde; terwyl Paulus sê: om heen te gaan en met Christus te wees, is verreweg die beste (Filippense 1:23) en in Romeine 8:35-39 sê hy dat niks, nie eers die dood, ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus ons Here is nie.

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Die doderyk

Die doderyk – Francois Malan

Amanda vra:

Waarheen gaan die Christen en Nie Christen as hulle sterwe. Kan u asb vir my meer inligting gee oor die DODERYK.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die woord doderyk is ‘n vertaling van die Hebreeuse woord sjeool wat 65 maal in die Ou Testament voorkom en deur die Griekse vertaling van die Ou Testament met hades vertaal is. In die Afrikaanse vertaling word dit vertaal as ‘die dood’ (bv. Spr.1:12) doderyk (Spr.27:20; 30:16; Jes.5:14; Hab.2:5). Deutr. 22:22 sê dit is daaronder; Job 10:21-22 dink dit is stikdonker; 11:8 dit is diep; Jes.7:11 diep uit die doderyk; Ps 139:8 gaan lê ek in die doderyk, U is daar.

Die ou gedagte was dat ‘n mens vir ewig in die doderyk ingaan (Job 7:9-10; 16:22; Pred.12:5 praat van ‘n ewige woning). Na die ballingskap word gepraat van ‘n opstanding uit die dood (Jes.26:19; Dan.12:2).

In die Nuwe Testament: in Lukas 16:19-31 vertel Jesus ‘n gelykenis van die ryk man in die doderyk hades en Lasarus wat na die ereplek, die boesem van Abraham, gedra is. Mat.11:23 praat ook van afdaal na die doderyk; 12:40 van binne in die aarde; Openb. 20:3 van ‘n onderaardse diepte; 1:18 van die sleutels van die dood en die doderyk; Openb.20:14 sê die dood en die doderyk is tydelik, en word op die oordeelsdag in die vuurpoel gegooi, ook diegene wie se name nie in die boek van die lewe geskryf is nie 20:15.

Die doderyk is die staat van die dood, waarin die afgestorwenes ná hulle dood en vóór hulle opstanding verkeer (1 Sam.2:6). Oor die aard van hierdie toestand laat die Skrif hom nie uit nie, behalwe dat dit duidelik is dat die lot van die gelowiges en ongelowiges nie dieselfde is nie, soos die gelykenis van die rykman en Lasarus sê.

Ons mense is in ons denke aan tyd en ruimte gebind het nie ‘n begrip van ewigheid waar 1000 jaar gelede by God vandag is, en 1000 jaar vorentoe ook vandag is nie. Ook nie ‘n begrip van alomteenwoordigheid nie.

Die gelowige kinders van die Here gaan egter na die ewige wonings (Lk 16:9), na die paradys 23:43; by die Here (2 Kor. 5:8), met Christus verenig (Flp.1:23), in die hemelse Jerusalem (Hebr. 12:22).

Jesus praat in die gelykenis van die skape en die bokke oor die oordeelsdag in Matteus 25:31-46 as Hy weer kom en die mense sal skei: die wat deur sy Vader geseën is en die wil van God gedoen het, sal hy nooi om deel te word van sy koninkryk (vv34,46). Die wat nie die wil van God gedoen het nie, word ‘vervloektes’ genoem, ontvang die ewige straf, hulle word na die ewige vuur gestuur wat God vir die duiwel en sy engele berei het (vv41,46).

 

Skrywer: Prof Francois Malan




Wat gebeur met die mens na sy dood?

Wat gebeur met die mens na sy dood? – Jan van der Watt

Roelf vra:

Wat gebeur met ‘n mens (a) gelowige en (b) ongelowige wanneer hy/sy sterf. 1. Die sterwensproses, 2. Direk na die dood. (5 Minute)?

Antwoord:

Prof Jan van der Watt antwoord:

Die vraag wat gebeur met ons as ons sterf is moeilik om te beantwoord, omdat dit nie reguit in die Bybel gesê word nie. Daar is dele soos Jesus wat aan die man langs Hom aan die kruis sê dat hy vandag saam met hom in die paradys sal wees (Luk 23:43), Lasarus is na sy dood by Abraham terwyl die ryk man swaarkry in die doderyk (Luk 16:19-31), of die gedeelte in Filippense  1:23 waar Paulus sê dat dit vir hom beter is om te sterf en by Christus te wees waaruit afgelei word dat gelowiges na hulle dood by Jesus sal wees. Aan die ander kant lyk dit of die gelowiges wat dood is nie by Jesus is nie, want volgens 1 Tessalonisense 4:16 moet hulle eers opstaan uit die dood om Jesus tegemoet te gaan. Die Bybel is dit egter redelik eens dat mense wat sterf na die doderyk toe gaan tot Jesus weer kom. Jesus is self na die doderyk (gevangenis) toe hy gekruisig is (1 Petrus 3:19). Dan sal hulle opgewek word en voor die regterstoel van God verskyn (bv. Openbaring 20). Die kinders van God sal na die nuwe Jerusalem gaan en die ander na die ewige doderyk.

Wat direk na die dood gebeur sê die Bybel niks oor nie. As mense dink hulle weet dit, is dit maar net hulle eie spekulasie. Kyk ook die ander artikels oor die tussentoestand en doderyk.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt