Leef uit jou Doop: 1.4 Verwarrende terme
Leef uit jou Doop: Verwarrende terme – Adrio König
1.4 Verwarrende terme
Wanneer groepe in ’n stryd teen mekaar gewikkel is, kan daar baie verwarring kom. Die stryd teen die middel van die vorige eeu het so eensydig oor die kinderdoop gegaan, dat daar eenvoudig verwys is na “kinderdoopkerke” en “grootdoopkerke”. Dit is taamlik algemeen aanvaar dat die Afrikaanse kerke “teen die grootdoop” is. Die stryd sou dan gegaan het tussen die kinderdoop en die grootdoop.
Maar sulke onnoukeurige stellings maak die verwarring net groter. En al het ons, Goddank, die stryd (hopelik!) agter die rug, sit ons nog met hierdie verwarrende terme. Die Afrikaanse kerke was nooit teen die grootdoop nie. Daar is trouens geen kerk in die hele wêreld wat teen die grootdoop is nie. Wat sou so ’n kerk maak met mense van buite die kerk wat tot geloof kom en lidmate wil word?
Ongelukkig het die Afrikaanse kerke bitter min grootdope gehad – en het nog steeds bitter min, maar in beginsel aanvaar elke kerk met vreugde die voorreg om mense van buite die geloofsgemeenskap te verwelkom en te doop as hulle tot geloof gekom het.
Die situasie is dat die Afrikaanse kerke twee vorms van die Christelike doop aanvaar, kinderdoop én grootdoop, maar dat die Pinksterkerke net grootdoop aanvaar. Dit was dus deur en deur ’n stryd vir of teen die kinderdoop. Dit is dus net so verwarrend om van die Pinksterkerke te praat as grootdoop-kerke”. Alle kerke is “grootdoopkerke”. Dit is natuurlik die praktiese situasie wat aanleiding gegee het tot die misverstand dat die Afrikaanse kerke teen die grootdoop is. Die Pinksterkerke bedien nét die
grootdoop, en die Afrikaanse kerke het byna net kinderdoop. En verder het die Afrikaanse kerke altyd die kinderdoop verdedig en byna nooit spesifiek na die groot doop verwys nie. Dit het hulle in die volksmond met die kinderdoop geïdentifiseer.
Uit hierdie situasie het nog ’n misverstand ontwikkel. In die historiese kerke is die grootdoop uiters belangrik, omdat dit die werklike groei of wins op die wêreld is. Die kinderdoop daarenteen, dui op die behoud van wat God aan sy kinders gee. Maar in die Pinkster- en Charismatiese kerke is alle dope grootdope. Dit beteken dan vir sommige dat juis dit wonderlike groei en wins op die wêreld wys,
terwyl die Afrikaanse kerke stilstaan. Maar die “pragtige groei” kan ’n misverstand wees. Natuurlik het die Pinkster- en Charismatiese kerke baie grootdope, maar wie doop hulle? Doop hulle buitestanders, mense wat van buite die kerk inkom? Is dit nie so dat hulle eintlik omtrent net twee ander groepe mense doop nie?
♦ Hulle doop hulle eie kinders, maar hulle doen dit net later as wat die Afrikaanse kerke dit doen, met grootdoop in plaas van kinderdoop, maar dis nie ’n wins op die wêreld nie. Net soos in die Afrikaanse kerke is dit die behoud van dit wat God hulle gegee het.
♦ En hulle doop lidmate van ander kerke wat na hulle oor kom. Ongelukkig is dit ook nie ’n wins op die wêreld nie, maar ’n verskuiwing tussen die kerke.
Net soos die kinderdoop, is die Pinksterwêreld se grootdoop dus ook hoofsaaklik ’n behoud van wat klaar binne is. Dit beteken die waarheid is, seer genoeg, dat nie een van die groepe beduidende groei op die wêreld vertoon nie. Dit is ’n ontstellende situasie.
Verder kan ook die terme “grootdoop” en “kinderdoop” self verwarrend wees. Ondersteuners van die kinderdoop praat soms van “verbondsdoop”, en teenstanders van die kinderdoop praat graag van die grootdoop as “geloofsdoop” of “belydenisdoop”. Sommige van hierdie groepe wil ook nie van “kinderdoop” praat nie, maar van “kinderbesprinkeling” omdat hulle oortuig is dat babas glad nie gedoop kan word nie.
Maar ook hierdie terme klaar nie die verwarring op nie. Dit is misleidend om van die kinderdoop as “verbondsdoop” te praat omdat ook die grootdoop die dopeling in die verbond opneem, ’n saak wat in die volgende hoofstuk bespreek sal word (2.4). Dit is een van die belangrikste betekenisse van die doop, dit lyf die dopelinge in die Abrahamverbond in (o.a. Gal 3:29). Net so kan “geloofsdoop” vir grootdoop ook misverstand wek. Voorstanders van die kinderdoop sal voel dit gaan in die kinderdoop net soseer oor geloof as in die grootdoop. Dis immers nie kinders-as-sodanig wat gedoop
word nie, maar kinders van ouers wat self glo.
Miskien kan ons van “gemeentedoop” en “sendingdoop” praat. Daar is in elk geval twee groepe wat gedoop word. Daar is “buitestanders” wat inkom en gedoop word, kom ons noem dit “sendingdoop”, en daar is gemeentekinders wat gedoop word, kom ons noem dit “gemeente doop”. Die gemeentekinders kan klein of groot gedoop word, maar hulle is tog nie presies dieselfde as mense wat sonder die evangelie grootgeword het nie.
Die Suidelike Baptiste van Noord-Amerika het ’n interessante verskeidenheid van dooppraktyke. Daar is gemeentes wat ’n kind al op 4 jaar sal doop as die kind bely dat hy/sy in Jesus glo, maar daar is gemeentes wat dit eers ná 21 jaar doen omdat hulle seker wil wees die kind het oor ’n lang tyd getoon dat hy/sy nie dalk môre weer gaan afdwaal nie. Ons sal later sien dit het geen verband met die doop van die Nuwe Testament nie. Daardie soort probleem het eenvoudig nie voorgekom in die vroeë gemeentes nie omdat hulle die doop anders gesien het.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike doop. Leef uit jou Doop (2011) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die doop. Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König