Die Raad/Konsilie van Efese

Anyone can hold the helm when the sea is calm. —Publilius Syrus

Die Raad/Konsilie van Efese

Daar was sewe ekumeniese rade. Hulle het almal die Christelike teologie probeer verstaan en probeer om ‘n gesamentlike teologie daar te stel. Vandag kyk ons na die Raad van Efese. Hierdie Raad is in 431 deur Teodosius II, die keiser van die oostelike gedeelte van die Romeinse Ryk, bymekaar geroep. Hy doen dit op versoek van Nestorius wie se onderrig oor die aard van Christus spanning in die kerk veroorsaak het. Nestorius wou so probeer om sy teenstanders te oortuig en stil te maak. Teodosius self woon nie die vergadering by nie. Die raad kom in Efese in die huidige Turkye bymekaar. Tussen 200 en 250 biskoppe woon die vergadering by.

 

 Op daardie stadium was daar konflik oor gesag in die kerk. Die eerste vergadering van Konstantinopel het bepaal dat die biskop van Konstantinopel net na die biskop van Rome – bekend as die pous – in die gesagslyn gestaan het. Die biskoppe van Antiogië en Aleksandrië was ook belangrike biskoppe.

 Nestorius was nie self teenwoordig nie. Hy kom oorspronklik van Antiogië. Hy was ‘n begaafde spreker en Teodosius II het hom as biskop van Konstantinopel aangestel. Die tweede belangrike persoon was Cyrillus, die biskop van Aleksandrië. Hulle verteenwoordig die twee kante van die konflik.

Die konflik gaan oor Maria. Een groep noem haar Maria Theotokos (draer van God). Die ander groep verwerp die titel, want ‘n ewige wese kan nie gebore word nie. Nestorius, in ‘n poging om die konflik op te los, stel voor dat hulle haar eerder Christotokos (draer van Christus) moes noem. Hy wou hiermee  bevestig dat die volle menslike aard van Christus erken moet word.

 

Die gevolg was ‘n briewewisseling tussen Cyrillus en Nestorius. Hierdie konflik was deels teologies en deels polities – die tweede hoogste pos hoort eintlik in Antiogië en nie in Konstantinopel nie. Sinodes in Rome en Aleksandrië verwerp Nestorius se lering.

 

Cyrillus was president van die vergadering. Nestorius weier om die vergadering by te woon omdat Cyrillus die president was. Die vergadering begin sonder ‘n hele aantal biskoppe uit die Ooste wat eers later opgedaag het. Die Raad bevestig die belydenis van Nicea en die titel Teotokos.  Hulle verwerp Nestorianisme en almal wat die siening onderskryf word uit die kerk geban.

 

Die kerke wat Nestorius ondersteun het breek weg en staan as die Persiese of die Kerk van die Ooste bekend. Hulle hedendaagse verteenwoordigers is die Assiriese Kerk van die Ooste, die Siriese Kerk, die Antieke Kerk van die Ooste en die Galdeër Katolieke Kerk.

 




Efese

Efese – Coen Slabber

In Handelinge 16:6 lees ons dat die Heilige Gees Paulus verhinder het om die Woord in die provinsie Asië (wat Efese sou insluit) te verkondig. In Handelinge 18:19 – 21 lees ons dat Paulus Efese besoek het. Hierdie was waarskynlik ʼn kort besoek, want Paulus was op pad Jerusalem toe. Hierdie kort besoekie was genoeg vir Paulus om die potensiaal van die stad raak te sien. In Handelinge 19:1 lees ons dat Paulus deur die binneland gereis het en weer in Efese aangekom het. Dit was of die einde van die jaar 52 of die begin van die jaar 53. Efese was aan die oorkant van die Egeïese See as Korinte geleë. Paulus het langer in Efese as in enige ander stad gebly – amper drie jaar. Ons lees dat hy later die ouderlinge van Efese in Milete ontmoet het en vir Timoteus gestuur het om die gemeente in Efese te bedien. Volgens oorlewering het Johannes die laaste dae van sy lewe daar deurgebring.

