Doopkwessies

Doopkwessies – Adrio König

[Jan Smith het sekere sake oor die doop na vore gebring. Prof Adrio König reageer op sekere aspekte. Die gedeeltes van Prof Adrio is in groen.]

In sy boek Die Groot Geloofswoordeboek bespreek prof König onder andere die kinderdoop, die grootdoop en die doopmetode.

Aanhaling: Alle kerke wat die kinderdoop aanvaar, aanvaar ook die grootdoop. (Bladsy 115).

Aanhaling: Volgens hulle doop hulle nie kinders of kleintjies nie, maar kinders van gelowige ouers, kinders van ouers wat in die verbond is. Sommige verkies dus verbondsdoop. (Bladsy 116).

Soos prof König sê het Jesus met Sy kruisiging ALLES volbring en so ‘n totale nuwe dimensie teweeggebring wat die geskiedenis onherroeplik beinvloed het. Die ou verbonde en die Wet is vervul, die besnydenis het nie meer waarde nie, dit wat die profete ten opsigte van die Messias voorspel het, het waar geword, die heidene kry ook ‘n plek in die son, ‘n evangelie van liefde en vrede en wat nog meer kry beslag, bekering en geloof in Christus word aan die orde gestel.

Hulle sal duiwels uitdryf.

Met nuwe tale spreek.

Gif sal hulle niks doen nie.

Hulle sal die hande op siekes lê en hulle sal gesond word.

Die besnydenis was “’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het omdat hy geglo het (Rom 4:11). Dit was die begin van die verbond. Maar toe die verbond voortgaan, is Isak besny vóór hy kon glo. Maar alle babaseuntjies is nie besny nie, net dié van die geloofsgemeenskap van Israel. Klink dit nie bekend nie?

Ek verstaan nie hoe gelowige ouers vir hulle kindertjies kan instaan soos wat geimpliseer word nie. Ek weet nie wie impliseer dit nie. Ek weet net dat die doop ons in die Abrahamverbond opneem (Gal 3:26, 27, 29) en dat daar altyd in hierdie verbond vir twee groepe plek was: dié wat uit die heidendom tot bekering gekom het en dan besny is soos Abraham, en dié wat uit gelowige ouers gebore is soos Isak. Ek lees nie dat dit in die Nuwe Testament verander het nie. Ek lees wel in die Nuwe Testament dat Abraham die vader van alle gelowiges is.

Ek is van mening dat die hele saak van die doop verstaan moet word in die konteks van Jesus se vaste opdrag soos hierbo aangehaal en dat die menings van die woorde “doop” en “besprinkeling” nie geag kan word as om ander betekenisse te hê as wat in beginsel daarmee verstaan word nie.

Besprinkeling is in die Nuwe Testament met baie water gedoen. Daar was nooit sprake van ‘n bietjie water oor iemand uitgooi nie. Die doop word selfs “was” en “bad”genoem, iets wat niemand deur onderdompeling doen nie, maar wel deur water oor jou te gooi wat die vorm van besprinkeling in die Nuwe Testamwent was. Ons lees dan ook herhaaldelik in die Nuwe Testament van besprinkeling” wat nie op iets anders as die doop betrekking kan hê nie, maar nooit van onderdompeling nie, al het ek geen probleem met onderdompeling nie. Dit gaan oor die betekienis van die doop, nêrens in die Nuwe Testament word die metode beklemtoon nie.

Die “besprinkelterme” waarna die prof op bladsy 119/120 verwys kan myns insiens net betrekking hê op ‘n volwasse gelowige wat hierdie besondere aspekte verstaan en dit in sy lewe kan toepas en kan glo dat dit met hom gebeur het. Paulus praat verder dat ‘n mens jou met Christus moet beklee, Ek lees dat die een wat gedoop is, hom/haar met Christus moet beklee (Gal 3:27). Dit het ek my gedoopte babas geleer toe hulle groot genoeg was om te verstaan. Ek het hulle ook geleer dat Christus al die offer vir hulle sonde aan die kruis gebring het nie net toe hulle nog babas was nie, maar lank voor hulle gebore is. Net soos ‘n grootmens kan ook ‘n kind agterna aanvaar wat die Here vooraf gegee het. Die gemeente in Rome moet lank nadat hulle gedoop is, eers by Paulus leer wat hulle doop beteken en dit dan in die geloof aanvaar. dat jy die dinge wat daarbo is moet bedink met die oë gerig op Jesus, die Voleinder en Waarmaker van ons geloof. Ek betwyfel die vermoëns van kindere om hieraan te voldoen. As mens gaan bad dan weet almal wat jy gaan doen. Mens sê tog nie ek gaan gou besprinkel nie. Maar as jy sê ek gaan jou doop sal die aksie wat betrokke is duidelik verstaanbaar wees – jy gaan kop onder die water beland!Dis net as jy aanvaar doop moet deur onderdompeling gedoen word.

