Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hel

Hel/Verderf/Verdoemenis/Vuurpoel

(*Oordeel, *Toorn, *Straf van God) • Doderyk (sjeool, hades) • Hel (gehenna)

Die doderyk (Hebreeus: sjeool, Grieks: hades) kry ons in die Ou Testament en die hel (Grieks: gehenna) in die Nuwe. Verderf, ver­doemenis en vuurpoel is alternatiewe benamings vir die hel.

Ons moet ‘n duidelike onderskeid maak tussen die Ou Tes­ta­ment en die Nuwe. In die Ou Testament is net van die doderyk sprake. Dis eers in die Nuwe Testament dat ons van die hel lees. Volgens die Ou Testament het alle mense na die doderyk gegaan, en was daar geen onderskeid tussen regverdiges en onregver­diges nie. Volgens die Nuwe Testament gaan die goddelose na die hel, ter­wyl die gelowiges uiteindelik na die hemelse heerlikheid van God op die *nuwe aarde gaan.

  • Doderyk (sjeool, hades)

Die voorstelling van die Ou Testament is dat die doderyk onder die aarde is en die teenoorgestelde is van die boaardse, hemelse sfeer van lig en lewe. Dis ‘n plek van duisternis en doodse stilte. Alle dooies gaan daarheen en daar is geen onderskeid tussen hulle nie. Dit is ‘n weer­sinwekkende plek en die gelowiges pleit sonder ophou by God om hulle nie daarheen te laat gaan nie. Volgens Job is die doderyk ‘n stikdonker land, ‘n land van don­ker nag met diep duisternis, waar niks georden is nie, ja, waar die lig self donker is (10:21-22). Die psalmdigter praat van die dooies as dié aan wie God nie meer dink nie en van wie Hy sy hand teruggetrek het, en verderaan vra hy retoriese vrae soos: “Sal U met dooies ‘n wonder laat gebeur? Kan gestorwenes opstaan en U loof? Word daar in die graf (‘n ander woord vir doderyk) vertel van u troue liefde? Word daar in die plek waar almal vergaan, van u trou vertel? Sal u wondermag ondervind word in die duisternis van die dood, u redding in die land van vergetelheid?” (88:6, 12 ev).

 

Hiskia is die klassieke voorbeeld van hierdie weersin in die doderyk. Hy kry die boodskap van Jesaja dat hy gaan sterf, en dan wend hy hom op ‘n dramatiese manier tot God (Jes 38). Hy pleit om nog langer te lewe. Die Here verhoor sy gebed, en dan kry ons sy lied met sy belewing van sy siekte en sy reaksie teen die dood en veral teen die doderyk (38:9-20).

 

Waarom sien hy nie kans om te sterf nie? Omdat hy na die do­deryk moet gaan. En “in die doderyk kan niemand U loof nie, geen­een wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie! Net hulle wat nog lewe, kan U loof, so doen ek dit vandag” (38:18-19).

Dit klink vreemd om daaraan te dink dat dit juis die vromes is wat nie kans sien om te sterf nie. Waarom nie? Dis duidelik uit die aanhalings wat reeds gedoen is dat dáár geen verwagting meer is van gemeenskap met die Here nie. Hiskia sê: “In die doderyk kan niemand U loof nie. Net hulle wat nog lewe, kan U loof” (38:18-19).

 

Dit is aangrypend dat sy diepste behoefte, wat nie meer in die doderyk vervul kan word nie, is om God te loof. Is dit ook joune?

 

  • Hel (gehenna)

Dié woord kom van die naam van ‘n dal suid van Jerusalem wat die (Ben) Hinnomdal genoem is. Dit was die stad se vuilgoedhoop wat altyd gesmeul het. Volgens die Nuwe Testament is die hel ‘n vreeslike plek waar ‘n onblusbare vuur brand, ‘n donker plek waar mense altyd sal huil en op hul tande kners, ‘n plek wat gemaak is vir die duiwel en sy engele. Dit word ook die verderf, die vuurpoel, en die verdoemenis genoem (Mark 9:43 ev; Matt 25:30; Op 20:14 ev; 2 Tess 1:9).

Die gedagte van ‘n massa mense wat vir ewig in die aller­vrees­likste smarte sal wees, is vir ons moderne lewensgevoel so aanstoot­lik dat dit omtrent heeltemal uit die woordeskat van die Christen­dom verdwyn het. Dis seker net in uitsonderlike gevalle dat daar nog ernstige aandag daaraan gegee word. Dit is ook moeilik om sinvol in verband gebring te word met ‘n God van liefde.