As jy vandag die waarde van ʼn gebou bepaal, is een van die belangrikste vrae om te vra: Waar is dit geleë? Jy gaan tog nie ʼn vyfster restaurant in ʼn agterstraatjie open nie. Dieselfde geld vir Efese. Sy ligging was baie belangrik. Dit was langs die Middellandse See geleë. [Vandag kan ʼn mens dit skaars glo, want die ou hawe het heeltemal toegeslik.] Dit is waar die hoofweg begin het wat ooswaarts tot in die hart van Asië en Sirië geloop het. Hier het die see- en landhandel bymekaar gekom. Dit was die handelsentrum van Klein-Asië – en die hoofstad van die Romeinse provinsie van Klein-Asië. Augustus self het besluit dat Efese die hoofstad moet wees. Dit was die sentrum van die keiserlike teenwoordigheid in die streek. Tydens Augustus se tyd as keiser het Efese gedeel in die algemene voorspoed van die Ryk – die gevolg van die pax Romana (ʼn tyd van relatiewe vrede). Dit ontvang dan ook die titel “die eerste en grootste metropolis van Asië” – ʼn besondere eer.

 

Dit was ʼn ryk stad. Waterleidings is gebou, strate is uitgelê en geplavei, markplekke is vergroot, monumente, standbeelde en baie mooi geboue is opgerig – alles in navolging van die Romeinse tradisie van destyds. Die Pan-Ioniese spele is daar gehou. Mense het van heinde en verre gekom om hierdie spele by te woon. Om president van hierdie spele te wees was ʼn groot eer.

 

Daar was ʼn groot amfiteater met sitplek vir tussen 20 en 25 duisend mense. Die amfiteater was ʼn semisirkel gebou in die kant van ʼn heuwel. ʼn Straat wat van oos na wes geloop het, het van die amfiteater na die hawe geloop. Langs die straat was daar allerlei winkeltjies. Net suid van die amfiteater was die agora, die sentrale mark. Die mark was omring deur suile. Oral was standbeelde van Augustus, Livia en lede van die keiserlike familie. Noord van die mark en teater was die administratiewe geboue – die palaestra. Net langs die administratiewe gebou was die openbare baddens en gimnasium. ʼn Tweede gimnasium met ʼn groot stadion vir spele en resies is waarskynlik tydens die bewind van Nero opgerig. Dit was in die noordelike deel van die stad. ʼn Groot aardbewing in die jaar 23 het baie geboue verwoes, maar die Efesiërs die stad selfs meer buitensporig herbou.

 

Efese was bekend as ʼn godsdienssentrum – die tuiste van baie verskillende kultusse. Die kultus wat oorheers het, was die van Artemis (Artemis was die Griekse naam en Diana die Latynse naam vir dieselfde godin) van die Efesiërs. Selfs Grieke en sogenaamde “barbare” het haar aanbid. Sy is aanbid as die vrugbaarheidsgodin. Haar invloed het elke aspek van die Efesiërs se lewe deurdrenk – burgerlik, ekonomies en kultureel. Haar tempel, die Artemesium, was buite die stadsmure geleë en word algemeen gereken as een van die sewe wonders van die antieke wêreld.  Die tempel het op ʼn platform gestaan 120 X 70 meter groot. Daar was tien trappe tot op die platform en nog drie trappe tot by die werklike gebou.  Die tempel was meer as 100 meter lank, 70 meter breed en 18 meter hoog. Daar was 127 pilare – elk die geskenk van ʼn koning. Elke pilaar was gemaak van marmer uit Paros. In die middel van die gebou was die altaar – 6 X 6 meter groot en die kolossale beeld van die godin. Die altaar was die werk van Praxiteles, die grooste van al die Griekse beeldhouers. Artemis se beeld was swart met baie borste – ʼn teken van vrugbaarheid. Die beeld van Artemis was so oud dat niemand seker was waar dit vandaan kom en hoe oud dit was nie. Daarom is geglo dat die beeld uit die hemel geval het! Die tempel was nie alleen ʼn getuienis vir die Efesiërs se toewyding aan haar nie, maar ook ʼn teken van die voorspoed van die bewaarders van die kultus.

 

Die Efesiërs was trots op hulle godin. Luister net na die stadsklerk as hy die skare tot bedaring bring: Efesiërs … watter mens weet nou nie dat die stad van die Efesiërs die beskermer is van die tempel van die groot Artemis en van haar beeld wat uit die hemel geval het nie? (Handelinge 19:35).

 

Ons is bewus van twee jaarlikse feeste ter ere van Artemis wat in Efese gehou is:

(a)    Die Artemesia in Maart-April

(b)   Die viering van Artemis se verjaardag in Mei-Junie.

