Die Groot Geloofswoordeboek: Dienaar van die Here
Die Groot Geloofswoordeboek: Dienaar van die Here
Dienaar van die Here
“Die dienaar (kneg) van die Here” is ‘n figuur van wie ons in Jesaja lees. Daar is vyf liedere wat die liedere van die Dienaar (Kneg) van die Here genoem word, die Ebed Jahwe-liedere (Jes 42:1-4; 49:1-6; 50:4-9; 52:13-53:12; 61:1-2).
Dit is moeilik om uit Jesaja se liedere af te lei wie hierdie figuur is. Daar is selfs die teorie dat dit eintlik terugverwys na Moses. Op een plek word Israel self die dienaar genoem (49:3). Gewoonlik word aanvaar dat dit egter ‘n latere invoeging is omdat dit nie met die res van die liedere klop nie. Dit is egter ‘n vraag of dit noodwendig so is. Ons kry in die Ou Testament die gedagte van ‘n inkrimping of toespitsing van die mensdom. God begin met alle volke. Maar ná die toring van Babel kies Hy Abraham om uit hom ‘n enkele volk te bou. En deur Israel se aanhoudende ontrou, bly daar later net ‘n “oorblyfsel” (“klompie”) oor (Jes 1:9). Maar uiteindelik is Jesus die enigste Een wat in ons almal se plek voor God staan.
Dit beteken dat dit wat God vir Israel bedoel het, uiteindelik in Jesus vervul is. (*Vervulling van Profesieë) In hierdie lig is dit nie so vreemd dat Israel bedoel was om die dienaar te wees, maar dat Jesus dit uiteindelik namens hulle moet vervul nie.
Jesaja 53 het altyd die meeste aandag getrek van al hierdie liedere, juis omdat dit op so ‘n merkwaardige manier in Jesus vervul is.
Daar is egter ‘n misverstand wat opgeklaar moet word. Mense meen dat Jesaja 53 ‘n Messiaanse profesie is. (*Messias) En daarby verwag hulle dan dat die voornaamwoorde met ‘n hoofletter moet begin (Hy, Hom – 53:4-10) omdat dit in Jesus vervul is.
Eintlik is hier twee misverstande ter sprake.
Eerstens is Jesaja 53 nie ‘n Messiaanse profesie nie, dit beteken dis nie ‘n profesie waarin ‘n Messias beloof word soos byvoorbeeld Jesaja 9:1-6; 11:1-10 nie. Jesaja 53 is ‘n profesie oor die dienaar, nie die Messias nie. En daar is ‘n geweldige verskil. Die Messias sou as koning in heerlikheid kom om Israel se vyande te vernietig en Israel se heerlikheid te herstel. Maar die dienaar sal in vernedering kom, verwerp, geminag en gemartel word.
Ons verstaan dit beter as ons onthou dat daar in die Ou Testament ‘n hele aantal figure vir die toekoms beloof word: ten minste die profeet, die dienaar, die Messias en die Seun van die mens. Alhoewel al hierdie profesieë in Jesus vervul is, maak dit hulle nie almal skielik Messiaanse profesieë nie, dit wil sê profesieë waarin ‘n Messias beloof word.
Die tweede misverstand is dat dit oneerbiedig is om nie die persoonlike voornaamwoorde wat na die dienaar verwys, met ‘n hoofletter te begin nie. Kritici op die Vertaling van 1983 het so ver gegaan as om te beweer dat “Jesus uit die Ou Testament wegvertaal is”.
Kom ons kyk versigtig hierna. Alhoewel hierdie profesie in Jesus vervul is, gebruik hulle hier in Jesaja 53 kleinletters. Maar in Jesaja 9:1-6 gebruik hulle wel hoofletters (Seun, Hy). Waarom? Om ‘n baie eenvoudige rede. Die vertaler probeer so vertaal dat die leser van vandag kan lees en verstaan wat die leser van destyds verstaan het. Die lesers van destyds het nie besef die profesie van die dienaar sou in ‘n Goddelike Persoon vervul word nie. Daar was niks in Jesaja 53 wat hulle so kon laat dink het nie. Maar in Jesaja 9 was wel aanduidings dat daardie profesie net in ‘n Goddelike Persoon vervul kon word. Hy word immers genoem: Magtige God, Ewige Vader.
Wanneer die vertalers in die Nuwe Testament kom waar hierdie profesieë in Jesus vervul is, gebruik hulle wel hoofletters.
Outeur: Prof Adrio König