Maar ons moet ook nie ons moderne menslikheidsgevoel ver­absoluteer nie. Daar is inderdaad harde kante aan die boodskap van die Bybel wat waarskynlik eerder bedoel is om ons te waar­sku as om redenasies uit te lok.

Skrywer: Prof Adrio König




Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Het Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek?

Sommiges wonder hier rondom die tyd van Paasfees oor die vraag of Jesus werklik vir die mense in die doderyk gepreek het.

In die Bybelse tyd is geglo dat alle mense na hulle dood na die doderyk onder die aarde gaan wat in Grieks Hades genoem is. Ek onthou self uit my kategese dae in die vroeë tagtiger jare hoe die dominee die storie vertel het van hoe Jesus met sy kruisdood na die hel neergedaal het en daar gepreek het vir almal van Adam en Abraham dwarsdeur tot anderkant Noag en die vloed. Die wat sy prediking geglo het en tot bekering gekom het, het dan saam met hom na die hemel toe gegaan (vgl. die Apokriewe Evangelie van Nikodemus [450-550 n.C. geskryf] hoofstuk 17-27 en veral 25). Was dit regtig so, en waar lees ons dit? Kom ons kyk of ons op die spoor van hierdie vraag kan kom.

Ons reis begin in 1 Petrus 3:18-19 en ons maak met die eerste oogopslag by die Afrikaanse Ou Vertaling oop wat lui:18Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring-Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;19in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis.” En daar het jy dit, dit staan tog daar in Ou Vertaling! Het ons dus alles daaroor gesê? Inderdaad nie! Indien ons dit met die Nuwe Vertaling vergelyk, sien ons ‘n interessante ander perspektief. Die Nuwe Vertaling lui: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig.”

Sien jy die duidelike verskil? In die Ou Vertaling staan daar Jesus het gepreek vir die geeste in die gevangenis en in die Nuwe Vertaling staan daar dat Jesus sy oorwinning aangekondig het. Die twee vertalings verskil wesenlik van mekaar, veral as jy aan die implikasie daarvan dink. Dit is egter belangrik om na die groter konteks van die paar verse te kyk. In die volgende verse word verder gekwalifiseer wat met die geeste in die gevangenis bedoel word. Die konteks dui op die volgende: “19En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Die groot vraag is dan wie was hierdie geeste presies? Die woord in Grieks wat hier gebruik word vir geeste verdien aandag. Dit word volgens sommige geleerdes in die NT 99% van die kere gebruik om te verwys na bonatuurlike onrein geeste en nie na mense nie. Dit wil volgens navorsing egter voorkom of 1 Petrus deur die Joodse tradisie van 1 Henog (15:8-10) beïnvloed is waar die geeste moontlik verwys na die engele van Genesis (6:4) wat met die mense gemeenskap gehad het en die onrein geeste wat daaruit voortgekom het wat in die hel gebind word (vgl. 1 Henog 10.4-6, 12-14; 13.1; 14.5; 18.14-16; 21.6, 10) In die tweede Petrus brief wil dit lyk of hierdie gedagte elders ook voorkom soos in 2 Petrus 2:4 waar daar verwysing is na die engele wat in Noag se tyd gesondig het en in die hel gestort is: “4God het selfs die engele wat gesondig het, nie gespaar nie. Hy het hulle in die hel gestort en hulle laat boei om in die duisternis gevange gehou te word vir die oordeel.” Dit herinner ook aan Judas 6 (wat tematies en tekstueel aansluit by 2 Petrus) wat soos volg lui: “6Dink ook aan wat gebeur het met die engele wat hulle nie binne hulle eie magsgebied gehou het nie, maar hulle aangewese woonplek verlaat het. God het hulle met onbreekbare kettings gebind en hou hulle in duister dieptes vir die oordeel van die groot dag.” Die woord gevange gehou (fulakê) kan ook dui op die wat onder sekuriteit gehou word. Indien dit so verstaan word as dat Jesus sy oorwinning aangekondig het aan die onrein geeste wat onder sekuriteit gehou word, kry die teksgedeelte nuwe implikasies en betekenis. Myns insiens het Jesus dus ‘n sterk boodskap van oorwinning gaan aankondig sodat elke knie (bo en onder die aarde) sou buig en elke tong moet bely Jesus is Here en dat hy die angel en mag van die dood oorwin het (vgl. Filippense 2:9-11). Dit is die belangrike punt van die teksgedeelte. 

 

Skrywer: Dr Kobus Kok