Die Groot Geloofswoordeboek: Dood en Lewe na die dood
Dood
Die woord “dood” word in die Bybel in minstens vyf betekenisse gebruik:
• dood as ‘n toestand wanneer die biologiese lewe opgehou het
• dood as ‘n bose mag
• dood as die geestelike toestand van iemand wat nie die Here ken nie
• dood as deel van die oorwinning van ‘n gelowige oor die sonde (dood vir die sonde)
• dood as die ewige verderf
Die eerste twee betekenisse kry ons alreeds in die Ou Testament.
Eerstens dood as die beëindiging van die gewone biologiese lewe. In die Ou Testament is hierdie dood egter nooit ‘n onskuldige saak nie. Inteendeel, dit was juis vir die gelowiges ‘n skrikwekkende bedreiging. Juis omdat iemand die Here liefhet, sien hy of sy nie kans om te sterf nie (Jes 38:1-22). Dit beteken dat die tweede betekenis van dood, dood as ‘n bose mag, van die begin af deel van die biologiese dood was. Om dood te gaan was die beëindiging van gemeenskap met die Here in ‘n totaal hooplose en uitsiglose toestand, weggeruk uit die teenwoordigheid en die mag van die Here, en uitgelewer aan die mag van die dood (Job 10:20-22; Ps 88:4-13). Hierdie uitsiglose bestaan onder die mag van die dood kon nie regtig “lewe na die dood” genoem word nie omdat ware lewe net in gemeenskap met God bestaan het.
Die dood het van die begin af hierdie bedreigende karakter. Volgens Genesis 2:17 het die dood as straf op die sonde gekom juis in die sin dat dit soos die sonde die mens uit God se gemeenskap sal vervreem. Die Ou Testament weet dus nie van ‘n biologies “onskuldige” dood nie. Die dood is ‘n straf en ‘n bedreiging.
In hierdie lig is dit volkome duidelik waarom die evangelie in die Nuwe Testament as opstandingsevangelie begin. (*Opstanding) Die dissipels heg aanvanklik geen heilswaarde aan die *kruis nie. Dit is ‘n skanddaad, selfs ‘n moord. Hulle is getuies van Jesus se opstanding (Hand 3:15; 4:10; 5:30, 32). Selfs die vergifnis van sonde wat hulle verkondig, word aanvanklik nie aan sy kruis verbind nie (Hand 3:19; 5:31). Eers Paulus doen dit baie later, die eerste keer in Galasiërs 1:4. Die opstanding is die evangelie wat hulle aanvanklik verkondig omdat die dood die groot probleem in die Ou Testament was. En nou is die mag van die dood gebreek, al is die dood (as mag) nog nie vernietig nie. Paulus noem die dood “die laaste vyand wat vernietig word” by die wederkoms van Christus (1 Kor 15:26). Maar nou weet hulle dat hulle selfs deur die dood heen in gemeenskap met God sal bly.
Die derde en vierde betekenisse van dood is baie interessant. Ongelowiges én gelowiges is “dood”, ongelowiges vir God, en gelowiges vir die sonde.
Die derde betekenis: Ongelowiges is dood vir God (Ef 2:1 ev). Dit beteken dat hulle God nie kan dien nie. ‘n Mens kan die begrip *wedergeboorte hiermee in verband bring: hulle moet van God nuwe lewe ontvang om in staat te wees om Hom te dien. ‘n Mens moet dit nie so verstaan dat ‘n mens jou nie kan bekeer voor jy weergebore is nie, en ook nie dat ‘n mens eers tot *bekering moet kom voor jy weergebore word nie. Beide is misverstande. (*Heilsweg)
Die vierde betekenis: Gelowiges is dood vir die sonde. Ons kry dit veral by Paulus. Ons is deur die *doop en die *geloof aan Christus verbind sodat ons deel in alles wat met Hom gebeur het: sy lyding, kruisiging, dood, opstanding. Omdat Hy vir die sonde gesterf het, deel ons in sy dood vir die sonde, net soos ons nou deel in sy lewe vir God omdat Hy van God ‘n nuwe lewe ontvang het (Rom 6:3-10). Paulus se uiteensetting eindig kort en saaklik: “Julle moet dus altyd onthou dat ook júlle (nie net Jesus nie) vir die sonde dood is, maar vir God lewe omdat julle een is met Christus Jesus” (Rom 6:11). Om só dood te wees vir die sonde beteken nie dat die gelowiges vanselfsprekend geen sonde kan doen nie. Maar dit beteken wel dat hulle weerstand teen die sonde kan bied en nie langer in diens aan die sonde hoef te leef nie (Rom 6:12 ev).
Die vyfde betekenis waarin dood gebruik word, is die verderf. Daar is die algemene waarheid dat die loon wat die sonde gee, die dood is (Rom 6:21-23), en dan die spesifieke verwysing na “die tweede dood” (Op 20:6) wat op die verderf slaan (Op 21:13). In hierdie geval sou die eerste dood dan óf die dood-in-sonde wees, óf die dood as die einde van die biologiese lewe.
Lewe na die dood
Omdat die dood in die Ou Testament die beëindiging was van die gemeenskap met God, kon daar nog nie sinvol oor lewe na die dood gepraat word nie. Gelowiges kon nie dink aan werklike lewe buite gemeenskap met God nie. Dit was juis die oorsaak vir hulle vrees vir die dood: hulle verloor hierdie gemeenskap. Al was daar dan ‘n soort skimbestaan na die dood was dit hoegenaamd nie die woord “lewe” werd nie. Hulle was onder die mag van die dood afgesny van God.
Baie mense meen dat hierdie probleem “oorwin” word deurdat daar ‘n *onsterflike siel is. By die dood is dit net die *liggaam wat doodgaan. Die *siel is onsterflik en gaan dadelik na God toe.
Daar is egter nie regtig so ‘n gedagte in die Nuwe Testament nie. Net God is onsterflik (1 Tim 6:16). Die gedagte dat ‘n mens ‘n onsterflike siel het, kom van Plato af wat nie die skrikwekkende werklikheid van die dood wou aanvaar nie.
Die Bybel het ‘n ander antwoord. Ons het reeds gewys op die feit dat die evangelie aanvanklik die opstandingsevangelie was. Dít is die Christene se hoop en troos. Jesus het uit die dood opgestaan en só die dood oorwin. Deur die *doop gee Hy ons deel aan sy opstandingslewe sodat ons nou reeds deel het aan ‘n lewe wat deur die dood heengegaan het en oorwinnend anderkant uitgekom het. Selfs as ons nou sterwe, het ons nog steeds deel aan hierdie lewe en bly ons in Jesus se gemeenskap.
“Die lewe na die dood” is ons aandeel aan Jesus se opstandingslewe, nie ons eie kwaliteit dat ons in onsself iets het wat sterker is as die dood en ongeskonde deur die dood heengaan nie. As dit waar was, het die gelowiges in die Ou Testament in ‘n waan verkeer en heeltemal onnodig die dood gevrees. Nie ons eie onsterflikheid nie, maar Jesus se oorwinning oor die dood is ons hoop en ons troos.
Woorde gemerk met ʼn * word elders bespreek
Outeur: Prof Adrio König