Tydens hierdie feeste was daar kompetisies, optogte en bankette. Besoekers van dwars oor die Griekse wêreld het die vierings bygewoon. Die inkomste van die tempel was verstommend. Omdat die tempelterrein beskou is as heilig en niemand dit sou waag om daar te oortree nie, het dit as veilige bank vir die rykes gedien. Die toneel in Handelinge 19:23 – 41 waar die vakmanne in opstand kom omdat Paulus hulle besigheid nadelig beïnvloed het, is beslis baie moontlik. Dit wys net vir ons hoe ekonomiese, burgerlike en godsdienstige sake ineengestrengel was.

 

ʼn Ander belangrike kultus in Efese was keiseraanbidding. Reeds in 29 vC het Augustus aan hulle die reg verleen om heilige gebiede langs die administratiewe gebou aan Dea Roma en Divus Iulius toe te wy. Keiseraanbidding het alle aspekte van die bevolking se lewe geraak. Dit gaan gepaard met veelvuldige feeste, optogte en spele. Geen inwoner van Efese was nie bewus en beïnvloed deur die kultus nie. Die keiserkultus en die aanbidding van Artemis was nie kompetisie vir mekaar nie.

 

Maar Efese was ook die tuiste van misdadigers.  Misdadigers kon by die tempel van Artemis asiel gekry het. Enige misdadiger wat die tempelterrein bereik het, was veilig. In die tyd van Paulus word dit bereken dat Efese tussen 200 000 en 250 000 inwoners gehad het – party sê selfs so veel as 500 000 inwoners. Efese was die derde grootste stad in die Romeinse Ryk naas Rome en Aleksandrië.

 

Efese het ʼn redelike groot Joodse bevolking gehad. Hierdie Jode het baie voorregte geniet: hulle was vrygestel van militêre diens, hulle kon as Jode bymekaarkom, hulle kon die tempelbelasting invorder en het toestemming gehad om hulle eie rituele en gebruike te volg. Van die Jode het selfs Romeinse burgerskap gehad. Hulle het ʼn belangrike rol in die stad se burgerlike en handelslewe gespeel. Volgens Josefus was daar een of meer sinagoges in die stad. In Handelinge 18:19 lees ons dat Paulus na die sinagoge is waar hy met die Jode geredeneer het.

 

Paulus se verblyf in Efese was waarskynlik die suksesvolste deel van sy hele bediening. Lukas vertel nie veel van hierdie tyd nie. Hy konsentreer op die skeuring in die sinagoge. Vir drie maande het Paulus met vrymoedigheid in die sinagoge geredeneer oor die koninkryk van God en die mense daarvan probeer oortuig. Van die mense het die evangelie belaglik probeer maak. Paulus en die gelowiges verlaat die sinagoge en hou daagliks in die saal van Tirannus besprekings. Lukas beskryf dit as ʼn skeiding en nie dat die gelowiges uitgeban is nie. In die saal van Tirannus vergader Paulus-hulle vir twee jaar lank.

 

Om die saal te huur, moes Paulus ʼn paar welgestelde ondersteuners gehad het om die huur te kan betaal. Moontlik was dit die hoë amptenare van die provinsie (Handelinge 19:31). In van die ou tekste lees ons dat Paulus van 11:00 tot 16:00 (Die tyd vir die Middellandse siësta) besprekings gehou het. Verder het hy homself met sy twee hande onderhou. Die skuif van die sinagoge na die saal het sy besprekings meer toeganklik vir die inwoners van Efese gemaak – Jode sowel as Grieke.

 

Omdat Efese die hoofstad van die provinsie was, het mense dikwels na en van die stad gereis . Ons kan in ons verbeelding sien hoe spanne uitgestuur word om die evangelie verder te verkondig – suidwaarts na Magnesia en Miletus, noord na Smirna en Pergamum en in die valleie op na Laodisea, Hiërapolis, en Kolosse en na stede soos Sardis, Filadelfia en Tiatira. Dit was uit Efese waar Paulus sy bekende briewe aan die Korintiërs geskryf het. Party geleerdes glo dat Paulus se tronkbriewe (Filippense, Kolossense en Filemon) geskryf is terwyl hy in Efese in die tronk was.

 

Efese voldoen in alle opsigte aan Paulus se strategiese plan – ʼn groot, besige stad wat ʼn invloed op die omgewing uitgeoefen het. Efese dien as ‘t ware as ʼn spilpunt vanwaar die evangelie versprei is.

Outeur: Dr Coen Slabber