Efesiërs (1)
Efesiërs (1) – Francois Malan
Efesiërs is die brief van die liefde: van God wat ons innig liefhet, ons uit die dood van sonde verlos en saam met Christus lewend gemaak het, en deur sy Gees, wat in ons kom woon het, vir ons laat deelhê aan die volheid van sy onbegryplike, onmeetlike liefde (2:4; 3:7-19), sodat ons mekaar sal liefhê en opbou in die gemeente (4:1-16), oor volksgrense (2:14-18), in die huwelik (5:21-32), in die gesin, en tussen werkgewers en werknemers (6:1-9).
Efesiërs
‘n Omsendbrief
Efesiërs is ‘n algemene brief, geskryf uit die gevangenis (3:1; 4:1; 6:20), waarskynlik in Rome (Hand. 28:16,30), aan ‘n aantal gemeentes wat hoofsaaklik uit nie-Jode bestaan (2:11-14). Party van die gemeentes het Paulus nie persoonlik geken nie (3:2). Die brief word afgelewer deur sy medewerker Tigikus (6:21-22) wat op pad is na Kolosse (Kol. 4:7-9).
Die bestemming van die brief is ‘n raaisel. In die oudste en beste manuskripte ontbreek die woorde ‘in Efese’ (1:1), maar word in die meeste manuskripte ingevoeg. Dit was waarskynlik ‘n omsendbrief aan gemeentes in verskeie stede in suid-westelike Klein-Asië, wat Paulus tydens sy bediening in Efese gestig het (Hand.19). Daarom is daar nie die gebruiklike kommentaar oor die plaaslike gemeente en gemeentelede nie.
Inleiding
Die nie-Joodse Christelike lesers word aangespreek as ‘heiliges’ (aan God gewydes), wat deur God geroep is om, deur Christus Jesus, sy toegewyde volk te wees, deur in geloof op die roeping te reageer.
Sy seëngroet verwoord sy begeerte dat hulle die genade en vrede van God ons Vader en Jesus Christus ons Here sal verstaan en beleef. Die twee groot temas kom telkens in die brief voor. Die naam Christus (gesalfde) Jesus (verlosser) kom in elkeen van die drie elemente van die voorwoord voor (1:1-2).
Die eerste helfte van die brief (1:3-3:21) besing die lof van God in gebed en danksegging, soos in die Joodse berakah (lof), en die tweede helfte (4:1-6:20) verkondig die Christelike lewenswyse wat daarby hoort, soos die Joodse halakah (riglyne vir die lewe), nie as ‘n nuwe wet nie, maar as ‘n blye reaksie op God se oorvloed, ‘n dankbare antwoord op God se genadige inisiatief, verlossing en doel met ons, wat deur Christus en die Heilige Gees uitgewerk word.
- Die nuwe mensheid as God se skepping (1:3-3:21)
1.1 Lof vir God se seën aan ons in Christus (1:3-14)
Die Vader van ons Here Jesus Christus is die bron van al die seëninge wat ons deur die Heilige Gees ontvang. God het ons aan Christus wat in die hemel is, verbind (1:3). Die seëninge waarvoor ons God loof is die volgende:
- vir sy ewige verkiesing, om uit sy genade ons heilig en in liefde te laat lewe in gemeenskap met Christus; vir sy vrye besluit om ons as sy kinders deur Christus aan te neem om Hom te loof vir sy wonderlike genade, wat Hy vryelik aan ons gegee het deur sy geliefde Seun (1:4-6);
- dat Hy deur Christus se kruisdood ons oortredings vergewe het, ons van sonde se mag bevry het, en sy genade in ons uitgestort het, om wys en met insig te lewe (1:7-8);
- dat Hy besig is om sy geheime plan, om alle dinge in die heelal uiteindelik onder Christus te verenig, aan ons bekend gemaak het (1:9-10);
- die oorblyfsel van die Jode wat eerste op Christus vir hulle verlossing begin hoop het, moet Hom loof vir die wonderlike uitvoering van sy plan; die heidennasies wat tot geloof in Christus as hulle Verlosser gekom het, is ook met die Heilige Gees beseël as God se eiendom. Die Gees is die waarborg dat ons aan God behoort totdat ons ten volle verlos is om God se heerlikheid te besing (1:11-14).
1.2 Danksegging, voorbidding en lof aan God wat Christus verhoog het (1:15-23)
Paulus dank God vir wat hy van die gelowiges se geloof in die Here Jesus gehoor het, en vir hulle liefdesdiens aan alle gelowiges. Hy bid gereeld vir hulle, dat God al meer kennis van Homself sal gee deur hulle toenemend deur sy Gees te verlig:
- dat hulle, as gelowige Jode en nie-Jode, God se eiendom is, deur wie Hy die onmeetlike rykdom van sy heerlikheid aan die heelal sal vertoon,
- Paulus loof God wat sy groot krag gebruik het om Christus uit die dood op te wek en aan sy regterhand te sit om te heers oor alle dinge, ten gunste van sy volk wat in gemeenskap om Hom vergader. Hy vervul alle dinge met sy oppermagtige heerskappy, en vervul die kerk met sy Gees, genade en gawes.
Skrywer: Prof Francois Malan