Groot- of klein doop? – Jan van der Watt
Estelle vra:
Ek en my man was deel van ʼn so te sê AGS kerk. Ons altwee was groot gedoop. Ek was eers NG (so klein gedoop). Na my seun se geboorte het ons maar selde kerk toe gegaan, want dit was so bietjie moeilik met hom. Hy is nog nie gedoop nie. Ons is geleer dat wanneer jy verstaan wat dit beteken is om gedoop te word dan kan jy gedoop word. Ek voel baie skuldig dat my kind nog nie gedoop is nie. My man bly vir my se ek moet nie want hy is nog te jonk om ter verstaan. Ons kan nou die geleentheid kry om hom te doop. My man bly staan dat hy nie gedoop moet word nie. Wat is die regte opsie. Ek worry verskriklik oor dit.
Antwoord:
Prof Jan van der Watt antwoord:
Ons kan ongelukkig nie vir jou sê wat jy moet doen nie, maar hopelik help die volgende inligting so bietjie sodat jy jou besluit met meer vertroue kan neem. Kyk ook weer na die artikels oor die doop op www.bybelkennis.co.za Daar is heelwat inligting. In die lig daarvan gaan ek die volgende byvoeg en weer onderstreep.
Daar is verskillende opvattings onder Christene oor wat die doop presies is.
a) Die Rooms-Katolieke en Ortodokse Kerk sien die doop as iets wat redding bring. As jy gedoop is, kan jy weet jy is gered. As jy gebore word, is jy soos ‘n half vol glas van God se genade. Die doop maak die glas vol van God se genade en dan is jy gered. As jy dus nie gedoop is nie, mag dit wees dat jy nie gered is nie.
b) Luther en die Protestante het hierteen gereageer en gesê redding kom alleen deur geloof en nie deur die doop nie. Hulle moes toe sê wat die funksie van die doop is. As sakrament het hulle dit as ‘teken’ van die verhouding tussen God en mens beskryf. Die doop doen self dus nie soveel nie, maar is net die teken van dit wat tussen die persoon en God gebeur het. Daarom sê die Protestante dat as jy nie gedoop is nie, jy nie noodwendig verlore sal gaan nie, want dit is nie die doop wat jou red nie, maar God deur jou geloof in Jesus.
Die debat het egter verder gegaan in die tyd van die Reformasie en daarna. Die opinies het toe so uitmekaar geloop:
a) Die gebruik in die kerk tot op daardie stadium was om kinders ook te doop, maar daar was reaksie daarteen. Sommige mense het gesê dat in die Bybel lees ons nie van die doop van kinders nie – net van die doop van mense wat tot bekering gekom het. Dit beteken dat die persoon moes kon verstaan wat dit beteken om Jesus in geloof aan te neem. Dit het bekend geword as die sogenaamde bekeringsdoop.
b) Daarteenoor het die standpunt in die hoofstroom Protestantse kerke ontwikkel dat kinders gedoop kan word, maar as mens as kind nie gedoop is nie, jy ook gedoop kan word as jy tot bekering kom. As jy egter as kind gedoop is en later voel jy het nou werklik jou lewe (weer of vir die eerste keer) vir God gegee, hoef jy jou nie weer te laat doop nie, want jou eerste doop bly nog geldig. Dit hang dus af van jou situasie.
In bogenoemde lig moet die vraag nou beoordeel word. Die volgende kan ‘n mens dus sê:
a) As jou kind nie gedoop is nie, beteken dit nie dat hy of sy verlore sal gaan nie.
b) Kinders word gedoop omdat die ouers kinders van God is. Eenvoudig gestel: as jy ‘n kind van God is, leef jy in die familie van God. Jy is syne. As Hy vir jou ‘n kind gee, beteken dit nie dat God die kind nou as vreemdeling beskou en uit sy familie gooi nie. Nee, God hou sy hand ook uit na die kind. Op grond daarvan dat jy deel van God se familie is, is jou kind wat Hy vir jou gegee het ook deel. Daarom moet die ouers die belofte namens hulle kind aflê – hulle bely hulle is deel van God se familie en dat die kind binne die raamwerk van die familie grootgemaak gaan word. Hulle gaan alles in hulle vermoë doen om die kind so groot te maak dat hy of sy, soos hy of sy verstand kry, net een ding sal wil doen en dit is om ook as gehoorsame kind in God se familie te woon en te lewe. Om te sê dat die kind so binne die familie groot word veronderstel nog dat hy soos hy groter word ‘n lewendige verhouding met God moet ontwikkel – dit is die veronderstelling. Die doop is in hierdie geval die teken dat God vir die kind sê dat hy welkom is in sy familie, mits die kind natuurlik ook van sy kant af deel van die familie sal wees.
c) As die kind egter grootword en nie so ʼn lewende verhouding met God ontwikkel nie en nooit regtig op God se liefde reageer nie en uiteindelik soos die verlore seun (Lukas 15) van God af wegloop, beteken dit dat die kind weg van God se gawes en huis gaan lewe. Daar in die vreemde land gaan hy sterf. Hierdie gedagte is algemeen in die Ou Testament – God gee aan sy volk beloftes, maar as hulle dit nie nakom nie, straf God hulle byvoorbeeld deur hulle buite die beloofde land te laat sterf.
d) Dus: dit maak baie sin binne die Christelike teologiese tradisie om kinders te laat doop en daarom is dit ook deur al die eeue gedoen. Dit word egter nie eksklusief gesien nie (maw – dat jy nie groot gedoop mag word nie. As jy nie as kind gedoop is nie, kan jy dit ook doen as jy groot is).
e) Die doop is dus nie reddend nie, maar wil iets duidelik sê: dit is ‘n sogenaamde ‘oorgangsrite’ – met ander woorde, dit wil sê dat iemand van een plek na ‘n ander oorgegaan het. Dit wil vir almal sê in watter familie jy woon. Dit het dus byna dieselfde funksie as ‘n trouring – dit wil jou status (as iemand wat in die familie van God deel) aandui.
Daar kom egter iets anders by: wat nou as daar onmin in die familie is oor die doop van ‘n kind? In die Bybelse tradisie het dit dikwels gebeur dat twee ‘beginsels’ bots, byvoorbeeld, of iemand besny moet word op die sabbat of nie. Hier bots die Sabbatsgebod en die gebod om besny te word. Of as die kalf in die put val op die Sabbat – moet die kalf gered word (die wet om lewe te beskerm) of moet die Sabbat gehou word (die Sabbatswet)? As gebooie so bots, word die gebod wat lewe bewaar elke keer voorrang gegee. Met ander woorde, ‘n mens moet vra: wat gaan mense en myself die minste seermaak en skade berokken? So kies mens vir die lewe. Konkreet sou dit dus beteken dat mens nie jou verhouding met jou eggenoot moet opoffer ter wille van die doop nie. Doop is ‘n teken en jou kind sal daarsonder nog gered wees – as jy jou huwelik daarvoor opoffer of selfs net spanning in jou huwelik daaroor aanblaas, verloor jy ‘n stuk van die lewe wat God vir jou gegee het.
Outeur: Prof Jan van der Watt