Prof Konig se artikels wat op die webblad verskyn word sekerlik wyd gelees maar ek sien nêrens enige kommentaar daaroor nie en as ek stilbly meen dit ek stem saam terwyl dit hoegenaamd nie die geval is nie.

Groete en dankie vir die gesprek. Die Here seën jou.

 

 

Adrio König




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (5) – Adrio König

7.5 Los opmerkings

Daar is ‘n paar stellings aan die begin van die hoofstuk waaraan ons nog nie genoeg aandag gegee het nie.

Daar is twee groepe kerke.

  • Die een groep doop net mense wat self glo, en verwerp die kinderdoop.
  • Die ander groep doop ook mense wat self glo, maar dan ook hulle kinders.

Daar is geen kerk wat die doop van gelowiges verwerp nie. Dit sou onsinnig wees.

Dit werk net dieselfde met onderdompeling en besprenkeling.

  • Die een groep kerke doop net deur onderdompeling, en verwerp besprinkeling.
  • Die ander groep doop deur besprinkeling of onderdompeling.

‘n Kerk behoort mense ‘n keuse te gee tussen die twee metodes omdat dit nie in die Bybel gaan oor die manier van doop nie, maar oor die betekenis van die doop.

Die Christelike doop behoort net een keer aan ‘n persoon bedien te word. Die “een keer” het direk verband met die betekenis van die doop. Deur die doop gee God ons deel in die heil. Ons moet daarop reageer en dit aanvaar. God gee ons nie oor en oor deel aan die heil nie, net soos Christus nie oor en oor aan die kruis sterf nie.

Die nagmaal is die sakrament wat ons oor en oor gebruik en ook moet gebruik, omdat dit verband hou met die voortdurende voeding en versterking van ons nuwe lewe. Daarom moet dit herhaal word.

Dit is ‘n oorvereenvoudiging om te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom. Die betekenis van die doop is veel ryker as dié van die besnydenis. En vir ‘n tyd lank het doop en besnydenis gelyktydig voorgekom, minstens in die gemeente in Jerusalem (Hand 21:21).

Maar die doop het ‘n veel ryker betekenis as die besnydenis. Die doop het nie net verband met die besnydenis nie, maar ook met die groot versoendag, die dag wat die offer gebring is vir die sonde van die volk. Deur die doop gee God ons vergifnis en reiniging van sonde.

Wat maak die Christelike doop uniek in onderskeid van ander dope soos Johannes die doper se doop of die Jode se proseliete-doop? Al drie is “doop” genoem, al drie is met water gedoen. Wat uniek is in die Christelike doop is die doopformule: “Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. ‘n Doop waarby hierdie formule nie gebruik is nie, kan nie beskou word as ‘n Christelike doop nie. En dis duidelik dat Johannes die doper ook nie hierdie formule gebruik het nie.

Die verskil tussen Johannes se doop en die Christelike doop is dus die verskil tussen dit wat die mens doen en dit wat God doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (4) – Adrio König

7.4 Doop en kruis

Aan die kruis het God deur Jesus die wêreld versoen. Dis goed om te kyk hoe radikaal Paulus dit formuleer.

“Die boodskap van die versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie” (2 Kor 5:19).

Dit kan tog nie iets anders beteken nie as dat God vandag vir geen enkele mens op die hele aarde een sonde toereken nie, wat hy of sy ook al gedoen het. Beteken dit dan dat ons net vir alle mense moet laat weet dat hulle versoen is, en hulle nie verder daaroor hoef te bekommer nie? Almal is gered, want God het almal versoen?

Nee. Die volgende vers lui: “Ons smeek julle namens Christus: “Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het!” (5:20)

Wat beteken dit? God het gegee, maar ons moet dit aanneem voor dit vir ons geld. Hy het ons met Homself versoen, maar ons moet hierdie versoening eers aanneem voor dit vir ons geld. Dis hoe ‘n verbond werk, van twee kante af.

Dis mos presies hoe die doop ook werk.

  • In watter boek in die Nuwe Testament lees ons hoe mense gedoop word? Handelinge.
  • In watter boeke lees ons wat die doop beteken? Die Briewe.

Maar die Briewe is ná Handelinge geskryf. Dit is geskryf aan gemeentes, mense wat klaar gedoop is. Dit beteken dat mense nie vooraf oor die betekenis van hulle doop ingelig is nie, maar eers gedoop is (Handelinge) en toe later onderrig is (die Briewe).

Indien dit in die doop gegaan het oor wat ek doen, was dit tog heeltemal verkeerd. Dan moes die apostels eers lang onderhoude gevoer het met mense wat gedoop wil word, en hulle breedvoerig oor die betekenis van die doop ingelig het sodat hulle alles kan verstaan wanneer hulle gedoop word.

Dit is alles normaal, soos dit hoort, want God gee in die doop, en ek moet agterna leer en aanneem wat Hy gegee het, en hoe om dit toe te eiën en daaruit te leef.

Maar dan pas die kinderdoop mos presies in die struktuur van die evangelie, sowel van die kruis as van die doop.

  • Aan die kruis het God ons versoen, en wanneer ons dit nou hoor, moet ons dit in die geloof aanvaar.
  • In die doop bevestig God wat Hy aan die kruis gedoen het, en ons moet dit in die geloof aanvaar.
  • Aan die kruis het God ook die baba versoen, en wanneer die baba dit hoor, moet hy/sy dit in die geloof aanvaar.
  • En in die doop bevestig God ook aan die baba wat Hy aan die kruis gedoen het, en die baba moet dit agterna in die geloof aanvaar.

Die kinderdoop pas dus nie net in die genadeverbond wat God met Abraham gesluit het en waarin God ons deur die doop opneem nie.

Dit pas ook in die manier waarop die doop in die vroeë kerk bedien is: Eers gedoop, daarna onderrig.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 




Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3)

Terug na die Ou Testament: Die Christelike Doop (3) – Adrio König

Ons word deur die doop met Christus verenig (Gal 3:26) en omdat Hy dié Nakomeling van Abraham is (Gal 3:16), word ons dan ook, saam met Hom, nakomelinge van Abraham. Die doop is dus wesenlik deel van die verbond met Abraham.

Maar nou het ons ‘n belangrike beginsel aanvaar. Ons het dit nie besef nie omdat ons formulerings sleg was.

  • Dis nie die doop wat ons in die Abrahamverbond inlyf nie.
  • Dis God wat ons deur die doop in die Abrahamverbond inlyf.
  • In die lig hiervan is dit nie vreemd dat al die betekenisse van die doop verband hou met God se werk in ons, en nie met ons werk nie:

    • God verenig ons deur die doop met Christus sodat ons deel kry aan sy kruisiging, sterwe, begrafnis en opwekking (Rom 6). Ons kan dit nie self doen nie.
    • God gee ons deur die doop die Heilige Gees en die weergeboorte (Tit 3:5 – ongelukkig vreemd veetaal in die 1983-vertaling). Ons kan nie self nie.
    • God neem ons deur die doop op in die liggaam van Christus (1 Kor 12:13 – net so vreemd vertaal in 1983. Lees die 1953-vertaling en NLV). Ons kan nie self nie.

    Die doop kan dus nie ‘n geloofsdoop of ‘n belydenisdoop genoem word nie, omdat dit nie my geloof of my belydenis is wat die betekenis aan die doop gee nie, maar God self. Natuurlik moet mense wat van buite die geloofsgemeenskap kom, eers self glo en hulle geloof bely voor hulle gedoop word. Net so moes ook Abraham eers self glo voor hy besny is. Maar Isak wat in die verbond gebore is omdat Abraham in God geglo het, is eers besny en moes agterna self glo.

    My geloof en my belydenis is my onontbeerlike antwoord op die werk van God in my doop.

    Maar indien God al hierdie gawes in my doop vir my gee, hoe is dit dan dat die doop my nie red nie?

    Om presies dieselfde rede waarom die kruis my nie red nie.

     

    Prof Adrio König